Tuesday, June 22, 2021

#covidkinders: ‘Ek gaan die toekoms goudgeel inkleur’

DEUR JEAN-MARI ORCHARD

Wanneer een deur toegaan, gaan ’n ander een oop.  Só lui die ou spreekwoord – en ek wil dit glo, maar my hart en kop wil nie altyd saamwerk nie. Wat van Covid-19, die koronaviruspandemie, die nuwe variante, die baie mense wat sterf …?

Ewe skielik was alle deure toe, letterlik toe, die hele land was toegesluit. Oral was toe deure, toe vensters, selfs toe gordyne. Daar moes nie ’n enkele opening wees waardeur die virus kon kruip nie.

Maar tog het hy ingekom, stilletjies ingesluip, soos ’n dief in die nag. En oral waar hy gekom het, het hy verwoesting gesaai.

Hy het dinge weggeneem: ons onderrig, ons vryheid, ons tienerjare. Hy het my met vrees vervul en met baie vrae gelaat. Is dit ’n herhaling van 1918 se Spaanse Griep?

Eensklaps was dit verbode om skool toe te gaan, om saam met vriende te kuier, om partytjies by te woon, om selfs ’n maat oor te nooi. Vir my, ’n ekstrovert, was die grendeltyd ’n nagmerrie.

Daarby het my gewete deurentyd polisieman gespeel. Ek was te bang om ’n tree buite ons huis te gee. Grendeltyd het ’n enorme deel van my sosiale lewe en my sportbeoefening gekaap. Ek was sielsongelukkig – en ek was bang, bang, bang.

Aan die ander kant: Ek is bevoorreg om wonderlike ouers te kan hê. Ek kon in hierdie moeilike tyd met hulle praat. Ons kon ’n paar weke lank sit en gesels, regtig gesels. Ons kon lag, speletjies speel, saam kosmaak. Ons het weer tyd vir mekaar gehad.

Op ’n manier was ons dankbaar dat ons die gejaag na wind kon staak. Die rustigheid het my oorweldig en my báie gelukkig gemaak. My ouerhuis het my geborge laat voel.

Ons skool

Om aanlyn te kon skoolgaan, was nie almal beskore nie. Maar ons skool is uitstekend toegerus, en ek het opnuut besef hoe hard ons hoof en die personeel werk. Hoeveel ekstra ure hulle aan ons afstaan. Hulp was letterlik die druk van ’n knoppie ver. Daar is data beskikbaar gestel aan diegene wie s’n nie genoeg was nie. Niks was ooit te veel vir hierdie klomp toegewyde onderwysers nie.

“As ek nou op alles terugkyk, besef ek weer dat aardse besittings niks werd is nie. Jou familie, jou maats, jou skool en jou geloof in die Here is die kosbaarste besittings wat jy kán hê,” vertel Jean-Mari. Foto verskaf

Toe ons op ’n dag weer na die skoolgebou kon terugkeer, het die onderwysers sorgvuldig toegesien dat die nodige veiligheidsmaatreëls getref en nagekom word. Ek was nooit bang nie, selfs nie eens gespanne nie. Die noukeurigheid waarmee hulle te werk gegaan het, was ’n riem onder die hart.

Ja, die afstel van die matriekafskeid en die interskole was ’n swaar slag. Maar ek het besef dat dit die enigste uitweg is. Dat dit die beste was vir my en my maats en vir almal wat daarby betrokke sou wees.

“Bring it on!”

As ek nou op alles terugkyk, besef ek weer dat aardse besittings niks werd is nie. Jou familie, jou maats, jou skool en jou geloof in die Here is die kosbaarste besittings wat jy kán hê. My ouers se liefde en hul positiewe uitkyk op die lewe het my hoop gegee. Die toekoms is mooi. Ek weet dat, as ons saamstaan, daar geen probleem of ramp of virus is wat ons ooit sal onderkry nie.

Soos ons tieners sal sê: “Bring it on!” My strydkleed is aangetrek en my swaard en skild is gereed. Ek, my maats, ons ouers en familie, ons skool – óns sal ons nie laat onderkry nie. Met ons geloof en met al ons krag sal ons die virus beveg.

Ek gaan die toekoms inkleur met die kleur van 2021 – goudgeel.

  •  Jean-Mari Orchard is ’n 16-jarige leerling aan Hoërskool Swartland in Malmesbury.
  • LiG vier #Jeugmaand deur leerders te nooi om bydraes te lewer vir ons #covidkinders-rubriek.

 Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img