Tuesday, June 22, 2021

Deel 1 van aanlyn boekreeks: Hoe om te oorleef sonder om te verstaan

8 Maart 2021


In dié eerste deel van die gratis boekreeks Ek wil nie dié kaarte hê nie deel die skrywer die feite rondom sy geliefde dogter, Claudi se dood. Maar dit gaan ook meer oor haar beroepskeuse as predikant en oor Claudi se geskrewe stukke wat haar pa later, na haar dood, gedra het. In sy soeke na “hoe om te oorleef sonder om te verstaan” inspireer een persoon se veerkragtigheid na dié trauma hom geweldig.

DEUR ROELF OPPERMAN

Die dag toe my dogter Claudi in my kantoor instap en sê sy wil met my praat, het ek geweet hier kom iets belangriks. Sy moes besluit wat sy na skool wou gaan doen. “Wat dink Pa daarvan as ek ’n dominee wil word?” Jy kon my met ’n veer omslaan. Ja, ek het geweet sy werk graag met mense. Ja, ek het geweet sy het ’n liefde vir die kerk. Ja, ek het geweet sy is lief vir die Here. Ja, ek was altyd positief dat vroue dominees kan word.  Maar meteens is dit nou baie, te naby aan my lyf. Ander pa’s se dogters kan dominees word, daarmee het ek geen probleem gehad nie maar nou moet ek raad vir my eie dogter gee. My kop het gedraai want dit was vir “my klein dogtertjie” wat ek nou moes help.

 

Die dag na haar 27-jarige verjaarsdag is ds Claudi Le Roux van Pretoria ná ’n fratsongeluk oorlede. Haar pa, Roelf Opperman, het in ’n poging om te “oorleef” die boek Ek wil nie dié kaarte hê nie geskryf. Foto verskaf

 

Claudi skryf self

Claudi vertel self die storie in haar skripsie wat sy in die finale jaar van haar teologiese studies moes indien: My storie begin toe ek nog baie jonk was. My pa is ’n predikant en my ma ’n onderwyseres, en ek het dus grootgeword in ’n pastorie. Ons is drie kinders, waarvan ek die middelste kind is. Ons het as kinders op die platteland grootgeword. Dit was gelukkige jare waartydens ons gereeld saam met Pa op kerkkampe gegaan het. Na aan die einde van my hoërskoolloopbaan het Pa ’n beroep na die stad aanvaar wat my eie lewe redelik deurmekaar gekrap het.

Na skool het ek besluit om ook Teologie aan die Universiteit van Pretoria  te gaan studeer. Baie mense het my sedertdien gevra waarom ek hierdie besluit geneem het, en ek kon nog nooit ’n presiese antwoord op dié vraag gee nie. Wat ek wel kan sê, is dat ek al ’n lang pad saam met God gestap het. Op pad saam met Hom het ek ’n hele paar besonderse ervarings gehad. Ek wil vandag glo dat hierdie ervarings my help vorm het en gebring het tot waar ek is. Steve Jobs sê in sy toespraak aan Stanford in 2005 dat dit baie moelik is om in jou toekoms in te kyk en te wonder waarheen jy met jou ervarings gaan en wat dit eendag vir jou gaan beteken. Dit is egter makliker om terug te kyk en die ervarings aan mekaar te verbind om op die manier jou storie te plot “… connecting the dots …”. Ek kyk dus vandag terug en verbind my eie ervarings met mekaar. Ek weet nie waarheen ek met dit op pad is nie, maar ek weet hoe dit my help vorm het tot wie ek vandag is.

Baie later, tydens die begrafnis-erediens wat ons ter viering van Claudi se lewe gehou het, het Lizl-Louise Schoeman, haar mentor en vroeëre kollega in die NG Kerk, Valhalla, wat daardie dag gepreek het, gesê: “Jy kies nie jou roeping nie, jou roeping kies jou. Claudi het dit geleef. Sy was ’n dominee in hart en siel. Sy het wyd geleef. Daar was altyd die groter prentjie. Nie net die gemeente nie, nie net die kerk nie, maar die koninkryk.”

Keuses, keuses, keuses …

Daar in my kantoor, in haar matriekjaar, het ons rustig gesit en praat en die voor- en nadele van dominee-wees opgenoem. Uiteindelik sê ek vir haar: “Oor ses jaar wanneer jy klaar gestudeer het, behoort die kerk vroue met oop arms te ontvang. Daar gaan baie poste beskikbaar wees. Ja, doen dit.”.

