Tuesday, June 22, 2021

Deel 3 van aanlyn boekreeks: ‘Hoekom het God nie die stuk staal gekeer nie?’

DEUR ROELF OPPERMAN

 “Ons is nog nie in die hemel nie. Ons is deel van ’n stukkende wêreld waar daar slegte goed met mense gebeur. Dit is hoe dit in hierdie wêreld is. Slegte goed gebeur ook met goeie mense. Deal daarmee.”

Wanneer jy dieper begin delf oor die prosesse wat met rou gepaard gaan, kom jy agter dat dit nie so ’n eenvoudige saak is om te bespreek nie, bloot omdat dit nie iets is wat in isolasie gebeur nie. Dis vas geweef in ’n hele web van emosionele-, fisiologiese- en geloofskonsepte. As jy aan die een draadjie trek, roer die hele web. Praat jy oor rou, kom jou Godsbegrip en hoe jy oor God dink ter sprake. Baie gou kom jou siening van die dood en die hiernamaals op die tafel. Die teodiseevraagstuk (die sin van lyding) waaroor daar al boeke vol geskryf is, word deel van die gesprek. Selfs ervaringsleer en die manier hoe mense mekaar bemoedig is deel van die disse wat voorgesit word. Fisiologiese en sielkundige reaksies soos depressive, post-traumatiese stress, angs- en slaapversteurings en bloot net ’n seer, stukkende hart is tussen alles ingeweef. Uiteindelik kyk ons ook na veerkragtigheid, die vermoë wat party mense het om sinvol aan te gaan en te oorleef.

“Hoekom het God nie gekeer dat die stuk staal van die lorrie val nie? Ek weet nie. Dit maak ook nie baie saak nie. Dit is iets wat ek dalk eendag vir Hom gaan vra. Dalk moet ek hier vir myself die goeie antwoord gee wat ek al vir so baie ander mense in hulle krisisse gegee het: ‘Ons is nog nie in die hemel nie. Ons is deel van ’n stukkende wêreld waar daar slegte goed met mense gebeur. Dit is hoe dit in hierdie wêreld is. Slegte goed gebeur ook met goeie mense. Deal daarmee,'” skryf Roelf Opperman in die boek, Ek wil nie dié kaarte hê nie. Foto verskaf

In die hoofstuk gaan ek bietjie dieper begin delf om by iets te probeer uitkom wat maak dat ek verstaan wat met my aan die gebeur is. Daarom  gaan ek kritiese vrae vra, vrae soos:

  • Hoekom het gebeur wat gebeur het?
  • Het God iets daarmee te doen?
  • Waar was God toe dit gebeur het?
  • Hoekom ervaar ek nuwe fisiologiese prosesse in my lyf?
  • Wat het ek in die proses uitgevind en geleer? Het ek die vermoë om ook veerkragtig terug te bons en te oorleef?

Ek gaan ook bietjie dieper delf en praat oor goed soos langdurige rouversteuring, post-traumatiese groei, vergifnis, liggaamspyne en siektes, skuldgevoelens, depressie en slaapversteurings.

Uiteindelik gee ek so bietjie praktiese raad oor hoe om iemand te help rou.

Hoe dink jy oor God?

Toe ’n kollega vir my vra of my geloof my deur alles gedra het, het ek sonder om regtig daaroor na te dink, geantwoord: “Nee, my teologie: Die manier  hoe ek oor God dink.” Lank daarna het ek nog oor my antwoord gedink.

LEES OOK: Deel 1 van aanlyn boekreeks: Hoe om te oorleef sonder om te verstaan

En hoe meer ek dink, hoe meer besef ek dit was die regte antwoord. Want die manier hoe jy oor God dink, bepaal baie keer hoe jy oor lyding en dood dink. Ek het ook vir myself afgevra hoekom ander mense wat ook kinders aan die dood afgestaan het, nie deur dieselfde prosesse gaan as wat ek gaan nie? Hoekom lyk dit vir my of daar dalk verskillende prosesse is?

Corinne Ware het in haar boek Discover your Spiritial Type ’n reusebydrae gelewer om mense ’n algemene idee te gee hoe hulle God beleef. Volgens Ware is daar vier maniere hoe dit gebeur. Hoe meer ek egter die vier maniere aan mense verduidelik het, hoe meer het ek begin agterkom dat daar dalk ook ’n vyfde (en natuurlik ook meer) maniere is: Mense beleef hulle geloof met hulle intellek, met hulle emosie, wanneer hulle stil word in die natuur, in die mistiek of wanneer hulle geloof in dade oorgaan. Al hierdie vyf maniere werk vanuit die Coram Deo – om in die teenwoordigheid van God te leef.

  • Intellek (Kop-mense)

Die eerste groep mense is rasionele mense. Hulle maak staat op logiese korrekte denke. Alles word beredeneer en alles moet verklaar kan word. Wanneer hulle bid, kry hulle groter insig in die dinge van God. Hulle gebruik hulle verstand om nader aan God te kom. God word vir hulle geopenbaar in die Skrif, in die sakramente, en in Jesus Christus en sy kruis.

  • Emosie (Hart-mense)

Die tweede groep is die hart-mense. Vir hulle is emosie en gevoel belangrik in hulle belewenis van God. Hulle wil graag ’n ervaring hê wanneer hulle aanbid. Wanneer hulle bid, voel hulle dat hulle in God se teenwoordigheid  kom. Hulle sal vir jou sê dat God ’n realiteit is en dat Christus in hulle harte woon.

  • Natuur (Verwonderings-mense)

Die derde groep mense is die mense wat nie altyd ander mense nodig het in hulle verhouding met God nie. Hulle ontmoet God wanneer hulle eenkant in die veld of op ’n afgesonderde plek is. Hulle kry hulle energie uit die natuur uit. God is by hulle wanneer hulle in verwondering in God se  skepping besig is.

  • Mistiek (Stilword-mense)

Vir die vierde groep mense is ’n innerlike vrede en ’n lewe wat vir God afgesonder is, baie belangrik. Hulle gebed lei tot ’n mistieke eenwording met God. Die sakramente spreek hulle aan. Vir hulle is God ’n misterie wat gedeeltelik begryp maar nie heeltemal geken kan word nie.

  • Aksie (Doen-mense)

Vir die vyfde groep mense is gemeenskapsvernuwing belangrik. Hulle ervaar hulle geloof die beste wanneer hulle iets vir die Here doen. Woorde soos sosiale aksie, geregtigheid en vrede is vir hulle baie belangrik. Wanneer hulle byvoorbeeld in ’n projek betrokke is om armoede te help verlig, ervaar hulle dat hulle iets vir die Here doen en dat hulle naby aan Hom is. Hulle neem deel aan die misterie van God wanneer hulle as mede-skeppers saam met God in die wêreld betrokke is.

