Sunday, July 25, 2021

#covidkinders vertel húl stories (Deel 2)

Tydens Jeugmaand het LiG leerders genooi om húl stories te vertel. Van Riversdal tot in Bloemfontein vertel dié tieners hoe hulle sedert Covid-19 Suid-Afrika getref het, die lewe ervaar het. Hulle is nie onaangeraak nie. Maar hulle is braaf en hulle is hoopvol. (Lees ook Deel 1)

———————————————————————————–

Roosje Grobbelaar: Die hoop op ’n nuwe môre

 (Aan almal wat nie net deur die pandemie en die inperking nie, maar ook deur die lewe so hard getref is dat hulle sukkel om die moontlikheid van ’n nuwe môre raak te sien.)

Wat my in hierdie tyd die meeste hoop gee, is die wete dat ons nooit stil staan nie. Dis iets wat ons dikwels vergeet, maar ek kan met groot vertroue sê dat dit wel die geval is, aangesien:

(i) die aarde om sy eie as draai;

(ii) al sou die aarde nie om sy eie as draai nie, wentel dit steeds om die son;

(iii) en selfs al sou die aarde nie om die son gewentel het nie, kruip die aarde se tektoniese plate elke eeu etlike millimeter.

(iv) Dit alles is waar, en dan is daar boonop die talle moontlikhede wat ons het om te verhoed dat ons tot stilstand kom – ons loop, ons hardloop, ons spring. En ons val.

Ons het geval

Die bondel feite hierbo weerlê die stapels en stapels verkeerde inligting wat die media, insluitend sosiale media, die afgelope jaar aan goedgelowiges opgedis het. Kortweg: Daar is vir jou oor nóg iets gejok …

Ja, hulle het vir jou gejok toe hulle geskree, geskryf en uiteindelik gefluister het dat die wêreld “tot stilstand gekom het”.

(Plaas dit gerus op jou Facebookgroepie, jy wat dink dat elke artikel met drie “likes” die volle en reine waarheid bevat.)

Want, soos reeds in die bogenoemde stellings verklaar, gaan staan die wêreld nie so maklik stil nie.

(Neem dus kennis, histeriese opsweper. As jou inligting nie deur ’n betroubare bron gelys en bewys is nie, moet dan nie die inligting opslurp soos daardie laaste stukkie beskuit in die blik nie.)

Ons het hard geval

In die begin, destyds met die eerste sprake van vlugte wat gekanselleer sou word, was daar maar ’n klein skrapie. Soos alle kinders wat vir hul kleuterskoolmaatjies wil wys dat hulle ’n pleister het, was ons ook maar vol drama. Van die “ek het skeefgetrap-storie” wat uitgroei tot die “ek het van die boonste trap afgetuimel-storie”, het ons tydens daardie eerste 21 dae geesdriftig vertel hoe ons tuisgebakte piesangbrood nie net lekker was nie, maar selfs “lekkerder as my skoonma se familieresep”. Té graag het ons geskinder oor daardie buurman wat ná 19:00 die reëls oortree deur saam met sy vriende te braai.

Nee, wat, dié tydjie was eintlik heel lekker …

Dis ’n jaar later, en ek hoef nie meer te oordryf om ons inperkingverhaal dramaties te laat klink nie. Ons het nie van die boonste trap afgetuimel nie; ons het uit die hoogste hemele neergeplof tot in hierdie derdewêreldse land.

Ná ons ou ongelukkie waartydens ons vlerke – wat nooit juis vinnig geflap het nie – geknip is, sit ons sowaar met 206 gebreekte bene. Om dit duideliker te stel: Die menslike skelet het slegs 206 bene, en elke liewe een is gebreek.

Ek sukkel om myself daarvan te oortuig dat dit moontlik is om hieruit te kom. Dat ons sal herstel en weer sal kan beweeg.

Totdat ek besef dat ons nie hoef te beweeg nie. Want, soos hierbo aangedui, ons het nooit werklik stil gestaan nie.

Ons het geval. Ons het hard geval, maar ons het ons nie dood geval nie.

Nee, jy is beslis nie dood nie, want laas toe ek gekyk het, het die graf nie internettoegang gehad nie. Die feit dat jy hierdie letters sien en die woorde herken en allerlei interpretasies vorm, beteken dat daar derduisende senuweeseine deur jou brein blits.

En dít is BEWEGING, liewe Susan! Ja, jou hart wat vinniger klop wanneer jy kwaad raak vir my grappie wat jy nie snaaks vind nie, is BEWEGING, Berta!

