Bou jou kind se geestelike woordeskat

Christenskap verteenwoordig nie net ’n oortuiging nie; dit behels ook taal. Sekere woorde, frases en begrippe help ons om ons geloof te verwoord en met ander daaroor te praat. Ouers het die voorreg – en die verpligting – om dié taal aan hul kinders te leer.

DEUR SUSAN GOOSEN

Ouers gesels maklik met hul baba, dikwels nog voor die spruit se geboorte. Mammas en pappas klap hande wanneer babas hul eerste woorde sê. Later maak hulle seker dat hul kleuter leer om gevoelens, emosies en voorkeure te verwoord.

So het Christenouers ook die voorreg en verantwoordelikheid om hul kinders ’n woordeskat te leer waarmee hulle oor God en hul geloof kan praat.

“Indien Christenskap ook die aanleer van taal behels, is dit deesdae beslis moeiliker om kinders te leer om ‘Christen’ te praat.” Só sê Jerome Berryman in sy artikel oor taal en geloof. Baie gesinne gaan nie meer so gereeld kerk toe nie, en ons kultuur en leefwêreld ondersteun nie noodwendig die Christentaal of -leefwyse nie.

En wanneer kinders selde hoor hoe dié taal gepraat word, kan hulle nie die struktuur, funksie en inhoud daarvan aanleer en onthou nie. Die woordeskat wat hulle, namate hulle ouer word, met hulle saamdra, bestaan dan hoogstens uit losstaande begrippe en kontekslose woorde.

Geloofstaal
Ds Anriëtte de Ridder, ’n predikant wat haar op jeug- en familiebediening toespits, verduidelik dit so: “Dis belangrik dat kinders gemaklik met geloofstaal is, en dat dit ’n deel van hul alledaagse leefwêreld is. Dat dit nie vreemde konsepte is wat hulle net af en toe in ’n kerkgebou hoor nie.

“Hierdie woordeskat moet deel vorm van hul lewenservaring en hul identiteit. En die beste manier om dit aan te leer, is in spontane gesprekke. Kinders moet weet dat hulle oor enigiets mag vrae vra, enigiets mag betwyfel en oor enigiets mag verskil. Ook oor geloof, die Bybel en die kerk.

“Kinders beskik oor ’n ingebore spiritualiteit. Hulle kan God baie maklik beleef, en geloofstaal sal hulle help om hieraan uitdrukking te gee.”

Begin reg
Die skrywer en opvoedkundige Hettie Brittz reken dat ouers die eerste “lêer” oor enige onderwerp in hul kinders se gedagtes moet oopmaak. Dit word dan die verwysingsraamwerk en maatstaf waarmee die kinders ander inligting filter, ook dit wat hulle van maats of die internet kry.

Ds Santie Nel, predikant by die NG gemeente Harmonie in Kimberley, sê dié beginsel geld ook kinders se geestelike woordeskat. “Jong kinders dink baie konkreet en kan daarom nie noodwendig abstrakte begrippe soos dankbaarheid, genade en vergifnis verstaan nie. Dit beteken egter nie dat hul ouers van sulke begrippe moet wegskram nie. Dis juis die ouer wat dit in informele gesprekke aan hulle bekendstel. En wat dit later, wanneer hulle groter word, in meer besonderhede verduidelik.

“Kleuters kan byvoorbeeld reeds vroeg leer dat God hulle wonderlik en spesiaal gemaak het, dat Hy alles goed gemaak het, en dat Hy vir hulle sorg. Uit so ’n Godsbegrip volg dan later ook ander geestelike begrippe en ’n geestelike woordeskat.
“Op dieselfde manier kan kinders aanvanklik bloot leer dat gebed beteken dat ons met God praat. Soos hulle ouer word, kan hulle dit beter verstaan en die nuanses daarin ontdek.

“’n Geestelike woordeskat word aangeleer wanneer kinders dit hoor, maar ook wanneer hulle sien hoe hul ouers dit uitleef. Dit wat hulle by die kerk en by ander Christene sien en hoor en ervaar, help hulle om hul Godsbegrip te ontwikkel. Dis dus goed as ouers die geleentheid kan skep vir gelowiges, oud en jonk, om bymekaar te kom en by mekaar te leer.”

Groei en leer
Anriëtte sê dat ouers hul kinders se ontwikkelingsfase in ag moet neem wanneer hulle geestelike waardes en woorde wil vestig. Jong kinders dink baie konkreet. Hulle leer eers teen die einde van hul laerskoolloopbaan om meer abstrakte begrippe te verstaan.

Daarom, sê sy, is stories en Bybelverhale van groot waarde om hierdie begrippe te verduidelik. Sulke stories word deel van kinders se ervaringswêreld en herinneringe, en dit help hulle om die regte waardes en identiteit te ontwikkel. Soos die kinders ouer word, kan hulle leer hoe om hierdie verhale op hul lewe van toepassing te maak. Om die begrippe en woordeskat vir hulle toe te eien.

Anriëtte verduidelik dit aan die hand van die bekende Bybelverhaal van Daniël in die leeukuil (vgl Dan 6:1-29). Sy verduidelik hoe die verhaal binne die verskillende ontwikkelingsfases gebruik en verstaan kan word:

0-2 jaar
In hierdie fase leer kinders ’n basiese woordeskat aan. Dis baie belangrik dat ’n baba genoeg liefde, geborgenheid en veiligheid sal ervaar.
Gebruik ’n kleurvolle Kinderbybel en vertel die storie aan die hand van die prentjies. Vra: “Hoe maak ’n leeu?” – en brul dan saam!

3-5 jaar
Stories en herhaling is nou baie belangrik. Gebruik steeds ’n Kinderbybel. Laat onnodige detail uit, indien nodig. Die kinders kan ook inkleur of hul eie prente van die storie teken. Hulle kan nou emosies soos vrees, skrik, hartseer en vreugde bespreek.
Gebruik eenvoudige woorde wanneer jy oor geloof gesels. Iets soos: Ons is vriendelik en help mekaar; ons glo in Jesus; ons sê “ek is jammer”; ons deel met mekaar; God sorg vir ons.

6-9 jaar
Stories speel steeds ’n groot rol, maar nou kan kinders ook letterlike toepassings van die verhaal verstaan. Vra byvoorbeeld: “Hoe kan God ons be-
skerm teen gevare wat ons teëkom, soos wat Hy Daniël beskerm het?” Gebruik ook ander “oop” vrae om kinders te help om die verhaal hul eie te maak. Probeer iets soos: “Ek wonder hoe jy daar in die leeukuil sou voel?” En: “Ek wonder wat het die
koning gedink gaan gebeur?”
Gebruik steeds ’n Kinderbybel, of ’n Bybel met eenvoudige taal. Aktiwiteite, soos om die verhaal op te voer, kan ook van waarde wees.

10-13 jaar
Kinders kan nou meer abstrak dink en hulle begin simboliek verstaan. Gesels saam oor die onderliggende waarhede en beginsels in hierdie verhaal. Vra dinge soos: “Hoe kan God ons help om negatiewe groepdruk te hanteer?” Vra ook verkennende vrae, soos: “Watter soort druk ervaar jy?”
Gebruik die geleentheid om die jong tieners se gelooftaal en -woordeskat uit te brei deur dit in die verhaal se konteks te bespreek. Iets soos: “Wat beteken woorde soos geloof, vertroue en getuie-nis in hierdie verhaal?”

14-16 jaar
Ouer tieners kan verstaan dat geloof soms kompleks is en dat die Bybel nie bloot lynreg en letterlik toegepas kan word nie. Ons mag vrae vra en oor kwessies worstel; daar is nie altyd klinkklare antwoorde en oplossings vir probleme nie. Gesels dieper oor die toepassing van hierdie verhaal op ons lewe vandag, ook wanneer ons dink oor probleme met leierskap en die wyse waarop ons ons getuienis in ’n diverse samelewing kan uitleef.

 

 

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img