LEES OOK: NUUT: Digitale boek oor heelword ná trauma

Min het ek geweet dat die kerk na haar studies van ses jaar nog nie so oop vir vroue-dominees sou wees as wat ek gehoop het nie …

Claudi het haar in die studentelewe ingeleef. Sy het haar teologiese studies by Tukkies ten volle geniet. Sy het voluit gelewe.

Toe sy egter vir ’n jaar nadat sy gelegitimeer is nie ’n beroep kry nie, het sy met jeugontwikkeling in skole begin. Sy het steeds gehunker om ’n dominee in ’n gemeente te wees. Toe die gemeente Valhalla vir haar ’n 20%-pos skep, was sy baie opgewonde. Vir my, as haar pa, was dit ’n ongelooflike voorreg om haar te bevestig, en saam met my vrou, Antoinette, my toga om haar skouers te kon hang.

Ek dink Valhalla was in daardie stadium die enigste gemeente wat deur net twee vroulike dominees bedien is. Binne ’n paar maande van saamwerk, is Lizl-Louise, Claudi se kollega, na ’n ander gemeente beroep. Claudi was vir ’n jaar alleen dominee in die gemeente. In dié jaar het sy en haar man Ewald meer van gemeente-dominee-wees ervaar as baie ander dominees in ’n leeftyd.

Toe gebeur die ongeluk …

’n Stuk metaal val van ’n vragmotor af, vlieg deur die motor wat sy bestuur se voorruit en tref haar teen die kop.

Ek was binne tien minute en voor die paramedici op die toneel. Claudi het bygekom, wou weet wat gebeur het en hoe ernstig haar beserings is en of sy sou doodgaan. Ek het vir haar gesê daar is bloed, dit lyk ernstig, maar ek weet nie. Sy moet rustig wees. Die ambulans is op pad.

Later by die hospitaal wou sy weer weet hoe ernstig haar beserings was. Ek het haar vertel van die skedelfraktuur en die stukkie been wat in die brein vassit wat verwyder moet word. Die suster aan diens het op my afgestorm en gevra: “Meneer, wat maak jy?” Ek het vir haar gesê dat ek en my kind mekaar verstaan en dat ek haar vertel wat aangaan. Claudi het heel vererg vir die suster geskreeu: “Los ons. Ek wil weet!” Toe vra sy my weer of sy sou doodgaan. Ek het weer vir haar gesê ek weet nie.

Die beserings is ernstig, maar sy moet bly veg. Toe sy by die teaterdeur ingestoot word, sê sy dat sy sal veg.

Die wag het begin. Claudi sou die aand haar verjaarsdagpartytjie gehou het. Sy het die vorige dag 27 geword. Al hulle vriende het hospitaal toe gekom. Ons seun Barend en sy vriendin Yolanda met wie hy later getroud is, het van Bloemfontein af gekom. Die voorportaal van die hospitaal was die hele aand vol jongmense wat sit en wag. Party het bier gedrink. Van ons vriende was ook daar. My kollega Willem en sy vrou Karien het gekom. My vriend Fritz het heeltyd by ons gebly sonder om te veel te praat.

Later die aand is Claudi in die teater dood.

LEES OOK: Vreugde lê nooit ver nie

Die chirurg en die suster wat vir my en Ewald in die vroeë oggendure geroep het om die boodskap oor te dra dat sy nie die operasie oorleef het nie, was redelik onbeholpe.

Ek moes vir Antoinette gaan sê. Ek moes vir ons Christa-kind wat in Abu Dhabi was, bel om te sê haar sussie is dood.

Hoe kan mens vinnige besluite neem as jy nie kan dink nie?

Ek moes vinnige besluite neem. Die suster het kom vra of ons na haar wou gaan kyk en gewaarsku dat sy nog net so lyk soos toe sy uit die teater gekom het. Omdat ek al ’n keer ’n ander pa moes bystaan terwyl hy sy seun uitken, en die pa se pyn vandag nog in my kop gegraveer is, het ek besluit om nie te gaan kyk nie. Ek het geweet ek moet myself beskerm. Dit word ’n prentjie wat in jou kop ingegraveer word en dit was nie die prentjie wat ek van my kind wou hê nie. Of dit ’n goeie of ’n slegte besluit was, weet ek tot vandag toe nog nie. Ek dink dat dit vir my persoonlik die beste was om nie te gaan kyk het nie.

Narkose-tyd

Die volgende dag het die mense gekom. Die deurmekaar, chaos-tyd het begin. Ek het dit narkose-tyd genoem. Die blomme het ingestroom. En die kos. En die SMS’e, oproepe, boodskappe oor Facebook en WhatsApp. Reëlings moes getref word. Henning Rademeyer het die volgende aand kom kuier. Henning was vanaf kleintyd baie in ons huis. Hy en ons kinders het menige ervaringe gedeel   en is baie goeie vriende. Daardie aand het ons om die kombuistafel gesit en sommer net stories vertel en gelag. Dit was Mandorla-tyd. Hemel en aarde het vir kort oomblikke daardie aand bymekaar uitgekom. Dit was soos medisyne vir ons siele om sommer net normaal te kon sit en gesels en lag. Hy het ook vir ons gebid. Dit was vir ons goed.

Kerk toe vir die diens

By die erediens ter viering van Claudi se lewe ’n dag of wat later het Lizl-Louise, ’n boodskap gelewer wat rustigheid gebring het. Ek het altyd gedink dat mense nie eintlik by begrafnisse luister nie, maar ek het elke woord ingedrink. Sy het oor die Emmausgangers gepreek. Vir die twee mense op pad na Emmaus was Jesus ’n vreemdeling. Hulle herken hom nie. Maar Hy stap saam. Hulle praat. Die ironie is dat hulle mét Jesus oor die afwesige Jesus praat!

Ek het na die tyd weer haar preek gaan lees: “Dis dikwels so dat trauma en pyn die teenwoordigheid van God versluier. Ons oë is dof van trane maar word ook dof vir God. Dis juis hier waar die verhaal ons intrek en uitdaag. God stap saam.”.

Claudi se preek vir Sondag sou gaan oor die tema uit Jona. “Al wil jy vir God verlaat, God sal jou nooit verlaat nie.”. Hoe meer ’n mens wanhoop, hoe meer is God in gesprek met ons. In ons roep na God, is God teenwoordig. In ons smeke na God, is God teenwoordig. Selfs die biddende verlange in ons harte, is ’n teken van God se teenwoordigheid in ons lewens.

Die Here is met ons – of dit nou is vir ’n Jona op sy Nineve pad, hierdie twee mense op die Emmauspad of Claudi op die Molotopad. Hy is by ons – ook op hierdie vreemde nuwe pad wat ons almal loop.

Maar, dit gaan ook oor soveel meer as net dat God saamloop. Die Jesus wat hulle hier ontmoet, is die Een wat self die pad geloop het. Dis die Een wat nog met die merke van die spykers in Sy hande en voete loop. Dis die God wat self gely het. Die Een wat die houvas, verwoesting en sinneloosheid van die dood vir ewig verander het. Die een wat vir ons ’n nuwe taal kom gee met woorde soos Opstanding, Nuwe Lewe, Hemel, Ewige woonplek.

Die Een wat saamloop is Hy wat ons sterftedatum verander in ons opstandingsdatum.”

Ons het nie ’n kis kerk toe gebring nie. Claudi se man Ewald het dit in sy toespraak in die kerk so verduidelik: “So as julle gewonder het hoekom Claudi nie nou hier voor in ’n kis lê nie moet mooi verstaan dat Claudi nie ingeboks kan word nie, sy is vry en moet vir altyd vry wees.”

Aan die einde van die diens het ongeveer sewentig dominees vorentoe gekom om saam die seën uit te spreek. Vir my was dit ’n aangrypende ervaring om my kollegas en vriende daar voor by die preekstoel te sien met hulle hande in ’n seën uitgestrek. Vir my was dit ’n Mandorla-oomblik waar hemel en aarde bymekaar uitgekom het. Ek was trots om deel van so ’n span te wees.

Deurmekaar dae

In die dae wat kom het baie mense ons besoek. Party het net kom blad skud en dan geloop. Ander het gesit en kuier. Party het probeer interpreteer wat gebeur het. Ander het onbeholpe trooswoorde probeer bring. Dié wat ons die meeste waardeer het, was die wat net gekom het en net ’n drukkie kom gee het. Ek was later gaar gedruk. Maar ek het dit waardeer.