Coram Deo

“Coram Deo” is ’n Latynse frase wat vertaal kan word met “in die teenwoordigheid van God”. Dit is ’n verwysing na gelowiges wat in die teenwoordigheid, onder die outoriteit en tot die eer van God lewe. Die Coram Deo is die basis van waaruit al vyf die spiritualiteite leef. Die kop-mense beleef die teenwoordigheid van God in die bestudering van die Skrif, in die sakramente, en in Jesus Christus en sy kruis. Die hart-mense ervaar God se teenwoordigheid in hulle lewens en ook deur die teenwoordigheid van ander mense. Die verwonderings-mense ontmoet God in sy skepping. Die stilword-mense ontmoet God in die misterie van stilte en meditasie. Die doen-mense ontmoet God wanneer hulle as medeskeppers saam met God die wêreld ’n beter plek maak.

Wanneer mense rou of deur ’n trauma gaan, kan dit gebeur dat jy nie meer vir God ontmoet ontmoet waar jy Hom altyd ontmoet het nie.

LEES OOK: Deel 2 van aanlyn boekreeks: ‘Daar is min dinge so seer soos rou’

Die kop-mense se koppe begin raas. Hulle vra vrae waarop hulle nie antwoorde kan kry nie en glo dan dat godsdiens ’n bedrogspul is. Die hart-mense beleef God as afwesig en sukkel om ’n erediens by te woon, omdat dit soveel emosies losmaak. Die verwonderings-mense sien vir God nêrens raak nie. Die stilword-mense se koppe raak so besig dat hulle sukkel om stil te word en die doen-mense vra wat is die sin daarvan om die wêreld ’n beter plek te maak.

Wat die saak nog moeiliker maak is dat mens baie keer met ’n verkeerde Godsbeeld geprogrammeer is. Een van die goed wat maak dat ons ’n verkeerde Godsbeeld het, is iets wat ons kinderbybelgeloof noem.

Ons het ’n verkeerde siening oor God

Ons word geprogrammeer met mooi boekies en versies en kaartjies oor God. Mense haal tekste uit hulle verband aan en dit word deel van jou manier hoe jy oor God dink:

“God sal jou nie bo jou kragte versoek nie” (1 Kor 10:13) is een van die tekste wat uit verband aangehaal word en jou baie skuldig laat voel. Want partykeer voel dit of jou krag doodeenvoudig ingee. Dan begin jy wonder wat fout met jou is? Is jou geloof nou te swak om die pyn te dra?  En is die dood van my geliefde nou ’n versoeking van God? Dit kan tog nie waar wees nie!

Nog ’n verkeerde siening van God is dat ons dink Hy is daar om ons te help. As ek net hard en aanhoudend bid, dan sal Hy vir my gee wat ek vir Hom vra. En dan gebeur dit nie. Die teendeel gebeur:

  • Jy bid vir genesing. En dan gebeur dit nie – en jy raak ontnugter in God.
  • Of jy bid dat jou kind moet leef. En dan gaan sy dood. En jy raak kwaad vir God.
  • Of jy vra dat jou omstandighede moet verander. Maar dit raak net erger. Dan blameer jy God.

Wanneer jy met jou kinderbybelbril na God bly kyk, raak jy baie keer ontnugter. Met die kinderbybelbril, maak ons die volgende denkfoute:

  • Alles moet goed gaan waar God En as daar pyn of lyding of dood is, beteken dit God is afwesig.
  • Pyn en lyding en dood is God se straf vir iets wat jy persoonlik verkeerd gedoen het.
  • God wil vir jou iets leer uit die pyn of lyding of dood van ’n geliefde.
  • God het ’n plan met die dood van jou geliefde.

Ek dink nie dis gedagtes wat uit die vroeë Christelike tradisie kom nie. Dis nie die taal van die Bybel nie. Dit kom baie moontlik uit die Griekse mitologie. In die Griekse mitologie was daar drie godinne wat onder Zeus Moiragetes, die god van die noodlot, gedien het. Hulle was Klotho wat ’n spinwiel, Lakhesis wat ’n meetstok en Atropos (of Aisa) wat ’n snyinstrument vasgehou het. Hierdie drie is ook gesamentelik die Moirai genoem wat iets soos “toegekende dele” beteken.

Wanneer iemand gebore word, het Klotho dan die draad van die persoon se lewe op die spinwiel gespin, Lakhesis die lengte van die persoon se lewe afgemeet en uiteindelik het Atropos die draad van die spinwiel afgesny. Zeus het partykeer, as hy dit verkies het, die krag gehad om mense van die noodlot wat die Moirai bepaal het, te red.

Vandag bestaan hierdie siening oor lyding en oor die dood nog in ons denke. Ons sê selfs: “Jou lyn is getrek of haar of sy lewensdraad is geknip.” In ons agterkoppe het ons steeds die gedagte dat daar ’n god is wat vir ons ’n les wil leer of wat ons lewenspad so uitgespin het dat ons self geen beheer het oor wat met ons gaan gebeur nie.

Hierdie manier van dink word verder gevoed deur die verbruikersamelewing van ,vandag en ook ons kitskultuur. Ons moet kitsantwoorde op ons ons vrae hê. Ons moet verstaan hoekom dinge gebeur. Ons moet net ons lewens in orde kry en aangaan met ons lewens.

Die God wat ek leer ken het, is anders. Ek kan Hom nie verklaar nie. Ek kan nie aan Hom voorskryf nie. Hy is die begin en die einde. Soos Job het ek op ’n punt gekom waar ek ook sê: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. Ek het gepraat, maar ek kon nie ’n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.” (Job 39:36-38).

Soos Job het ek ook stil geword. Vir my was dit weer Mandorla-tyd – waar hemel en aarde op ’n  vreemde manier by mekaar uitgekom het.

Die God van die Bybel is die Immanuel – die Een wat by ons is. Hy is die Een wat saam met ons huil en lag. Hy is die Een wat ons vashou wanneer ons swaar kry en treur. Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, liefde en trou sal bewys en bedagsaam sal lewe voor jou God (Miga 6:8). Jy kan Hom nie in ’n kassie probeer druk dat Hy inpas by jou siening van Hom nie. Wanneer jy vir God in ’n kassie probeer druk, kom daar net meer en meer vrae wat net nie sin maak nie. En dan is die maklikste om Hom maar net te los – om nie verder na Hom te soek nie.

Waar was God?

Hulle vertel die verhaal van ’n sekere rabbi se kleinseun wat met sy vriend  wegkruipertjie gespeel het. Nadat die seun vir hoe lank weggekruip het, het hy naderhand uit sy skuilplek gekom. Hy kon sy maatjie nêrens kry nie. Eers toe besef hy dat sy maatjie glad nie na hom gesoek het nie. Hy het hartseer na sy oupa toe gegaan om by hom te kla oor sy maatjie wat hom net so gelos het. Met trane in sy oë het die ou rabbi gesê: “God sê dieselfde ding: ‘Ek kruip weg maar niemand wil my soek nie’.”

