Tuesday, June 22, 2021

Die liefde wat jou oë laat blink

DEUR RENÉ BADENHORST

Dis só lekker om te sien hoe my klein, grootoog-seuntjie tot ’n negejarige grootman uitgegroei het. Een wat nou baie meer dikwels sê: “Los my! Ek sal sélf!” In teenstelling met die vroeër jare se “help my!”

Soms kan ek maar net toekyk hoe hy in ’n “beter weet-oomblik” redelik droogmaak …

LEES OOK: ‘God het ’n aanneem-hart’

Dit laat my dink aan ons wat, soos Adam en Eva, ook dikwels eerder ons eie kop wil volg as om God se woorde te vertrou. Met die politieke en sosiale omwentelings wat die afgelope klompie dekades plaasgevind het, het ons ontdek dat baie dinge wat ons altyd geleer en waarin ons geglo het toe nié so was nie. Dat die waarheid ingewikkelder is, meer kante het.

Ook dié van ons wat “Christelik-Calvinisties” grootgemaak is, het meteens begin wonder: Wat ís die waarheid?

Dis ’n baie belangrike vraag in ons geestelike groeiproses. Ons kan tog nie bloot sê ons glo omdat ons so grootgeword het nie. Ongelukkig het baie mense, in die konfrontasie met die veelkantigheid en die besef dat vormgodsdiens nie voldoende is om dit te hanteer nie, hul geloof verloor.

LEES OOK: VIDEO: Ma se leuse na dogtertjie se dood: ‘As sý kon uithou, kan ék dit doen’

Dit was destyds ’n belewenis om die ommekeer in die mense van Suid-Korea se lewe te sien toe hulle, wat nie so grootgemaak is nie, vir die eerste keer ’n verhouding met die lewende God beleef het. Dit was asof daar ’n lig aangeskakel is, asof hul voorkoms verander. Hul oë het geblink en hulle het eenvoudig van blydskap oorgeloop vanweë die liefde wat hulle ervaar het.

Paulus skryf: “As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld ’n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik ’n wyse mens kan word, want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God” (1 Kor 3:18-10).

Soms moet ’n mens eers jou kop stamp voordat jy besef dat dit wat vir jou beter gelyk het, toe nié beter is nie. Diegene wat God persoonlik ken, en wat daarop vertrou dat sy Weg beter is vóórdat hulle eers moet seerkry, is beslis beter daaraan toe …

Wie bepaal jou siening van reg of verkeerd – God of die wêreld?

 BID SAAM MET MY

“Vader, my geloofskassie is al so geskud … Ek weet nie altyd hoe om te onderskei tussen wat reg en wat verkeerd is nie. Beskerm my asseblief teen ’n soort “mensgemaakte waarheid” en lei my in ú waarheid. By U is daar lewe, liefde en hoop. In Jesus se Naam. Amen.”Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img