#covidkinders: ‘God en my ouers gee my hoop’

DEUR LILLI DU TOIT

Toe ek die eerste keer van die Covid-19-storie gehoor het, was dit vir my sleg. Ek het gedink ons sal glad nie meer ons maats kan sien of met vakansie kan gaan nie.

Voor die grendeltyd ons in Maart 2020 getref het, was ons reëlings reeds gefinaliseer: my twee broers Stèphan en Jean-Luc sou op ’n toer vertrek. Ek en my sus Manon sou dan ’n lekker tydjie saam kon deurbring, want die seuns is gewoonlik in die pad as ons iets wil doen.

Toe kom die grendeltyd. Ek was baie hartseer dat ons planne nie ’n werklikheid kon word nie.

LEES OOK: #covidkinders vertel húl stories (Deel 1)

Ná ’n klompie weke het ek dié vreemde tyd egter begin geniet. Een van my lekkerste herinneringe nou is hoe ons gesin destyds dinge saamgedoen het. Elke oggend so teen tienuur het ek, Stèphan, Jean-Luc, Manon en my ma en pa om ’n koppie koffie en ’n stuk beskuit saam uit die Bybel gelees. Dit was spesiaal, want ons kon lekker gesels en saam tyd deurbring.

Saterdae het ons saam geoefen. Ons het self dinge uitgedink en allerlei speletjies opgestel om pret te kan hê – nadat ons vyftig keer om die huis moes hardloop . . .

Die heel lekkerste was om soggens ’n bietjie later as die normale sesuur te kon opstaan. Ek kon ook in die warm sonnetjie in my kamer sit en skoolwerk doen.

Ons gesin was bang dat ons ook die gevreesde virus sou opdoen; ons hoor gereeld van mense wat sterf. Ek onthou hoe my ma op die eerste Sondag in November 2020 gesê het dat sy nie haar koffie en beskuit kon proe nie. Ek onthou ook hoe bekommerd Manon was toe ons ma vir ’n Covid-19-toets moes gaan. Ná die toets het sy pal haar masker in die huis gedra.

Later daardie dag moes ons hoor sy is wel Covid-19-positief. Drie dae later het Jean-Luc en ek begin siek voel. En toe my pa. Manon en Stèphan het geen simptome getoon nie.

Gelukkig was ons almal ná tien dae weer gesond. Ons het gehoor dat die teenliggaampies in ons bloed ons ses maande lank sal beskerm.

Nou is die ses maande verby. Ek dra steeds elke dag getrou my masker, by die skool én as ons winkel toe moet gaan. Soms druk ek dit effens af tot net onder my neus sodat ek ’n bietjie vars lug kan skep.

Die meeste van die sportoefeninge by die skool is afgestel – wat sleg is, aangesien ons nou nie meer so aktief is nie. Ek neem darem aan gimnastiek deel en is dus twee dae in die week aktief. My gimnastiekoefeninge duur twee ure op ’n keer. Dit hou my besig en, al is dit koud in die wintermaande, kry ek steeds warm in die saal waar ons oefen. Boonop hou die masker ook my gesig lekker warm.

LEES OOK: #covidkinders vertel húl stories (Deel 2)

Ek kom agter my emosies ry gedurig wipplank: As die skole toe is, wil ek skool toe gaan; noudat die skole hul deure oopgemaak het, wil ek weer nie aldag skool toe nie. Ek wil by my maats gaan kuier, maar ek besef ek moenie te veel sosialiseer nie, dít is waar mense mekaar aansteek.

En ek wil nie so baie huiswerk hê nie …

Te midde van al hierdie dinge gee my ouers en die Here my elke dag hoop. Ek staan steeds vroeg op om skool toe te gaan, al maak die koue winter my teësinnig. My ouers moedig my aan om my skoolwerk so goed moontlik te doen, asook die sport wat ek beoefen.

Ek is baie dankbaar dat ek sulke wonderlike ouers het. En so ’n wonderlike God. Ek kry nie net hoop nie, maar ook alles wat ek nodig het – en meer.

Ek moet wel sê ek is nie meer lus vir hierdie Covid-19-storie nie. Dit moet nou  end kry en weggaan. Ek kan byna nie glo dat iets wat in China gemaak is so lank kan hou nie …

  • Lilli du Toit is ’n 15-jarige leerder aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.

LiG vier #Jeugmaand deur leerders te nooi om ’n bydrae vir ons #covidkinders-rubriek te lewer.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img