Stadig het die narkose begin uitwerk …

Die huilbuie sommer op die vreemdste tye en plekke het erger geword. Ek kon nie slaap nie. My kop was aanmekaar in gesprek met God, met Claudi en met myself.

Die lewe gaan aan …

Ek moes weer begin werk. Maar hoe sien jy mense in jou beradingspreekkamer oor hulle ingroei-toonnaels as jy sit en dink: My kind is dood en jy sit en kla oor beuselagtighede. My kollegas het in dié tyd baie gehelp. Hulle het my beradingspligte oorgeneem totdat ek weer gereed was.

Ek moes ook weer begin preek. Ek het geweet ek moes dit so gou as moontlik agter die rug kry, anders word dit ’n groterwordende berg. Ons was in die tyd met ’n preekreeks oor karakters in die Bybel besig. Om die een of ander rede het ek gedink dat ek oor ’n sekere teks moes preek. Ek het met die preek gestoei. Niks wou werk nie. Ek het met die preek geworstel totdat dit uiteindelik die Saterdagaand klaar was. Heeltyd in my agterkop het ’n stemmetjie vir my gesê: “Jy preek die verkeerde preek. Gaan kyk net weer na die preekrooster. Iemand het al hieroor gepreek.” Dit was toe so. Doodmoeg moes ek Saterdagaand ’n nuwe preek voorberei. Heel moedeloos besluit ek om na my ou preke te gaan kyk en vas te stel of ek nie al in die verlede oor die nuwe teks waaroor ek eintlik wou preek, gepreek net    nie.

LEES OOK: ’n ‘Skewe potjie’ vind haar deksel

Ek kry ’n onderwerp waaroor ek in 1995 gepreek het. Toe ek die preek begin lees, kon ek nie my oë glo nie. In die inleiding staan daar iets wat ek lankal al vergeet het: Gemeente, ek wil vir julle vertel wat die afgelope week in ons huis gebeur het. Ons dogtertjie Claudi het my gevra of sy die Here kan sien, want sy wil Hom so graag sien. Ek verduidelik toe vir haar dat ’n mens nie in hierdie lewe die Here kan sien nie. ’n Mens moet eers doodgaan, dan sien jy die Here. Omdat ek ’n dominee is, weet sy van dood en van begrafnisse. Sy het so ’n rukkie stil gesit en toe gesê: “Pappa moet ’n graaf gaan haal en ’n baie groot gat grawe – dan sal ons Hom kan sien”.

Die volgende dag het ek nie gepreek nie. Ek het langs die preekstoel op ’n kroegstoeltjie gaan sit en met die gemeente gepraat. Ek het vertel van die vraag wat Claudi as ’n klein dogtertjie vir my gevra het. Toe het ek oor my kind gepraat. Ek het oor my eie broosheid en seer gepraat. En ook dat ek nie antwoorde het nie. En dat ons mekaar nodig het wanneer die lewe sy mat onder jou uitruk. Dit was ’n rustige preek. Die ys was gebreek. Volgende preke sou makliker gaan.

Terwyl ek aan die einde van die diens opstaan om die seën uit te spreek, kom ’n klein dogtertjie, so oud soos Claudi was toe sy oor doodgaan gepraat het, en hou my styf om my een been vas. Die trane het toe gevloei.

Ek het in die tyd besluit om nie sterk te probeer wees nie. Ek het geweet ek moet sag op myself wees. Wanneer ek wou huil, het ek gehuil. Wanneer ek wou skreeu, het ek geskreeu. Wanneer ek wou vertel, het ek vertel. Maar ek het ook agtergekom dat mense nie altyd ewe gemaklik was met my trane nie. Ek was ook nie altyd lus om my storie met enigeen te deel nie. Nie almal het die reg om in my diepste siel toegelaat te word nie.

So heel as moontlik …

In daardie tyd het ek en Antoinette vir mekaar gesê ons gaan doen wat ons kan om so heel as moontlik te word. As ons iemand moet gaan sien om ons in die proses te help, sal ons dit doen. ’n Ou klasmaat van my, Pieter Oberholzer, wie se broer ’n paar jaar gelede vermoor is, het my gekontak en uitgenooi na ’n kamp wat hulle hou vir mense wat hulle geliefdes verloor het. Ek en Antoinette het baie gewonder of ons daarheen moet gaan, aangesien Claudi maar onlangs dood is en ons nie weet of ons nie eers ’n tydjie moet laat verloop voordat ons so iets doen nie. Ons was ook nie lus om ons storie aan ’n klomp vreemde mense te vertel nie. Ons het egter besluit om tog te gaan.

