Sunday, July 25, 2021

#covidkinders vertel húl stories (Deel 1)

Tydens Jeugmaand het LiG leerders genooi om húl stories te vertel. Van Riversdal tot in Bloemfontein vertel dié tieners hoe hulle sedert Covid-19 Suid-Afrika getref het, die lewe ervaar het. Hulle is nie onaangeraak nie. Maar hulle is braaf en hulle is hoopvol. (Lees ook Deel 2)

……………………………………………….

Kaylené Carr: ‘Daar is baie maniere om jou seëninge te tel’

Ek is ’n doodgewone tiener in ’n nie so doodgewone wêreld. Elke dag is soos Paasfees vir my. Jy moet soek en krap vir die positiewe in elke dag, maar partykeer moet jy eers op jou knieë gaan om dit te kry.

My ma sê altyd dat daar ’n positief vir elke negatief is. Ek glo dit en leef daarmee. Net so het Covid-19 ook sy positief gehad. Die inperking was aan die begin vir my ’n moeilike tyd. ’n Mens besef eers wat jy het as jy dit verloor … Skool is een van die dinge wat ’n mens het en altyd oor kla. Inperking het my laat besef hoeveel positiewe daar aan skool is – dat ek selfs huiswerk gemis het, interjol-gees, drama en kultuur-uitdagings. Ek moes maar ander maniere vind om my kreatiwiteit uit te leef. In die maande by die huis het ek vele stokperdjies aangepak: kitaar, Frans, naaldwerk, legkaarte en selfs ’n pizza-sjef geword. Maar die belangrikste van al my stokperdjies was skryf, ontwerp en om ’n gewone konsep te vat en te verander in iets beeldskoon. Ek het selfs tyd gekry om aan die nasionale Poort-skryfkompetisie deel te neem en een van my prosastukke is in ’n bundel opgeneem én ek het die nasionale voorbladontwerp-kompetisie gewen.

Ek het probeer om besig te bly by die huis, ek hou nie van stilsit nie, maar moes leer dat haas en liefde nie versoenbaar is nie. Hoe kan ons die mooi van die lewe beskou as ons altyd besig is en nooit tot rus kom nie? Ek het rus in die Here gevind. Myself uitgedaag om sy handewerk in alles raak te sien. Om op te hou kla oor daai een kriek in die huis wat niemand stilkry nie. Ophou kla oor die warm son buite, die koue wind wat waai, miere wat die krummels by die asdrom eet en besluit om eerder dankie te sê dat die son opgekom het en dat die Here my nog ’n dag gespaar het. Dankie vir die wind wat die saadjies versprei en die lande bedek met nuwe saailinge en blommerangskikking. Selfs dankbaarheid vir die miere waarvoor die Here sorg, en soveel te meer vir mý sorg. My koppie van genade loop oor.

As die lewe vir jou moeilik raak en orals rondom jou sien jy seer, lyding en swaarkry, kyk net op. As jy opkyk na die hemel sien jy nie al die negatiewe om jou nie. Jy sien dan wolke en voëls en die Here se genade; jy haal diep asem en kyk nie na die wêreld deur die oë van ’n mens nie. Jy kyk deur die bril van die Heilige Gees wat jou elke dag beskerm en moed gee om aan te hou om die Here se naam te verkondig. My ma sê altyd dat die Here nie foute maak nie en dat ons perfek geskape is na die beeld van die Here, met harte wat warm klop.

Kaylené Carr is ’n graad 11-leerder van Hoërskool Upington. Foto’s: Verskaf

Covid-19 het in my baie vrese ontwikkel – soos onsekerheid en om nooit weer te kan lewe soos voorheen nie. Ek probeer om nie soos ’n volstruis my kop in die sand te druk asof Covid-19 nie bestaan nie. Ek hoef nie bang daarvoor te wees nie, soos aan ons vertel word in Josua 1:9.

Covid-19 het goeie vrugte gedra en baie deure vir my oopgemaak. Inperking het my die kans gegee om myself af te sonder van die wêreld sodat ek myself kon vind en my geloof weer kon grond. Ek het ook ’n mooi aanhaling raakgelees wat ek graag wil deel: “Die Bybel is daar om gelees te word soos jou daaglikse brood, nie soos koek net op spesiale geleenthede nie.

”Daar is altyd ’n positief vir elke negatief. As die lewe jou asem gee, gebruik dit om iemand anders ook nuwe asem te gee en van die Here te leer deur jou dade. My oupa sê altyd doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. Só bou jy iemand anders op en sodoende bou jy jouself op en leer jy elke dag meer.

Ek, Kaylené Carr, is ’n kind van my God. God het my geseën met kreatiwiteit en ’n hart wat voel. Daar is baie maniere om jou seëninge te tel, so sit jou bril op en kyk na die lewe met die Heilige Gees aan jou sy! Onthou, God gee vir ons drome een size te groot sodat jy daarin kan groei.

  • Kaylené Carr is ’n graad 11-leerder van Hoërskool Upington.

……………………………………………….

Jenna-Timae du Preez: Die vrug van 13 minute per dag

Ek kon meer kwaliteittyd met die Here spandeer. Dit was asof die lewe net skielik rem getrap het en alles, soos ’n kamera se lens, in fokus kon kom. Soms moet ons ’n tydjie vat, die pause-knoppie druk en besluit wat werklik belangrik is en ewigheidswaarde het.

Ons kan prioriteite wat dalk deurmekaar gegooi is weer mooi in “die regte” volgorde rangskik.

Ek is veral in vlak 5 van die grendeltyd uitgedaag om meer te bid, nie net skietgebedjies nie, maar intimate gesprekke met die Here. Oomblikke waar Hy vir ons dieper dele van sy Pappa-hart wys.

Ons gesin het saam, veral tydens Paasfees, soveel nuwe waarhede ontdek. Amper soos ons eie Egipte-na-Kanaän-reis.

Ek en my twee sussies het feitlik elke aand ’n “kermisbed” gemaak. Voor slapenstyd het ons saam Bybel gelees. Daarna het ek ’n timer vir 13 minute gestel waarin ons met die Here gepraat het en nog meer belangrik, geluister het wat Hy wil sê. Ek weet self nie waarom ons op 13 minute besluit het nie, maar die vrug wat selfs so ’n klein deeltjie van ’n dag kan dra is amazing

Handelinge 1:8 is een van my gunstelingverse oor die Heilige Gees se krag. Die Griekse woord hiervoor (die Here en die Heilige Gees se krag wat deur ons werk) is dunamis. Hoe ek daaraan dink is soos dinamiet of ’n ontploffing – dit is kragtig, moeilik om mis te kyk en dit verander alles …

Soos ons tyd maak vir die Here en sy Woord, ervaar ons daagliks dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het en kom verander Hy ons sodat ons nooit weer dieselfde kan wees nie.

Jesus verras my elke dag opnuut met sy grootheid en goedheid.

Noudat ons skoolprogramme weer volstoom aan die gang is met huiswerk, take, toetse, sport en kultuur het dit my laat dink aan hoe ek en jy ons tyd spandeer.

Dertien minute is só min, tog sukkel ek soms om tyd te maak vir stil raak en Bybelstudie.

Van graad een tot vier was my ouma ons klavierjuffrou. As ek die week te min geoefen het en sy het my gevra hoekom, was my antwoord gewoonlik: “Ek het nie tyd gehad nie.” Dan het sy glimlaggend geantwoord: “You always have time for the things you put first.”

Daar was wel ook uitdagings en tye wat ek moedeloos of bang was gedurende die pandemie. Ek onthou toe ek en my pa een dag winkels toe was, net nadat Covid-19 in Suid-Afrika ’n werklikheid geword het. Die werklikheid dat my eerste hoërskooljaar heel anders gaan uitwerk, het my getref.

Met tye was ek benoud dat ons skoolwerk sou agter raak, dat ek nie vinnig weer my vriende gaan sien of binnekort skolesport sou kon beoefen nie.

Ek onthou ook hoe onseker en “anders” die eerste dag terug by die skool was. Wat as daar werk is wat ek dalk gemis het of as ons glad nie weer lekker aktiwiteite by die skool kan doen nie? Deur dit alles het die Here my gewys dat Hy werklik omgee vir elke klein detail. Dat hy getrou en in beheer is, onveranderlik – gister, vandag en tot in ewigheid!

Een van my gunstelingaanhalings is: “Tyd is een van die waardevolste hulpbronne wat die Here vir ons gee om te bestuur.” Ons kan elkeen daagliks hierdie dunamis-krag oral saamneem en sien hoe die Here in ons lewe werk.

Kom ons wees lig en sout, veral in ’n tyd soos hierdie (Matt 5:13-16; Ester 4:14).

Mag sy goedheid en guns ons volg al die dae van ons lewe.

  • Jenna-Timae du Preez is ’n graad 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch.

……………………………………………….

