18 Februarie 2021


Die wêreld veg teen Covid-19. Ons land het ’n swetterjoel probleme. Vriende verloor hul werk. Ons word van ons geliefdes weggehou. Mense in my omgewing word baie siek – en ek voel self nie te lekker nie. Waar gaan dit alles eindig?

DEUR ZERELDA ESTERHUIZEN

Die bekende Nadine Blom, tans die lewenstyl-platformbestuurder by DigiTV SA, sê sy gesels gereeld met mense  wat hul bekommernisse oor bepaalde situasies en gebeure lug. “Dis nie noodwendig kla nie,” sê sy. “Dis mense wat besorg is oor wat hulle sien en hoor en voel.

“Maar dit maak saak wie jy in jou binnekring toelaat. Ek probeer om positief te wees en positiewe dinge te sê, en ek omring my met mense wat hierdie gesindheid deel. Ek is gelukkig daarin dat ek baie sterk mense om my het, en ons motiveer mekaar.

LEES OOK: Deel 1: Dink na voor jy kla

“Sangers ervaar nou baie stres, maar ons almal werk hard en probeer nuwe dinge. Ons is net mense, en soms moet jy ’n bietjie afpak. As jy baie terneergedruk is, is jy dalk gelukkig genoeg om mense te hê wat jou inspireer. Iemand wat jou help om jou seile ’n bietjie anders te span, sodat jou skip weer momentum in die regte rigting kan kry.”

Aangeleerde gedrag

Benescke Janse van Rensburg, radioaanbieder en skrywer, onthou ’n onderhoud wat sy met dr Pieter van Jaarsveld oor sy boek Dink jouself gelukkig gevoer het.

Sy vertel: “Pieter het navorsing aangehaal waarin bevind is dat ’n ma ’n baie groot rol daarin speel om te bepaal of haar kind ’n optimis of ’n pessimis is. Pessimisme is dus aangeleerde gedrag, maar ’n mens kan daaraan werk om dit te verander.

Bepaal eerstens hoe jy na die wêreld kyk: Is dit met ’n pessimis of ’n optimis se bril? “Twee mense kan na dieselfde voorwerp of situasie kyk en twee verskillende dinge sien. Werk doelbewus daaraan om op ’n positiewe manier te kyk.”

LEES OOK: Só maak ons Minki mooi vir die voorblad

Benescke sê ’n goeie eerste stap om dit te doen, is om ’n dankbaarheidsjoernaal aan te skaf. “As jy neerskryf waaroor jy dankbaar is, help dit jou om goeie dinge raak te sien en te waardeer. Werk ook aan jou gedagtes. Ons lees in Efesiërs 6 dat ons as gelowiges die helm van verlossing moet opsit deur ons gedagtes gevange te neem.

“Dit beteken ons moet doelbewus dink waaraan ons gaan dink. As jou gedagtes negatief raak, keer dit voor, en stuur dit in die teenoorgestelde rigting. Doen dit deur sommer hardop te begin praat.”

Foto’s: iStockphoto

Wenke

  • Hou ’n joernaal by, en skryf jou gevoelens daarin neer. Waaroor is jy bekommerd? Wat kan jy daaraan doen? Help dit jou enigsins om daaroor te kla?
  • Kyk goed na dit waaroor jy kla. Stel vas of daar ’n patroon en ’n kernprobleem is.
  • Daag jouself uit. Stel ’n doelwit om, byvoorbeeld, teen ’n sekere datum minder te kla. Beloon jouself as jy daarin slaag.
  • Vind ’n ondersteuningstelsel en gesels met iemand wat jy vertrou oor jou probleme. As dit van ’n ernstiger aard is, roep professionele hulp in.
  • Doen dit net! As jy jou weer betrap dat jy kla, hou doelbewus daarmee op en dink dadelik aan wat jy nou daaraan kan doen. Kla jy oor ’n kind wie se kamer soos ’n varkhok lyk? Belê ’n gesinsvergadering en stel ’n aksieplan op.
  • Vervang jou negatiewe gedagtes met positiewes.
  • As jy negatief voel, lees of luister iets wat jou motiveer.
  • Omring jou met mense wat jou opbou en nie afbreek nie.

Bybeltekste om te onthou

Filippense 2:14-16: “Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.”

Spreuke 3:5: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.”

Efesiërs 4:29:  “… praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *