‘Daar is áltyd hoop,’ sê vrou wat haar eerste sluk drank op vyf geneem het

DEUR MONICA VENTER

My verhaal begin toe ek vyf jaar oud was. Op dié jeugdige ouderdom het ek my eerste slukkie drank geneem. Dit was die begin van ’n baie donker pad.

Ek het in Newcastle, KwaZulu-Natal grootgeword, in ’n huis waar liggaamlike en emosionele mishandeling aan die orde van die dag was. Albei my ouers was alkoholiste.

Ek dink ek was so 12 jaar oud toe ek elke dag gerook en gedrink het. Daarna het ek my hele lewe lank gerook en gedrink; niks hieraan was vir my vreemd nie. In Desember van my 13de jaar, net voordat ek moes hoërskool toe gaan, is my ma aan pankreatitis oorlede. Deur God se genade het ek wel matriek voltooi. My pa is eers in 2018 oorlede.

LEES OOK: ‘Ek moes daagliks iets vind om voor dankbaar te wees,’ vertel man wat 10 jaar lank onskuldig in tronk was

Hoe ouer ek geword het, hoe dieper het hierdie donker gat geword waarin ek my bevind het. Ek was behoorlik verslaaf, en kon net nie meer sonder drank funksioneer nie. Elke dag was dieselfde storie – al het ek die volgende dag skuldig gevoel. Maar as ek my weer kom kry, staan ek met die glas in die hand.

My dogter het knaend daarop aangedring dat ons moet kerk toe gaan. Met groot moeite het sy ons oorreed en op 13 Junie 2021 is ons uiteindelik kerk toe. Daardie dag het die Here my voor ’n keuse gestel: Ek kies óf die lewe óf die dood (Deut 30:19-20).

Monica se 15-jarige dogter Caylene het met “groot moeite” op 13 Junie 2021 uiteindelik die Venter-gesin saam in die kerk gekry. “Daardie dag het die Here my voor ’n keuse gestel: Ek kies óf die lewe óf die dood”,” vertel Monica. Hier staan Caylene by haar pa Dirk (43). Foto verskaf

Hy het my ’n laaste kans gegee – en op daardie dag het ek sy hand gegryp en die lewe gekies.

Op 12 Maart vanjaar is ons hele gesin gedoop en ek het my pad saam met die Here begin. Dit was nie maklik nie, maar ek is totaal verlos van sigarette en drank, en ek wil net vir die Here lewe. Alles wat ek doen, gee ek in sy hande oor.

Vandag kan ek nie my lewe indink sonder die Here nie. En as ek nou terugdink aan die “ou” Monica wat ek agtergelaat het, kan ek soms nie glo ek is dieselfde persoon nie. Ek is heeltemal vernuwe, ek het die ou Monica uitgetrek en die nuwe Monica soos skoon klere aangetrek.

LEES OOK: ‘Ek het die hemel ervaar,’ vertel vrou wat byna aan Covid-19 sterf

Die Vader het al my sondes vergewe – en so is dit vir ons almal: Die Here is getrou, ongeag jou verlede. Gaan bely dit voor Hom.

Ons woon in Machadodorp en ons ry elke keer 200 km om kerkdienste in Ermelo by te woon. Maar ons doen dit met liefde, want alles wat ons het, is ’n vergunning van die Vader. Hy het soveel vir my gedoen, en dis die minste wat ek van my kant af kan doen.

Ek hoop hierdie verhaal kan iemand inspireer. Weet dit: Dit maak nie saak waaraan jy verslaaf is nie; daar is altyd hoop. Ons kan dit nie uit onsself oorwin nie, maar God doen die onmoontlike. Vat net sy hand en sê: “Hier is ek Here, met al my foute.” Hy sal jou heeltemal nuut maak!

Romeine 8:38 is vir my baie kosbaar. Daar skryf Paulus: “Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie.”

Aan God al die eer en heerlikheid tot in alle ewigheid!

  • Monica Venter bedryf Monica’s Clean Supreme, ’n onderneming wat matte en materiaalmeubels skoonmaak.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img