Tuesday, June 22, 2021

Deel 2 van aanlyn boekreeks: ‘Daar is min dinge so seer soos rou’

9 Maart 2021


Om te rou is om pyn te ervaar. Toe my kind doodgegaan het, het ek maande daarna nog emosionele pyn en ook fisiese pyn ervaar.

DEUR ROELF OPPERMAN

Gifappel
My kind is dood. Maar onverpoosd, onverstoord
gaan die wêreld voort.

Daar is min dinge wat so seer is soos rou. Mens rou nie net wanneer iemand doodgaan nie. Wanneer jou drome uitmekaar spat, rou jy. Wanneer verhoudings skeef loop, rou jy. Jy rou wanneer geleenthede by  jou verbygaan. Jy rou wanneer jy ’n ledemaat aan jou lyf verloor. Jy rou wanneer siekte in jou lyf kom nes skop. Jy kan rou oor jou besigheid wat misluk. Jy kan rou oor enige verlies wat oor jou pad kom.

LEES OOK: Deel 1 van aanlyn boekreeks: Hoe om te oorleef sonder om te verstaan

Om te rou is om pyn te ervaar. Toe my kind doodgegaan het, het ek maande daarna nog emosionele pyn en ook fisiese pyn ervaar. My hele lyf was seer. Daar was ’n beklemming op my borskas. My bioritmes was deurmekaar. Huilbuie het my oorval. Dit was asof daar fisies iets uit my lyf geruk is en ek moes sonder daardie ledemaat voortploeg.

Die pyn het my moeg gemaak. Ek wou slaap maar ek kon nie slaap nie. Ek het ’n diep, baie persoonlike hartseer ervaar en ek wou nie mense in hierdie diep emosies van my toelaat nie. Dit was mý pyn, mý seer …

“Na Claudi se ongeluk het ek oor vreemde goed skuldig gevoel. Ek het skuldig gevoel dat ek nie meer sakgeld vir haar kon gee toe sy op Universiteit was nie en dat sy regtig moes sukkel om elke maand deur te kom,” skryf Roelf. Foto verskaf

Ek en Antoinette het in die tyd ook baie saam gehuil. Partykeer het ek alleen gehuil en sy het my dan net vasgehou. Ander kere het sy alleen gehuil en ek het by haar gesit en haar vasgehou.

Ek verstaan waarvan Irma Joubert in haar boek “Pérsomi – Kind van die Brakrand” praat as sy Pérsomi, ’n hoërskooldogter, wat haar ouboet in die oorlog verloor het, se gevoelens soos volg beskryf:

Die nag word angswekkend.

Onder in die nag se swart lê ’n seer wat haar vasgryp, ’n eensaamheid wat haar aan die bodem geketting hou. Want in die nag kom die donker, kom die onthou – ongevraagd. En saam met die onthou kom die verlange, fel en seer. Elke keer feller, seerder.

Die dink kom vanself, keer op keer. Dit breek deur haar en slaan haar plat.

Pyn was ’n onwelkome gas wat in ons lewens kom nesskop het. Ek het net geweet ek sal iets aan hierdie pyn moet doen, anders gaan dit my onder kry.

Gelatenheid – uit beheer wees

My vrou Antoinette se suster en swaer, Blondie en Hannes Myburg, was meer as twintig jaar gelede ’n predikantspaar in Ermelo. Hulle het ’n see-vakansie vir hulle gemeente se senior lidmate beplan. Die dag toe die vakansie aanbreek, het Hannes die sleepwaentjie agter hulle Kombi gehaak, sy skoonouers (Antoinette se ouers) en nog ’n paar ander senior lidmate in sy Kombi gelaai, gebid en toe vertrek. Ongeveer tien kilometer buite Ermelo het iets onverklaarbaar gebeur. Op ’n reguit stuk pad het die Kombi omgeslaan. Hannes en Blondie is dood. Antoinette se ma is dood. Haar pa, Hannes, se arm is vermink. Daar is nog mense in die Kombi dood. Klein Hannes, Blondie en Hannes se jongste seun wat saamgegaan het, het ’n nare sny aan die voorkop gekry, maar hy het die ongeluk oorleef.

