Die 21 dae van inperking veroorsaak dat baie huishoudings ’n prutpot van emosies is – ’n uitbarsting wat oёnskynlik net wag om te gebeur. Hoe moet gesinne hierdie konflik hanteer?

DEUR SUSAN GOOSEN

NASA-ruimtevaarders en bemannings van duikbote ondergaan intensiewe opleiding om hulle voor te berei vir die afsondering en gevoel van inperking wat tydens hul sendings op hulle wag. Skielik bevind Suid-Afrikaners, en inderdaad baie mense regoor die wêreld, hulle in hierdie spreekwoordelike bootjie. In baie gevalle sonder enige waarskuwing of raad.

Marise Swart, kliniese sielkundige in Pretoria, verduidelik hoekom konflik en emosionele uitbarstings in hierdie onseker tyd normaal is. “In tye van onsekerheid en paniek, reageer kinders meer intens. Hierdie emosionele uitbarstings is dikwels hulle manier om te kommunikeer dat hulle bang of angstig is.

Kind wat in 'n boks huil

Foto: Unsplash.

Terselfdertyd is ouers ook kwesbaar omdat hulle skielik baie nuwe rolle moet vertolk en sonder die gewone ondersteuning van huishulpe, versorgers en skoolprogramme moet klaarkom.

Hulle vermoё om alledaagse situasies te hanteer, is ingeperk, en hulle voel sommer gou oorweldig, kwaad of magteloos. Dit is nie ongewoon vir ouers om baie streng te wees tydens krisistye nie. Die ingeperkte persoonlike spasie en uiteenlopende behoeftes van gesinslede bring verdere wrywing, frustrasie en konflik tussen ouers, kinders en sibbe.”

Reg of weg?

Marise sê: “Dit is belangrik dat ouers nie hul eie en ander se emosies veroordeel of minimaliseer nie. Emosies soos woede, vrees en hartseer is gesond en noodsaaklik vir oorlewing. Kinders gebruik emosies om hulle behoeftes te kommunikeer. Sien hierdie emosies as waardevolle brokkies inligting wat ’n geleentheid bied vir gesprek.

“Reflekteer dít wat jou kind probeer sê: ‘Verstaan ek jou reg? Ek hoor dit maak jou baie kwaad. Dit kan nie lekker wees nie.’ Moenie net probeer om die situasie te verander nie, vra eerder wat jou kind se plan is om hierdie situasie op te los. Selfs jong kinders kan verras met hul kreatiewe voorstelle.”

Onthou ook: Konflik is net ’n simptoom van onsekerheid en vrees. Dit is ’n geleentheid vir selfondersoek en groei.

Kind wat huil

Foto: Unsplash.

Wenke wat werk

  • Aanvaar dat daar soms konflik gaan wees. Konflik beteken nie dat jou gelukkige huwelik en gesinslewe maar al die tyd ’n klug was nie. Sorg vir oop kommunikasiekanale tussen jou en jou lewensmaat. Wees realisties in jou verwagtinge, en wees simpatiek teenoor jou gesin en jouself.
  • Wees voorbereid. Is daar sekere tye wat erger is as ander? Miskien in die laatmiddag wanneer almal die sport by die skool mis. Of vroegoggend wanneer die werklikheid van die vier mure almal opnuut tref. Oorweeg ’n nuwe roetine of aktiwiteit om hierdie negatiewe gevoelens te kanaliseer.
  • Soek ’n uitlaatklep vir al die emosies. Oefening is baie belangrik. Oorweeg touspring of ’n hindernisbaan in of om die huis. Sorg ook vir geleenthede om kreatief te wees. Maak tyd vir skeppende stokperdjies: kook, musiek, teken, verf of houtwerk.

Lees meer: 

Bang ouers, bang kinders

Op reis van te veel na tevrede


  • Gee aan elkeen die geleentheid om soms alleen te wees. Dit kan tyd alleen in jou kamer wees. Of indien jy in ’n klein huis of woonstel bly, die kans om iewers stil te sit en sonder onderbreking besig te wees met iets waarvan jy hou.
  • Hou by ’n voorspelbare, maar buigsame, roetine. Daaglikse aktiwiteite kan die volgende insluit: persoonlike higiëne en huis skoonmaak, aandag aan skoolwerk of kreatiewe breinspeletjies, bord- en ander speletjies, stories lees of luister en skermtyd. Kuier buite in die tuin indien moontlik.
  • Beperk skermtyd. Moenie heeldag voor die televisie of rekenaar sit nie.
  • Gebruik tegnologie om in kontak te bly met familie, vriende en die nodige ondersteuningsdienste.

*Marise Swart is ’n kliniese sielkundige in Pretoria. Sy is tydens die inperkingstyd beskikbaar vir aanlyn konsultasies. Kontak haar by 076 500 0303, info@marise.co.za, of besoek haar webwerf.

 

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail