‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX

“As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek baie beslis gesê jy kan my maar saam met hulle begrawe. Maar vandag weet ek … anders.”

Aan die woord is Wilmien Davin van Ceres, een van die vroue wat die opspraakwekkende Kalahari-brand op 15 Augustus 2020 oorleef het. Haar man en twee van haar drie kinders het in die brand gesterf.

“Vandag vra mense my: Hoe gaan ’n mens voort ná so iets gebeur het? Ek weet vandag wat die antwoord is: ‘Die Here gee jou mense om jou te help,’” het Wilmien onlangs in Citrusdal gesê. Foto: Judy Mouton

Sy praat in ’n stampvol kerk in Citrusdal tydens die jaarlikse Wêreldbiddag vir Vroue. Dis die eerste keer dat Wilmien haar getuienis so in die openbaar met ander deel. Soms droog haar woorde op wanneer die hartseer haar oorweldig; ander kere praat sy moedig voort terwyl sy saggies huil.

“Ek het nie gedink dis iets wat ek ooit sou wou doen nie,” bieg sy. “Maar ek weet die Here wil hê ek moet vandag hier staan.”

Wilmien vertel hoe sy op dié dag haar storie uit gehoorsaamheid aan die Here aan ander vertel. In Januarie 2022 het sy Hom iets uit die Bybel gevra waaraan sy kon vashou. Sy het een van haar Bybelstudievriendinne gevra om saam met haar te bid. Hulle het toe albei Jeremia 29:11 gekry: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”

Toe Martine Kriel van die NG gemeente Citrusdal haar later kontak met die versoek om die spreker by hul gemeente se Wêreldbiddag vir Vroue te wees, hoor Wilmien die tema is daardie einste Jeremia 29:11. Toe weet sy dat sy dit moes doen.

LEES OOK: ‘In ons swaarkry het ek God in al sy grootsheid ontmoet’

Maar toe sy later die uitnodiging met haar naam as spreker daarop met haar eie oë te siene kry, was haar verlies opnuut onwerklik. Sy vertel: “Toe ek sien daar staan ‘Wilmien is een van die vroue wat die Kalahari-brand oorleef het. Sy en haar seuntjie het oorleef. Wilmien se man en haar twee ander kinders is oorlede,’ toe besef ek daai Wilmien is ek. Dis ék …

“Ek weet net dat ek nooit die grootheid van God sal kan verstaan nie. Dat God altyd daar is en dat sy genade net nooit ophou nie.”

’n Genadepad

Wilmien vertel hoe die nag van die tragedie nie angswekkend was nie. “As ek nou my oë toemaak, is dit stil. Die Here was in elke oomblik. Daar was nooit vrae nie, net antwoorde.”

’n Dominee uit Robertson, haar geboortedorp, het haar ná daardie nag gebel en gesê: “God het Frans jr en Iza (onderskeidelik haar vyf- en driejarige) dié nag in die holte van sy hand gehou.”

“En ek weet dit is waar,” sê Wilmien.

Sy vertel hoe dankbaar sy is vir die genadetyd ná die brand. Sy en Madelein Bauer, wie se man en twee dogtertjies ook deur die tragedie geëis is, is ’n klompie dae ná die brand gegun voordat hulle na die werklikheid moes terugkeer. Dié twee vroue en Wilmien se 15 maande oue seuntjie Ben kon ’n verdere twee dae ná die brand by die Kgalagadi Lodge in die Kalahari vertoef. “Ek was twee dae lank sonder selfoon of tandeborsel. Maar ek wou vir ewig daar bly. Ek het veilig tussen daardie duine gevoel.”

Haar geliefde man Frans het twee dae ná die brand aan sy wonde beswyk. Volgens haar was dié twee dae ook ’n genadetydjie, omdat dit haar die geleentheid gegun het om eers van haar twee kinders afskeid te neem voordat sy met nog ’n groot verlies gekonfronteer is.

LEES OOK: ‘Ek is dankbaar vir die goue lesse wat my Manna aan ons nagelaat het’

In haar vertelling in Citrusdal het Wilmien ook iets van haar en Frans se liefdesverhaal met die kerkgangers gedeel. Sy het vertel dat hulle werklik ’n goeie huwelik gehad het. “Hy was so bitterlik lief vir my. Maar ek is nou bly dat hy by klein Frans en Iza kan wees.”

Ná die verlengde verblyf in die Kalahari het sy twee dae in Upington vertoef voordat sy weer die pad Ceres toe aangedurf het. Haar ouers het uit Robertson gekom om haar en Ben te kom haal. Ook dié lang pad was vir haar genadig, omdat sy rustig met haar ouers oor haar geliefde kinders en man kon gesels. Sy onthou steeds die mooiste veldblomme langs die pad …

‘Dankie, Here, vir mense’

Die volgende swaar ding wat op Wilmien gewag het, was die begrafnis van haar drie geliefdes.

Wilmien onthou hoe sy ná die begrafnis nooit verder as enkele dae vooruit kon dink nie. “Maar dit was nooit nodig nie,” sê sy. “Die Here het elke dag voorsien. Ek het my nooit bekommer oor wie by my en Ben op die plaas kom slaap nie; daar was altyd iemand wat gebel en gesê het hulle is op pad.

“Vandag vra mense my: Hoe gaan ’n mens voort ná so iets gebeur het? Ek weet vandag wat die antwoord is: ‘Die Here gee jou mense om jou te help.’” Daarby het klein Ben se roetine en versorging haar gedwing om voort te beur.

Wilmien praat oor die mense wat haar tot dusver gedra het: Haar “buitengewone ouers” is boaan haar lysie. Hulle het die grondslag in haar lewe gelê. Hulle is vandag steeds haar veilige hawe, sê sy.

LEES OOK: ‘’n Reënboog oor die hospitaal vir ons ’n teken’

Sy is ook dankbaar vir Madelein. “Sy is die een by wie ek net kan ‘wees’. Wat verstaan. Wat steeds grappies maak. Saam met wie ek na La-la-land kan vlug.”

Wilmien vertel hoe sy en Madelein soms net die pad vat, “die lewe onderbeek” en byvoorbeeld ’n staproete aanpak. Dis dié tye wat deur Madelein “La-la-land” gedoop is.

Dan is daar haar skoonfamilie en haar geliefde vriende. En haar sielkundige in Somerset-Wes wat tydens haar eerste besoek aan hom die volgende aanhaling aan haar gegee het: “The best way to cope with grief is to learn to celebrate life.”

Oor dié besonderse sielkundige vertel sy: “George Roux is ’n kind van die Here. Hy laat my toe om terug te kyk, maar ons loop ook vorentoe.” Wanneer dit swaar gaan, onthou sy George se vraag: “Hou sou dit wees as die rolle omgeruil was?”

Hoe sou dit wees as sy saam met haar kinders gesterf het, en Frans nog geleef het?

“Ek sou wou gehad het Frans moet aanhou lééf … Dat hy saam met die kinders moet gaan kamp. Dat hy na die braai toe moet gaan. Dat hy nie net op sy bed moet lê en hartseer wees nie.”

‘Hoekom lewe ek, Here?’

Die moeilikste herdenking is 25 Mei, dis hul troudatum. “Dis anders as ’n verjaardag; jou troudatum gedenk ’n lewenskeuse. En ek het reg gekies.”

En dan is daar 23 Februarie, wat Frans en Iza se verjaardag is. Sy vertel: “Ek bak elke jaar vir hulle ’n reënboogkoek. Ek sal nooit ophou om hul lewe te vier nie. Ek het soveel vrede dat hulle nie meer hier is nie. En ek is so trots op hulle. Hulle het die wedloop van die lewe voltooi. Is dit nie maar hoekom ons almal hier is nie?

“Dis regtig nie ’n maklike pad nie. Sommige dae voel dit asof ek net onder my bed wil wegkruip. Dat ek net wil lê en huil. En dit voel asof ek in hulle elkeen se kas wil inklim om hulle net nog te kan ruik …”

’n Ruk gelede het Wilmien tydens ’n wegbreekgeleentheid op ’n klipmuurtjie gelê en die Here gevra: “Hoekom lewe ek, Here? En Hy het gesê: ‘Om te lééf!’”

“Sedert die brand het ek geleer dat God my liewer het as wat ek ooit sou kon raai. Ek kan nou met ’n vreesloosheid lewe, en ek beleef ’n ongekende vreugde in die klein dingetjies.

“Sal ek ooit die brand verstaan? Ek weet nie. Maar Paulus skryf in 1 Korintiërs 13 iets soos: ‘Nou kyk ons in ’n dowwe spieël, maar eendag sal ons die helder prentjie sien.’  Ek weet nie wanneer ek die helder prentjie sal sien nie. Nog in hierdie lewe? Dalk eers in die hemel? Ek weet nie. Maar vir my is dit genoeg om te weet daar ís ’n helder prentjie.”

Wilmien sê sy besef nou vreugde is ’n keuse. “Geluk kry jy slegs deur ’n verhouding met God te hê. Kom ons kies dus om werklik te leef. Kom ons kies om die lewe te vier. Kom ons kies hoop. Kom ons kies God.”

* Het jy ’n getuienis wat jy met LiG-lesers wil deel? Stuur jou verhaal na lig@tydskrifte.co.za.

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img