Soms het ons ’n goeie dosis realiteit nodig. Hou op dink die wêreld staan stil. Dit is nie so nie. ’n Virus wat slegs gesien kan word as dit duisend keer onder ’n mikroskoop vergroot word, het absoluut geen invloed op die sterre nie. Jou hond weet dan nie eens wat die koronavirus is nie.

’n Mens verdrink nie deur in die water te val nie; jy verdrink deur daar te bly. Dus: Gebruik jou bene en trap water. As jou bene gebreek is, swem met jou arms. En as jou arms moeg is, hou ten minste jou asem op. Want dit voel nou soos ’n ewigheid, maar, soos in die see, sal hierdie golf ook oor jou spoel.

Selfs as die golwe die minste van jou probleme is – omdat die trane soos riviere teen jou wange af stroom – weet net: Trane wat vloei, wys BEWEGING. En solank jy kan bewe – of dit nou van woede, hartseer of opgewondenheid is – lewe jy nog.

Weereens: As jy nog lewe, neem ek aan die aarde draai, wentel en wriemel steeds …

Ons het geval. Dankie tog vir swaartekrag! Ons het nie van die planeet af geval nie; ons het bloot geval.

Altyd antikloksgewys. Eers Australië, dan Suid-Afrika en uiteindelik selfs Brasilië. Dit maak nie saak of jy ses ure agter is nie – of, soos ons inentingprogram, heel moontlik twee jaar agter – Planeet Aarde BEWEEG op so ’n manier dat die son uiteindelik móét opkom. Binnekort is daar weer ’n nuwe môre.

(Plaas dít vir ’n slag op jou Facebookgroepie!)

Ons het geval. Maar om te val, is ’n vorm van beweging. En solank ons – en die aarde – beweeg, is daar altyd die hoop op ’n nuwe môre.

  • Roosje Grobbelaar is in graad 11 aan Hoërskool Gimnasium Paarl.

……………………………………………….

Mia Jonck:‘My groot vrees is nie Covid-19 nie’

 Ek is ’n normale tiener en ek geniet baie dinge. Om naweke laat te slaap en net pleinweg in die bed te kan lê, is vir my die heerlikste ding denkbaar. Ek is ’n groot Netflix-kyker. Ek hou van flieks, maar reekse is boaan my lysie voorkeure. My gunstelingreekse is F.R.I.E.N.D.S (ek het ál tien seisoene seker al 14 keer gekyk) en Brooklyn 99.

Die rede vir die Netflix-aanhang is dat dit my die vermoë gee om hierdie Covid-besmette wêreld agter my te laat. Al die spanning en bekommernisse verdwyn sommer.

Maar ek is nie bang vir Covid-19 nie.

Ek is ongeveer met netbal getroud – en die pandemie het dinge ook hier baie ingewikkeld gemaak. Ek speel reeds 12 jaar lank, sonder dat ek ooit gedwing is om dit te doen. Netbal het my dissipline geleer, en die waarde van spanwerk. Asook respek teenoor ander spelers. Danksy my afrigters by Hugenote Hoërskool in Wellington het ek Cape Winelands se finale proefspanne gehaal.

Kyk, Covid-19 ís ’n pes wat op die verkeerde tyd hier opgedaag het. Ja, dit was lekker om ’n ekstra twee weke vakansie te kon hê. Maar ek het beslis nie gevra vir ’n hele jaar in my kamer nie.

Die pandemie het ’n groot invloed op die meeste leerders se akademiese program gehad. Ek het self nie baie probleme in dié verband gehad nie; daar is wel diegene wie se omstandighede anders as myne is.

Uiteindelik het Covid-19 sóveel van my hoërskooldrome gesteel. Al die danse waarna almal so uitgesien het wat eensklaps net wég is. En, die ergste, die matriekafskeid en interskole wat gekanselleer is. Met alles wat afgestel is, het baie van die skool se gees verlore gegaan.

Ek kan my ook nie indink hoe verlede jaar se matrieks moes voel nie. Hul laaste jaar op skool is so erg ontwrig …

In dié tyd is dit baie moeilik om soggens op te staan en skool toe te gaan. Ek het dikwels nie die krag en moed om dit te doen nie. Dis ook ongemaklik om elke dag ses ure lank ’n masker te moet dra. Dit voel asof ek deur my eie asem versmoor word. Daarom kyk ek elke oggend op my foon om te sien of ek wel moet skool toe gaan. Deesdae word die skooldag afgestel as gevolg van een kind wat Covid-19-positief is.

Maar ek is nie vir Covid-19 bang nie. Wat maak my dan bang?