Hannes het, voor hulle gery het, gebid en gevra vir beskerming. ’n Halfuur later rol die Kombi. Na hierdie voorval was dit vir my moeilik om te bid vir beskerming. Ek was in ’n geweldige tweestryd. Wat help dit om te bid? Moet ek nie maar net alles aanvaar wat oor ons pad kom nie?

Dit het vir my as predikant partykeer in ’n verleentheid geplaas. Wanneer ons kinders by die skool in ’n bus moes klim op pad na ’n veldskool of op die een of ander skooltoer, het Arie Mans, die skoolhoof, my soms gevra om te bid. Dit was moeilike gebede. In my agterkop het ek bly dink: Wat help dit om te bid? My gebed gaan nie die ongeluk keer nie. Ek is vals as ek nou ’n mooiklinkende gebedjie opsê net omdat dit van my verwag word. Meeste van die kere het ek gesorg dat ek ry-tyd nie naby hom is dat  hy my kan vra om te bid nie.

Wat die tweestryd in my nog feller gemaak het, was die stemmetjie in my wat gevra het: “As jy nie bid nie, en hulle kom in ’n botsing, is dit dán nie jou skuld nie?”

LEES OOK: ’n Baba ná agt jaar – en ’n nuwe beproewing

My gebede het anders begin raak – nie meer beskerm ons nie, maar nou: Here, wees by ons. Wees by ons gesin. Wees by ons kinders. Bly by my Heer, terwyl die skemer daal …

’n Gelatenheid het deel van my lewe geword. Ek het nie oor alles beheer gehad nie. Daar was goed waaraan ek iets kon doen. Dit het ek probeer doen. Daar was egter goed waaraan ek niks kon doen nie. Dit moes ek net dra.

Toe die stuk staal die motor wat Claudi bestuur het, getref het, het hierdie gelatenheid weer oor my gekom. Dalk was dit ’n stuk narkose. Dit het egter gemaak dat ek kon doen wat ek moet doen, sonder om te veel vrae te vra.

Woede

Anders as wat ek verwag het, het ek nie baie woede ervaar nie – in elk geval nie teenoor die persoon wat die stuk staal van sy trok laat val het, wat ons motor se voorruit deurdring het nie. Hy het in elk geval nie eers geweet daar het ’n stuk staal afgeval nie. Vir dáárdie woede het ek gewag. Maar dit het nie gekom nie.

Daar was egter ander dinge waarvoor ek kwaad geword het. Een van die dinge wat my woedend gemaak het, was mites wat mense probeer gebruik het om my te troos of om te interpreteer wat gebeur het: Alles gebeur vir ’n rede. Of: Dit was iets wat moes gebeur sodat julle kan groei. Of: God pluk die mooiste blomme vir sy tuin.

Meeste van die kere wanneer van hierdie mites teenoor my ge-uiter is, het ek net in my kop vir myself gesê: Jy bedoel dit goed, maar jy weet nie waarvan jy praat nie.

Ek is daarvan oortuig dat hierdie mites emosionele, spirituele en psigologiese geweld is wat jy pleeg teenoor mense wat rou. In gewone Afrikaans gesê: Dis ’n klomp twak wat mense se lewens vernietig en is doodgewoon net nie waar nie. Dit laat net die persoon wat dit sê beter voel sonder dat dit enigiets bydra tot die heelword van die persoon wat  rou. Dis ’n klomp twak wat in die naam van geloof gesê word en dit plaas ’n ongelooflike klomp skuldgevoelens op mense wat dit moet aanhoor. Hoewel dit so is dat verliese tot groei in ’n persoon se lewe kan lei, gebeur dit meermale dat dit daartoe lei dat mense se lewens vernietig word.

Ek onthou dat ek op ’n keer toe iemand weer vir my gesê het dat ek my moet berus omdat dit God se wil was dat die fratsongeluk moes gebeur, woedend geword het vir God. As dit God se wil was, wil ek niks met so ’n God te doen hê nie. Dis doodeenvoudig wreed. As ek vandag terug dink, dink ek daardie dag was vir my die draaipunt om anders oor God te dink. Ek het vir myself gesê die man weet nie waarvan hy praat nie en ek hoef nie meer sulke twak van mense op te vreet nie. Die God wat ek ken is ’n God wat langs my staan en huil. Hy is nie die een wat stukke staal deur motorruite laat vlieg nie.