Jean-Luc du Toit: ‘My Bybelstudiegroep gee my hoop om elke dag aan te pak’

“Jean-Luc, word wakker! Tyd vir opstaan en regmaak vir skool!” Ek maak my oë op skrefies oop. Ek sien die skerp lig wat nou brand in my kamer. “Agge nee! Nie nog ’n koue dag van skool nie …” Ek klim met my een voet uit die bed en my tone vries. Nou moet ek die koue trotseer om vinnig my skoolklere aan te kry en daarna pap te gaan eet. Nadat ek tande geborsel het, kry ek my skooltas en pak my kosblik in. Net voordat ek by die deur uitstap, roep Ma: “Jean-Luc! Het jy jou masker?” Amper vergeet ek: ek is nog nie volledig in my skooldrag as ek nie my masker ook aanhet nie. Dié stukkie lap wat my versmoor wanneer ek my mondeling voor die klas moet opsê, dié stukkie lap wat my ’n skielike hoofpyn gee net voordat ek met huiswerk moet begin, dié stukkie lap wat maak dat ek nie meer al my vriende se gesigte kan herken nie.

Op pad skool toe, stop ons by die verkeerslig. Ek sien die oom wat altyd daar staan. Hy glimlag en waai vir my met vingerpunte wat uitsteek by sy stukkende handskoene, soos altyd. Hy het nie eens ’n masker aan nie. Ek wonder hoe hierdie oom tot hier gekom het. Somtyds is ’n mens so vasgevang in jou eie ongelukkigheid oor ’n bietjie koue en maskers dra, dat ’n mens vergeet hoe bevoorreg jy is. Vir my is die oom by die verkeerslig ’n voorbeeld, want ten spyte van die omstandighede waarin hy leef en selfs nou in die Covid-tyd, is daar altyd ’n glimlag op sy gesig.

By die skool aangekom, is daar heelwat minder karre in die parkeerarea as in normale tye. Baie kinders moet isoleer. Isoleer omdat hulle óf siek is, óf in aanraking was met iemand anders wat siek is. By die saal waar ons geskandeer en gesaniteer moet word, is die ry darem nie te lank nie. Maar, moenie glo nie! Binne ’n paar minute word die ry vir my nie korter nie, maar al hoe langer soos wat die seniors indruk om voor ons graad 8’s in die skool in te kom. Nadat ek uiteindelik ingeskandeer is, stap ek rugbyveld toe en wag solank vir die res van die kinders wat kom vir die Bybelstudie wat ’n groep graad 10’s sommer uit die bloute in hierdie tyd begin het. Soos die leier uit die Bybel lees, kry ek weer moed om my dag voluit aan te pak. Dit is so waar wat in Psalm 91 staan dat die Here my skuilplek is en dat Hy my sal beskerm. Hy gee selfs sy engele opdrag om my te beskerm.

Jean-Luc du Toit. Foto’s: Verskaf

Na heeldag by die skool met my masker aan, kom ek namiddag by die huis. Ek is dors en soek iets om te drink. Ek loop na die yskas toe en maak die deur oop. My oog vang die bottel Powerade wat in die deur staan. Dis nog my suster s’n. Sy sou dit vir haar teenstander gee na haar eerste netbalwedstryd van die seisoen, maar al die interskole is mos skielik gekanselleer as gevolg van te veel Covid-infeksies na groot byeenkomste.

Ouma en Oupa kom kuier volgende week hier. Ek is nogal skrikkerig, want as een van ons Covid-19 kry en ons steek hulle aan, mag hulle lewe dalk in gevaar wees. Ons moet net hoop en vertrou dat die Here ons en hulle sal beskerm deur hierdie tyd.

Een van die goed wat vir my lekker was van die vlak vyf-grendeltyd is dat dit my verhouding met my gesin en die Here soveel sterker gemaak het. En dit maak dat ek nou soveel meer vertroue in myself het!

Daar was en is lekker en slegte tye vandat Covid ’n werklikheid geword het in Suid-Afrika. Ek is baie dankbaar dat die voordele van hierdie interessante tye in my lewe soveel meer en beter is as die nadele wat hieruit vir my gekom het. Ek dink hierdie hele Covid-storie is eintlik net een van baie groot toetse wat die Here ons gee sodat ons sterker kan word en groei in ons verhouding met Hom en sodat ons uiteindelik eendag saam met Hom die ewige lewe kan gaan leef!

  • Jean-Luc du Toit is ’n graad 8-leerder aan Grey Kollege in Bloemfontein.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img