Ek is bang om groot te word. Ek, tans in graad 11, moet tog nou reeds ’n idee hê watter loopbaan ek wil volg. Sodat ek kan weet waar en wat ek moet gaan studeer. Dit maak my uit my sokkies uit bang, want ek weet nie wat ek eendag wil word nie. En as ek dit nie weet nie, kan ek nie begin om aansoekvorms in te vul nie.

Ek is ook bang om eendag alleen te bly, om huur vir ’n eie woonstel te moet betaal. Om al die ander onkoste self te moet dra. Om dié blyplek te moet beveilig. Ek weet nie hoe ek dit gaan regkry nie. Boonop moet ek geld hê om te kan eet.

Daarom: Wat my eintlik die bangste van alles maak, is om eendag nie meer my ouers te hê wat na my omsien nie.

Te midde van al die negatiewe dinge wat die pandemie meegebring het, is die Here my vernaamste bron van hoop en bemoediging. Hy, my familie en my vriende. En my ouers.

  • Mia Jonck is ’n 17-jarige leerder aan Hugenote Hoërskool in Wellington.

……………………………………………….

Amy-Leigh McCarthy: ‘Ek kry iets waarna ek my hele lewe smag – ’n regte familie’

Ek dink ek praat namens almal as ek sê dat Covid-19 ons lewe verander het.

As ek uit mý perspektief kan praat, sal ek sê Covid het my goed én sleg hanteer. Alles het mos sy ups and downs.

Voor Covid het ek in ’n kinderhuis gebly, skool toe gegaan en ’n verkeerde idee van Christenskap gehad. Almal het daarvan gepraat, maar ek kon dit nie verstaan nie. Ek was emosioneel nie op die regte plek nie. Met my verlede wat krap en onsekerheid wat uitdop, het ek myself stadig maar seker verloor.

Toe slaan Covid-19 toe …

Onmiddellik is ons heeltemal afgesny van die wêreld daarbuite, wat glad nie ’n goeie uitwerking op enige kinderhuiskind of enige iemand gehad het nie. Ek was gefrustreerd en bekommerd omdat ek nie my vakansiefamilie kon sien nie. Maar so was elke ander kind ook. Gaan ons hulle ooit weer sien met die dodelike siekte wat in die lug hang?

Ek persoonlik het baie foute gemaak en al hoe meer wegbeweeg van die Here af. Op daardie stadium was ek in die proses om by my vakansiefamilie in pleegsorg te gaan bly, en ek het so baie daarna uitgesien. Dit het my hoop gegee om te veg en aan te gaan.

Alhoewel mense probeer het om dinge by die kinderhuis beter en lekker te maak, was almal nog steeds bang dat hulle nooit weer hulle familie sou sien nie. Party van die kinders het familie en vriende verloor, wat die vrees nóg erger gemaak het.

Vir die personeel was dit ook moeilik, want hulle moes so baie kinders beskerm en rustig hou terwyl hulle na hulle eie families moes omsien. So het almal op een of ander manier moeg en gefrustreerd geraak as gevolg van die koronavirus.

Die lekker ding van Covid is die ontspanning. Maar as ’n groot ekstrovert, is dit nie lank nie, dan raak ek weer verveeld. Om heeldag op my foon te wees is nie juis my idee van lekker nie. My idee van lekker is om met vriende te lag en gesels. My passie is diere, wat dit dan baie lekker maak by my vakansiefamilie, want hulle het diere.

Toe my papiere uiteindelik gefinaliseer is vir my om permanent uitgeplaas te word, het ons nog nuus gekry wat ons onkant gevang het. Maar my vakansiefamilie het my ontsettend baie bemoedig om aan te gaan en in die Here te glo om alles beter te maak.

Op 12 Desember 2020 is ek, na ses jaar van lag, huil en ’n klomp ander gevoelens, uiteindelik uitgeplaas na my vakansiefamilie. Nou is hulle my régte familie. Iets waarna ek nog my hele lewe lank gesmag het.

Van toe af het my lewe ’n drastiese draai geneem. ’n Baie goeie een. Met ’n pastoor-pa en skoonheidsterapeut-ma, het ek baie vinnig gemaklik geraak in die midde van ’n lieflike familie. Ek word elke dag herinner aan hoe lief hulle my het en hulle omring my met ondersteuning.

Ek het toe die Here begin vind, en kan nou met trots sê, ten spyte van alles wat in my verlede gebeur het is ek super dankbaar vir die mens wat Hy my gemaak het. Dat ek nou God in beheer van my lewe kan vertrou in plaas daarvan om op ander se gevoelens en geluk staat te maak.

So, my ervaring van Covid is nie alles net sleg nie. Ek is eintlik baie dankbaar vir wat dit emosioneel aan my gedoen het. Ek kry almal jammer wat iemand verloor het as gevolg van Covid. Families wat uitmekaar geskeur is en pyn wat veroorsaak is.

Ek is ook baie bly vir al die families wat nader aan mekaar geskuif het. Almal se perspektief oor Covid is nie dieselfde nie, maar ek bid dat dit beter gaan raak vir dié wat swaarkry.

  • Amy-Leigh McCarthy is ’n 17-jarige tiener van Wellington.

……………………………………………….

Jean-Mari Orchard: ‘Ek gaan die toekoms goudgeel inkleur’

Wanneer een deur toegaan, gaan ’n ander een oop.  Só lui die ou spreekwoord – en ek wil dit glo, maar my hart en kop wil nie altyd saamwerk nie. Wat van Covid-19, die koronaviruspandemie, die nuwe variante, die baie mense wat sterf …?

Ewe skielik was alle deure toe, letterlik toe, die hele land was toegesluit. Oral was toe deure, toe vensters, selfs toe gordyne. Daar moes nie ’n enkele opening wees waardeur die virus kon kruip nie.

Maar tog het hy ingekom, stilletjies ingesluip, soos ’n dief in die nag. En oral waar hy gekom het, het hy verwoesting gesaai.

Hy het dinge weggeneem: ons onderrig, ons vryheid, ons tienerjare. Hy het my met vrees vervul en met baie vrae gelaat. Is dit ’n herhaling van 1918 se Spaanse Griep?

Eensklaps was dit verbode om skool toe te gaan, om saam met vriende te kuier, om partytjies by te woon, om selfs ’n maat oor te nooi. Vir my, ’n ekstrovert, was die grendeltyd ’n nagmerrie.

Daarby het my gewete deurentyd polisieman gespeel. Ek was te bang om ’n tree buite ons huis te gee. Grendeltyd het ’n enorme deel van my sosiale lewe en my sportbeoefening gekaap. Ek was sielsongelukkig – en ek was bang, bang, bang.

Aan die ander kant: Ek is bevoorreg om wonderlike ouers te kan hê. Ek kon in hierdie moeilike tyd met hulle praat. Ons kon ’n paar weke lank sit en gesels, regtig gesels. Ons kon lag, speletjies speel, saam kosmaak. Ons het weer tyd vir mekaar gehad.

Op ’n manier was ons dankbaar dat ons die gejaag na wind kon staak. Die rustigheid het my oorweldig en my báie gelukkig gemaak. My ouerhuis het my geborge laat voel.

Ons skool

Om aanlyn te kon skoolgaan, was nie almal beskore nie. Maar ons skool is uitstekend toegerus, en ek het opnuut besef hoe hard ons hoof en die personeel werk. Hoeveel ekstra ure hulle aan ons afstaan. Hulp was letterlik die druk van ’n knoppie ver. Daar is data beskikbaar gestel aan diegene wie s’n nie genoeg was nie. Niks was ooit te veel vir hierdie klomp toegewyde onderwysers nie.

Toe ons op ’n dag weer na die skoolgebou kon terugkeer, het die onderwysers sorgvuldig toegesien dat die nodige veiligheidsmaatreëls getref en nagekom word. Ek was nooit bang nie, selfs nie eens gespanne nie. Die noukeurigheid waarmee hulle te werk gegaan het, was ’n riem onder die hart.

Ja, die afstel van die matriekafskeid en die interskole was ’n swaar slag. Maar ek het besef dat dit die enigste uitweg is. Dat dit die beste was vir my en my maats en vir almal wat daarby betrokke sou wees.

“Bring it on!”

As ek nou op alles terugkyk, besef ek weer dat aardse besittings niks werd is nie. Jou familie, jou maats, jou skool en jou geloof in die Here is die kosbaarste besittings wat jy kán hê. My ouers se liefde en hul positiewe uitkyk op die lewe het my hoop gegee. Die toekoms is mooi. Ek weet dat, as ons saamstaan, daar geen probleem of ramp of virus is wat ons ooit sal onderkry nie.

Soos ons tieners sal sê: “Bring it on!” My strydkleed is aangetrek en my swaard en skild is gereed. Ek, my maats, ons ouers en familie, ons skool – óns sal ons nie laat onderkry nie. Met ons geloof en met al ons krag sal ons die virus beveg.

Ek gaan die toekoms inkleur met die kleur van 2021 – goudgeel.

  •  Jean-Mari Orchard is ’n 16-jarige leerling aan Hoërskool Swartland in Malmesbury.

……………………………………………….

Teresa-Jane Pieterse: ‘My ma is my skuilplek’

Dis vir my lekker om te weet dat ek nooit alleen is nie. Dat daar altyd iets of iemand is wat oor my sal waak, selfs al voel dit nie so nie. Dis vir my lekker om teenwoordig te wees, om nooit nee te sê as iemand hulp vra nie, en om altyd op te daag of na die beste van my vermoë raad te gee.

Die heel lekkerste is egter om na die stories van die mense om my te luister. Om te hoor van hul oorwinnings en prestasies en hul gelukkige tye, maar ook hul hartseer en pyn.

Terwyl ek na hul woorde luister, leef ek deur dié mense. In plaas daarvan om net een lewe te leef, leef ek dus verskeie leeftye elke dag. Dit alles gee my ook ’n geleentheid om mý storie te skryf, met die wete dat iemand anders dalk op dieselfde manier deur mý leef. Dit maak my gelukkig om op hierdie manier nader aan die mense om my, nader aan God en nader aan myself te beweeg.

Ongelukkig moet alles in die lewe gebalanseerd wees, en soos wat sekere dinge my baie gelukkig maak, maak ander my baie bang.Daar is verskillende dinge waarvoor jy bang kan wees. Spinnekoppe, byvoorbeeld. Of reeksmoordenaars. Of jou ma. Jy is bang vir hulle omdat jy weet hulle kan jou seermaak.

Daar was nog altyd een ding wat my baie bang gemaak het: die onbekende. Daardie “wat as ek nie matriek deurkom nie”. Die “sê nou maar ek word nie by ’n universiteit gekeur nie”.

Maar as ek doodeerlik moet wees, sal ek erken my grootste vrees is dat ek eendag sal uitvind dat die stem in my kop die waarheid gepraat het. Daardie een wat aanhoudend vir my sê ek is nie goed genoeg nie. Dat my drome nie waar gaan word nie. Dat ek te lelik of te vet of te kort of te irriterend is.

Hieruit kan jy sekerlik aflei dat ’n konfrontasie met iets so onbekend soos Covid-19 nie juis vir my ’n groot plesier is nie. Dat ek dit, inteendeel, as baie erg beleef. Vandat die pandemie sy kloue hier ingeslaan het, het my lewe net een koers geken – afdraand. Ek sukkel veral met my emosies. Twee van my familielede is in die hoërisikogroep. Om van my vriende en die res van die familie te moet wegbly, is vir my dikwels net te veel.

Tot dusver was die ergste van Covid-19 vir my die feit dat ek duidelik kon sien hoeveel mense absoluut geen liefde vir hul medemens het nie. Dit is diegene wat nie eens de eenvoudigste ding sal doen soos om ’n masker te dra ten einde hul ouers of grootouers te beskerm nie.

Die pandemie het heelwat van ons af weggeneem – ons sosiale lewe, baie mense se inkomste, ons gevoel van sekuriteit en vele ander dinge. Ons kan dit nie beheer nie.

Daar is dinge wat ons wel kan beheer: om in hierdie tyd vir mekaar om te gee. Om basiese menslikheid uit te leef. Soveel mense laat dit egter agterweë.

Soos wat ek ouer word, wissel my bron van hoop voortdurend.  Daar is egter, buiten my geloof, een faktor wat altyd ’n bron van hoop in my lewe sal wees: my ma. Sy is die mens aan wie ek die naaste is. My grootste ondersteuner, my inspirasie en my leier. Sy is my “wake up call”, my beste vriend, my grootste “fan”.

My ma is die sterkste mens wat ek ken. Nie net omdat sy die grootste denkbare berg gehad het om te klim en steeds bo uitgekom het nie. Maar ook omdat sy dit alles met soveel toewyding gedoen het.

Vir haar is ek die liefste wat ek vir enige mens is. En ek weet dat wanneer dit donker word, wanneer die lig verdwyn, sy steeds my skuilplek sal wees.

  • Teresa-Jane Pieterse is ’n 18-jarige leerder aan Hoërskool Vredenburg.

……………………………………………….

Thokozani Sidlabane: ‘Vandag is jou enigste kans’

Vertel jou storie – skree dit, skryf dit. Sommige sal dit nie verstaan nie … Ander sal dit heeltemal verwerp. Maar baie sal jou daarvoor bedank.

Gebroke gesinne, onderdrukking, verlies, verwaarlosing en selfdood … Dít alles sal jy in my storie vind. Hierdie jaar was inderdaad vir baie van ons ’n moeilike, vermoeiende jaar … Pynlik. En soms het ons ook God bevraagteken oor hoekom juis nóú in hierdie belangrike skooljaar … Dit is belangrik dat jy jou storie moet vertel.