Toe Paul Grobler, een van my kollegas, my maande daarna vra of my geloof my gedra het, het ek hom geantwoord: “Nee, nie my geloof nie, my teologie. My manier hoe ek oor God dink. God is nie die wrede God wat soos ’n marionetspeler toutjies trek dat die dinge hier op aarde gebeur nie. Vir my is Hy Immanuel – God met ons. Hy is die God wat by my in voorspoed en in teëspoed is. Hy kry seer as ek seerkry. Hy is die Een wat ook langs Claudi was en haar ook deur die dood gedra het.”

LEES OOK: Maandag-inspirasie: Hy wag met oop arms op jou

Ek het soms kwaad geword vir mense wat my wou troos – ek wou nie getroos word nie. Dit het amper vir my gevoel dat as ek getroos sou word, ek my dogter in die steek laat.

Ek het ook kwaad geword vir die wêreld wat net aangegaan het terwyl my lewe uitmekaargespat het.

In dié tyd het ek ook die volgende gedig geskryf en dit Gifappel genoem. Die naam Gifappel het vir my ’n dubbele betekenis. Dit het vir my iets gesê van die woede en die seer in my wat die wêreld nie raaksien nie. Buite lyk ’n gifappeltjie mooi rond en geel en selfs eetbaar. Maar as jy dit byt is dit galbitter en giftig. Die tweede rede hoekom ek die gedig dié naam gegee het was, omdat dit die wagwoord was wat Claudi soms gebruik het op die internet. Sy het haarself baie keer een van Liewe Heksie se gifappeltjies genoem omdat sy nie bang was om ’n ding reguit te sê nie.

Gifappel
My kind is dood. Maar onverpoosd, onverstoord
fok die wêreld voort.

Ek het later die vloekwoord uit die gedig gehaal toe ek die gedig op my blog gepubliseer het.

Verplaasde woede

Wat my in die tyd die heel kwaadste gemaak het, was die manier hoe die kerk baie jong dominees en spesifiek vroue-dominees hanteer. Ek het egter amper ’n irrasionele woede ervaar oor die feit dat  die kerk sukkel om vir vroue-dominees hulle regmatige plek te gee. Ek dink ek het die woede in my verplaas na die kerk. Ek was irrasioneel kwaad vir Claudi se gemeente wat haar nie in ’n vol pos beroep het toe hulle dit kon doen nie. Hierdie woede het reeds twee maande voor die ongeluk in my begin broei en na die ongeluk geëskaleer. Wanneer ek in hierdie tyd oor vroue-dominees gepraat het, het ek spontaan begin huil – partykeer tot groot verleentheid van myself en die mense om my.

Ek het die gesprek met Claudi voor sy met haar teologiese studies begin het, onthou. Dit was vir my verskriklik sleg dat my voorspelling dat die tyd wanneer sy klaar gestudeer het, die kerk vir vroue-dominees oop en gereed sou wees, verkeerd was. Ek was ontnugter en teleurgesteld – veral omdat dit my eie kind intens geraak het. Die gemeente wat sy vir feitlik ’n jaar lank alleen bedien het, het besluit om weer ’n voltydse dominee te beroep. Sy het vir die pos aansoek gedoen en het ’n redelike goeie kans gestaan om die pos te kry.

’n Paar dae voor die beroepsvergadering het iemand ’n brief na al die  kerkraadslede gestuur waarin onder andere die volgende geskryf is:

Die volgende wil ek graag onder u aandag bring:

My spesifieke vraag oor die uitreik na mans/vaders is omrede ek dié tekortkoming in die gemeente ervaar en die Bybel ons leer dat die man die hoof van die huis is …

Ek glo met my hele hart dat ons ’n man nodig het wat met manne kan praat om daardie aspek van die gemeente aan te spreek.

Neem asseblief ook in ag dat ons gemeente baie soldate/oudsoldate het en dat die ou boerevolk nog nie vroue vroue-oorheersing wil aanvaar nie.

Ouderdom speel ook ’n redelike groot rol en dit sal makliker wees as die ouderdomsverskil nie so groot is nie.

Sy is toe nie beroep nie.

