Die kruis – Jesus se skande

Maart 2021


Jesus se kruisdood was geen romantiese gebeurtenis nie; dit was die grootste skande denkbaar. Hoe het dit dan gebeur dat gelowiges die kruis “mak” gemaak het, en selfs van ’n “dierbare” kruis begin sing het?

DEUR STEPHAN JOUBERT

Sekere woorde is taboe, verbode, onvanpas – en soms sommer pleinweg aanstootlik. In Suid-Afrika kan jy selfs tronk toe gaan as jy een van hulle sou kwytraak.

LEES OOK: Doendinge vir Paasfees

Dis geen nuwigheid nie. In goeie Romeinse geselskap was jy destyds in groot moeilikheid as jy ’n sekere k-woord gebruik het.

Kruisiging.

Cicero (106-43 vC) skryf dat hierdie woord ver verwyderd van alle Romeine se gedagtes, oë en ore moes wees (Pro Rabirio Postumo 16). Hy het geweet kruisi­gings is die wreedste en mees afskuwelike straf denkbaar.

’n Kruisiging was uitsluitlik gerig op die skuim van die aarde – soos Rome se vyan­de, of politieke opstandelinge en mense wat gruwelike misdade gepleeg het. Die enigste beperking op die wreedheid van enige kruisiging was, soos wat die Duitse teoloog Martin Hengel dit stel, “the extent of the sadistic creativity of the executio­ners” (Crucifixion in the Ancient World and the folly of the cross).

Die bekende eerste eeuse filosoof, Seneka, beskryf kruisiging in sy werk Dialoog soos volg: “Kan enigiemand vrywillig kies om in sulke skrikwekkende pyn te sterf, ledemaat vir ledemaat? Of om sy lewe druppel vir druppel te verloor, eerder as om oombliklik te sterf? Sou enigiemand vrywillig aan ’n vervloekte hout vasgebind wou word, net om lank daar te hang met misvormde, gebreekte ledemate en nuwe, aaklige wonde regoor die skouers en bors, terwyl hy worstel om asem te haal in ’n uitgerekte doodstryd?”

Daarom stel Seneka voor dat iemand wat verneem dat hy tot ’n kruisdood gevonnis is, eerder probeer selfdood pleeg.

’n Wrede skouspel

Daar was nie ’n eenvormige manier om ’n veroordeelde te kruisig nie. Die bekendste voorstelling van die kruis, naamlik dié van Jesus wat met uitgestrekte arms aan ‘n dwarsbalk hang wat aan ’n vertikale paal vasgeheg is (bekend as die crux imissa), is dikwels gebruik.

Die Romeine het ook ’n crux comissa gebruik. Dit was ’n T-vormige kruis waar die kaal veroordeelde op ’n manier aan ’n dwarsbalk bo-aan ’n vertikale paal vasgemaak is. Soms is slegs ’n vertikale paal gebruik.

Daar was ook X-vormige kruise. En ons weet van gevalle waar mense onderstebo gekruisig is.

En nie almal is aan die kruis vasge­spyker nie. Soms, wanneer die ge­krui­sigdes se lyding weke lank uitgerek moes word, is hulle slegs met toue aan die kruis vasgemaak.

Ander kere is hulle aan die kruis vasgekap met spykers deur hul gewrigte en/of hul enkels. Seneka skryf soos volg oor die verskillende wyses van kruisiging: “Ek sien baie kruise wat opgerig is; nie net een soort nie, maar kruise wat op verskillende maniere gemaak is. Aan sommiges hang die slagoffers met hul kop ondertoe; aan ander is mense se geslagsorgane aan die kruis vasgekap, terwyl ander se arms oopgespalk is aan die kruishout” (in Dialoog).

LEES OOK: Paasfees, die vrolike fees!

Kruise was nooit so hoog soos wat kuns­tenaars dit vandag voorstel nie. Die feit dat die soldate ’n sagte hisoptakkie kon gebruik om ’n spons na Jesus uit te hou, bevestig dat sy gesig nie te hoog van die grond af was nie (vgl Joh 19:29).

’n Bordjie, bekend as ’n titulus, wat die rede vir die kruisiging aandui, is gewoonlik om gekruisigdes se nek gehang, of bokant hul kop aan die kruis vasgeslaan.

Soms is daar ook ’n smal houtbankie, ’n sedile, in die middel van ’n kruis aangebring waarop die veroordeelde kon sit. Dit het die lyding uitgerek omdat hy gedurig sy liggaamsgewig moes verplaas om nie te versmoor nie.

’n Gekruisigde se liggaam is dikwels vir weke ná sy dood net daar aan die kruis gelos. Dit moes as openbare afskrikmiddel dien, en ook om sy nagedagtenis uit te wis.

Ander kere is gekruisigdes met swaar voorwerpe geslaan om hul bene te breek en om hul dood te verhaas. Ons weet ook van gevalle waar gekruisigdes met byle van die kruis afgekap is om vir ’n volgende groep veroordeeldes plek te maak.

Jesus se skokkende kruis-pad

Om bogenoemde in gewone taal saam te vat: ’n Kruisiging was ’n barbaarse openbare skouspel – vol bloed, wreedheid en lyding. In die Jode se oë was gekruisigdes onrein en Godverlate. In die Romeine se oë was kruise slegs gereserveer vir die skuim van die samelewing.

Maar toe kies Jesus ’n kruis van alle dinge as simbool vir sy navolgers. Net nadat Hy sy eie lydingspad aangekondig het, sê Hy: “As iemand My wil volg, moet hy homself verloën, sy kruis optel en My volg” (Mark 8:34).

Nog nooit in die geskiedenis is so ’n skokkende beeld gebruik vir die navol­ging van enige leermeester of enige lering nie. Die beeld van kruis dra en kruisiging was eenvoudig te walglik. Kruis dra was immers sinoniem met ’n eerlose dood, vernedering en die finale uitwissing van jou goeie naam.

Tog gebruik Jesus presies hierdie skokkende beeld, hierdie einste een wat die kerk later so skaamteloos verromantiseer het.

Om alles te kroon, is Jesus self ook gekruisig. Sy kruis was definitief nie beskaafd en bloedloos nie. En beslis nie “dierbaar” nie. Dit was ánderkant wreed.

Die Nuwe Testament versag nooit en nêrens Jesus se kruisiging nie. Paulus noem dit in 1 Korintiërs skandalon (’n “aanstootlikheid”) waardeur God redding bring. In Galasiërs 3 verwys Paulus na die kruis as ’n vloekhout.

Die kruis is wel ook die plek waar God volgens Kolossense 2:14 ál ons sondeskuld aan die titulus bokant Jesus se kop vasgeslaan en afgeskryf het.

LEES OOK: Die goedheid van die God van Paasfees

Die vroeë kerk was diep onder die indruk van die skrikwekkendheid van Jesus se dood. Daardie mense het goed verstaan watter vernederende offer Hy in ons plek by Golgota gebring het. Dis dus geen wonder dat die kruis nooit as ’n uitkenningsimbool deur die eerste Christene gebruik is nie. Hulle het eerder die beeld van die goeie herder of ’n druiwetros of ’n vis as simbool gebruik.

Dit het meer as 300 jaar geduur voordat die kerk die kruis as amptelike simbool begin gebruik het. Eers ná keiser Konstantyn se droom aan die begin van die vierde eeu, waartydens hy ’n kruis gesien het, het dit die prominente Christelike simbool geword.

Die mak gemaakte kruis

Deesdae het die kruis so “mak” geword dat ons nie meer die gewig daarvan op ons eie skouers voel nie. Anders gesê: Ons dra nie meer ons kruis nie.

Ons kruis het so lig soos die spreekwoordelike veertjie geword. Dit is afgeskaal tot hiér ’n klein opofferinkie vir Jesus, en dáár ’n stukkie omgee (soos dit óns pas).

In die wêreld waar Jesus in die eerste eeu opgetree het, was kruis dra ondenkbaar vir enige normale mens. Om ’n kruis te dra, het net een ding beteken: Jy het álles verloor.

Presies só werk Jesus se kruis. Presies dít vra sy evangelie steeds van ons. Jy moet alles verloor om alles in Hom te vind.

Kruis dra is duur. Dit vra of jy bereid is om alles wat jou identiteit bepaal, vir Jesus in te ruil. Identiteit sluit dan in: jou ego, jou werk, jou veiligheid, jou goed beplande toekoms, jou vrese, vrae, planne, antwoorde. Indien nie, speel jy met vuur.

Jy kan jou siel verloor as jy verkeerd kies. En dit klink my na ’n gewigtige verlies, veral wanneer die Seun van God dit in Markus 8:35 sê. Slegs as jy besluit om die regte kruis te dra, begin jy om regtig in Jesus se nabyheid te leef. Dan weet jy dat Jesus se kruis jou enduit dra.

Daarom kan jy ook sy kruis met vreugde enduit dra.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img