16 Februarie 2021


DEUR ELZETTE MARITZ

Ek wil maar uit die staanspoor sê: Hierdie getuienis bevat ongelukkig nie ’n goed voel-verhaal nie. Daar is (nog) nie ’n gelukkige einde nie. Ek het buitendien ’n broertjie dood aan frases soos: “Niks sal oor jou pad kom as jy dit nie kan hanteer nie.” Of: “Toemaar, alles sal oukei wees.”

Die droogte hier op ons plaas in Brandvlei duur reeds agt jaar. Veral die afgelope twee jaar het ons op ons knieë gedwing. Dis die gesinne met kinders, dié wie se grond nie groot is nie, en hulle wat vorige finansiële terugslae moes verduur wat die swaarste trek.

LEES OOK: ‘My lewe is in ’n oogwink verander,’ vertel man voor sy dood

En, ja, dit hét hier en daar gereën. Sekere dele het egter heeltemal niks ontvang nie, die veld is dood. En sommige stukke veld reageer eenvoudig nie op die reën wat wel geval het nie; slegs goeie opvolgreën sal dit geleidelik laat herstel.

“Dié onlangse bui reën kon nie die dooie veld laat ontwaak nie,” sê Elzette. Foto verskaf

In 2019 is die droogte aan die groot klok gehang. Daar is ook ’n boek gepubliseer, met een van ons boervroue, Hannelie van Niekerk, wat die voortou geneem het. Verskeie boervroue het hul persoonlike droogteverhale daarin neergeskryf.

Blootstelling deur onder meer RSG het die geskenkpakkies laat instroom. Ons spens was vol, en die kas met toiletware het soos ‘n klein apteek gelyk. Sommiges het gesê dis oordadig, maar vir die groter gesinne was dit ’n uitkoms.

Daar was ook oulike bederfpakkies: serpies, cappuccino, tydskrifte. Al daardie dinge wat deur ons  vroue geniet word en wat gewoonlik heel eerste van die inkopielysie afgehaal word.

Een skenker het ons vertel dat toe hy begin voelers uitsteek vir hulp aan Brandvlei, iemand na hom gekom en gevra het of R100 ook sal help. Al het hy min, is hy bereid om iets te gee.

Hoe oorleef ons?

Eendag het ’n boer op ’n vergadering opgestaan en gesê dat hy ses blikkies kondensmelk in sy koskas het, maar nie kos vir sy diere nie.

Hier het wel heelwat voerskenkings opgedaag. Daar is Suid-Afrikaners met oop hande, maar die feit is dat sulke vragte tussen 58 boere verdeel word.

My man het onlangs ’n private skenking ontvang. Sonder om twee keer te dink, het hy dit met die ander boere gedeel. Ons hou daarvan om te deel, maar dis swaar as ’n mens nie meer het om te deel nie.

Elzette en haar man Klasie. Klasie is die voorsitter van die Brandvlei-landbouvereniging. Foto verskaf

Hoe oorleef ons? Ons bemark ons lammers, dis nou dié wat oor is nadat die jakkalse, rooikatte en die droogte met jou kudde klaar is. Die veld is tans ook onvoldoende om hulle te voed, en dit het tot gevolg dat die ooie se lampersentasie ondergemiddeld is.

Ons verkoop dus ook van ons ouer ooie, en later noodgedwonge van die kernkudde. Daar is rekeninge wat betaal moet word. Nou is daar boere wat slegs die helfte van hul kernkudde oor het. Die logiese gevolg hiervan is ’n 50%-potensiaal om voortaan ’n normale inkomste te genereer.

Planne

Die ouer boere hier rond delf reeds in hul aftreespaargeld, hulle verkoop die aftreeseehuisie. My man het sy huis in Upington verkoop wat voorheen vir ’n maandelikse huurinkomste gesorg het. Daardie verkoopgeldjies is reeds in die voerrekening in.

Ons naaste dorp met kettingwinkels is Calvinia, 150 km vanaf Brandvlei. Upington met sy dokters, ’n private hospitaal en ander mediese geriewe is 300 km ver.

LEES OOK: As ek moeg word vir die lewe in die stad …

Kruideniersware is baie duurder hier en ons word genoodsaak om planne te maak. Die vroue maak biltong, lê vrugte in en verkoop soetgebak. Maar omdat ons ver van ander dorpe is, is vervoer en bemarking duur. Ek bak reeds ’n behoorlike plaasbrood, én beskuit, en lê die heerlikste beet in. Ons seuns kan nie genoeg daarvan kry wanneer hulle huis toe kom nie.

Ek het ook weer begin om my beroep te beoefen: Ek is Brandvlei se eerste volwaardige Internasionale Isa Carstens-skoonheidsterapeut. Aletta Fölscher het ’n vertrek aan haar huis in ’n salon omskep en ons noem dit Woestyn Weelde. Vrydae is gewoonlik my salon-dae, want dan kom die boervroue dorp toe. Sommiges bly ver, tot ’n uur se ry, en grondpad.

Hier word Brandvlei se boervroue Vrydae bederf. Foto verskaf

Die skoonheidsterapie is tans nog in sy kinderskoene. Dis ’n luuksheid wat in elk geval nooit hier beskikbaar was nie. Ek werk teen pryse wat seker vyf jaar gelede by my vorige salon gegeld het, maar die salon-dae is salf vir my siel en daar word kopstukke gesels.

Hartseer

Die hartseerste vir my is mense se onnadenkende opmerkings. As hulle byvoorbeeld hoor julle boer met skape, word jy feitlik onmiddellik gevra waar “die lekker slagding” dan is.

Die waarheid is dat ons dit nie eintlik kan bekostig om ons eie skaap te eet nie. Hoender is in dié stadium goedkoper.

Iemand het eendag vir my gesê die terugslae in ’n mens se lewe maak jou sterk. Dit is seker so. Ek is al deur ’n goeie kwota daarvan – ’n egskeiding, die weerhouding van my kinders, my ma se traumatiese afsterwe.

Sommige dae wil-wil dit alles jou onderkry. Dan help bemoedigende boodskappies nie regtig nie.

My een seun (10), wat saam met sy twee broers in Wellington woon, sê vir my oor die foon: “Mamma, ek mis jou so erg, dit voel soos ’n pyn in my hart.”

Brandvlei Elzette en kinders

Eerste van links is Elzette se pa, wat gereeld op hulle plaas kom kuier. Langs sy oupa sit Andreas, Elzette, Simon en JC. Foto verskaf

My man het sy pa verlede jaar in grendeltyd verloor. Pa was sy raadgewer en ondersteuner. My eie pa kom kuier so gereeld moontlik. Hier op die plaas kry hy rus vir sy siel. Hy sê ons sonsondergange is vir hom so mooi soos my oorlede ma vir hom was.

Die Boesmanland is rustig en vreedsaam, en dit lê diep onder my vel. Ons het baie om voor dankbaar te wees – maar nóú kort ons hulp.

Die Boesmanlanders se behoeftes

Veevoer en brandstof: Dit werk die beste wanneer ons hiervoor koopbewyse by ons plaaslike landboukoöperasies kan kry. Skenkers moet reuse-afstande aflê om die voer hier te besorg.

Basiese kruideniersware: broodmeel, koekmeel, gis, sout, suiker, langlewemelk, koffie, skoonmaakmiddels, vloeibare waspoeier (ons water is brak!) olyfolie, sonneblomolie, blikkieskos, sjampoe, opknapper, Dettol, pleisters, salf, tissues, tampons, Dove-seep (weer die brak water), Clicks-geskenkbewyse, Checkers-geskenkbewyse.

Die Sinode van Noord-Kaapland van die NG Kerk het in 2020 met skool- en koshuisfooie gehelp. Ons wag nog om te hoor of daar weer vir vanjaar verligting sal wees. As die koshuisfooie nie vereffen word nie, kan die kinders hul plek daar verbeur. En dis bitter moeilik om dit reg te kry om van skoolfonds vrygestel te word.

  • Indien jy betrokke wil raak, kontak Klasie Maritz, voorsitter van die Brandvlei-landbouvereniging, by 071 884 3025.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *