‘Dáárdie skade aan ’n kind is vir altyd’

DEUR DEONETTE DE KOCK

“Verkragting is ’n onreg wat ’n kind aangedoen word wat deur niks reggemaak kan word nie. Die skade is vir altyd daar.”

So sê Riëtte Steenkamp (69) van Montagu. “Maar ten spyte van al die trauma wat ek moes deurmaak, het ek besluit om die negatiewe dinge in my lewe in positiewes om te skakel. Ek glo daaraan om nooit tou op te gooi nie!”

Op die oog af …

Sondae het hulle in die kerk gesit, op die oog af ’n doodgewone gesin – pa en ma en vier kinders. Maar niemand het geweet wat alles in hul huis in Bellville gebeur nie …

Riëtte Steenkamp as dogtertjie toe sy die ondenkbare elke Donderdagmiddag moes verduur. Foto verskaf

“Ons het dit nie breed gehad nie en het in ’n tweeslaapkamerhuis gewoon, met al vier kinders in een kamer. Ek kon nêrens alleen wees nie en het dikwels ’n kombers oor my getrek en privaatheid buite in die tuin gaan soek,” vertel Riëtte.

Dit was allesbehalwe ’n normale huishouding. Haar pa was ’n sweiser in ’n familie-onderneming, en hoewel hy nie gerook of gedrink het nie was hy andersdenkend, negatief en geweldig selfsugtig. Kort van draad, baie streng en met ’n skerp tong. Daar is nooit in hul huis gelag nie en nooit liefde teenoor die kinders betoon nie.

LEES OOK: Roggeveld-boervrou se ‘huis van gebed’ en hul droogte-wonderwerk

Haar ma was wel saggeaard, met ’n groot omgeehart. Sy het ander kinders opgepas vir ’n ekstra inkomstetjie, waarvan sy dan materiaal gaan koop het om vir haar kinders klere te maak. Haar hande was nooit stil nie.

Die Bose in die huis

Ná ’n uitval met die res van die familie het haar pa die onderneming verlaat. Riëtte vertel: “Kort daarna het my nagmerrie begin; ek was agt jaar oud. My pa het skielik die idee gekry dat sy familie sogenaamde ‘magte’ gebruik om hom by te kom, en dat hy ons teen ‘die Bose’ moet beskerm. Dit het natuurlik alles net in sy kop bestaan.

“Maar só het hy die werklike Bose in ons huis ingebring.

“Hy was ’n kennis van my pa. Hy het elke Donderdag, net mooi as ek van die skool af kom, na ons huis toe gekom. Hy het my na ons kamer geneem en my gedwing om allerlei seksuele ‘gunsies’ te doen. Dit was nie lank nie of die verkragting het begin. Ek was klein, en my brein het alles as ’t ware uitgesluit. Ek het die geweldige pyn ‘uitgeblok’. Ná so ’n episode kon ek nie eens gaan stort nie; ek moes met my huiswerk voortgaan asof daar niks gebeur het nie. Ek het gedurig infeksies gehad, sonder om te weet waarvandaan dit kom.

“Tot vandag toe assosieer ek ’n bruin broek en bruin skoene met daardie tyd. Ek weet ook nie of my ma geweet het nie, maar sy was in elk geval te bang om my pa teë te gaan.

“Hoe ek oorleef het, weet ek nie. Dit was net deur God se genade dat ek nooit my pa gehaat het nie. En, snaaks genoeg, ek het nooit die Here gevra ‘hoekom ek?’ nie.

“Ek was van kleintyd af daarvan bewus dat daar iets om my was … Dit kon net die Heilige Gees gewees het wat my daardeur gedra het.”

’n Keerpunt

Hierdie traumatiese gebeure het onder meer tot gevolg gehad dat Riëtte ’n besonder ongelukkige skoollewe gehad het. Sy het gevoel asof sy nêrens inpas nie, en sy kon met niemand praat oor wat by haar huis gebeur nie.

Op 61 het Riëtte ontdek sy kan skilder. Twee jaar later is sy uit 3 500 inskrywings wêreldwyd, as een van 12 wenners in die Chelsea International Fine Art Competition in New York aangewys. Foto verskaf

Sy was in graad 4 toe haar uitkyk op die lewe verander het. Dit het só gebeur: Die slimste en mooiste dogter in haar klas het Riëtte genooi om by haar te kom speel. Hulle het in ’n mooi huis met drie slaapkamers gewoon, en die nuwe maatjie het haar eie kamer gehad, en baie speelgoed. En ’n ma wat pragtig aangetrek het.

LEES OOK: ‘My God is groter as mediese statistieke’

“Dié ondervinding het my siening van die lewe verander. Daar is vir my ’n venster oopgemaak, al was dit op ’n skrefie, sodat ek kon sien hoe die lewe kán wees. Ek het iets gekry om aan vas te hou. En dit het my gemotiveer. Ek kon nou na ’n ander lewe streef, een wat ek nie geken het nie.”

Pieter

Die verkragting-nagmerrie het opgehou toe Riëtte ongeveer 13 jaar oud was. Ná skool het sy, met behulp van ’n lening, onderwys in Wellington gaan studeer. Teen haar pa se wil. Daarna het sy weer geld geleen en is ’n jaar lank universiteit toe waar sy ’n diploma in spesiale onderwys verwerf het. Haar fokus was die onderrig aan verstandelik-gestremde kinders.

Tydens haar tweede jaar het sy Pieter ontmoet, ’n ouditeur en belastingspesialis. Hulle is vier jaar later getroud.

“Maar daar was uit die staanspoor seksuele probleme,” vertel sy. “Al het ek die destydse trauma ‘uitgeblok’, het ek nie beheer oor my onderbewussyn nie. Ook nie oor my onwillekeurige spiere nie. En seks, wat nou ’n liefdesdaad is, het pynlik en feitlik onmoontlik geword.

“Pieter het geweet dat ek verkrag is. En gelukkig het die Here my geseën met hierdie fantastiese, geduldige man. Hy het verstaan. Ek was al 30 toe ek die eerste keer met ’n sielkundige gaan praat het …”

Intussen is daar reeds drie boeke oor kruissteek met Riëtte se naam op gepubliseer. En agt jaar gelede, toe sy 61 is, het sy ontdek sy kan skilder. Sonder agtergrond of opleiding is sy twee jaar later, uit 3 500 inskrywings wêreldwyd, as een van 12 wenners in die Chelsea International Fine Art Competition in New York aangewys.

Sy en Pieter het die groot geleentheid in New York gaan bywoon, en een van haar skilderye hang nou in die Suid-Afrikaanse konsulaat in dié wêreldstad.

‘Want ek is die klei …’

Pieter en Riëtte het na haar ouers omgesien en hulle finansieel gehelp. Riëtte het hulle daagliks besoek en tot hul dood versorg.

Haar pa het haar nooit om verskoning gevra nie. Riëtte sê: “Dit was wie my pa was, en ek het dit so aanvaar. Deur kwaad te wees of ’n wrok te koester, vernietig jy net jouself.

“Daarom sê ek altyd vir my kinders ek is lief vir hulle, en dat hulle spesiaal vir my is. Dis woorde wat ék nooit gehoor het nie.

“Ek is ’n groot kampvegter vir benadeelde kinders. Drie van my kinders is uit my gebore en vyf is aangenome hartskinders, waarvan een verkrag is toe sy maar twee jaar oud was.

Pieter is tans terminaal siek aan kanker en is by die huis. Riëtte het haar skilderwerk opgegee sodat sy al haar tyd en aandag aan haar sielsgenoot kan wy.

Sy getuig: “God het my nog nooit verlaat nie, en ek het sy Gees van kleins af om my ervaar. Hy het ’n plan met my lewe. Hy het my deur al die moeilike tye gedra; Hy is alomteenwoordig.

“Ek weet ek sal ook hierdie swaar tyd met sy hulp kan hanteer. Hy dra my steeds. Ek is nie bang nie en daar heers ’n groot, Goddelike kalmte in my. ’n Vrede. Want ek is die klei en Hy is die Pottebakker.”

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img