’n Brief aan die jong mens wie se lewe deur Covid-19 weggeneem is

DEUR SIMONE GAUCHE

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek sien jou. Ek sien jou gesig by ’n koerantberig en op Facebook en Instagram. Ek weet dat niemand in woorde kan beskryf wat jou verlies werklik beteken nie. En ek wonder oor die geliefdes wat jy agtergelaat het.

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer vir die ongelykhede in dié lewe en in die wêreld waarin ons ons bevind. Ek weet dat as jy in ’n eerstewêreldse land gebore is, jy reeds ingeënt sou gewees het. Dit voel soms vir my dat dié oorlog nie slegs teen Covid-19 gevoer word nie, maar ’n stryd tussen ryk en arm is.

LEES OOK: ‘Jongmense wat ernstig siek word van Delta-variant en mense wat entstof weier ’n bekommernis,’ vertel dokter van Mosselbaai

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer dat jy ’n statistiek geword het, ’n aanduiding wat op ’n grafiek verskyn en baie gou weer verdwyn het.

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer dat jy alleen in jou hospitaalbed was met slegs jou selfoon om jou geselskap te hou. Ek wens iemand kon daar wees om jou hand vas te hou, die sweet van jou voorkop af te vee en in jou oor te fluister: “Alles sal oukei wees.”

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer dat die hospitaal koud en onpersoonlik gevoel het en dat niemand jou in jou laaste dae en ure en oomblikke getroos het nie. Hospitale is onderbeman en die personeel is oorwerk – maar ek wil nie verskonings maak nie. Die feit dat dit inderdaad so is, maak niks beter nie.

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer dat die regering jou in die steek gelaat het. As dit nie was vir die korrupsie en politieke armdrukkery in die land se gesondheidsorg nie, was daar dalk vroeër geld vir entstowwe beskikbaar. En kon behoorlike beplanning jou dood voorkom het.

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer as jy gevoel het jou menswaardigheid is geskend en geminag. Dat jy naak in jou hospitaaljurk gevoel het. Hoe moes jy ooit geweet het dat iemand anders jou eendag sou bad? Dat jy ’n bedpan sou gebruik, en dat om tande te borsel soos ’n luukse sou voel?

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer vir die aanhoudende lawaai wat jy in jou laaste ure, dae en oomblikke moes verduur. Die knaende gepiep van die lewensondersteunende masjiene, die skokkende geluide van die ander pasiënte wat na hul asem snak. Die geklets van die hospitaalpersoneel. Ek hoop dat jy dit kon regkry om jou kop en jou hart stil te maak, en dat jy op ’n manier vrede gevind het.

LEES OOK: Dawid en die koronavirus-reus

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek voel jammer vir die familie en vriende wat jy agtergelaat het. Hulle sal gereeld jou stem hoor, die deuntjie van jou lag, en daardie grappie wat jy altyd by ’n partytjie vertel het.

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek kry jou maat so jammer. Dis ’n mens wat vandag worstel met wat gesê is, en wat nie gesê is nie en nou vir altyd ongesê gaan bly. Met wat gedoen is, en nie gedoen is nie en nou nooit gedoen gaan word nie. Ek wens julle kon mekaar nog een keer aan jul eerste soen, jul troudans of die geboorte van jul kinders herinner. Dat julle mekaar van jul wedersydse liefde kon verseker.

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer vir alles wat jy nou nooit gaan beleef nie: die wedstryd, die balletkonsert, die fietsrit. Ek is jammer oor die gradeplegtigheid en die troue.

LEES OOK: Die onsigbare las van Covid: Was dit mý skuld?

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer as ek tydens ons konsultasies oogkontak en geselsies vermy het. Ek het my eie gesin in jou oë gesien, en ek is ook bang en moeg. Ek het nie die antwoorde gehad vir die vrae wat jy gevra het nie.

Aan die jong mens wat gesterf het: Ek is jammer. Jy is geliefd en jy word gemis. Ons sal jou nie vergeet nie.

“Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (Ps 8:5).

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img