Toe sy daardie Sondag na die vergadering by die huis kom, sê sy vir my: “Pa, hulle wil my nie hê nie.” My hart was stukkend. Op daardie stadium het ek haar probeer troos en gemotiveer om kop te hou en nie moed op te gee nie.

Na haar dood het ek kwater en kwater geword vir mense en stelsels wat vroue ondergeskik aan mans stel. Met my kop het ek vir myself gesê dat nie almal so is nie. Maar in my hart het ek, as ek vandag eerlik terugkyk, vergelding gesoek. Iets moet gedoen word om te kompenseer – nie vir haar dood nie, maar vir die onreg wat aan ’n jong vroue-dominee gedoen is.

Claudi se gemeente is in daardie tyd ook begelei deur ’n rouproses. Baie van die lidmate was geskok en verslae oor haar dood. Hulle was baie lief vir haar. Hulle moes ook heel word.

Toe die gemeente maande later vir my vra of ek beswaar sou hê dat hulle ’n saal in hulle gemeentekompleks na haar vernoem, was dit vir my of my woede begin stabiliseer. Ek kon helderder dink. Ek kon selfs ’n toespraak by die onthulling van die saal, Claudi le Roux, na haar vernoem, hou. In die toespraak kon ek van my emosies met die gemeente deel. Ek het iets begin verstaan van die waarde van die rekonsiliasieproses waardeur die Waarheids- en Versoeningskommissie ons land gelei het.

Vandag is ek nog ’n aktivis vir die regte van jong dominees. Die irrasionele woede wat teenoor ’n spesifieke gemeente gerig was, is weg.

Verlange

Verlang ek? Ja! Wonder ek wat sy nou doen? Natuurlik! Wonder ek of sy  regkom in die plek waar sy nou is? Ja, baie! Partykeer vra ek die Here om vir haar ’n boodskap oor te dra – om sommer net vir haar te vertel dat ons dit maak of van iets wat die dag gebeur het.

My niggie Erna Grovè het my op ’n keer gevra of ek Claudi se teenwoordigheid ervaar. Want baie mense ervaar hulle geliefde se teenwoordigheid. Ek het geantwoord: “Nee, sy is net weg.” Ek ervaar nie ’n   teenwoordigheid nie – net ’n akute leegheid. Ek mis haar geroep wanneer hulle op ’n Sondagmiddag by ons kom eet: “Ons is hier!” Ek mis haar oproepe en haar e-posse. Ek mis ons geselsies en beplanningsessies. Ek mis haar versoeke dat ek gou met dít of dát moet help. Ek mis haar wanneer Ewald alleen by ons kom kuier.

Ek verlang my dood.

Spesiale dae soos verjaarsdae en Kersfees is nie maklik nie. Ek het nooit erg gehad aan Vadersdag nie, maar nou mis ek haar oproep op daardie dag. Om die een of ander rede is ek bly dat Claudi se verjaarsdag en sterftedag een dag uitmekaar is. Dan is dit nie twee dae wat die seer uitrek nie. Ek en Antoinette probeer om daardie twee dae êrens heen te verdwyn.

Kerk toe gaan en eredienste bywoon is ook nie van die maklikste goed om te doen nie. Ek weet nie of dit die atmosfeer of die musiek is nie – maar as ek in eredienste sit, sukkel ek om te sing en die trane loop baie keer onbeheers.

Skuldgevoel

Mense sukkel om oor skuldgevoelens te praat. Miskien is dit omdat ons bang is dat mense sleg van ons sal dink as hulle hoor waaroor ons skuldig voel. Miskien is dit omdat ons bang is dat die goed waaroor ons skuldig voel, dalk waar is en dat jy dit dan in die oë moet kyk. In my pastorale spreekkamer kom ek agter dat dit vir mense baie moeilik is om die goed waaroor hulle skuldig voel, te praat. Want hulle dink dat God, en ook ek as God se gesant, hulle sal veroordeel. Totdat hulle begin verstaan dat ons almal mense is wat saam op reis is op hierdie vreemde pad wat ons die lewe noem. Totdat hulle besef ek stoei ook maar met die lewe. Tot hulle iets van God se genade begin verstaan.

Na Claudi se ongeluk het ek oor vreemde goed skuldig gevoel. Ek het skuldig gevoel dat ek nie meer sakgeld vir haar kon gee toe sy op universiteit was nie en dat sy regtig moes sukkel om elke maand deur te kom. Ek het skuldig gevoel omdat sy eerder stilgebly het en nie aan aktiwiteite by die universiteit deelgeneem het nie, as om geld te kom vra.

Dit help my nie baie dat mense my probeer troos deur te sê dat almal sukkel of dat dit haar ’n sterker mens gemaak het nie. Ek bly daaroor skuldig voel en dis iets wat ek een of ander tyd uit my sisteem sal moet kry.

Skuldgevoelens kan mens ook bekruip op tye wat jy dit die minste verwag. Die Liewe Here het my nie met ’n suiwer sangstem geseën nie. Inteendeel, as mense my hoor sing, het ek meermale al beleef dat hulle skalks glimlag of hulle koppe draai om te sien wat nou hier agter hulle aangaan. Daarom sing ek graag in die motor as daar niemand saam met my is nie. Die singery het na die ongeluk opgehou. Ek kon en wou nie meer sing nie. Op ’n dag, ’n paar maande na die ongeluk het ek weer êrens heen gery. Toe ek myself kom kry, was ek besig om te sing. En toe voel ek skuldig. Ek leef en ek sing en my kind wat die lewe so voluit geleef het, is dood. Ek voel skuldig omdat ek sing. Ja, ek weet dit is irrasioneel en dat my kind dit dalk so wou gehad het en dat dit nie verkeerd is om dit te doen nie, maar ek het skuldig gevoel. Skuldgevoelens oor die vreemdste goed kan jou onverwags oorval.

Behoefte om net weer normaal te leef

Tussen al die chaos van begrafnisreëlings en polisieverslae en boedelreëlings en mense wat kom simpatiseer, het ek ’n behoefte ontwikkel om net weer ’n bietjie normaal te wees en normale goed te doen. Ek het nie regtig besef dat ek die behoefte gehad het nie, totdat ek vir die eerste keer weer my belydenisklas moes gaan aanbied. Ek het die aand teruggekom en vir Antoinette gesê dat dit so lekker was om net weer vir ’n slag iets normaals te doen. Dit was salf vir my siel as my vriende partykeer sommer net kom sit en twak praat. Daar sit tog ook iets helends daarin dat die wêreld aanhou draai en dat alles nie tot ’n stilstand kom as jy rou nie. Partykeer is dit juis goed as jy bietjie geboelie word om op die draaiende wêreld te klim en net weer ’n slag iets normaals te doen.

Tog iets meer

Na die teenspoed jou getref het, het jy nie ’n keuse as om die dag daarna en die dae wat daarop volg weer op te staan nie. Want daar is mense wat op jou reken. My vrou het my nodig. My ander kinders het nodig om te sien dat Pa aangaan al is hy hartseer. In die eerste donker tyd net na die ongeluk het ek ’n intense behoefte gehad om by mense wat deur ’n soortgelyke krisis was te hoor dat ek sal oorleef.

Ferdinand Deist se storie oor die keiser wat vir sy wyse manne ’n spreuk gevra het wat hy op sy ring kan graveer het my op ’n vreemde manier getroos. Die spreuk moes sodanig wees dat dit in alle omstandighede waar sal wees. Uiteindelik het die wyse manne met die volgende spreuk voor die dag gekom: “Ook dit sal verbygaan”. Wanneer dit goed met jou gaan, moet jy weet dat dit nie vir ewig sal aanhou nie. Ook dit sal verbygaan. Maar dit geld ook vir tye wanneer dit sleg gaan. Ook dit sal nie vir ewig aanhou nie – ook dit sal verbygaan. Hoewel ek nie op daardie stadium lus was nie, het ek besef dat ek iets sal moet doen sodat die donkerte in my sal moet verbygaan. Ek het geen beheer gehad oor dit wat met my kind gebeur het nie, maar ek het tot ’n sekere mate beheer oor die impak wat dit op my het.

