Sunday, July 25, 2021

Dawid en die koronavirus-reus

DEUR SIMONE GAUCHE

Dis slaaptyd en ek sit op die bed met my jongste op my skoot. Hy wikkel sy warm lyfie totdat hy tevrede is met hoe hy lê. Die reuk van baba-badprodukte hang in die lug.

Ons lees die storie van Dawid en Goliat. En my gedagtes dwaal na al die ooreenkomste tussen Goliat en die koronavirus.

Die derde vlaag van die pandemie het aan my gemoed kom karring. My gebedlysie word net langer en langer. Ons hospitaal is vol. Mense word siek. Mense sterf. Mense van ver. Mense van naby.

LEES OOK: Begrafnisse: Hoe moet ’n ruimte van verlies vandag lyk?

Ek kan nie eens die noodsaaklikste gee vir die meeste van die pasiënte wat my kom spreek nie; ons het slegs die vermoë om nooddienste te lewer. My hande voel afgekap.

Dis so maklik vir vrees om weer ’n houvas te kry …

Dit word geleidelik ál donkerder. Dit sluip op ons af – en ons kom dit nie agter nie. Totdat ons eensklaps besef: Ek kan nie meer voor my sien nie!

Ek besef ons staan voor ’n Goliat. Ek voel hoe hy my uitdaag.

Dié geveg speel in my kop af. Die reus wil my sielkundig afknou. Hy daag my uit om moed te verloor. Hy dryf die spot met my, hy verkleineer my.

Ek is soos Dawid. Ek het niks. Dit voel asof ek ongewapen voor die reus staan. Watter wapens sou ek kon gebruik?

Dalk meer kennis. Dalk meer ervaring. ’n Geneesmiddel.

Maar my hande is leeg.

LEES OOK: Vreugde lê nooit ver nie

Later die aand, toe ek in my eie bed lê, lees ek weer uit 1 Samuel 17. Dié keer is dit ek wat my lyf in my Vader se skoot in wikkel. Ek besef ek moet soos Dawid die lewende God se linies sien.

Dawid sê vir Saul: “’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie.”

Dié woorde eggo na my toe terug. ’n Mens moenie oor die koronavirus moedeloos word nie.

Dawid het voortgegaan: “Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer … Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn” (1 Sam 17:36-37).

Nadat ek hierdie verhaal gelees het, vra ek my af of dit nie die manier is waarop ons op die koronavirus-reus moet reageer nie. Hoor wat leer ons alles hieruit:

* Dawid vind berusting in die waarheid dat die Here in die verlede getrou was. Hy dink terug aan bepaalde geleenthede in die geskiedenis en weet dat die Here weer getrou sal wees.

* Dawid vergelyk die grootheid van God met die reus se voorkoms.

* Dawid vertrou op God en nie op sy wapens nie.

* Dawid gebruik dit wat hy wel het. Hy tel vyf klippies op, hy gebruik sy slingervel. Hy fokus nie op wat hy nié het nie.

*Toe Dawid op die reus af loop, het dié minagtend na hom gekyk en voortgegaan om hom te verkleineer. Maar Dawid weet in wie se Naam hy na die reus toe kom. Dis die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel.

* Dawid weet reeds wat die uiteinde sal wees. Hy sê: “Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee” (1 Sam 17:47).

LEES OOK: Verwerk die ‘voortslepende Covid-trauma’ só

Daarom, as die donker my bekruip, hou ek hieraan vas: Die oorlog behoort aan die Here. Wat ’n wonderlike versekering!

En eensklaps is die reus nie meer so groot nie, en ek is nie meer so bang nie.

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die hoeksteen vorm vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img