11 Maart 2021


“They will live on in the warmth of your broken heart that doesn’t fully heal back up, and you will continue to grow and experience life, even with your wound. It’s like badly  breaking an ankle that never heals perfectly, and that still hurts when you dance, but you dance anyway with a slight limp, and this limp just adds to the depth of your performance and the authenticity of your character. The people you lose remain a part of you. Remember them and always cherish the good moments spent with them.” – Richard Gere

 DEUR ROELF OPPERMAN

’n Fabel word vertel van ’n arm man wat ’n pragtige hings gehad het. Die koning het vir hom baie geld aangebied om die hings te koop. Die man het egter geweier. ’n Paar dae later het die hings weggeloop. Die mense van die dorp het toe na die ou man toe gekom en vir hom gesê: “Jy was dwaas. As jy die hings verkoop het, was jy nou ’n ryk man. Maar nou is die hings weg. Jy was dwaas om nie te verkoop nie.” Maar die ou man het geantwoord: “Miskien was ek dwaas, miskien nie, ons sal maar moet wag  en sien.”

Twee weke daarna kom die hings by sy huis aan, saam met drie ander pragtige hingsperde. Weer kom die mense van die dorp na hom toe en sê: “Jy was wys gewees om nie die hings te verkoop nie – nou het jy vier  perde en jy kan hulle nou vir baie meer verkoop.” “Of ek wys was of nie sal ons maar moet sien”, antwoord die ou man.

LEES OOK: Deel 3 van aanlyn boekreeks: ‘Hoekom het God nie die stuk staal gekeer nie?’

Die ou man se seun begin om die hingste in te breek sodat mens op hulle kan ry. Daar gebeur egter iets wat een van die perde laat skrik en die seun val af en breek al twee sy bene. Die mense van die dorp kom toe na die ou man toe en sê: “Jy was dwaas om nie die perde te verkoop nie. As jy hulle verkoop het, sou jou seun nie van die perd afgeval het nie en sou hy vandag nog kon loop.” Die ou man antwoord: “Of ek dwaas was of nie, sal  ons nog maar moet sien.”

’n Oorlog breek in die land uit en al die jong mans van die dorp is oorlog toe – almal behalwe die ou man se seun met die gebreekte bene. In ’n veldslag sterf al die jong mans. Die mense van die dorp kom toe na die ou  man toe en sê vir hom: “Ons kan sien dat jy wys was. As jou seun nie sy bene gebreek het nie, was hy saam met ons seuns in die veldslag en dan het jy ook nie meer ’n seun gehad nie.” Die ou man antwoord: “Of ek wys  was of nie, sal ons nog maar moet sien …”

Ons is almal maar op ’n reis – sonder om regtig te weet hoe die pad vorentoe loop en of ons besluite goed of sleg was. Partykeer gebeur dinge net sonder dat daar ’n plan daarmee is of ’n doel daarmee bereik moet word.

“Dit was eers toe ek besef het dat ons in ’n stukkende wêreld leef en dat dinge partykeer regtig sonder ’n rede gebeur, dat ek begin ontspan het. Dit was eers toe ek God begin sien het as die een wat langs my kom sit en huil dat ek met Hom kon vrede maak. Hy is die een wat in voorspoed en teenspoed by ons is. Hy is die een wat vir ons keuses gee hoe ons moet leef en ons nie uitlos as ons dalk die sogenaamde verkeerde keuse maak nie,” vertel Roelf Opperman, pa van Claudi wat na ‘n motorongeluk gesterf het. Foto verskaf

Om vir jouself ’n nuwe toekomsverhaal te skep, is nie so maklik nadat ’n mens  deur een of ander groot trauma in jou lewe gegaan het nie. Want hoe weet  jy of jou besluite goed of sleg is? Hoe begin jy ’n nuwe toekomsverhaal te skryf as jou kind of jou lewensmaat dood is? Hoe gaan jy aan nadat jy deur ’n egskeiding gegaan het en jou lewensmaat die kinders gevat het? Hoe  oorleef jy as jou jarelange besigheid bankrot is en jy nie weet hoe jy vir jou gesin gaan sorg nie? Hoe neem jy afskeid van ’n arm of ’n been wat geamputeer moet word? Die vraag is – wat doen ek volgende nadat die ramp, die krisis my getref het? Hoe skryf ek ’n nuwe verhaal?

Ek gaan nie in die hoofstuk vir jou probeer vertel hoe jy jou nuwe  verhaal moet skryf nie. Ek gaan veral ook nie probeer om ’n ideale beeld  te probeer beskryf van hoe dit sou lyk as jy heel is nie. Want dit kan jou net nog skuldiger en meer onbekwaam laat voel. Ek gaan ook nie voorgee dat ek dit gemaak het omdat ek sterk genoeg was of omdat ek “verantwoordelikheid” geneem het of veerkragtig is nie. Ek gaan jou nie met clichés probeer aanmoedig om ’n nuwe verhaal te skep nie. Inteendeel – ek weet dat daar baie vroom en selfs godsdienstige clichés is oor hoe om “reg” te kom, wat, myns insiens, absolute twak is.

Wat ek wel gaan doen is om vir jou ’n paar boustene te gee wat my gehelp het om te oorleef, sonder om voor te gee dat dit vir almal geld. Ek gaan ook ’n paar wenke gee oor hoe jy iemand wat oor enige verlies treur, kan bystaan. Dan gaan ek afsluit met ’n paar wenke oor hoe jy ’n nuwe verhaal kan  begin skryf.

Moenie te gou vergewe nie

Dit gebeur dat mense met ’n wrok rondloop nadat hulle geliefdes dood is of nadat hulle hulle werk of hulle gesondheid of hulle ledemaat verloor het. Mense word kwaad vir die een wat die trauma veroorsaak het, of vir God, of vir die dokter of die hospitaal, of vir die persoon wat oorlede is of,  sommer net kwaad vir die lewe en vir hulleself. Dan sukkel ons om te vergewe.

Baie keer sukkel ons ook om onsself te vergewe.

Mense vra hulleself: “Hoekom het ek nie maar vrede gemaak toe ek kon nie?” Of: “Hoekom het ek nie meer tyd met die persoon spandeer nie?” Een van die vrae wat mense baie keer te bang is om uit te spreek is:  “Wat kon ek gedoen het om die dood of die krisis te keer?” Moes ek nie maar ’n ander dokter gekry het nie? Moes ek haar of hom nie alleen laat ry het nie?” Om hieroor skuldig te voel, help nie jou genesingsproses nie. As dit vrae  is wat jou ry, moet jy dit uit jou sisteem kry. Jy moet begin deur jouself te  vergewe. Praat met iemand daaroor. Vertel dit vir die Here. En laat dit dan  gaan.

Partykeer is dit ander mense wat jou trauma veroorsaak het. Dan is dit nie so maklik om te vergewe nie. Om egter te gou te vergewe voordat jy deur jou emosies gewerk het, kan maak dat dit in jou opkrop en dat dit dan later op allerhande ander maniere manifesteer. Dit kan jou depressief maak. Dit kan jou siek maak. As jy kwaad is en te na gekom voel, moet jy nie te gou vergewe nie. As jy dit doen, word dit soos ’n drukkoker wat al die emosies onderdruk en onder die deksel hou. Dis nie gesond nie.

Moenie te gou vergewe nie. Werk eers deur jou emosies en jou eie skuldgevoelens. Gaan na iemand toe wat jou daarmee kan help. As jy vir God kwaad is, sê dit vir Hom. As jy die persoon wat die dood veroorsaak  het wil ontmoet, doen dit. Kyk hom of haar in die oë en sê hoe jy voel. Skryf ’n brief vir jou geliefde wat dood is en sê dat jy kwaad is omdat hy of  sy jou alleen agtergelaat het. Vloek. Praat met die Here. Praat met ’n sielkundige. Werk deur jou emosies. Doen wat jy moet doen om leeg te kom.

As jy dan uiteindelik deur jou emosies gewerk het, is dit lewensnoodsaaklik dat jy ter wille van jouself op ’n punt sal kom waar jy jou hande van die ander persoon se keel moet afhaal – sodat jy kan aan beweeg. Vergifnis  beteken nie dat jy met daardie persoon moet vriende wees nie. Vergifnis  beteken net dat jy ophou wurg sodat jy vry kan begin leef.

Moenie die “Wat as …?”-speletjie speel nie

Na ’n groot trauma in ons lewens begin ons baie keer die “Wat as …?”-speletjie te speel: Wat as my kind nie daardie dag moes gery het nie? Wat as sy net vyf minute vroeër gery het? Wat as ek meer geld gehad het  dat ek vir haar kon sorg – dan sou sy nie hoef te gery het nie? Wat as ek  dalk nie reg gebid het nie?

Hierdie “Wat as …?”-speletjie kan jou gek maak. Dit kan jou ook baie skuldig  laat voel. Dit help gewoonlik ook nie as mense vir jou sê dat dit nie so werk nie en dat jou denke irrasioneel is nie. Êrens in jou agterkop is daar ’n stemmetjie wat sê dat jy meer kon gedoen het.

Die diepste skuldgevoel wat ’n mens kan hê, is ’n skuldgevoel omdat jý leef en jou geliefde dood is. ’n Sielkundige het op ’n keer gesê hierdie skuldgevoel kan die rede wees hoekom mense wegkruip of hulleself saboteer. Dit kan ook die rede wees hoekom hulle nie heel kan word nie.

Wanneer jy sukkel om jouself, of ’n ander persoon, of vir God, of jou geliefde te vergewe, kry jy nie aan beweeg nie.

Oor die algemeen is skuldgevoelens nie altyd ’n slegte ding nie. Partykeer  help dit ons om op die regte pad te bly. Dalk het jy iets slegs aangevang en jy voel skuldig daaroor en jy dink by jouself: “Ek wil dit nooit weer in my lewe doen nie.” Die skuldgevoelens was so pynvol dat jy alles in jou  vermoë doen om nou die regte ding te doen – dat jy nooit weer oor so iets  skuldig hoef te voel nie.

Die teenoorgestelde kan egter ook gebeur dat hierdie skuldgevoel ’n verlammende effek op jou kan hê. Dalk het jy iets slegs gedoen – iets waaroor jy baie skuldig voel en daardie skuldgevoel hou net aan en aan en aan. Dit hou jou terug om weer gelukkig te wees en dit keer jou om die goed te doen wat jy eintlik graag wil doen. Jy loop en koes en jy kan niemand in die oë kyk nie. Dan moet jy daaraan werk. Dit kan jou lewe vernietig.

