Sunday, July 25, 2021

‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’

Suné Spamer van Swellendam moes sonder haar baba by die hospitaal uitstap. En sonder hoop omdat haar baarmoeder ook verwyder moes word. Maar ’n ander ma het dié hartverskeurende storie gehoor en besluit om die Spamers te help.

DEUR CONETTE LE ROUX; VIDEO: ROBERT CABLE

“Die hospitaalkamer was doodstil en ek kon nie my oë van die perfek gevormde seuntjie, wat God vir my gegee het, afhaal nie. Nie vir een oomblik het ek gedink dat ek hom vir altyd sou moes groet nie. Hy was wasbleek en yskoud.”

Suné Spamer (31) van Swellendam onthou met dié woorde die ondenkbare oomblik toe iets in haar gesterf het. Dit was sowat twee en ’n half jaar gelede.

Tydens die geboorte van Suné en haar man Pieter se seuntjie Jacobus, het dinge skielik sonder enige waarskuwingstekens skeefgeloop.

Toe sy haar bewussyn herwin, het Suné se ginekoloog op haar knieë langs haar gaan sit. “Ek kon in haar oë sien hoe swaar sy gekry het,” vertel Suné met haar hartseer blou oë op ’n wintersoggend buite Swellendam.

Suné moes twee groot skokke hoor: Die mediese personeel kon nie hulle geliefde seuntjie red nadat haar plasenta geskeur het nie. Daar was geen bloeding sigbaar nie en die dokter het eers onraad vermoed toe Jacobus se hartklop gedaal het. ’n Noodkeiser kon hom ongelukkig nie red nie.

Daarna moes Suné die volgende hartseer feit aanhoor: Dat hulle ook nie haar baarmoeder kon red nie, en dat Suné so byna ook háár lewe kwyt was.

LEES OOK: ’n Geskenk van God

“Daarna het die dokter gesê hulle gaan nou vir Jacobus bring sodat ek hom kan groet, en of ek kans sien. Ek kon skaars praat, ek was vol pype en drips, verlam deur die hoë dosisse verdowing. Ek het nog vir ’n oomblik gehoor hoe my pa uit die verte sê dat hulle my nie moet dwing nie. Tog het die dokter gesê sy wil graag hê ek moet dit oorweeg. Want sielkundig is dit ’n goeie ding om te doen,” vertel Suné.

Hospitale mag blykbaar lykies nie so lank hou nie, sê Suné. Maar die hospitaal het ’n spesiale vergunning gemaak sodat hulle haar eers kon stabiliseer om sodoende haar seuntjie te kon groet.

Uiteindelik is Suné eers op 26 Desember 2018 ontslaan en het sy “’n baie seer Kersfees” sonder haar baba in die hospitaal gehad.

Maar ten spyte van daardie diep seer wat Suné altyd sal saamdra het God die onmoontlike moontlik gemaak.

Suné sê God het die onmoontlike moontlik gemaak toe hulle tweede seuntjie Johannes gebore is. Foto: Tarryn Jordaan

Johannes Spamer. Gebore op 31 Mei 2021.

Toegewoel in ’n warm kombersie, en in die arms van ’n vriendin, luister hy terwyl sy ma Suné met LiG gesels.

Elri Swart, die surrogaatma wat Johannes met soveel liefde gedra het, is ook daar.

LEES OOK: Ma se leuse na dogtertjie se dood: ‘As sý kon uithou, kan ék dit doen’

Dis aangrypend wanneer Elri, ook van Swellendam, vertel waarom sy besluit het om surrogaatma vir die Spamers te wees. Elri en Suné was slegs kennisse, maar toe sy haar storie hoor was dit vir haar hartverskeurend en wou sy iets doen.

Elri verduidelik: “My eersteling is op 29 weke gebore. My vroeggebore baba het my hart sag gemaak vir geboortes waar daar fout gaan. Ek kon my eie baba huis toe vat sonder enige bekommernisse. Maar stories soos Suné s’n breek my hart. Ek het vir my man gesê ek sal dit graag vir haar wil doen. Want ek kan nie dink hoe jy by ’n hospitaal moet uitstap sonder jou babatjie nie.”

“Ek het hom nie weggegee nie, ek het hom teruggegee,” vertel surrogaatma Elri Swart. Foto: Tarryn Jordaan

Hoewel baie mense vir Elri vra hoe dit gevoel het om Johannes “weg te gee” ná die geboorte, is haar antwoord eenvoudig: “Ek het hom nie weggegee nie, ek het hom teruggegee.”

Biologies is Johannes Suné en Pieter se seuntjie en het Elri hom slegs gedra omdat Suné dit nie kon doen nie.

LEES OOK: ‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Johannes is vernoem na sy oupagrootjie en Suné vertel dat die betekenis daarvan baie gepas is: “God is genadig”.

“Ek getuig vandag dat God ’n God van wonderwerke is. Ons het dalk ’n heel ander pad geloop om daar uit te kom, en ons moet boonop elke dag nog leer om met ons kind se dood saam te leef, maar ’n pappa en mamma het ons geword,” vertel Suné.

“Ons gaan die klein oomblikke geniet en waardeer wat soms as vanselfsprekend aanvaar word,” lag Suné.

Suné sê sy sal nooit die oomblik in woorde kan beskryf toe sy en Pieter vir klein Johannes gesien het nie. Foto: Tarryn Jordaan
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img