‘Daar is werklik krag in gebed,’ sê Standerton se ‘miracle man’

DEUR ALEX VAN ROOYEN

In die aanloop tot 22 Oktober 2019 het ek met erge hoofpyn gesukkel. Ek moes ’n keer selfs ’n migraine-inspuiting by die dokter ontvang.

Die oggend van 22 Oktober het ek weer met ’n hoofpyn opgestaan en ek het my vrou gevra om ’n afspraak by ons dokter te maak. Ek kon hom eers ná 10:00 te siene kry.

By die dokter se spreekkamer het ek skielik my stoel vasgegryp, my lyf het styf getrek en ek het my bewussyn verloor. Die dokter en sy drie vennote het my dadelik gestabiliseer en ’n ventilatorbuis in my keel geplaas.

Alex van Rooyen, ’n onderwyser by Hoërskool Standerton, was vir sowat drie weke onder sedasie ná die dokters bepaal het hy het ’n bloeiende anuerisme in sy brein. Die mediese personeel het nie gedink hy dit sal oorleef nie. Foto verskaf

’n Bloeiende aneurisme

Ek glo vandag dat dit die Vader se hand was wat reeds daar werksaam was. As dié bewussynsverlies op enige ander tyd of plek plaasgevind het, sou ek dit nie oorleef het nie.

Daar is ’n ambulans vanaf Secunda ontbied om my na Highveld MediClinic te neem.

LEES OOK: ‘Alle eer aan God!’ sê tweelingsusters ná albei Covid-19-longontsteking oorleef

Twee uur later het ek daar aangeland. Die internis het ’n CT-skandering gedoen en dadelik besef dat hy my nie sou kon behandel nie. Daar was ’n bloeiende aneurisme in my brein.

Ek is na Life Parklands-hospitaal in Springs oorgeplaas. Daar was ek onder ’n neurochirurg se sorg. Ek was steeds bewusteloos. Hy het my in ’n gesedeerde koma geplaas om my breinaktiwiteit so min moontlik te maak. ’n Dreineringpyp is in my skedel geplaas om van die drukking en bloeding te verlig. Verder kon hulle maar net wag …

‘Keep on praying’

Op 10 November het die dokters die sedasie gestaak en my geleidelik laat wakker word. Ek het eers ’n paar dae later my oë oopgemaak. In hierdie stadium het die hospitaalpersoneel na my verwys as die “miracle man”.

Op ’n keer het die suster in die intensiewesorgeenheid dié opmerking teenoor my vrou gemaak: “Ma’am, the God that you are praying to is listening to you. Keep on praying because it is working!”

Die dokter het ’n dreinering-“shunt” in my brein geplaas omdat die normale dreinering onherstelbaar beskadig was.

Ek was tot middel-Desember in die intensiewesorgeenheid. Van daar is ek na ’n rehabilitasiesentrum in Kensington – waar ek opnuut moes leer loop, en leer om myself te versorg.

Op 24 Desember is ek na ’n rehabilitasiesentrum in Vereeniging oorgeplaas. Dit was darem nader aan die huis. Ek is op 10 Januarie 2020 ontslaan.

LEES OOK: ’n Muur van vuur om Kleinmond-dominee

Met my eerste opvolgondersoek by die internis in Secunda het hy gesê dat hy destyds nie gedink het ek sou dit oorleef nie. Hy het dit daardie dag uitdruklik aan my vrou Suzette gestel dat ek baie ernstig siek is en dat sy die nodige reëlings moes tref. Dat sy die mense wat van my toestand moet weet, maar moes bel …

Nagevolge

Dis nou byna twee jaar later. Ek is terug by die skool en verrig 90% van my gewone take. Dis amper weer soos voor die aneurisme. Ek is aktief betrokke by die skool, ek neem my klasse waar en help met die daaglikse bestuurstake.

Ek sukkel wel steeds met my korttermyngeheue. Ek vergeet baie dinge. Ek het egter geleer om daarmee saam te leef, en my kollegas verstaan my dilemma.

Ek het nou meer reminders en alarms op my foon as enigeen wat ek ken. En ek moet deurlopend aantekeninge in my dagboek maak sodat ek afsprake kan onthou.

Ek word ook vinnig moeg en kan nie lang afstande loop nie. Trappe is my baas.

Ek vermy vergaderings en skoolwerk saans omdat ek nie ander mense in ’n ongemaklike situasie wil plaas wanneer ek sukkel om te praat nie.

Intussen het ek ook Covid-19 opgedoen, maar ek het nie so erg siek geword nie.

Die virus het wel ’n invloed op my breinbesering gehad. Ná ’n besige dag kom ek so teen vyfuur die middag agter dat my energievlakke baie laag is. Dan sukkel ek om te praat en om op eenvoudige gesprekke te konsentreer.

Al die goeie dinge

Ek kan nie veel van die hospitaal en die rehabilitasie onthou nie. Om die waarheid te sê, in dié stadium onthou ek nie eens veel van wat ’n week gelede gebeur het nie.

Wat my wel hoop gee, is dat ek en my familie, my vriende en my kollegas, die afgelope twee jaar nader aan mekaar gekom het. Ons het ’n wonderlike ondersteuningsnetwerk in Standerton. My vriende is nou soos my broers. My kollegas is my vriende. En ons almal dien ’n Vader van wonderwerke.

 

Alex vertel dat hy nie veel van sy tyd in die hospitaal of die rehabilitasie onthou nie. Hier het hy sopas met rehabilitasie begin. Foto verskaf

Al die goeie dinge het alleen deur God se genade gebeur. Ons het keer op keer wonderwerke beleef wat die mediese wetenskap nie kon verklaar nie. Toe ek uit die hospitaal gekom het, is daar verbysterende verhale hieroor aan my vertel.

Daar was gebedkettings wat so ver soos Brittanje en Australië gestrek het. En wat as ’n gebedsgroep begin het, is vandag selgroepe. Mense het weer geleer om op God te vertrou.

Ek het baie jare lank gebid dat God my sal gebruik om mense te bereik. En hier het Hy waarlik ’n onmoontlike situasie in sy diens geneem om mense weer op Hom te laat fokus.

Ek reken wel dat ek volgende keer op ’n ander manier gebruik sal wil word …

Maar natuurlik is ek steeds bereid dat Hy my gebruik. En as dit beteken dat ek (en ons) weer so iets moet deurmaak, glo ek Hy sal ons weer deurdra.

‘Sy hand is in alles’

Ek glo dat die Vader alle slegte gebeure in ons lewe ten goede laat meewerk. Hy het belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Hy het belowe dat Hy vir ons voorspoed beplan. Niks wat ons oorkom, gebeur toevallig nie. Sy hand is in alles.

Gebed moet met geloof gepaardgaan. Toe daar vir my herstel gebid is, het mense geglo dat ek sou herstel. My skoonpa het my in die intensiewesorgeenheid met olie gesalf. Ons gemeente, Replika Standerton, het daadwerklik vir my genesing ingetree.

Suzette het geweier om te aanvaar dat ek sou sterf. Sy het geweet ek sou herstel, omdat sy weet wat haar God kan doen. Daar is waarlik krag in gebed.

Hierdie hele episode het my, Suzette en ons familie se uitkyk op die lewe verander. Elke dag is ek dankbaar vir wat die Here aan my gee en vir my doen. Menslik gesproke is daar nou ’n groter kans dat ek weer ’n aneurisme sal opdoen, maar ek glo dat die Vader my ook daarteen sal beskerm.

  • Alex van Rooyen is ’n 46-jarige onderwyser by Hoërskool Standerton. Hy het ’n vrou Suzette (40) en twee seuns, PM (10) en Johan (3).

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img