Ek weet hoe moeg jy is. Ek weet sommige van julle voel asof jou stem nie gehoor word nie. Jy vrees dat jy nie saak maak nie. EK het ook so gevoel, maar JY MAAK SAAK!

Almal se ervaring is uniek en terwyl ons ons verhale vertel is daar soveel wat rondom ons in die wêreld gebeur.

In hierdie pandemie besef jy hoe belangrik jou familie is. Dit was so lekker om almal na ’n lang tyd in een vuurhoutjieboksie te hê.

Die isolasie van die buitewêreld, die kansellasie van ons matriekjaaraktiwiteite is vir my die moeilikste. As hoofseun weet ek ons wou so baie doen, maar als is tevergeefs. Jou houding sal in hierdie moeilike tye bepaal wat ons wel sal bereik. Hoe meer positief jy ingestel is, hoe meer sal jy van sukses verseker wees. Daar is soveel van ons wat die negatiewe kant kies. Die nuus is ’n 24 uur-herinnering van hoe die pandemie slag-na-slag verwoestende hartseer saai. Om te sien hoe swaar ons mense kry, finansieel, emosioneel en fisies … Dit is dus belangrik om visie, moed, toewyding en ’n tikkie geloof in jou mengsel van inspirasie te gooi om voort te gaan.

Ons leef vandag in ’n onvoorspelbare wêreld. Ek vrees radikale verandering! En hierdie vrees laat soms toe dat ek gulde geleenthede mis wat op my pad kom, en ek loop dus die gevaar om stil te bly, te stagneer as ek hierdie verandering vermy. Dit is ’n onvermydelike feit dat negatiewe dinge in jou lewe gaan gebeur. Die gevoel van eensaamheid, verwerping, mislukking, onsekerheid is dinge wat my bang maak en my wêreld soms tot stilstand bring. Maar my grootste vrees is om ’n geliefde te verloor in hierdie afgryslike tyd.

Ek vind hoop in aksie. Deur die nodige stappe te neem om na die lewe te beweeg wat my hart laat sing. Ek vind hoop in opvoeding, want kennis is sowaar mag! Ek vind hoop in liefde. Ek deel graag my diepste hartsbegeertes met dié vir wie ek liefhet en laat hulle toe om my te help op my lewensreis. Soms voel ons so hopeloos en elke keer wanneer ons ten gronde is, kom die hoop van God te voorskyn –  al is dit net ’n glimlag wat jou hoop gee om aan te gaan.

Elkeen op ons planeet is uniek. Ons is almal anders aanmekaar gesit. Ons talente, vaardighede en drome verskil, maar die een ding wat ons in gemeen het, is tyd. Tyd gee my hoop. Elkeen van ons het dit al beleef … tyd … 60 sekondes in ’n minuut, 60 minute in ’n uur, 24 uur in ’n dag en 365 dae in ’n jaar. Hoe jy jou tyd aanwend, bepaal of jy jou drome gaan bereik. Dit gaan nie oor hoeveel tyd ons het nie. Die belangrikste is dat ons nie tyd moet mors nie. Elke minuut wat verlore gaan is vir altyd weg. Dis soos ongeslypte diamante. Gooi dit weg en die waarde daarvan sal nooit bekend wees nie. Benut dit reg en jy kry dalk die suiwerste diamante.

Vandag is die enigste kans wat jy het. Gister is verby en môre is nie verseker nie. Maak vandag die keuse, wees vandag die verskil. Vind jou geluk in hierdie moeilike tye.

Perfeksie is buite ons bereik, maar uitnemendheid is binne ons vermoë.

  • Thokozani Sidlabane is hoofseun van Charleston Hill Sekondêr in die Paarl.

……………………………………………….

Klara van Niekerk: My vriende, familie en lekker aktiwiteite maak inperking beter

Ek was verskriklik bang toe my pa Covid-19 gekry het. Ek was by ’n vriendin se partytjie, en moes vroeg gaan toe ons hoor van sy toetsresultate. My pa was in die bed in hulle kamer, en ek moes ’n masker aansit en saniteer elke keer wanneer ek na hom toe wou gaan. Gelukkig het hy uiteindelik gesond geword. Maar na die tyd kon hy min onthou van die tyd toe hy siek was. Hy het vas geglo dat ons nooit vir hom kos gebring het nie, al het ons elke aand, oggend en middag vir hom iets gebring!

