Bybelse dagboek soos ’n stroom van inspirasie

DEUR ENGELA DUVENAGE

’n Staatmaker – dít is Uit die Beek al vir byna 100 jaar gewis. Dié Bybelse dagboek bied vir elke dag van die jaar ’n Skriflesing, ’n oordenking en ’n gebed, asook ’n aandleesstukkie. Sedert die 2018-uitgawe is dr Barend Vos, ’n gewaardeerde LiG-medewerker, die samesteller daarvan. Hy reken dat sogenaamde “goeie” stiltetyd die oomblikke is wanneer Christene bewus kan word van die nuwe asem wat aan hulle gegee word, en hulle kans gee om die Wind te hoor (en selfs te voel).

Vertel ’n bietjie meer oor Uit die Beek se geskiedenis.

Die eerste uitgawe is in 1925 in Nederlands gepubliseer as Uit de Beek. Ná enkele jare het dit in Afrikaans verskyn, en daarna elke jaar sedertdien. Die Van Wijk-familie het deur die jare ’n groot rol gespeel. Die eerste skrywer was ds Attie van Wijk, en daar was met verloop van tyd verskeie Van Wijk-predikante wat die skryfwerk gedoen het. My onmiddellike voorganger, ook ’n ds Attie van Wijk, was tien jaar lank die skrywer.

LEES OOK: Grootseun: Om in die voorhowe te kom

Jy is sedert die 2018-uitgawe die skrywer daarvan. Volg dit ’n spesifieke ritme?

Met die eerste drie uitgawes, te wete 2018, 2019 en 2020 s’n, is die tekskeuses van die Revised Common Lectionary, oftewel die “Leesrooster”, gebruik. Met die volgende vier uitgawes, dus van 2021 tot 2024, word gepoog om die Bybel van hoek tot kant deur te lees.

Bekroonde skrywer Barend Vos skryf sedert die 2018-uitgawe Uit die Beek, ’n Bybelse dagboek wat al vir byna 100 jaar jaarliks verskyn. Foto verskaf

Hoe het dit gebeur dat jy hierby betrokke geraak het?

Eenvoudig: Lux Verbi het my gevra. Die uitgewer, Susan Jordaan, het op ’n dag gevra of ek sou kans sien. Die oorspronklike ooreenkoms was vir 2018 tot 2020. Dié drie jaar het nou (’n beplande) sewe jaar geword.

In watter mate het vorige van jou boeke, en onderwerpe daarin, hiertoe bygedra? LiG-lesers ken jou byvoorbeeld eerder vir jou ligter skryfwerk, soos die Grootseunstories.

Ek het in 2007, in opdrag van die ATKV, ’n Bybelse dagboek geskryf wat ter viering van dié organisasie se 75 jaar aan hulle lede gegee is. Dis deur LAPA in hardeband as Die vriendelike God uitgegee en is baie goed ontvang. Twee jaar later is dit deur Die vrolike God gevolg, ook in hardeband, ook by LAPA. Dié twee boeke het my iets van die dissipline van Bybelse dagboek-skryf geleer. En dan nie bloot die dissipline van letterlik elke dag se sit en werk nie, maar ook die dissipline van verantwoordelike Skrifuitleg, van kommunikasie met die gelowige leser vir wie ek nie ken nie. Hierdie dinge het my grootliks voorberei vir die harde werk wat op my sou wag.

Daarby was die jare lange prediking in ’n gemeente en al die Pinksterreekse en Bybelstudiebyeenkomste ’n kosbare, eintlik onontbeerlike, leerskool.

Hoe hoop jy sal Uit die Beek mense raak?

“Hoop” is ’n sleutelwoord in jou vraag … In die tyd waarin ons leef, en waarin Uit die Beek-lesers die afgelope amperse eeu geleef het (wat ’n wêreldoorlog, ’n Groot Depressie, en verskeie politieke en maatskaplike omwentelings insluit) is hoop ’n nodiger-as-brood behoefte. Soos troos. Soos bemoediging. Ek kan aan geen beter bron van hoop, troos en bemoediging dink as die boodskap van God se goedheid in sowel die Ou as die Nuwe Testament nie.

En dis wat Uit die Beek verkondig. Dié naam beteken letterlik “uit die stroompie”. Dis by hierdie stroompie, hier by die lewende water, die water waar daar vrede is, waar ons elke dag gaan skep en drink.

Bestel Uit die Beek 2022 hier.

Wat is vir jou die waarde van ’n publikasie soos Uit die Beek vir ’n Christen?

Dis ’n daaglikse herinnering aan God wat eindeloos goed is. As jy sukkel om dit in jou lewe raak te sien, en jou geestesoë sien Hom nie in die natuur nie, en jy kry dit nie reg om sy vriendelikheid in die Woord na te spoor nie, sal ’n boek soos Uit die Beek jou dalk help.

Dis uiteindelik die woorde en gedagtes en gebede van ’n medegelowige – feilbaar soos jy, ’n soeker soos wat jy is – wat só na jou toe kom.

Wat het jy in die skryfproses geleer?

Ek leer elke dag iets by, en ek leer noodgedwonge elke dag iets áf. Skryf is ’n ambag soos enige ander ambag. Jy moet báie skryf om te leer beter skryf. Jy moet bereid wees om óór te skryf, om weer te begin. Om die skryfwerk waarmee jy gisteraand so doodtevrede was vanoggend nuut te bekyk. En, indien nodig, die “delete”-knoppie te druk.

Met spesifiek die skryf van Uit die Beek gaan die Bybel voor jou oop. Jy leer stiplees, en jy leer ken die omvattende goedheid van God op ’n splinternuwe en dikwels verrassende wyse.

Hoe moeilik is dit om ’n volle dagstukboek te skryf? Hoe lyk jou werkprogram daarvoor? Hoeveel skryf jy per dag, byvoorbeeld, en binne watter tyd?

Dis harde, harde werk wat hoë eise aan jou selfdissipline stel. Ek probeer om elke dag twee dagstukkies te voltooi. Soms kry ek dit reg, soms nie.

LEES OOK: Wilderniswenke vir Vroue | ’n Nuwe Dag-geskenkpak

Ek begin vroeg soggens en maak die rekenaar eers laataand toe. Daar is so tussendeur naslaanwerk wat opduik. En daar is dikwels iets wat my bly pla lánk nadat ek ’n bepaalde stuk neergeskryf het. Dan word die eerste deel van ’n nuwe dag aan oorskryf gewy …

Tussen agt en ’n half en nege maande van die jaar behoort aan Uit die Beek. In daardie tyd wag my ander skryfwerk vir die afknyptydjies.

Die plek waar Barend die meeste van sy tyd deurbring. Om Uit die Beek te skryf is harde, harde werk wat hoë eise aan jou selfdissipline stel, vertel hy. Foto verskaf

Hoe reken jy lyk goeie stiltetyd?

Ons is nie almal eenders nie en ons idee van stiltetyd verskil ook. Gelowiges heg nie almal ewe veel waarde aan stiltetyd nie. Dis jammer, want ons asem is korter as wat ons dink. God se Gees, die Wind wat waai waar Hy wil, rus ons toe om ’n ryker en meer vervullende lewe te leef. Dis in die tye wat ons stil word dat ons die seën daarvan werklik beleef. En dit geniet.

“Goeie” stiltetyd? Dis wanneer ons bewus word van die nuwe asem wat aan ons gegee word. Daarvoor het ’n gelowige inderdaad tyd nodig. En stilte. Sodat jy die Wind kan hoor. En, as jy besonder gelukkig is, dit ook voel.

Een van Barend se geliefde stilwordplekke is langs die see. Foto verskaf

En hoe lyk jou eie? Het jy ’n spesifieke plek of hulpmiddels wat jy gebruik?

Ek het ’n paar sulke stilwordplekke, ja. Een is langs die see; ’n ander is onder ’n groot boom in die tuin. In die winter is dit dikwels voor die vuur. Verreweg die meeste stiltetye in my lewe geskied op my stoel by my lessenaar. Dan rus my kop op my arms, en my elmboë pas netjies weerskante van die sleutelbord by my rekenaar. Die enigste hulpmiddel wat ek soms gebruik, naas die oop Bybel, is musiek.

  • Dr Barend Vos is al bekroon met ’n ATKV-veertjie vir een van sy LiG-stories. Hy het al verskeie boeke uitgegee: van dagstukkies tot fiksie en romans met die Bybelse gegewe as agtergrond. In 2001 het hy die CBSA-prys vir fiksie vir Eksodus gewen, en in 2016 die Andrew Murray-prys vir Die ewigheid in my hart.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img