Sunday, July 25, 2021

#covidkinders: Die vrug van 13 minute per dag

DEUR JENNA-TIMAE DU PREEZ

Ek is seker julle sal saamstem dat geloof ons deur Covid-19, die grendeltyd en soveel ander tye dra. Soos Hebreërs 11:1 sê: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Hoewel die verlies en onsekerheid van die pandemie my diep geraak het, was die inperking vir my op ’n geestelike vlak baie spesiaal.

LEES OOK: #covidkinders: ‘My ma is my skuilplek’

Ek kon meer kwaliteittyd met die Here spandeer. Dit was asof die lewe net skielik rem getrap het en alles, soos ’n kamera se lens, in fokus kon kom. Soms moet ons ’n tydjie vat, die pause-knoppie druk en besluit wat werklik belangrik is en ewigheidswaarde het.

Ons kan prioriteite wat dalk deurmekaar gegooi is weer mooi in “die regte” volgorde rangskik.

Ek is veral in vlak 5 van die grendeltyd uitgedaag om meer te bid, nie net skietgebedjies nie, maar intimate gesprekke met die Here. Oomblikke waar Hy vir ons dieper dele van sy Pappa-hart wys.

Ons gesin het saam, veral tydens Paasfees, soveel nuwe waarhede ontdek. Amper soos ons eie Egipte-na-Kanaän-reis.

Ek en my twee sussies het feitlik elke aand ’n “kermisbed” gemaak. Voor slapenstyd het ons saam Bybel gelees. Daarna het ek ’n timer vir 13 minute gestel waarin ons met die Here gepraat het en nog meer belangrik, geluister het wat Hy wil sê. Ek weet self nie waarom ons op 13 minute besluit het nie, maar die vrug wat selfs so ’n klein deeltjie van ’n dag kan dra is amazing

LEES OOK: #covidkinders: ’n Virus het my herinneringe kom steel

Handelinge 1:8 is een van my gunstelingverse oor die Heilige Gees se krag. Die Griekse woord hiervoor (die Here en die Heilige Gees se krag wat deur ons werk) is dunamis. Hoe ek daaraan dink is soos dinamiet of ’n ontploffing – dit is kragtig, moeilik om mis te kyk en dit verander alles …

Soos ons tyd maak vir die Here en sy Woord, ervaar ons daagliks dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het en kom verander Hy ons sodat ons nooit weer dieselfde kan wees nie.

Jesus verras my elke dag opnuut met sy grootheid en goedheid.

Noudat ons skoolprogramme weer volstoom aan die gang is met huiswerk, take, toetse, sport en kultuur het dit my laat dink aan hoe ek en jy ons tyd spandeer.

Dertien minute is só min, tog sukkel ek soms om tyd te maak vir stil raak en Bybelstudie.

LEES OOK: #covidkinders: ‘Ek kry iets waarna ek my hele lewe smag – ’n regte familie’

Van graad een tot vier was my ouma ons klavierjuffrou. As ek die week te min geoefen het en sy het my gevra hoekom, was my antwoord gewoonlik: “Ek het nie tyd gehad nie.” Dan het sy glimlaggend geantwoord: “You always have time for the things you put first.”

Daar was wel ook uitdagings en tye wat ek moedeloos of bang was gedurende die pandemie. Ek onthou toe ek en my pa een dag winkels toe was, net nadat Covid-19 in Suid-Afrika ’n werklikheid geword het. Die werklikheid dat my eerste hoërskooljaar heel anders gaan uitwerk, het my getref.

LEES OOK: #covidkinders: ‘Vandag is jou enigste kans’

Met tye was ek benoud dat ons skoolwerk sou agter raak, dat ek nie vinnig weer my vriende gaan sien of binnekort skolesport sou kon beoefen nie.

Ek onthou ook hoe onseker en “anders” die eerste dag terug by die skool was. Wat as daar werk is wat ek dalk gemis het of as ons glad nie weer lekker aktiwiteite by die skool kan doen nie? Deur dit alles het die Here my gewys dat Hy werklik omgee vir elke klein detail. Dat hy getrou en in beheer is, onveranderlik – gister, vandag en tot in ewigheid!

Een van my gunstelingaanhalings is: “Tyd is een van die waardevolste hulpbronne wat die Here vir ons gee om te bestuur.” Ons kan elkeen daagliks hierdie dunamis-krag oral saamneem en sien hoe die Here in ons lewe werk.

Kom ons wees lig en sout, veral in ’n tyd soos hierdie (Matt 5:13-16; Ester 4:14).

Mag sy goedheid en guns ons volg al die dae van ons lewe.

  • Jenna-Timae du Preez is ’n graad 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch.
  • LiG vier #Jeugmaand deur leerders te nooi om bydraes vir ons #covidkinders-rubriek te lewer.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img