Daar was nie baie mense wat die kamp bygewoon het nie. Dit was ’n veilige ruimte waarbinne gepraat kon word. Die tegniek waarvan hulle in die individuele sessies gebruik gemaak het, was Traumatic Incident Reduction (TIR). TIR is ’n vinnige manier om traumatiese spanning van emosionele en/of fisiese pynlike gebeurtenisse in die verlede te verlig. Dit  besoek die traumatiese gebeurtenis weer in ’n veilige, stil omgewing waar jou aandag nie afgetrek kan word nie. Dis ook ’n omgewing wat vry is van oordeel en interpretasies. Pieter het my gehelp om te verstaan dat daar ’n verskil tussen trauma en rou is. Ek het besef dat ek hoog getraumatiseer was deur alles wat daardie dag rondom Claudi se dood afgespeel het. Ek het die dag weer saam met Pieter besoek, totdat ek die trauma op ’n manier in die kas kon sit. Ek het daarna ook nie meer gehuil as ek van Claudi se dood vertel het nie. Daaroor was ek nogal bly. Ek het egter besef dat ek nie net getraumatiseer was nie, maar dat ek ook rou en dat niks die rou-seer beter kan maak nie. Dit was iets wat ek moes dra. Dit het my baie gehelp om dit te hoor – want ek wóú nie ophou rou nie. Dit het vir my gevoel as ek ophou rou, ek my kind in die steek laat. Na die gesprekke met Pieter het my rou egter baie meer persoonlik geword en ek het geen behoefte meer gehad om in die openbaar te rou nie.

Vir Antoinette het die kamp nie so goed gedoen nie. Ons aanvoeling in die begin was reg dat ons dalk nie so gou op so ’n kamp moes gaan nie.

Ek het hier ook maar net weer besef dat elke mens verskillend rou en dat daar nie ’n pasklaar voorskrif is wat gevolg moet word nie. Elke mens is op sy of haar eie reis.

Dit voel soos gister …

Dit is vandag al drie jaar na die ongeluk. Partykeer voel dit nog soos gister. Vandag weet ek die verlange is iets wat nooit gaan ophou nie. In die afgelope drie jaar het ek partykeer klein dingetjies gedoen om haar in my kop aan die lewe te hou. Ek het byvoorbeeld die das wat ek aangehad het toe ek vir haar en Ewald getrou het, aangesit as ek gaan preek. Op die manier vat ek haar saam met my kansel toe en help haar om haar droom  om dominee te wees verder uit te leef. Ja, ek weet dit is irrasioneel. Ja, ek weet dit maak nie baie sin nie. Ja, ek weet sy gaan nie regtig saam met my nie. Maar vir my is dit goed om op dié manier die pad ’n entjie verder saam met haar te stap…

Een van die goed wat ek geleer het, is dat ’n mens steeds iemand na die persoon se dood lief kan hê. Al kan jy die persoon nie meer sien of vashou nie, en al kom daar nog mense in jou lewe vir wie jy liefkry, bly jy die persoon wat nie meer daar is nie, liefhê. Die dood eindig ’n lewe, nie ’n verhouding nie.

Nuwe bondeltjie lewe …

’n Paar maande na Claudi se dood het ons oudste dogter Christa en haar man WL aangekondig dat ek en Antoinette vir die eerste keer oupa en ouma gaan word. Hulle het later uitgevind dit is ’n dogtertjie en vir ons gevra of ons beswaar sou hê om haar na Claudi te vernoem. Ons het vir hulle gesê dat dit reg is, maar dat hulle baie mooi moet besef dat sy nie vir Claudi vervang nie. Dis ’n nuwe lewe en sy moet ook so grootgemaak word. Die volgende jaar is klein Chloè Claude Drinkwater gebore en sy het van die begin af die lewe aangegryp en in geen onduidelike babataal vir almal verduidelik dat sy ’n unieke persoon in eie reg is. Sy het in ons harte  ingewurm en ’n nuwe plek daar gekry.

Ek het agtergekom dat ’n mens se hart baie plek het om nog mense lief te kry sonder dat die mense wat nie meer daar is nie, uitgeskuif word.

Ander se verhale gee hoop

Mense wat my deurentyd baie moed gegee het, was ons vriende Wimpie en Ronel Jordt wat op Swartwater bly. Hulle het ’n klompie jare tevore hulle seuntjie Heinrich in ’n fratsongeluk verloor. Heinrich het gefloreer in die nuwe skool in Pretoria waar hulle hom geplaas het om hom met sy disleksie te help. Hulle het tussen vriende ’n saamryklub begin om hulle kinders oor naweke huis toe te bring. Die vriende wie se beurt dit die naweek was om die kinders terug te bring, het die kinders opgelaai en gou   by ander vriende stilgehou om koffie te drink. Terwyl die grootmense kuier,  het die een maatjie ’n tuisgemaakte pistool, in die tuin ontdek waar die tuinwerker dit weggesteek het, die pistool op Heinrich gerig en die sneller getrek. Heinrich is getref. Hy is daar oorlede.

Wimpie het vertel hoe iemand op ’n dag na hom toe gekom het en hom herinner het dat hy nog twee kinders het wat leef en wat hulle pa nodig het. Hy het op hulle begin fokus. Hy het ook die vriende van die saamryklub wat dié naweek gery het, gaan troos. Wimpie het vertel hoe hy vir Heinrich mis, veral tydens geleenthede soos die belydenisaflegging toe Heinrich se tweelingsussie Melanie belydenis van haar geloof afgelê het. Wimpie het ’n veerkragtigheid gehad wat hom laat oorleef het. Dit was ’n veerkragtigheid wat my in my eie situasie hoop gegee het. As hulle kon oorleef, kan ons ook.

Post-traumatiese groei

Ek het begin raaksien dat die menslike gees die kapasiteit het om in alle omstandighede te oorleef. Ek het uit Wimpie en ook uit ander mense se stories gesien dat dit moontlik is om ook post-traumatiese groei te ervaar. Te midde van die mees verwoestende ervarings wat mense mag hê, is die potensiaal in ons opgesluit om ’n amper bonatuurlike krag te ervaar om te oorleef en selfs partykeer sin te begin maak uit al die chaos om jou.

Nog stories vol hoop

Twee ander besonderse mense met wie my pad gekruis het, was Jan en Ems Cronjé. Vroeër was Jan onder andere skoolhoof, voorsitter van die verbruikersraad, regsgeleerde en bokskampioen. Hy erken ruiterlik dat Ems die inspirasie was wat gemaak het dat hy kon bereik wat hy bereik het. Sy het letterlik aande saam met hom deur die nag gesit om sy Latyn vir hom te leer. Toe ek hom leer ken het, het ek niks van hierdie goed geweet nie. Hulle was reeds afgetree. Vir my was hulle maar net oom Jan en tannie Ems, lidmate in my gemeente.

Hulle lewe was nie sonder terugslae nie. Een van die terugslae wat ek  saam met hulle beleef het, was toe hulle seun Kobus wat op daardie stadium ’n baie aktiewe kerkraadslid in my gemeente was, in sy huis aangeval en geskiet is. Aanvanklik het dit gelyk of hy die skietwond gaan oorleef. Ons kon lekker in die hospitaal met hom gesels. Hy is egter ’n paar dae later in die hospitaal na ’n terugslag oorlede. Ek het eers baie later gehoor dat hulle vroeg in hulle getroude lewe ook Kobus se tweelingboetie as baba aan die dood moes afstaan.

Oom Jan is een van die lede van ’n groep ouer manne wat weekliks in my gemeente bymekaar kom om te praat en koffie te drink. Hulle praat oor geloof, politiek, verhoudings, ekologie en ook die sin van lyding en die dood. Dit was in die groep en ook in persoonlike gesprekke met hom wat ek hom beter leer ken het. Ek het gehoor van sy woede oor Kobus se  dood en oor die manier hoe hy moes doodgaan. Ek het gehoor van die soeke na sin in die lewe. Ek het egter iets meer as normale rouprosesse by hom opgetel. Daar was ’n veerkragtigheid. ’n Fokus op die toekoms eerder as op die verlede. Dis asof daar ’n tevredenheid in sy lewe was. ’n Tevredenheid ten spyte van die verliese van kinders en finansies. Dit was egter meer as ’n tevredenheid. Dis asof hy vorentoe druk en baie bewustelik die lewe bly geniet.