LEES OOK: Trauma-‘survivor’: ‘Daar is altyd hoop’

Om vir God te soek wanneer jy verblind word deur hartseer is nie so maklik nie. Want waar was God toe die stuk yster vir Claudi deur die kar se voorruit getref het? Ek weet Hy was dáár! Al was ek te lam geskrik om Hom te sien. Hy was langs haar. Hy was in die paramedici. Hy was in almal wat kom help het. Ek wil selfs glo dat Hy deur my teenwoordigheid ook by Claudi was. Hy het deur my hande haar kop vasgehou en haar hare gestreel. Hy het deur my met haar gepraat – al het dit vir my maar net gevoel soos ’n pa wat met sy dogter praat.

As ek vandag terugkyk, besef ek God was ook langs my. Hy was daar in my vriend Hannes toe hy kom help het om die kar van die ongelukstoneel af terug te neem. Hy was vir my in Claudi se man Ewald toe ons bekommerd na mekaar gekyk het en besef het ons is saam in die krisis. Hy was in Willem en Fritz by die hospitaal.

Hoekom het God nie gekeer dat die stuk staal van die lorrie val nie? Ek weet nie. Dit maak ook nie baie saak nie. Dit is iets wat ek dalk eendag vir Hom gaan vra. Dalk moet ek hier vir myself die goeie antwoord gee wat ek al vir so baie ander mense in hulle krisisse gegee het: “Ons is nog nie  in die hemel nie. Ons is deel van ’n stukkende wêreld waar daar slegte goed met mense gebeur. Dit is hoe dit in hierdie wêreld is. Slegte goed gebeur ook met goeie mense. Deal daarmee.”

Persoonlik het ek vir God toe alles donker om my geword het in hierdie stukkende wêreld leer ken as die Een wat langs my staan en huil het.

Ek het Hom leer ken as die Een wat my vasgehou het. Hy het nie ’n plan met die ongeluk gehad nie. Hy wou my nie iets leer nie. Hy het net saam gehuil … Dit het dinge draagliker vir my gemaak.

Help dit om te bid?

Claudi se ongeluk het twintig oor een die middag gebeur. Ons het dadelik begin bid. Ons het gebid vir ’n wonderwerk. Ons het gebid vir die dokter wat die operasie moes uitvoer. Haar vriende het gebid. Haar Gemeente het gebid. My Gemeente het gebid. Gebedskettings dwarsdeur die land het gebid. Die aand êrens voor twaalf is sy in die teater oorlede.

Ons gebede het duidelik nie gewerk nie. Dit het nie die skade aan haar brein laat verdwyn nie. Ten spyte van my – en ook baie ander mense se versugtinge – is sy dood. Die skade aan haar kop was te groot.

Verhale soos die deel in 2 Konings 20 waar Koning Hiskia op sy sterfbed lê en bid dat sy lewe gespaar moet word en die Here vir hom nog vyftien  jaar moet gee, is gewoonlik nie die reël nie. Dis die uitsondering.

Gebede stop gewoonlik nie vernietigende prosesse nie. Dit het nie die Holocaust, Chernobyl of die volksmoorde in Rwanda gestop nie. Dit het nie gekeer dat Nelson Mandela doodgaan nie. Dit het nie gekeer dat die vliegtuig in die Twin Towers vasgevlieg het nie. Dit het nie gekeer dat die Jihad-bomplanter sy bom in die Manchester Arena gaan plant het en 22 jongmense se lewens geneem het nie. Dit keer nie dat mense gesekwestreer word nie. Dit keer nie dat jy kanker kry nie. Trouens, van die begin van die geskiedenis af het dit so te sê nog nooit gewerk nie. Al smeek mense hoe hard – al maak hulle hoeveel kosmiese beloftes en trap hulle hoeveel rituele deur – rampe kom en gaan. Mense kry seer en gaan dood.

As ek egter vir mense wat voorbidding doen sê dat hierdie tipe gebede nie  werk nie, word hulle kwaad. Hulle verdink jou daarvan dat jy onsensitief vir mense in nood is. Hulle verdink jou daarvan dat jy ongelowig is en nie  in die krag van gebed glo nie.

Vir my is gebed egter baie meer as net maar om te vra. Gebed is om in die Coram Deo – in die teenwoordigheid van God te leef. Gebed gaan om ’n verhouding met God. In hierdie verhouding word daar soms gepraat, soms gespeel, soms stilgebly, soms geluister, soms gehuil. Partykeer staan ek net leeg voor God. Ander kere staan ek in verwondering voor Hom.

Ek kan my vereenslewig met Soren Kierkegaard wat gesê het: “Namate my gebed meer gefokus en na binne gerig is, het ek al minder gehad om in my gebede te sê. Ek het uiteindelik heeltemal stil geword. Ek het begin luister, iets wat die teenoorgestelde was as om te praat. Ek het eers gedink dat gebed oor praat gaan. Daarna het ek geleer dat gebed oor luister gaan en nie net oor blote stilwees voor God nie. Dit werk dus so: Om te bid beteken nie om na jouself te luister terwyl jy met God praat nie. Gebed behels stilte, en terwyl jy stil word, wag jy tot God uiteindelik gehoor word.”

Gebed help my partykeer ook om my eie gedagtes te orden. Wanneer ek dit vir God noem, begin ek ook orde in my eie kop te kry.

Gebed help mense ook om tot aksie oor te gaan. In 1994 het ons gebid vir ’n vredevolle oorgang na die Nuwe Suid-Afrika. Mense se harte is aangeraak. Mense oor grense heen het begin hande vat. Gebed het  in aksie oorgegaan. Vandag praat ons van ’n wonderwerk dat ons land wat die potensiaal gehad het om in ’n bloedbad te verander, in vrede ’n oorgang kon maak. Dit was gebed in aksie.

In my eie kop het gebed in aksie oorgegaan toe ek bewus begin word het van die passie om jong dominees wat swaar kry in die bediening by te staan.

Neem verantwoordelikheid

Na Claudi se dood het ek en Antoinette vir mekaar gesê ons gaan alles doen wat ons nodig het om net sinvol met die lewe aan te kan gaan. Ons  kan nie vir ewig voel soos wat ons nou voel nie. Dit sou beteken dat ons verantwoordelikheid moes neem en kies om aan te hou lewe te midde van al die berge wat vir ons gewag het waaroor ons moes klim. Ons kon  nie kies om nie te treur nie. So goed was ons nie. Ons móés treur. Ons het ook geweet dat elkeen van ons anders sou treur en dat ons selfs partykeer vir mekaar kwaad sou word omdat die een nie soos die ander een treur nie.

As jy ’n kind verloor het, het jy die reg om te treur.

As jy die een of ander verlies het, mag jy treur. As jy nie toegelaat word om te treur nie, word jou reg om ’n mens te wees, ontken. Niemand het die reg om dit aan jou te doen nie.

As iemand dus vir jou sê om oor dit te kom of om aan te beweeg of om bo dit uit te styg, het jy die reg om jouself teen so ’n persoon te beskerm.

As iemand vir jou kom vertel dat alles nie verlore is nie of dat dit met ’n rede gebeur het of dat jy ’n beter mens hieruit sal kom, al bedoel hulle dit hoe goed, moet jy daardie persoon vermy.

Al hierdie maniere wat mense gebruik om jou te troos is ’n klomp twak, al bedoel hulle dit ook hoe goed. Wanneer iemand dit met my gedoen het, het ek partykeer vriendelik geglimlag en in my gedagtes gedink: “Jou  aap, jy weet nie waarvan jy praat nie.” Daar was wel ’n keer of drie wat ek  myself nie kon keer nie en sommer onbeskof vir so ’n persoon gesê het: “Los my net uit. Jy was seker self nog nie in so ’n situasie nie” of “Dis  nie die God wat ek ken nie.” Dan het ek omgedraai en geloop.

Jy moet vir jouself verantwoordelikheid neem en jouself toelaat om te treur.

Ek het myself toegelaat om te huil as ek wou huil. Partykeer het ek terwyl ek motor bestuur het, hardop geskreeu. As ek wou praat, het ek gepraat. As ek my wou onttrek, het ek my onttrek. Ek het vir ’n paar maande geen mense vir berading in my spreekkamer gesien nie. Dit het my ook gehelp om net beheer oor myself te kry.

Neem verantwoordelikheid vir jou eie lewe – ook vir jou rouproses. Niemand kan dit vir jou doen nie. Neem ook verantwoordelikheid vir die manier hoe jy kies om vorentoe te lewe. Jy moet kies hoe jy jou verlies gaan dra.

Jy moet kies hoe jy ’n nuwe lewensmat gaan begin weef.

Om te rou is ingeweef in ons menslike bestaan. As dit nie toegelaat word om plaas te vind nie, word jou hele menswees later aangetas. Rou kan nie geïgnoreer of getransformeer word nie. Dis iets wat jy saam met jou dra. Dis deel van ons mens-wees. Dis ingeweef in jou storie vir die res van jou lewe.

Ons leef egter in ’n kultuur wat rou sien as iets wat opgelos moet word of ’n siekte wat genees moet word. Daarom probeer ons alles doen om dit te vermy of te ignoreer of na iets anders om te skakel. In plaas daarvan dat ons besef dit is iets wat ons moet omarm en daarmee saam moet leef.

Bons terug

Adam Grant vertel van studies wat sielkundiges op honderde mense gedoen het wat deur enige vorm van trauma, hetsy of dit slagoffers van seksuele geweld, natuurrampe, motorongelukke, oorlog, misdaad of siekte was. Sielkundiges het tot op daardie stadium twee uitkomste op elke trauma verwag. Aan die een kant die mense met Post-traumatiese Stresversteuring wat angstig en depressief geword het en wat gesukkel het om te funksioneer. Aan die ander kant was daar die mense wat teruggeval het na die staat waarin hulle voor die trauma was. In hulle navorsing het hulle egter gevind dat daar nou ’n derde moontlikheid was. Dit was mense wat ’n veerkragtigheid gehad en vorentoe gebons het. Hulle het begin praat van Post-traumatiese groei. In hulle studies het hulle agtergekom dat ongeveer 50% van die mense wat deur trauma gegaan het, ten minste een positiewe verandering in hulle lewens kon rapporteer, teenoor die minder as 15% mense wat Post-traumatiese Stresversteuring ontwikkel het.

Post-traumatiese groei kan vyf verskillende vorme aanneem:

  • Ontdekking van persoonlike krag en sterkte,
  • verkryging van groter waardering vir die lewe en vir wat jy het of gehad het,
  • vorming van dieper verhoudings,
  • ontdekking van groter sin in die lewe, en
  • sien van nuwe moontlikhede.

’n Paar maande na Claudi se dood het Muller Craucamp, een van die pastore in ons omgewing vir my kom vra of ek nie ’n gesamentelike leraarskring waar al die leraars in ons omgewing bymekaar kom wil kom toespreek en my verhaal vertel nie. Ek was nie gereed daarvoor nie. Ek was  nog vasgevang in die drie A’s (waarvan ek in hoofstuk 2 vertel het) waar ek geglo het ek het een of ander vorm van Aandadigheid aan my kind se  dood gehad, dat Alles in my lewe beïnvloed was en dat dit vir Altyd sal duur. Ek is ook nie oortuig daarvan dat mens iemand te gou voor ’n gehoor sy of haar verhaal moet laat vertel nie. Daar moet eers ’n stuk verwerking en integrering van dit wat met jou gebeur het, plaasvind.

Dis hoekom ek nooit iemand in die kerk te vinnig laat getuig nie. Dit plaas  na die tyd onnodige druk op die persoon wat sy of haar verhaal vertel. Gewoonlik  vertel mense hulle verhale voordat hulle dit nog self behoorlik verwerk  het. In die getuienisse word baie keer vertel hoe hulle met die hulp van die Here oorwin het. As daar dan in die tyd na die getuienis ’n terugval kom, voel die persoon ’n mislukking. Die mense wat sy getuienis gehoor het, hou hom ook met ’n arendsoog dop en hy kan nie sy broosheid aan hulle wys nie. Hy het mos getuig hoe die Here hom gedra het. Dit plaas onnodige druk op mense wat deur trauma gaan.

Toe Muller my dus gevra het om te praat, was ek ook nie gereed om in iets soos Post-traumatiese groei te glo nie. Alles was net te deurmekaar en in ’n warboel. Maar hoe meer ek oor die term Post-traumatiese groei gedink het, hoe aanlokliker het dit geklink as om vasgevang te wees in die drie A’s.

Dit was eers ’n jaar of wat later wat ek alles wat met my gebeur het, begin integreer het.

Ek het byvoorbeeld begin sien dat ek sterker was as wat ek gedink het. Ek het ’n diep dankbaarheid begin kry dat, hoewel ek haar steeds baie mis, Claudi deel van my lewe was. My verhoudings met my vrou en die ander twee kinders het dieper geword. Ek verstaan nog steeds nie die lewe nie, maar my begeerte om hier op aarde reg en geregtigheid te laat geskied, veral vir jongmense wat misbruik word, het sterker geword. In my kleinkinders wat almal na Claudi se ongeluk gebore is, sien ek nuwe lewe en nuwe moontlikhede. Alles in ag genome, kan ek versigtig-optimisties sê dat daar ook groei in my lewe plaasgevind het.

’n Nuwe toekomsverhaal?

Teen hierdie tyd glo ek dat jy al die boodskap begin kry het dat ek nie glo dat God ’n marionettespeler is wat êrens daarbo sit en toutjies trek en ongelukke en rampe laat gebeur nie. Daar is ook nie ’n doel met alles wat gebeur of ’n rede hoekom goed gebeur nie.

Bestel ’n harde kopie van die boek hier.

Partykeer gebeur goed net sonder rede.

Wat ek wel glo is dat die goed wat met ons gebeur, ons transformeer. Ek  is nie meer dieselfde mens wat ek was voor Claudi se ongeluk nie. Ek dink  anders. Ek huil makliker. Ek raak woedend oor onregte gepleeg teen jongmense – eintlik raak ek woedend oor enige onreg. Ek is meer sensitief vir mense wat treur. Maar om te sê dat God die ongeluk laat gebeur het om my lewe te verander, is louter snert. Wat wel waar is, is dat die ongeluk verdere na-draaie gehad het. Een van die na-draaie was dat ek verander het. Enige  ervaring wat ’n mens het wat so ’n diep indruk op jou lewe gemaak het, moet jou noodwendig verander.

Omdat ek en Claudi totaal uitverkoop is aan die ervaringsleer, naamlik om enige ervaring te neem en dan daarop te reflekteer om geloofs- en lewenswaarhede te ontdek, kan ek ook nie anders nie as om die ervaring waardeur ek en Claudi met haar ongeluk gegaan het, te gebruik om op my  eie veranderingsproses te reflekteer nie.

Om dit te verduidelik is dit miskien goed as ek hier eers vir Claudi self aan  die woord te stel. In haar skripsie wat sy moes ingee tydens haar teologiese  studies, skryf sy:

Ek onthou een baie koue winter in 2000 waar my pa ons as ’n gesin op ’n kamp gevat wat hy gaan lei het. Ek self was nie veel by die kamp betrokke gewees nie, maar hierdie kamp was seker een van die draaipunte in my lewe. Hier het ek die eerste keer met ervaringsleer te doen gekry. Ek het gekyk en so nou en dan ook aan die aktiwiteite deelgeneem. Hier is ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak. Ek het ontdek dat ’n mens, deur aktiwiteite spelenderwys te doen, meer uitkomste kan hê as om net pret te hê. Ek het gesien dat ’n mens deur aktiwiteite van jouself en ander mense kan leer. Onder andere het ek uitgevind dat jy kan leer hoe om moeilike situasies te hanteer, hoe om morele kwessies op ’n ander manier oor te dra, God deur die mense om jou te ervaar en hoe om met ’n nuwe taal oor God te begin praat.

Van hier af het ek hierdie beginsel gebruik om oor ervarings na te dink en daaruit te leer. Dit het deel geword van my daaglikse lewe. ’n Ervaring is nie altyd ’n speelaktiwiteit nie maar iets wat met jou gebeur, waaruit jy kan leer en groei.

Dit was ’n moelike tyd in my lewe gewees toe ons as gesin vanaf die platteland na die stad toe verhuis het. Alles was baie onbekend. Ek het baie goeie vriende agtergelaat, en omdat my vriende gekoppel was aan my buitemuurse aktiwiteite het ek gedink dit is hoe ek weer vriende sou maak. Ek het prober om nuwe vriende te ontmoet en vriendskappe op te bou in ’n skool waar nuwelinge nie met oop arms ontvang was nie. Ek het aan sport en ander skoolaktiwiteite begin deelneem, maar ek was baie bang en onseker. Ten spyte van al my deelname aan die skool se aktiwiteite, het ek nog steeds nie vriende gemaak nie. Ek het besef dat die  vriendekringe wat in die skool was, al jare gelede op laerskool gevestig is. Hierdie groepe vriende het nie sommer iemand nuuts in hul binnekringe  toegelaat nie. Sport en buitemuurse aktiwiteite was nie ’n platform waar vriende mekaar kon ontmoet soos waaraan ek gewoond was nie. Hierdie besef het my moedeloos gemaak en ek wou opgee in die stryd. Ek was baie ongelukkig en baie alleen. Dit het vir my op daardie stadium gevoel asof die vriendekringe in die nuwe skool soos ’n sterk fort gebou is. Om deel te word, moet jy die mure oopbreek en inklim. Jy moet jouself op hulle afdwing en heeltyd aandring op hul vriendskap. Dit was ’n baie angswekkende gedagte vir my, want dit was nog nooit vir my nodig gewees om sulke drastiese stappe te neem nie. Dit het gevoel asof ek by die kant van ’n afgrond staan.

Dit was gedurende hierdie tyd wat ek weer ’n kamp bygewoon het waar ons van ’n klein koppie af moes abseil. Ek was bang om met my rug teen die afgrond te lê en die toue te los. Dit was ’n angswekkende gevoel, want ek moes terug lê in die afgrond in en dan die eerste stap na onder toe vat. Daardie brand-bang gevoel het ek dadelik gekoppel aan my gevoel van vrees om deel te word van ’n vriendekring in die nuwe skool. Ek het begin terugdink aan daardie dag toe ek my vrees vir hoogtes en vir abseil oorwin het. Ek kon nie onthou waaroor die gesprek na die aktiwiteit gegaan het nie, maar wat ek wel onthou was die metafoor wat ek vir myself geskep het dat God by jou is, al voel dit vir jou dat jy by ’n krans agterstevoor afgaan. Hierdie metafoor of prentjie wat ek vir myself geskep het, het my weer moed gegee rakende die vriende-probleem. Om deel te word van die vriendekring, was my “krans”. Ek moes bereid wees om daardie moeilike stap te neem, om die mure van die fort af te breek, en myself deel te maak van die groep. Ek was nie meer alleen teen hierdie afgrond nie. Ek het toue en ’n harnas bygekry. Ek het vir God daar saam  met my ervaar. Dit was nog steeds nie maklik gewees nie, maar ek het nou die moed gehad om ten minste te probeer. Dit het ’n ruk gevat, met baie pouses wat ek by die groep gestaan het, en in die klasse met hulle begin praat het. Ek het wel met een van daardie meisies vriende geword en ons het tot vandag toe nog kontak met mekaar. Sy het my toe gehelp om deel te word van die skool, op ’n baie ander manier as wat ek verwag het.

Die metafoor van die krans waaroor ek moes klim het uiteindelik ’n unieke uitkoms verskaf wat my gehelp het om my verhaal te herinterpreteer en uiteindelik in myself heel te word.

So het die ervaring van die abseil vir my ’n konteks gegee om nuwe moed  te skep en om weer te probeer. Sulke ervarings het reg deur my lewe met  my gebeur. Ek het besef dat ’n ervaring wat niks met ’n huidige probleem  te doen het nie gebruik kan word om nuwe metafore te skep en om ’n verhaal van die verlede te herinterpreteer en nuwe sin daaraan te gee. Ek het ook  besef hoe ’n nie-verwante ervaring (soos abseil) gebruik kan word om te help om ’n nuwe toekomsverhaal te help skep.

Na Claudi se dood het ek baie keer aan haar abseil-verhaal gedink. Die ervaring wat ek met haar ongeluk gehad het, het my eie abseil-verhaal geword. Ek moes van die rots af. Party dae hang ek nog steeds aan die toue tussen hemel en aarde. Daar is steeds nie vastigheid onder my voete nie – en daar sal vermoedelik ook nie in hierdie lewe baie vastigheid wees nie. Die tou waaraan ek hang gee vir my vastigheid. Vir my is die tou God self wat langs my staan, aan wie ek kan hang, wat saam met my huil en wat vir my krag gee om voort te gaan.

Die ervaring maak ook dat wanneer ek in enige moeilike situasie kom, ek vir myself sê: “Dit wat ek nou moet doen, is nie erger as dit waardeur ek al gegaan het nie. Doen dit net!”

Ander onverwagte gaste

Behalwe vir die rou en treurprosesse waardeur mens gaan, is daar partykeer ander onverwagte “gaste” wat in jou lyf kom nesskop, gaste wat jy glad nie verwag het nie. Dit is gaste soos skuldgevoelens, depressie, realistiese drome, slapeloosheid en ongedefinieerde lyfpyne en selfs siektes.

Skuldgevoelens

In die vorige hoofstuk het ek vertel van skuldgevoelens wat in jou lewe kom nesskop en dat jy selfs aandadig voel aan dit wat gebeur het. Partykeer het daar regtig iets gebeur waaroor jy skuldig voel. Jy het dalk iets gedoen wat aanleiding tot jou trauma of verlies kon gegee het. Ander kere kan  die skuldgevoelens irrasioneel wees. Skuldgevoelens is ’n manier hoe ons onsself straf vir iets wat ons dalk verkeerd gedoen het of nagelaat het  om te doen. Langdurige skuldgevoelens is gewoonlik nie goed vir jou nie.

Êrens moet jy vir jouself begin vra hoeveel skuldgevoelens is nou genoeg? Is dit nou genoeg om skuldig te voel vir een dag, of een week of een maand  of een jaar? Ons het nie ’n ingeboude sisteem wat vir ons kan sê dat jy nou genoeg skuldig gevoel het nie. Wat dus in die praktyk gebeur is dat mense hierdie skuldgevoelens vir baie lank saam met hulle dra. Partykeer jare en jare. En so kan jy ook nie leef nie. Ek kan nie glo dat dit God se wil vir jou is om heeltyd skuldig te voel nie. Dalk het dit tyd geword om dit ook af te skud. Praat met iemand as jy hiermee sukkel en kry dit uit jou sisteem uit.

Uiteindelik glo ons as Christene mos dat Jesus al ons skuld op Hom geneem het.

Maak dit jou eie en hou daaraan vas.

Depressie

Dit gebeur soms dat ’n trauma of verlies ook ’n fisiese reaksie in jou liggaam ontlok. Jou brein reageer en hou op om lewensnoodsaaklike stowwe (onder andere Dopamien) af te skei wat vir jou nodig is om goed  te voel en normaal te kan funksioneer. Dit veroorsaak dat jy depressiewe simptome begin toon.

Depressie is al beskryf as ’n uitsigloosheid op die toekoms. Wanneer die toekoms pikgitswart lyk, jy nie weet hoe jy dit vorentoe gaan maak nie en dit vir jou voel of jy gaan verdrink in ’n swart teer wat hier van onder af opstoot, is jy baie moontlik depressief. Meeste mense wat iemand aan die dood afgestaan het, toon depressiewe simptome. Hierdie simptome kan onder andere die volgende insluit:

  • ’n Aanhoudende hartseer, angstige of leë gevoel.
  • Sukkel om besluite te maak.
  • Sukkel om te konsentreer of om dinge te onthou.
  • Uitsigloosheid op die toekoms – vra wat is die sin daarvan om aan te gaan?
  • Gevoelens van waardeloosheid – selfbeeld is daarmee heen.
  • ’n Gevoel van pessimisme en hopeloosheid.
  • Slaaploosheid, skrik wakker in die nag of te veel slaap.
  • Eetpatroon wat versteur is: Eet te veel of is glad nie lus vir kos nie.
  • Rusteloos en geïrriteerd.
  • Verlies aan belangstelling in stokperdjies en ander aktiwiteite insluitend seks.
  • Dink aan die dood of aan selfmoord.

Dit is normaal om na ’n groot trauma of verlies van hierdie gevoelens te kry. As dit egter voortduur en nooit beter word nie, sal jy goed doen as jy ’n dokter of ’n psigiater gaan besoek.

Verskuilde aggressie

Soms is depressie ook ’n verskuilde aggressie. Jy is dalk kwaad vir God. Jy is egter grootgemaak dat jy nie vir Hom kwaad mag wees nie. Dan sluk jy maar jou woede in. Of jy is kwaad vir die persoon wat oorlede is en jou alleen agtergelaat het. Maar dan vra jy jouself hoe kan jy nou vir die persoon kwaad wees? Dan sluk jy die woede in. Of jy is kwaad vir jou lewensmaat of vir die dokter of vir die kerk. Maar jy kan niks aan die woede doen nie – dan sluk jy dit in. En jy word depressief.

As jy hiermee kan identifiseer moet jy ook iets doen om die woede uit jou  sisteem te kry. Jy kan die volgende doen:

  • Skryf ’n brief aan God of aan jou geliefde waarin jy presies vertel hoe jy Gaan begrawe of verbrand dan die brief.
  • Gaan sien ’n sielkundige of ’n berader wat jou kan help om die woede uit jou sisteem te kry.
  • Rol ’n koerant op en slaan daarmee teen ’n boom of ’n muur.
  • Skreeu hardop in jou kussing of as jy alleen in ’n motor ry. In hemelsnaam: Doen net iets om die woede uit jou sisteem te kry!

Nie almal voel altyd ewe gemaklik om oor persoonlike tragedies te praat nie. Elkeen van ons maak ons eie keuses waar en wanneer en teenoor wie ons oor ons gevoelens wil praat. Tog is daar oorweldigende getuienis  dat wanneer jy oor die trauma in jou lewe begin praat, dit daartoe bydra dat jy geestelik en ook fisies gesond begin word. Hoe meer jy oor die trauma en die woede praat, hoe meer kom daar orde in jou eie kop.

Een van die dinge wat baie mense wat deur ’n trauma gaan help om te oorleef, is om ’n  joernaal te begin skryf. Deur gevoelens en emosies in woorde om te skakel, help ons om teenspoed te prosesseer en te verwerk.

Langdurige rou versteuring

Een van die versteurings wat maar eers in die afgelope paar jare in The Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DMS-V) wat deur sielkundiges wêreldwyd gebruik word om sekere siektetoestande te beskryf, opgeteken is, is Langdurige Rouversteuring of Komplekse Rouversteuring.

LEES OOK: ‘Wat pla jou, my kind?’

Hierdie tipe van rou vind plaas wanneer jy agterkom dat normale gevoelens van rou nooit sagter begin word nie. Die mense wat met Langdurige Rouversteuring gediagnoseer word, ervaar na ’n lang tydperk steeds dieselfde emosionele pyn as die dag toe die trauma plaasgevind het.

Ten minste een van die volgende simptome van akute, aanhoudende en intense rou is teenwoordig vir tydperke wat langer duur as wat normaalweg in die persoon se spesifieke sosiale of kulturele omgewing verwag word:

  • ’n Aanhoudende intense verlange na die persoon wat oorlede is.
  • Aanhoudende intense gevoelens van eensaamheid, of dat die lewe leeg of betekenisloos is sonder die persoon wat oorlede is.
  • Herhaaldelike gedagtes dat dit onregverdig, betekenisloos of ondraaglik is om te bly leef wanneer ’n geliefde gesterf het.
  • ’n Herhaaldelike drang om te sterf om sodoende by die oorledene aan te sluit.
  • Gedagtes wat voortdurend in beslag geneem word oor die persoon wat gesterf het. Hierdie gedagtes of beelde duik heeltyd op en meng in met die persoon se normale funksionering.

Volgens The Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders se vyfde uitgawe (DMS-5) wat in 2013 gepubliseer is, en as ’n diagnostiese meetinstrument deur sielkundiges dwars oor die wêreld gebruik word, moet daar ten minste twee van die volgende simptome vir meer as ’n maand teenwoordig wees:

  • Voortdurende denke oor die omstandighede of die gevolge van die dood van die geliefde. Voortdurende bekommernis oor hoe die persoon gesterf het of gevoelens dat die persoon sy of haar gelie fde in die steek gelaat
  • Herhaaldelike gevoel van ongeloof of onvermoë om die dood te aanvaar.
  • Aanhoudende gevoel van skok; voel verslae, verdwaas of emosioneel afgestomp ná die dood.
  • Herhaaldelike gevoelens van woede of bitterheid wat verband hou met die dood.
  • Voortdurende onvermoë om mense te vertrou of afguns op mense wat nie ’n soortgelyke verlies ervaar het nie.
    • Algemene ervaring van die pyn (of ander simptome) wat die oorledene gehad het. Hoor die stem van (of sien) die oorledene orals.
    • Ervaar intense emosionele of fisiologiese reaksie ten opsigte van herinneringe van die persoon wat gesterf het of ten opsigte van voorwerpe wat die persoon aan die oorledene herinner.
    • Verandering in gedrag. Aan die een kant kan die persoon voorwerpe en plekke vermy wat hom aan die oorledene laat dink. Aan die ander kant kan daar ’n oormatige soeke wees om naby aan voorwerpe of plekke te wees wat vir die oorledene belangrik was – wil voorwerpe wat hom of haar aan die oorledene herinner sien, aanraak, hoor en ruik. Beide hierdie toestande kan in dieselfde persoon voorkom.

Dit is belangrik om hier te noem dat bogenoemde kenmerke op die een of ander tyd in die meeste mense wat rou, voorkom. Wanneer dit egter na ’n lang tydperk nog net so akuut soos die eerste dag na die trauma voorkom, kan daar sprake wees van ’n Langdurige Rouversteuring.

Langdurige Rouversteuring reageer nie goed as dokters anti-depressante voorskryf nie. Daar is egter al welslae deur die toepassing van gefokusde Psigoterapie behaal. Dit wil selfs lyk of terapeute wat met Multi-vlak Prosessering werk, ook suksesvol kan wees.

Drome

’n Mens se brein kan nie sonder slaap gesond bly nie. Almal droom. Nie almal weet dat hulle droom nie. Drome bestaan uit kleure, gesigte, objekte, sieninge, bewegings, reuke, smake, geluide, realistiese seksuele ervarings, realistiese “besoeke” van geliefdes en skrikwekkende beelde. So ’n droom is nie die werklikheid nie, al voel dit partykeer so.

Hoe moet ons nou oor die drome wat ons droom nadat ons ’n geliefde aan  die dood afgestaan het dink? Is dit jou geliefde wat jou kom besoek, of het  dit te doen met die fisiologiese werking van die brein? Persoonlik glo ek dat dit absoluut met die biologiese werking van die brein te doen het en dat dit nie ons Claudi-kind is wat heel aand moet rondhardloop om almal wat van haar droom, te besoek nie.

Dit gebeur gereeld dat mense realistiese drome oor hulle geliefde droom. Hierdie drome kan wissel van ’n doodeenvoudige “besoek”, tot ontstellende drome waarby jou geliefde betrokke is. Wanneer ons hierdie drome oor ons geliefde droom, is dit ’n sterk aanduiding dat ons steeds besig is om te rou. Hierdie drome kan hoogs emosionele drome wees, wat baie keer daarop uitloop dat jy natgesweet wakker skrik en huil. Nie al hierdie drome is ook positiewe drome nie. Partykeer kan die drome jou  ontstel of selfs konfronteer.

Drome is ’n onlosmaaklike funksie van die menslike brein.

Volgens dr Antonio Carota, ’n neuroloog, het drome die volgende funksies:

  • Dit is die brein se manier om die verskillende emosionele prosesse waardeur mense gaan, te Dit dien amper as ’n soort psigoterapie in ’n veilige omgewing.
  • Dit is ook die brein se manier om trauma en verlies te verwerk.
  • Mense droom om herinneringe te konsolideer – sonder die beperkende effek wat die wakker brein op die herinneringe het –  om beter te verstaan wat aan die gang is.
  • Drome het te doen met die verbetering van kreatiewe nuwe idees.
  • Volgens Freud is drome die vervulling van onderdrukte wense.
  • Drome help om ontstellende gebeurtenisse te verwerk.
  • Drome help jou om voor te berei vir die toekoms.

Ek glo dat drome God se manier is hoe hy die mens en sy brein geskep het om weer orde te bereik en met jou lewe te kan aangaan. Vir party mense is die drome van ’n geliefde wat hulle besoek ’n gerusstellende ervaring waarsonder hulle nie wil wees nie. As dit met jou die geval is, geniet dit net.

Selfs as die drome ontstellende drome is, moet jy weet: die drome is eintlik heelword-geskenke. Koester dit. Baie keer is die drome die pad na jou hart en na jou rou toe. Partykeer is dit ook die weg na jou nuwe lewe toe.

Slaapversteurings

Wanneer jy rou, word jou hele wese aangetas. Jy sukkel om te slaap. Jy skrik natgesweet in die middel van die nag wakker en kan dan nie verder slaap nie. Jou brein werk ooraktief en kan nie afskakel nie. Persoonlik was ek een bol senuwees.

Hoewel ek nie baie van die gebruik van pille hou nie, het ek veral in die tyd direk na die ongeluk besef dat my lyf nodig het om te slaap. Want hoe moeër jy is, hoe moeiliker kan jy kop hou.

Daarom het ek die saak met Faan Rademeyer, my dokter bespreek. Hy het vir my iets voorgeskryf wat my in die aande kalm gemaak en laat slaap het.

Ek het ook in die tyd die waarde van ’n warm melkdrankie met heuning en kaneel ontdek om my te help om te slaap.

Dit het my rustig gemaak.

Ongedefinieerde pyne

Na Claudi se dood het ek stadig begin agterkom dat my lyf pyn. Ek het borspyne begin voel. My spiere het begin seer word. Ek het ’n afspraak by Faan gemaak vir ’n deeglike mediese ondersoek. Hy kon geen fout vind nie.

Hoe meer ek rondgevra het, hoe meer het ek agtergekom dat ek nie uniek  was nie. Ander mense wat rou het ook hierdie tipe simptome, en nog meer, ervaar. Toe ek hieroor begin nalees, vind ek uit dat die Universiteit van Massachusetts in Amerika die volgende simptome gelys het wat mense kan ervaar wanneer hulle rou:

  • Spysverteringsprobleme
  • Moegheid
  • Hoofpyn
  • Borspyn
  • Seer spiere

Hoewel hierdie simptome normaal is in enige rouproses, sal jy tog wys  wees as jy jou dokter raadpleeg wanneer jy van die simptome ervaar.

Siektes

Twee en ’n half jaar na Claudi se dood het die dokter kanker in my prostaat ontdek en die prostaat verwyder. Ons familie het nie ’n geskiedenis van kanker nie. Toe Adri Sutherland, wat haar PhD navorsing gedoen het oor beraders wat hulle kinders aan die dood afgestaan het, my gevra het of ek  dink dat die kanker dalk met die trauma rondom Claudi se dood verband gehou  het, het ek sonder om te dink “ja” geantwoord.

Ek was verbaas oor my antwoord, want dit was iets waaraan ek nog nooit voorheen gedink het nie en daar is natuurlik geen bewys dat dit so is nie. Hoekom het my brein onmiddellik die skakel tussen die trauma waardeur ek is en die kanker gemaak? Dit het my gefassineer veral omdat Adri die opmerking gemaak het dat sy in haar navorsing agtergekom het dat daar meermale siektes ná ’n trauma verskyn.

Ek wou meer uitvind en het uiteindelik afgekom op ’n studie wat die neuro wetenskaplike Candace Pert wat hoof van die afdeling Brein Biochemie van NIMH (National Institute of Mental Health) was. In haar boek Molecules of Emotions beskryf sy hoe die limbiese stelsel, die deel van  jou brein wat betrokke is by die regulering van jou gemoed en emosies, besonder baie sleutelvormige molekules (neuropeptiede) afskei. Hierdie neuropeptiede verbind amper op ’n gewone sleutel-en-slotmanier met sekere witbloedselle in die liggaam. Hierdie witbloedselle is die ruggraat van jou immuniteitstelsel wat jou nie net teen kankerselle en ander virusse  beskerm nie, maar ook inflammasie wat die kernoorsaak van baie siektes is, teëwerk.

In die praktyk beteken dit dat ons immuniteitselle, saam met ’n klomp ander  selle in ons liggame, voortdurend boodskappe ontvang wat deur ons brein en ons senuweestelsel gestuur word. Die interessantste is egter dat ons immuniteitsellle nie net ontvangers van verskeie neuropeptiede het nie, hulle vervaardig ook hulle eie neuropeptiede. Party van hierdie neuropeptiede wat in ander dele van die liggaam se selle vervaardig word, is chemiekalieë wat ons voorheen gedink het net deur die brein vervaardig word. Omdat breinselle immuniteits-chemiekalieë en immuniteitselle breinchemiekalieë vervaardig, word dit al hoe duideliker dat die pad tussen ons brein en  ons lyf nie ’n eenrigtingstraat is nie. Dit lyk of ons hele lyf ontwerp is as ’n gesprek waarin elke orgaan, weefsel, sel en geen die hele tyd met mekaar praat.

Party wetenskaplikes begin sê dat ons nie meer van ’n senuweestelsel of ’n immuniteitstelsel kan praat nie, maar dat ons moet begin praat van ’n superstelsel waar jou gees en jou liggaam nie net met mekaar praat nie, maar waar gees en liggaam ’n eenheid is.

Dit is natuurlik nie ’n nuwe gedagte nie. Die mense in die Ou Testament het gesê die mens is ’n nefesh. Hulle het geglo die mens is ’n eenheid. Hulle het nie die onderskeid tussen gees, siel en liggaam getref nie. Dit is gedagtes wat eers populêr geword het toe Griekse filosowe soos Plato die onderskeid begin tref het. Hierdie denke van Plato het die denke van wetenskaplikes en teoloë vir eeue beïnvloed. Persoonlik dink ek nie hy het die wêreld ’n guns gedoen met sy teorie nie.

As daar dus ’n trauma in jou lewe was, is dit nie onwaarskynlik dat jou liggaam dalk op die een of ander manier fisiologies daarop sal reageer nie. Dit sou egter onverantwoordelik wees om met sekerheid te sê dat my kanker ’n direkte gevolg van Claudi se ongeluk was. Dit is egter ’n moontlikheid wat nie uitgesluit kan word nie.

Jy is nie die enigste nie

Ons mense is komplekse wesens. Elkeen is anders bedraad. Elkeen reageer anders op verlies. Elkeen se kop raas oor ander goed. Elkeen stoei met iets. Hoewel jy uniek is, is jy nie die enigste mens wat deur ’n verlies geraak is nie. Jy is nie die enigste mens wat jou kind of jou werk of jou gesondheid of jou ledemaat verloor het nie. Soos baie ander gaan jy dit ook maak, al voel dit nie nou so nie. Natuurlik gaan jy anders wees as wat jy was voor jou verlies. Natuurlik gaan jy nou anders dink en optree  as voor jou verlies. Moenie so hard op jouself wees nie. Gee jouself die geleentheid om te rou. Jy is nie alleen nie. God is ook langs jou en Hy huil saam met jou. Hou daaraan vas.

Klawertyd

In die volgende hoofstuk word die kaarte nou die laaste keer geskommel. Die klawers kom dan op die tafel. Soos wat die klawer drie blaartjies het wat in drie verskillende rigtings wys, gaan ons in die hoofstuk vra in watter rigting moet ons nou beweeg. Is daar dalk nuwe moontlikhede? Is daar ander opsies?Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img