Ek hou niks van die feit dat mense nou agter hul maskers wegkruip nie. Jy kan maklik ’n glimlag op ’n masker teken, maar daar agter glimlag jy dalk glad nie. Ek hou ook nie van die ewige veranderinge in skooldae, sport en ander aktiwiteite nie. Elke keer hou die nuus van die volgende sportwedstryd wat gaan gebeur, net lank genoeg om almal opgewonde te maak. Totdat die een of ander persoon van die een of ander departement sê dat dit beter is om die wedstryd te kanselleer. Dan is die teleurstelling weer groot. Dit hou net nooit op nie!

Dit maak my egter bly om te sien hoe families en gesinne meer tyd saam spandeer in die grendeltyd. Families en gesinne leer mekaar beter ken in hul eie huise, want kinders en ouers gaan nie meer baie plekke heen nie. Almal bly by die huis, want daar is nie meer sport en ander dinge nie. Ek self het saam met my gesin baie lekker aktiwiteite gedoen, wat nooit sou gebeur het as ons nie die inperking gehad het nie.

My ouers was verskriklik ondersteuend in hierdie tyd. My vriende het my ook elke dag gebel en hulle het selfs vir my geskenke op my verjaardag gepos! Hulle het elke dag vir my hoop gegee. My ouers het my beskerm teen Covid en hul bes probeer om elke dag nuwe aktiwiteite vir ons te kry om te doen: Balderdash, papiermaché, bak-eksperimente, naaldwerkspeletjies en … ek kan nog ’n baie lang lysie maak!

  • Klara van Niekerk is ’n 11-jarige leerder van Laerskool George-Suid.

……………………………………………….

Mila van Niekerk: ’n Virus het my herinneringe kom steel

In die vroeë fases van die grendeltyd, het ek ’n visie gehad van hoe ek elke dag net vir ure lank in die son op die gras in ons tuin sou lê en lees, met ’n koppie tee en ’n bord vol beskuit.

Jy sien, enigiets met boeke te doen maak my gelukkig. Letterlik enigiets wat ’n storie met woorde op papier vertel, of ek die een is wat dit lees of skryf. Toe die heel eerste inperking aangekondig is, was die eerste gedagte wat deur my brein geflits het: “Great! Nou het ek meer tyd om al daardie biblioteekboeke wat ek uitgeneem het, te lees! En ek kan aan my boekidee werk! Dubbel score!”

Boeke was hoe ek kon wegkom van die bose Covid-19 wat die wêreld wou oorneem; ek glip net tussen die bladyse in en woeps! is ek nie meer hier op George, Suid-Afrika nie. Ek is saam met Harry Potter by Hogwarts en leer hoe om ’n heks te wees, of ek is saam met Percy Jackson by Camp Half Blood, besig om vir Annebeth te irriteer.

Maar, terug in die werklikheid, maak skool my soms bang.

Die meeste vorms van huiswerk of eksamen gee my ’n hol kol op die maag, en elke dag in die klas flits die volgende gedagtes deur my kop:

  • Het ek alles gedoen?
  • Sê nou die onnie skel my uit oor ek iets verkeerd gedoen het?
  • Ek verstaan glad nie hierdie som nie, maar ek’s te bang om te vra!
  • Tjips, ek’t my boek by die huis vergeet!
  • Die klas is vervelig, maar as ek nie aandag gee nie, gaan ek dop!
  • AAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAA …

Skool maak my bang omdat ek sulke hoë verwagtinge van myself het. Ek dink dikwels: “Ek kan nie dop nie, ek’s in die A-klas! Ek kan nie sleg doen nie, ek moet die top tien haal! Almal in my klas is super slim, ek moet my alie afwerk om by te bly!”

Ek’s baie bang dat, met al die veranderinge en aanpassings wat ons moes maak as gevolg van Covid-19, ek nie op standaard sal wees nie. Of dat my gemiddeld gaan daal of dat ek slegter as ’n 7 op my rapport gaan kry.

In kort, ek’s bang dat al die stres van “ek doen nie goed genoeg nie” my net erger sal laat doen, en dan stres ek al van voor af. Dis ’n neverending loop.

Miskien verwag jy, liewe leser, dat ek iets sal sê soos: “Ek mis my vriende” of “maskers”, maar dis nie wat ek in gedagte het nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, altwee van daardie stellings is een honderd persent waar. Maar die ding wat my die meeste ontstel is dat hierdie dalk die nuwe normaal is. Dat ons dalk nié binne die volgende jaar kan terugkeer na álmal by die skool, geen maskers, geen intekenbriefies of sanitizer nie.

Ek hou nie daarvan dat ek my laaste jaar van laerskool heeltemal gemis het nie. Daar was nie eens ’n afskeid nie! Net ’n plein laaste dag van skool, asof ons volgende jaar weer sou terug wees. Ja, sure. Nie asof dit die laaste dag was dat ons by ons graad sewe-onnies sou klas kry, of kon rondloop in ’n skool waar ons nou die “groot kinders”, die bee’s knees, dié’s waarna die graad eens na opkyk, was nie. Ek hou ook nie daarvan dat ek my eerste jaar van graad 8 net helfte van die tyd daar kon wees nie en dat ons nie eens behoorlike ontgroening gehad het nie.

Ek hou nie daarvan dat hierdie spesiale jare van my af weggeneem word deur ’n verpestelike, stupid virus nie!

Maar, ek het steeds hoop.

Hierdie gaan nou wel super cheesy klink, maar ek het niks om te verloor nie, so hier is mý hooplysie:

  • Die feit dat die Here, my God, uitkyk vir ons en ons deur hierdie tye sal beskerm.
  • Almal by my kerk se Youth, wat vir mekaar bid, en God se boodskap met trots versprei.
  • My ouers, wat super hard werk en hul bes probeer om alles vlot te laat verloop op hierdie modderige grondpad van twee jaar.
  • My onderwysers wat nie moed opgee nie en nog steeds ’n manier vind om te glimlag terwyl hulle klasgee.
  • My “Never Give Up!”-tekening van Harrleigh Everest (’n karakter in een van die stories wat ek skryf) in my dagboek.

Jip, dis die mense en dinge wat vir my hoop gee in hierdie Terribly Plot Twisty, Unpredictable Times.

  • Mila van Niekerk is ’n graad 8-leerling aan Hoërskool Outeniqua op George.

……………………………………………….

Gunther von Below: ‘Vertrou volkome op die Here’

My herinneringe van 2020 is nie so seer die fisiese inperking nie, maar die inperking op my gemoedstoestand. My denke is oorweldig met ’n vloedgolf van emosies.

Duisende sterftes, lyding in pynlike ongemak en sosiale isolasie. Byna geen sprake van vreugde in ons nuusopskrifte nie. Ek is ontbloot en ongewapen teen die vyand wat my aanval. Hierdie berg voor my verskuil die son met sy swart skaduwee; waar sal my hulp vandaan kom?

Hierdie vraag het sy antwoord in Psalm 121:2-8: “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

Toe die sterftesyfers die hoogte inskiet het dit gevoel soos ’n massa water, soos die van ’n tsoenami, wat my gedagtes oorstroom het. Die walle van my brein het inmekaar getuimel. Hoe kon so ’n ramp ons wêreld tref? Na jare se opbou word alles platgevee.

Ons ekonomie het in duie gestort. Die angs vreet aan my senuwees soos bitsige brakke. Die honger verteer hulle en hulle hou aan genadeloos byt. Sê nou my pa verloor sy pos in die kantoor? Hoe sal ons gesin onderhou word? Wat nog te sê van die etlike armoedige gemeenskappe; hoe sal húlle hierdie pandemie oorleef?

Al is my hart gebreek en my moed min, weet ek dat die Here aan my sy is. Psalm 34:18-21: “As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal. Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige: geen been word gebreek nie.”

Hierdie psalm van Dawid is toepaslik op ons huidige gebeurtenisse. Dit voel asof die mensdom gestraf word met die onheil van die virus. Hierdie aardse aanvalle mag nie ons geloof onderkry nie. Dit is in hierdie moeilike omstandighede waar jou trou op die spel geplaas word. Met deernis en vertroue op die Skepper, sal jy deur die gloed van vlamme as ’n nuwe, sterker self verskyn.

Hierdie omstandighede lei daartoe dat ons siel wankel voor die vloed van sonde. Ons twyfel oor die Here en bevraagteken sy wil. Ons moet ophou treur en ons moed bymekaarskraap, want God se woning is nie van aardse dinge wat vergaan nie. Ons kan hoop hê, want God gaan elkeen van ons by die naam roep as ons in die hemel is. Openbaring 21:4: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Hierdie duisende sterftes en lyding om asem te haal in oorvol hospitale gaan iets van die verlede wees. Ons gebroke liggaam van vlees gaan vervang word met ’n nuwe een – een van die siel. Die gedreun en lawaai van die wêreld versper die Woord van God van toegang tot ons hart. Ons moet die nuusuitsendings ’n bietjie ignoreer en die koerante opsy sit, want om tyd met God te spandeer is meer kosbaar as goud. As ons by die Woord van God hou, sal God ons deur ellende op sy skouers dra en Covid-19 se gevolge tot niet maak. Vertrou volkome op die Here, want Hy red ons uit die dood. Vergeet van die woede en verdriet, want Jesus se ontferming en liefde is almagtig.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img