Dit is nodig dat jy sag moet wees met jouself. Praat met iemand wat jy vertrou om die skuldgevoelens uit jou sisteem te kry.

Hou aan praat

Nie almal voel altyd ewe gemaklik om oor persoonlike tragedies te praat nie. Elkeen van ons maak ons eie keuses waar, wanneer en teenoor wie ons oor ons gevoelens wil praat. Tog is daar oorweldigende getuienis dat wanneer jy oor die trauma in jou lewe begin praat, dit daartoe bydra dat jy geestelik en ook fisies gesond begin word. Hoe meer jy oor die trauma praat, hoe meer kom daar orde in jou eie kop.

LEES OOK: Deel 2 van aanlyn boekreeks: ‘Daar is min dinge so seer soos rou’

Daar het egter ook ’n tyd gekom toe ek bewustelik besluit het om op  te hou praat. Ek het besef dat ek nie in elke preek en in elke gesprek  na my seer en verlies en trauma kan verwys nie. Dit maak mense later ongemaklik. Ek wou ook nie meer in die openbaar rou nie. Vir my het dit iets baie persoonliks geraak en ek was baie gemaklik daarmee. Ek dink die baie praat het my tog op ’n plek gebring waar daar bietjie orde in my kop gekom het.

Skryf dit neer

Een van die dinge wat baie mense wat deur ’n trauma gaan help om te oorleef, is om ’n joernaal te begin skryf. Deur gevoelens en emosies in woorde om te skakel, help ons om teenspoed te prosesseer en te verwerk.  Party mense dwing hulleself om in die joernaal ook ten minste drie daaglikse suksesse neer te pen. Dit hoef nie dramatiese, groot suksesse  te wees nie. Dit kan goed wees soos: “Vandag het ek dit reggekry om  uit die bed op te staan.” Ander mense probeer ook om ten minste drie positiewe emosies wat hulle deur die dag ervaar het, in die joernaal aan te teken. Die voordeel daarvan is dat hulle deur die dag begin oplet na positiewe emosies, omdat hulle weet dat hulle in die aand daarvan in hulle joernaal verslag moet doen. Dit help mens om uit die donker diep gat van  negatiewe emosies los te begin kom.

“Werk met wat jy het en nie met wat jy verloor het nie,” is een van die wyshede  waarvolgens my ma leef en wat sy vir my geleer het. Dis nie altyd so maklik om dit reg te kry nie. Wanneer jy egter begin fokus op watnjy het, en nie op jou verlies nie, begin daar tog ’n stukkie veerkragtigheid in jou lewe loskom wat maak dat jy vorentoe kan beweeg.

Wat van ’n ritueel?

Wat my en my vrou ook help om te oorleef is rituele. Een van die rituele wat ons sedert Claudi se dood doen, is om elke jaar rondom die datum wat sy dood is, êrens heen te verdwyn. Partykeer gaan ons saam met ons kinders weg. Ander kere saam met vriende wat omgee. Dan skakel ons ons selfone af en kyk nie na Facebook nie. Ons kuier en vier die lewe.

Een van die rituele wat party mense doen is om jaarliks ’n boom te plant.

Soek veerkragtigheid

Die veerkragtigheid wat ons nodig het om weer heel te word is die krag en  die spoed van ons reaksie op ons teenspoed.

Veerkragtigheid is iets waaraan jy kan bou.

Dit kom nie altyd sommer net vanself nie. Dit gaan nie daaroor of jy ’n ruggraat het om die teenspoed te hanteer nie – dit gaan oor die spiere wat jy rondom jou ruggraat het wat versterk moet word. Ek het reeds in hoofstuk 1 gesê dat veerkragtigheid om te oorleef kom aan die een kant diep uit ons eie binneste uit en aan die ander kant van die mense rondom ons. Dit kom aan die een kant uit diep dankbaarheid oor wat ons steeds  het en aan die ander kant uit die vermoë om intens te rou. Dit kom aan die een kant uit jou vermoë om die rouprosesse waardeur jy gaan te analiseer en aan die ander kant deur jou net aan die rouproses oor te gee.

Verander die manier hoe jy oor God dink

Persoonlik dink ek dat hierdie wenk amper die belangrikste van al die wenke wat ek bespreek het, is. Dit is mense se verkeerde siening van God wat maak dat hulle vir Hom kwaad word. Dit is hulle verkeerde siening wat maak dat hulle hul geloof verloor en moedeloos word. Dit is hulle verkeerde siening wat maak dat hulle hulself onttrek of in woede oorgee aan alkohol of immorele gedrag. Dis hierdie verkeerde siening wat maak dat hulle nie kan bid of kerk toe gaan nie.

Wat is hierdie verkeerde siening waarvan ek praat?

Ek glo nie dat daar ’n groot plan agter alles sit en ons nou maar net die agterkant van die tapisserie sien nie, soos die volgende anonieme gedig voorstel nie:

Not “til the loom is silent and the shuttles cease to fly shall God unroll the canvas and explain the reason why.

The dark threads are as needed in the Weaver’s skilful hand
as the threads of gold and silver in the pattern He has planned.”