Ek het ’n veerkragtigheid nodig wat ek nie op daardie stadium geweet het hoe ek dit gaan kry nie. Ek het na mense om my gekyk wat deur krisisse gegaan het. Party van hulle het hulle krisisse oorleef en weer hulle kop opgetel. Ander, het dit vir my gelyk, kry dit net glad nie reg om hulle kop op te tel nie. Ek het besluit ek gaan soek na daardie “iets” wat my sal laat aangaan – want diep in myself het ek geweet daar is iets meer.

Ek het besluit om met mense te praat wat nie vir my sal preek nie, maar wat self die pad gestap het. Ek het vir Willie de Koker gebel. Hy was ’n dominee in Lynnwood toe hy sy kind aan die dood afgestaan het. Ek kan nie onthou wat hy daardie dag vir my gesê het nie, maar ek onthou dat nadat ons gepraat het, ek ’n groter rustigheid gekry het dat ek dit ook sal maak. Dis al wat ek op daardie stadium nodig gehad het om aan vas te hou.

Die drie A’s

Steven F Maier en Martin EP Seligman het in 2016 ’n artikel geskryf met die titel: “Learned Helplessness at Fifty: Insights from Neuroscience” waarin hulle hul jarelange navorsing op mense wat terugslae beleef het, bespreek. Hulle het bevind dat daar veral drie lokvalle is wat keer dat mense na ’n terugslag herstel. Om dit makliker te onthou, praat ek van die drie A’s, naamlik Aandadigheid, Alles en Altyd. Die drie lokvalle is:

  • die siening dat die terugslag of krisis jou skuld is (aandadig);
  • die siening dat die terugslag elke aspek van jou lewe sal affekteer (alles); en
  • die siening dat die naskokke van die terugslag vir ewig sal aanhou (altyd).

Hulle navorsing het gewys dat kinders en volwassenes vinniger herstel as hulle besef dat die tragedies of terugslae nie totaal hulle foute was nie, dat dit nie ELKE aspek van hulle lewens beïnvloed nie en dat dit hulle nie orals en vir ewig gaan agtervolg nie.

Onderwysers wat in moeilike omstandighede moet skoolhou wat nie in die drie A’s glo nie, wat nie glo dat die omstandighede van die kinders vir wie hulle skoolhou nie, hulle of die kinders se skuld is nie, nie elke aspek van hulle lewens affekteer nie en nie vir ewig gaan duur nie, was baie effektief in die klaskamers en hulle studente het ook akademies beter gevaar.

Hulle navorsing het ook gewys dat besigheidsmanne en sportmanne wat nie in die lokval van die drie A’s trap wanneer hulle terugslae beleef nie, uiteindelik baie beter vaar. Ek skryf meer oor die drie A’s in die volgende hoofstuk.

Net na Claudi dood is, het ek pens en pootjies in die drie lokvalle getrap. Ek het skuldig gevoel oor haar dood. Sou sy nie dalk nog geleef het as ek aangedring het op ’n ander dokter of ’n ander hospitaal nie? Daar het ook ander skuldgevoelens in my kom nesskop. Ek weet dat sy as student geraap en geskraap het om finansieel te oorleef. Ek het skuldig gevoel dat ek nie beter vir haar kon voorsien nie. Claudi moes altyd veg vir haar plek in die son. Ek het skuldig gevoel omdat ek nie altyd saam met haar geveg het nie en haar vertrou het om haar eie gevegte te veg. Dalk kon ek dit vir haar makliker gemaak het en ek het skuldig en op ’n vreemde manier aandadig gevoel oor ander swaarheid wat sy sou gekry het.

LEES OOK: Kyk: ‘Ons is op aarde geplaas om mekaar te ondersteun’

Die tweede lokval waarin ek getrap het was dat ek regtig geglo het dat haar dood elke aspek van my lewe aangetas het. Ek en Antoinette het selfs vir mekaar gesê dat ons nooit weer dieselfde sal wees nie. So ’n groot trauma tas jou hele wese, jou persoonlikheid, jou geloof, jou slaap, jou sosialisering met ander mense, jou seksuele verhouding met jou lewensmaat, jou gesondheid, jou emosies en jou eetgewoontes aan. Aan die begin het ek regtig geglo dat alles aangetas is en so ook in die derde lokval getrap. Ek het geglo dat dinge nooit weer gaan verander nie. Ek het geglo dat dit nou is soos wat dit is en dat dit tot in der ewigheid gaan aanhou.

Tog was daar reeds vroeg ’n stemmetjie in my kop wat vir my gesê het dat ek nie uitgelewer is aan wat met my gebeur nie. Ek kan tog kies hoe ek wil optree en hoe ek myself kan beskerm. Ek kan kies om my nie aan negatiewe mense bloot te stel nie. Ek kan kies om op my eie manier te rou.

Wat my in die tyd baie gehelp het om te besef dat alles nie aangetas is nie, is dat ek weer gou kon begin werk. Na my eerste belydenisklas  na die ongeluk het ek vir Antoinette gesê dat dit so lekker was om net weer iets normaals te doen. Die krisis het nie my vermoë om klas te gee aangetas nie. Dit was lekker! Ek was in die tyd ook verantwoordelik om ’n sinodesitting vir die NG Kerk se Noordelike sinode te reël. Dit was vir my terapeuties om my ook met ander, normale goed besig te hou. Die sinodesitting het goed afgeloop en ek het ook besef dat die ramp nie my vermoë om ’n projek te bestuur, en dit ook te geniet, aangetas het nie. Dit was ’n goeie gevoel.

Dankbaarheid

Dit is interessant hoe baie soetsappige snert daar rondom die dood versprei word. Mense met die beste bedoelings stuur mooi boodskappies en aanhalings aan mekaar. Ek het min van die boodskappe gelees, maar net gekyk van wie dit gekom het en vir myself gesê dat ek dankbaar is dat die persoon aan my dink.

Daar was egter een aanhaling waarmee ek kon identifiseer:

How lucky I am to have something that makes saying goodbye so hard.

Dis ’n aanhaling wat verkeerdelik aan Winnie the Pooh toegedig is. Oorspronklik kom die aanhaling uit die rolprent The Other Side of the Mountain. Maar om een of ander vreemde rede was dit vir my meer vertroostend om te dink dat dit uit die mond van die beertjie gekom het.

Diep in my het ’n stuk dankbaarheid gegroei dat ek vir Claudi as deel van my lewe gehad het. Daarom is ek ook tevrede daarmee dat ek vir die res van my lewe met ’n stuk hartseer sal moet rondloop. Want ek was gelukkig om iemand soos Claudi in my lewe te gehad het.

Daar het ook ’n ander dankbaarheid in my begin groei – ’n dankbaarheid  wat mens amper nie kan waag om hardop uit te spreek nie. Ek onthou dat ek, terwyl ons voor die teater in die hospitaal gesit en wag het, gebid vir ’n heel kind – hierdie kant of aan die ander kant van die dood.

Die skade wat aan Claudi se brein aangerig was, het ons later gehoor, sou onherstelbaar gewees het. Ek is dankbaar dat dít vir haar gespaar was.

Elke persoon rou op sy of haar eie manier

Partykeer voel dit of die warboel emosies wat hierbo beskryf is almal gelyktydig op jou toesak. Ander kere besoek hulle jou een vir een. Nie een van die emosies is reg of verkeerd nie. Dis net daar. Daar is ook ander emosies wat jy in jou eie omstandighede sal ervaar. Wees net bewus van jou emosies sonder om ’n waarde-oordeel daaroor te maak of om skuldig daaroor te voel. Jy is deel van die menslike ras en ek glo God het ons mense met ons emosies gemaak. Daar gaan egter rooi ligte aan as ek en jy by net een van hierdie emosies vassteek. As jy byvoorbeeld vir jare ná jou verlies kwaad bly of skuldig voel of die hele tyd hartseer voel, sal dit jou goed doen as jy met ’n professionele terapeut of berader gaan praat om jou emosies te beheer.

In die volgende hoofstuk word die kaarte verder geskommel. Nou begin ons bietjie dieper te delf om sin te probeer maak uit die verhaal en ook uit al die emosies wat uit die verhaal voortgespruit  het.

  • Lees môre (10 Maart) verder in Deel 3 van Ek wil nie dié kaarte hê nie. In dié hoofstuk vra Roelf vrae soos: Hoekom het gebeur wat gebeur het? Waar was God toe dit gebeur het?

Bestel ’n harde kopie van die boek hier.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img