Tuesday, June 22, 2021

Die hemel is jou vaderland

10 Mei 2021

In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël (Ef 1:13).

DEUR RENÉ BADENHORST

Om twee jaar lank in die oorwegend homogene kultuur van Suid-Korea te kon woon, was ’n unieke ervaring. Almal om jou praat ’n taal wat jy nie verstaan nie. Dis moeilik om jou weg in ’n vreemde land te vind as jy nie die mense verstaan nie, en daarom probeer jy maar so gou moontlik ’n klompie belangrike woorde aanleer.

LEES OOK: Aanspreeklikheid – wie sien kans?

Wanneer ons kinders van God word, is dit asof daar ’n nuwe stem in ons gedagtes begin praat. Dis amper soos ’n nuwe taal, een wat ons voorheen nie verstaan het nie. Dis die stem en die taal van die Heilige Gees. Dis Hy wat ons help om God beter te verstaan, en om soos hemelse burgers te kan dink en doen.

Dié nuwe taal kan nie altyd deur die wêreld om ons verstaan word nie, want dis soms heeltemal teenstrydig met dit wat gewoonlik gehoor word. Ons eie stem sal byvoorbeeld sê: “Bevredig al jou behoeftes!” Die Gees in ons sê: “Sterf aan jouself!”

Só verander die Gees die manier waarop ons oor onsself, ons vriende en ons vyande, ons finansies, ons doel op aarde en ons toekoms dink. Die Gees gee ons die vermoë om God en ons medemens lief te hê.

Deur sy Gees in my sê God: “Jy is Myne!”

Ek daag jou uit: Wees bereid om na die Gees in jou te luister, selfs al moet jy radikaal anders begin lewe as almal om jou. Jy behoort aan God. Die hemel is jou vaderland.

Bid saam met my

Vader, dankie dat ek aan U kan behoort. Ek wil nie meer vir myself leef nie, maar vir U. Help my om te sterf aan myself en U te vertrou om my lewe verder te bou. Dankie dat U diegene wat aan U behoort, u Gees en u krag gee. U doen dit ook vir my. In Jesus se Naam. Amen.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img