As ons hierdie gedig glo, beteken dit dat God ook die outeur van die slegte dinge is wat in jou lewe gebeur. As jy dit glo beteken dit dat God alle slegte dinge wat in jou lewe gebeur stuur om jou ’n beter mens te maak of om een of ander groter doel te bereik. Al wat jy moet doen is om jou aan sy wil te onderwerp.

Eintlik kan jy met ’n stok aanvoel dat dit tog nie heeltemal reg is nie. Want partykeer gebeur daar net goed wat so donker en sleg is dat jy nie kan glo dat dit deel van God se tapisserie kan wees nie. As ons moet glo dat God beplan het dat die moordenaars van 28 Koptiese Christene in Egipte, hulle uit hulle bus forseer het, verplig het om die shahada, die Islamiese geloofsbelydenis te bely, en toe hulle weier, hulle dood geskiet het, dan wil ons geloof hierin nie meer werk nie. Want nou vra dit nie net dat ons moet glo dat God die outeur daarvan was nie, maar ook dat ons ons morele oordeel oor dit wat gebeur het ook tersyde moet stel.

Om so oor God te dink, het ook ander variasies wat sagter op die oor klink, maar wat net so gevaarlik is. Hierdie variasie klink so: God wil hê dat ons gelukkig moet wees. Om gelukkig te wees moet ons net God se plan vir ons lewens volg. As ons nie sy plan volg nie, gaan ons seer kry. Om binne God se plan te bly, word dan ’n geestelike belegging wat alreeds hier op aarde dividende uitbetaal. Hierdie dividende het te doen met gesondheid, finansiële voorspoed, geluk, ensovoorts.

Die vers waarop mense wat só glo, swaar steun, is Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting.” Wanneer die vers binne  konteks gelees word, sien ons dat dit aan die ballinge geskryf is wat pas uit hulle land weggevoer is. Hulle moes leer hoe hulle onder ’n vreemde owerheid moes optree. Die valse profete het vir hulle kom sê dat dit gou weer met hulle sal goed gaan. Dan kom Jeremia en sê vir die ballinge dat hulle nog lank in ballingskap gaan bly. Terwyl hulle in die ballingskap is, moet hulle egter weet dat God by hulle is.

Vandag het mense Jeremia 29:11 geneem en met verskeie kreatiewe redenasies probeer aandui dat die vers sê dat God ’n plan met elkeen van ons het en voorspoed vir ons beplan – dit terwyl die praktyk baie keer anders lyk. Ek kan nie glo dat God se plan insluit dat mense deur egskeidings, sekwestrasies, afdankings en siektes moet gaan nie. Ek kan  nie glo dat God die stuk yster van die vragmotor afgegooi het om my kind  se kop te tref nie.

Ons sal anders oor God moet dink.

Ons sal moet ophou om Hom te sien as die paaiboelie of die een wat volgens ’n groot plan werk. Ons sal moet ophou om Hom te sien as die een wat ’n doel met alles het. Hy is nie ’n marionettespeler wat toutjies trek en die poppe begin spring en dans nie.

Dit was eers toe ek besef het dat ons in ’n stukkende wêreld leef en dat dinge partykeer regtig sonder ’n  rede gebeur, dat ek begin ontspan het. Dit was eers toe ek God begin sien het as die een wat langs my kom sit en huil dat ek met Hom kon vrede maak. Hy is die een wat in voorspoed en teenspoed by ons is. Hy is die een wat vir ons keuses gee hoe ons moet leef en ons nie uitlos as ons dalk die sogenaamde verkeerde keuse  maak nie.

Gee nuwe betekenis aan jou trauma

Claudi skryf êrens in haar skripsie oor die ervaring wat sy op die krans gehad het toe sy moes abseil: “Ek kon die abseil gebruik as gebeurtenis waaraan ek kon terugdink wanneer ek nodig gehad het om  moed te skep. Dit het vir my ’n metafoor geword van ’n oorwinning wat  ek  oor my vrees vir verandering behaal het. Sulke ervarings het reg deur lewe met my gebeur. Ek het besef dat ’n ervaring wat niks met ’n huidige probleem te doen het nie gebruik kan word om nuwe metafore te skep en om ’n verhaal van die verlede te herinterpreteer en nuwe sin daaraan te gee. Ek het  ook besef hoe ’n nie-verwante ervaring (soos abseil) gebruik kan word om  te help om ’n nuwe verhaal in die toekoms te help skep. Ek het selfs begin wonder of daar nog mense soos ek is wat ’n losstaande ervaring kan gebruik as ’n metafoor om ’n verhaal te herinterpreteer en sodoende ’n nuwe verhaal in die toekoms te skep?”

Die vraag waarmee ek as Claudi se pa nou gekonfronteer word, is: Kan ek die ervaring waardeur ek gegaan het met my kind se dood herinterpreteer om ’n nuwe verhaal in die toekoms vir myself daaruit te skep? Kan ek probeer  sin maak uit haar dood? Kan ek my ervaring rondom haar dood gebruik om nuwe metafore te skep? Kan ek die verhaal (haar dood) herinterpreteer en nuwe sin gee aan die manier hoe ek vandag lewe? Kan ek ’n nuwe geloofsverhaal skryf? Want die manier hoe ek oor haar dood dink gaan bepaal hoe ek vorentoe gaan leef.

Iets wat my hiermee gehelp het, was toe ek begin verstaan het hoe die vroeë Christelike kunstenaars oor die misterie van God gedink het en met hulle kunswerke aan die wêreld probeer oordra het. Hulle het in hulle kunswerke van ’n antieke simbool gebruik gemaak wat vandag nog hoop in ’n stukkende wêreld kan bring. Wanneer twee sirkels of twee wêrelde mekaar sny, vorm daar ’n Mandorla (Italiaans vir Amandel). Hierdie twee sirkels stel die verbinding tussen twee teenoorgestelde wêrelde voor, byvoorbeeld hemel en aarde, man en vrou en ook ander paradoksale maats soos lewe en dood. Daarom word Christus baie keer binne die Mandorla-figuur geteken om iets te sê van die misterie van God wat mens geword het. Die Mandorla is nie net eie aan die vroeë Christelike kerk nie, dis ook ’n simbool wat in verskeie ander kulture voorkom.

LEES OOK: Deel 1 van aanlyn boekreeks: Hoe om te oorleef sonder om te verstaan

Om in die Mandorla-figuur in te beweeg, beteken dat jy weg beweeg van ’n manier van dink waar jy dink in terme van oorsaak en gevolg, na ’n nuwe manier van dink. Jy beweeg deur oorsaak- en gevolgdenke, verby die denke waar jy na gemeenskaplike gronde soek, na ’n plek waar jy lank genoeg binne die spanning van die twee teenoorgestelde wêrelde wag totdat daar iets nuuts gebeur. Hier binne die Mandorla gaan nuwe moontlikhede oop, is daar kreatiwiteit, word nuwe ontdekkings gemaak en is daar unieke uitkomste.

Vir my as Christen is die Mandorla ’n simbool van die plek waar God op ’n intieme manier in my lewe teenwoordig is. In Christus en deur die Heilige Gees raak hemel en aarde aan mekaar. Die Mandorla is nie ’n plek waar daar vrae gevra word en antwoorde gekry word nie. Dis ’n plek van saamwees. Dis ’n plek waar God in my pyn langs my staan en my vashou. Hy huil ook saam met my. Dis ’n plek van verhoudings en heel word. Dis ’n  plek waar jou oë begin oopgaan om vir God anders te sien as wat jy Hom  nog ooit gesien het. Dis ’n plek waar jy broos en weerloos staan en waar  jou geloof partykeer geskud word. Dis ’n plek saam met God – al voel jy Hom nie.

Dis ook ’n plek waar jou pyn nie uitgewis word nie, maar ’n plek waar jy leer om die pyn in ’n ander rigting te laat vloei. Persoonlik het ek ervaar dat my pyn nie weggeneem is nie, maar ek kon dit laat vloei saam met ander mense se pyn in my werk.

Wanneer ek so oor my pyn en my geloof en God begin dink, dink ek nie aan God as die een wat my toekoms beplan nie. Ek dink aan God as  die Een wat deur die lewe saam met my loop. Dit is sy teenwoordigheid wat maak dat ek deur die dal van doodskaduwee kan gaan. Dis ook sy teenwoordigheid wat maak dat ek partykeer die groen weivelde van Psalm  23 kan geniet.

Miskien moet ons ophou praat oor God wat ’n plan vir ons lewens het en  begin praat van ’n God wat opgewonde is oor ’n nuwe begin, tweede kanse en regte keuses. Dit is immers ook die boodskap van die opstanding van  Jesus Christus.

Help ander treur

Wanneer jy deur die een of ander trauma gegaan het, raak jy baie meer sensitief vir ander mense wat ook deur ’n soortgelyke trauma gaan. Jy sien dit makliker raak. As jy jou werk verloor het en gesukkel het om weer  mens te word, help jy graag iemand wat in dieselfde situasie gekom het. Wanneer jy iemand aan die dood afgestaan het, verstaan jy iets van ander mense se seer wat ’n geliefde verloor het.

Ek dink Paulus verstaan iets hiervan as hy in 2 Korinthiërs 1:4 skryf: “In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer.”

Gewoonlik is ons eerste gedagte wanneer ons hoor dat iemand sy of haar werk verloor, of kanker het, of deur ’n egskeiding gaan, of ’n geliefde verloor het, dat ons na die persoon moet uitreik. Ons weet egter nie altyd hoe om  dit te doen nie. Want sê nou maar ek sê die verkeerde ding of ek laat hom selfbewus voel of ek gaan te vêr en krap ou wonde oop?

Mense gee baie keer goedbedoelde raad wanneer hulle nie regtig moeite wil doen om te verstaan waardeur jy gaan nie. Om te probeer verstaan is  altyd baie moeiliker as om sommer maklik net ’n opinie uit te spreek. Om vir iemand wat rou, te sê om te begin verantwoordelikheid neem, laat die persoon self net beter voel dat hy of sy iets godsdienstig gesê het maar dit dra glad nie by tot enige heelwordproses nie.

Mense het gewoonlik een van twee emosionele reaksies wanneer hulle bewus raak van iemand anders se pyn. Die eerste reaksie is empatie. Dit  motiveer hulle om die persoon wat trauma beleef by te staan. Die tweede  reaksie is angstigheid wat veroorsaak dat hulle eerder die persoon wat trauma beleef, vermy.

Vriende wat in hierdie tyd verdwyn, doen dit partykeer bewustelik om hulleself te beskerm. Wanneer hulle iemand sien wat emosionele pyn ervaar, is hulle partykeer onbewustelik bang dat hulle self ook afgetrek gaan word in ’n poel van hopeloosheid. Partykeer besluit iemand egter ook bewustelik om homself of haarself te beskerm.

Vir my as dominee was dit die afgelope paar jaar na Claudi se dood baie moeilik om langs mense te gaan sit wat in rou gedompel is. Partykeer was ek emosioneel net nie gereed daarvoor nie en het dan my kollegas gevra om asseblief vir my in te staan. Ander kere het ek net geweet ek moet gaan, selfs al kan ek niks doen om die situasie beter te maak nie.

Die goue reël wanneer dit kom by mense wat deur trauma gaan, is nie om hulle te behandel soos wat jý behandel wil word nie, maar om hulle te behandel soos húlle behandel wil word.

As hulle wil praat, moet jy hulle toelaat om te praat. As hulle nie wil praat nie, moet jy hulle asseblief nie dwing om te praat nie. Al wat hulle moet weet is dat jy daar is vir hulle.

Die laaste ding wat iemand wat treur nodig het, is advies. As jy treur, is jou wêreld flenters. Dit is vir jou eintlik ’n groot risiko om iemand in daardie  wêreld toe te laat. Wanneer ’n vriend of ’n berader daardie wêreld probeer heel maak of hulle pyn probeer wegneem deur mooi goed te sê, maak dit net hulle wêreld nog meer vreesaanjaend.

Wanneer mense treur, is om ongenooide berading te probeer doen of terapeutiese vrae te probeer vra om hulle te help, net kontraproduktief. Die een wat treur kies self om die mense wat hy wil, in sy stukkende wêreld toe te laat. Ek het dit aan my eie lyf ervaar toe mense kom simpatiseer en raad gegee en moed ingepraat het. Net my goeie maniere het partykeer gemaak dat ek sit en luister het. Ander kere weer het ek graag mense naby my toegelaat en was bereid om my verhaal te deel.

Op ’n keer het ek self die fout gemaak om in mense se wêreld te probeer ingaan sonder dat ek uitgenooi was om in te kom. Dit het so gebeur: Nie lank na Claudi se ongeluk nie het ’n ander egpaar in ons gemeenskap wat ek nie voorheen geken het nie, hulle kind verloor. Hulle het kerk toe gekom om my kollega te kom sien om begrafnisreëlings te tref. Ek het vir my kollega gesê ek wil by wees tydens die gesprek. Ek het gedink dat ek mos  nou die “kenner” is en gedink dat ek vir hulle iets kan beteken. Toe ek begin praat om my “wyshede” te deel, ervaar ek dieselfde weerstand by hulle wat ek gehad het toe mense hulle “wyshede” met my kom deel het. Daar het ek besef: Ek het geen reg gehad om sommer net met hulle te gaan praat nie. Ek was nie in hulle lewens ingenooi nie. Ek was ’n boelie. Niemand rou dieselfde nie. Jy moet vertrou word voordat jy ingenooi word.

Die beste ding wat jy kan doen wanneer iemand treur, is om dit te erken.

Partykeer is ’n drukkie goed genoeg. Partykeer is woorde heeltemal oorbodig. Ziets het een middag na werk by my kom kuier en toe ek die voordeur oopmaak, staan hy daar met ’n bottel wyn in die hand en sê: “Ek kom saam met jou huil.” Hy het ingekom en ’n rukkie kom sit. Ons het nooit die bottel wyn oopgemaak nie. Ek kon huil. Hy kon huil. Toe hy loop gee hy my ’n druk. Dis vir ewig in kop  ingeprent.

Of Fritz wat langs my in die hospitaal kom sit en wag het. Hy het nie gepraat nie. Hy was daar tot alles verby is. Toe het hy my huis toe gevat.

Vir my was dit net goed dat iemand dáár was vir my.

Om net by hulle te wees, om saam te huil, om net te luister as hulle wil praat, dit alles het geweldig baie krag. Jy hoef niks te dóén nie. Hiervoor het jy nie opleiding nodig nie. Al wat jy moet hê is ’n gewilligheid om teenwoordig te wees en ook teenwoordig te bly so lank as wat dit nodig is. Dis in hierdie Gods-oomblikke waar heling begin plaasvind. Dit word “Mandorla-oomblikke” – oomblikke waar die hemel en die aarde aan mekaar raak.

Hiermee sê ek nie dat jy nooit jou mond moet oopmaak nie. Ek het behoefte  daaraan gehad om by mense wat ook hulle kinders verloor het, te hoor dat ek dit gaan maak, dat ek nie in die moeras gaan verdrink nie. Ek het egter nie behoefte gehad aan ’n vreemde man wat my geskakel het en vir my ingelig het: “Jy behoort ook nou aan die klub waaraan niemand wil behoort nie – die klub wat hulle kinders verloor het.” Dit was dalk die man se onbeholpe manier om my te troos, maar dit het my net kwaad gemaak.

Jy kan nie sê : “Alles sal regkom nie.” Want jy weet nie of dit so is nie.