Op ’n dag bring hy vir my ’n sakkie lietsjies van ’n boom wat hy ’n hele paar jaar na sy sewentigste verjaarsdag geplant het. Dit was duidelik dat hy trots was op sy lietsjies. Hy haal toe ’n papiertjie uit sy sak en vra of ek nie lus is om dit wat hy daarop geskryf het die volgende Woensdag aan ons mannegroep voor te lees nie, aangesien hy die dag self nie daar kan wees nie. Dit was vir my duidelik dat hy baie dinkwerk in die kort stukkie wat hy geskryf het, gesit het: “Een van die wonders van die lewe is dat pyn, hartseer en teleurstelling byna altyd die hart van die kosbaarste oomblikke in ons lewens is.”

LEES OOK: ‘Ek is verpletter na klein Miga se dood, maar God is my Lewensredder’

Die feit dat hy, na hy die papiertjie aan my oorhandig het, gesê het hy wonder of hy nie eerder die woord “gewoonlik” in die plek van die woorde “byna altyd” moes gebruik het nie, het my laat besef dat hy elke woord in die kort sinnetjie oordink het. Hy het besef dat pyn, hartseer en teleurstelling nie goedkoop is nie. Hy wil ook nie veralgemeen en sê dat dit vir almal so moet wees nie.

Pynlike kosbare oomblikke

Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer besef ek oom Jan se woorde is waar. Van die kosbaarste oomblikke in my lewe was die laaste gesprekke  daar in die hospitaal met Claudi. Dis waar. Hoewel ek dit nie toe raakgesien het nie, besef ek nou dat die pyn wat ek daar ervaar het, die hart van een van die kosbaarste oomblikke in my lewe geword het.

Ek het in oom Jan iets van die post-traumatiese groei beleef waarvan ek meer in hoofstuk drie van hierdie boek gaan vertel. Na die woede oor sy kind se dood, kon hy ook dankbaar word vir die jare wat hy wel met sy kind kon deel. Die herinneringe het die hart geword waaruit hy kon leef. Ek dink hy het iets verstaan van wat Victor Frankl, ’n psigiater wat die Duitse konsentrasiekampe oorleef het, geskryf het: “Wanneer jy nie meer die situasie waarin jy is kan verander nie, word jy uitgedaag om jouself te verander.”.

Veerkragtig vorentoe

Ek het hom bewonder vir die veerkragtigheid in sy lewe. Ek het ook begin oplet na veerkragtigheid in ander mense wat verliese ervaar het. Ek het ook begin besef dat mense die vermoë het om na geweldige terugslae in hulle lewens, of dit nou iemand na aan jou is wat dood is, of gebroke verhoudings, of verlies aan werk, of sekwestrasie, of gesondheid wat ingee, of wat ook al, vorentoe kan bons met ’n veerkragtigheid en weer kan begin lewe.

Hierdie veerkragtigheid is nie ’n goedkoop kop-in-die-grond-druk soos ’n volstruis nie. Veerkragtigheid om te oorleef kom aan die een kant diep uit ons eie binneste uit en aan die ander kant van die mense rondom ons. Dit kom aan die een kant van diepe dankbaarheid oor wat ons steeds het en aan die ander kant van die vermoë om intens te rou. Dit kom aan die een kant van jou vermoë om die rouprosesse waardeur jy gaan te analiseer en aan die ander kant deur jou net aan die rouproses oor te gee.

Ek het ’n diepe behoefte ervaar om iets van hierdie veerkragtigheid in my eie lewe te hê …

In die volgende hoofstuk word die kaarte weer geskommel en delf ons bietjie dieper. Die harde feite van die verhale in hierdie hoofstuk word vermeng met verskillende emosionele ervarings, wat ’n totale ander dimensie na die verhale bring.

  • Lees môre (9 Maart) verder in Deel 2 van Ek wil nie dié kaarte hê nie. In dié hoofstuk skryf Roelf oor die pyn van rou, woede, verlange, skuldgevoelens en meer.
  • Bestel ‘n harde kopie van die boek hier.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img