Sunday, July 25, 2021

Die beste jy …

DEUR RENÉ BADENHORST

Wees die beste jy!

Dis ’n goeie boodskap om te kry in ’n tyd vol onsekerheid. Só leer ons om ons nie met ander te vergelyk nie. Om nie te probeer wees wat ons nie is nie. Ons moet wees wat God ons geskep het om te wees, met ons eie gawes, persoonlikheid en talente. Die beste ek.

Daar skuil egter gevare in hierdie boodskap. Die belangrikste hiervan is dat dit dalk daartoe kan lei dat ons dink ons vernaamste lewensdoel is om onsself te dien. Ons vergeet gou dat ons, ook in ons beste dae, neig om in die verkeerde rigting te gaan. En voor ons ons kom kry, beland ons by ’n punt waar ons reken dat alles vir ons toelaatbaar is, dat ons maar kan gryp en maak en sê soos ons wil. Want dis nou eenmaal wie ons is, en dit is wat ons gelukkig maak.

Só loop ons God se doel met ons lewe mis.

LEES OOK: “Ag, nee!” het nooit die laaste woord nie

God se doel met ons is dat ons soos Jesus word. Dít is sy beste plan vir ons. Só lyk “die beste jy”. Lees hoe skryf Paulus: “Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters” (Rom 8:29 – NLV).

Dalk dink jy nou wat ek dink: “Kan ek soos Jesus wees? Onmoontlik!”

Natuurlik is dit onmoontlik. In ons eie krag is dit heeltemal onmoontlik om soos Jesus te wees. Daarom het Hy die skande van die kruis verduur om al óns skandes weg te neem. Daarom het die Heilige Gees gekom om ons hart ál meer na God se beeld te vernuwe.

LEES OOK: Jy is sý besigheid!

Hoe meer tyd ons in God se liefdevolle teenwoordigheid deurbring en hoe langer sy Gees ons hart rig, hoe meer word dit vir ons moontlik om soos Jesus te wees. Jesus was heeltemal anders as die mense van sy volk, kultuur en tyd.

* Jesus was daarvan oortuig dat God elke oomblik van die dag by Hom is.

* Jesus het God se wil in alles gesoek, selfs toe dit Hom duur gekos het.

* Jesus was oortuig van God se liefde vir Hom.

Die lewensvraag is: Wie se wil soek jy – jou eie of God s’n?

Bid saam met my

Vader, dankie dat ek u kind en dus deel van u familie kan wees. Help my om te besef en te glo dat U my baie lief het. Ek wil nie myself dien nie; U is die Koning van my hart. Help my asseblief om soos Jesus te wees. Amen.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img