Jy kan wel sê: “Nie ek of jy weet wat in die toekoms gaan gebeur of hoe jy gaan oorleef nie. Wat jy wel moet weet is dat wat ookal gebeur, ek daar is  vir jou.” Of jy kan net sê: “Ek sien jou seer raak. Ek is daar vir jou.”

Eers wanneer mense wat treur my in my spreekkamer kom sien, of my na hulle huise uitnooi, is dit tyd om met ligte treë vorentoe te beweeg. Omdat daar ’n vertrouensverhouding bestaan – omdat hulle kies om my te vertrou kan ons begin gesels. Baie van die gesprekke gaan oor die rouproses, die hiernamaals, die sin van lyding en dood, woede, vergifnis en geloof. Daar is baie keer ook skuldgevoelens wat verwerk moet word. Een van die goed waaroor mense skuldig voel is omdat hulle sukkel om kerk toe te kom. Dis vir hulle bloot net te emosioneel om in ’n erediens te sit. Gewoonlik raai ek mense aan om nie so hard op hulleself te wees nie. As hulle ’n sterk behoefte voel om tog die eredienste by te woon, is dit partykeer slim om heel agter in die kerk te sit waar jy ongemerk kan uitglip  as dinge vir jou te swaar word.

Vermy flieks, boeke en programme oor die lewe na die dood

Boeke oor die hemel en die lewe na die dood en televisieprogramme waar daar kontak gemaak word met die wêreld anderkant die dood help nie altyd in die heelwordproses nie. Omdat mense baie keer ’n intense behoefte het om te weet of dit goed gaan met hulle geliefde aan die ander kant, word daar na die boeke en programme gegryp.

Ek wonder baie keer hoe dit met Claudi gaan. Ek wonder of sy al aangepas het. Dit sou lekker gewees het om net seker te kon maak dat sy reg is. ’n Ouer bly mos verantwoordelik voel vir sy kind.  Die feit dat ek nie aan die “ander kant” kan sorg nie, maak dat ek absoluut  uit beheer en magteloos voel. Dit sou lekker gewees het om te weet …

Daarom glo ek dat mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het, baie maklik na enige strooihalm kan gryp om te wéét. Daarom is flieks en boeke en programme wat suggereer dat hulle wéét, so gewild.

Persoonlik glo ek dat NIEMAND kan weet wat aan die ander kant gebeur  nie.

KOOP: Bestel ’n harde kopie van die boek hier

Mense wat boeke skryf en flieks maak en daarop roem dat hulle wéét wat in die hiernamaals aangaan, dink ek is bietjie voorbarig. Drome en nabye dood-ervarings wat mense gehad het, is diep persoonlike ervarings wat baie keer ook te doen het met die manier hoe God ons breine aanmekaar gesit het.

Al wat ek weet is dat God ook aan die ander kant is, en dit is vir my genoeg om dit te weet.

Skryf ’n nuwe storie

Dit was eers ’n jaar of drie na die ongeluk dat ek begin agterkom het dat ek  alles wat met my gebeur het, begin integreer het. Ek het byvoorbeeld begin sien dat ek sterker was as wat ek gedink het. Ek het ’n diep dankbaarheid begin kry dat, hoewel ek haar steeds baie mis, Claudi deel van my lewe was. Soos ek reeds vroeër in die boek gesê het, het my verhoudings met my vrou en my ander twee kinders dieper geword. Ek verstaan nog steeds  nie die lewe nie, maar my roeping om hier op aarde reg en geregtigheid te laat geskied, veral vir jongmense wat misbruik word, het sterker geword. In my kleinkinders wat almal na Claudi se ongeluk gebore is, sien ek nuwe lewe en nuwe moontlikhede. Alles in ag genome, kan ek versigtig- optimisties sê dat daar ook groei in my lewe plaasgevind het.

Richard Gere het die volgende op sy Facebook-bladsy gepubliseer waarmee ek kon identifiseer:

“Someday you will be faced with the reality of loss. And as life goes on, days rolling into nights, it will become clear that you never really stop missing someone special who’s gone, you just learn to live around the gaping hole of their absence. When you lose someone you can’t imagine living without, your heart breaks wide open, and the bad news is you never completely get over the loss. You will never forget them. However, in a backwards way, this is also the good news. They will live on in the warmth of your broken heart that doesn’t fully heal back up, and you will continue to grow and experience life, even with your wound. It’s like badly  breaking an ankle that never heals perfectly, and that still hurts when you  dance, but you dance anyway with a slight limp, and this limp just adds to the depth of your performance and the authenticity of your character. The people you lose remain a part of you. Remember them and always cherish the good moments spent with them.”

Vir my gaan dit egter oor meer as net om my kind te onthou en om die goeie oomblikke wat ek saam met haar beleef het, te koester. Diep in my  het ek die behoefte om sin te probeer gee aan my kind se lewe. Hoewel ek weet dat sy nie met die een of ander doel dood is nie, sal dit vir my tog lekker wees om te weet dat iets van haar lewe steeds kan aangaan en dat sy so ’n klein bietjie verder as haar kort lewe nog ’n verskil kan maak.

Ek dink ons het iets daarvan probeer doen op die Facebook-bladsy wat ons geskep het en waarin ons mense aanmoedig om Claudi se nalatenskap uit te leef. Die naam is 500 yellow balloons – Claudi’s legacy. Op die blad  staan:

Wat jy kan doen om Claudi se legacy te laat voortleef: Skenk bloed. Word  ’n orgaanskenker. Gaan wees goed vir iemand. Maak ’n donasie aan Kamcare. Wees aan die kant van die “underdog”. Veg teen diskriminasie teen vroue. Maak jou stem dik as jy ongeregtigheid raaksien. Leef jou geloof.

Daar het ’n paar goed met my na Claudi se dood gebeur. Behalwe dat ek  agtergekom het dat ek meer sinies geraak en in my dop gekruip het, het ek ook meer onverdraagsaam geword teenoor mense wat nie begrip het wat verlies aan ander mense doen nie. Ek het ook meer aggressief begin raak as ek sien dat daar onreg plaasvind – veral wanneer jong dominees geboelie word.

Miskien word ek nou geroep om mense wat seer het, by te staan. Miskien word ek geroep om onreg te beveg. Miskien word ek geroep om mense van ’n God te vertel wat saam met ons reis. Ek weet nie. Al wat ek weet is dat dit ’n interessante reis hier op aarde is vol mooi dinge en vol seer dinge. Al wat ek weet is dat God saam met ons reis.

Ek sluit die boek af met ’n stukkie wat Claudi self êrens in graad 10 op skool geskryf het:

Richard van der Westhuizen het baie swartgallig gesing:
“Tussen treine, tussen stasies, lê daar basies net die leë spore …”

Maar dit is tog nie waar nie! Die lewe is ’n opwindende reis van een stasie na ’n ander, van een nuwe ding na ’n ander, van een geleentheid na ’n ander. En die spore waarvan Van der Westhuizen sing, is nie leeg nie. Dis volgelaai met nuwe ervarings. Hy was net te dom om dit raak te sien.

Ek dink Ilse van Staden het iets meer hiervan gesien as sy skryf:

Tussen die stilte en stilte Tussenin
Toegevou tussen wonde – Oester, embrio, ertepeul –
lê die brandpunt van ’n begin

 Ek dink sy verstaan iets daarvan dat die reis op die treinspore nie altyd maklik is nie. Maar elke stukkie seer en swaarkry langs die pad is die brandpunt van ’n nuwe begin.

Ek het die afgelope jaar iets daarvan aan my eie lyf ervaar toe ons gesin getrek het van ’n plek waar ek my hele lewe lank gebly het. In my ou skool en tussen my ou vriende het ek sekuriteit gehad – want ons het immers van kleuterskooldae af saam gekom.

En toe stap ek in ’n nuwe skool in. ’n Groot skool met meer as ’n duisend leerders. En alles is nuut. En ek moet van voor af begin. En almal kyk jou uit of die kat jou ingedra het. Vreesaanjaend.

En ek, ek is ’n oester wat voel of iemand die skulp om my oop forseer

  • ’n ertjiepit wie se veilige doppie afgetrek word – ’n embrio wat op die punt staan om gebore te word – om die eerste klap van die dokter op my agterwêreld te kry …

Veranderinge gebeur dikwels onverwags. Ek dink dit was Rina de Klerk wat gesê het: Sonder verandering sou jy nooit geweet het waartoe jy in staat is nie.

Natuurlik kan verandering onsekerheid en selfs vrees tot gevolg hê. Maar as jy besef dat dit deel van die lewe is om op spore tussen stasies te wees, en as jy besef dat dit nie om die stasie gaan nie, maar om die reis,  kan jy kies met watter gesindheid jy dit wil hanteer. Jy kan weier om dit te aanvaar, en jy kan dan in selfbejammering en depressie verval. Of jy kan besluit om aan te beweeg – om die oester se skulpe oop te kap dat almal die oester kan proe.

Wat moet jy dan met verandering doen?

  • As jy iets aan jou omstandighede kan verander, doen dit dan!
  • As daar goed is wat jy nie kan verander nie, aanvaar dit dan. Daar is byvoorbeeld nie ’n manier wat my ouers terug gaan trek na ons vorige dorp toe Ek moet dit aanvaar en ’n nuwe lewe hier begin.
  • Vra jouself: “Wat het jy hieruit geleer en hoe kan ek oor die situasie dink sodat ek kan aan beweeg?”
  • Dan moet jy kyk watter vaardighede jy het om in die nuwe situasie aan te pas en watter vaardighede jy moet aanleer om te oorleef?
  • En dan moet jy soos die Engelse so mooi sê kies om te “let go” en begin om doelgerig jou nuwe lewe te

En as jy dit doen, verstaan jy wat Ilse Van Staden bedoel as sy sê:

Tussen die stilte en stilte Tussenin
Toegevou tussen wonde – Oester, embrio, ertepeul  –
lê die brandpunt van ’n begin.

 Ek is opgewonde oor elke nuwe begin in my lewe. Van der Westhuizen kan maar sy leë spore hou. My spore is propvol van die lewe!

 Op 23 Januarie 2015 het Claudi met haar grootste reis begin.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail
One Response to Deel 4 van aanlyn boekreeks: Dít het my gehelp om te oorleef
  1. Hierdie skrywe lat ‘n mens nuut dink oor die lewe, oor swaarkry, oor die Here. Baie dankie ds.Opperman.


[top]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *