14 April 2021


DEUR SIMONE GAUCHE

Ek doen my inkopies. Ek is haastig. My man pas kinders op by die huis. Wanneer ek terug is, moet ek aandete maak. Die kinders, reeds rasend honger, sal my soos aasvoëls omring. Dan moet ek hulle bad en in die bed kry.

My bui is nie van so ’n aard dat ek geselsies wil aanknoop nie. My kop is bésig. Die vrou voor my by die bakkery se toonbank lyk asof sy baie kan praat en ek is bang ek gaan met woorde toegegooi word. Haar lippe is baie rooi. Ek beskou dit as ’n gevaarteken. Wie weet wat sy met vyf Franse brode wil maak?

LEES OOK: VIDEO: ‘Wonderwerke soos ons s’n versterk ander se geloof,’ sê ma van ‘tweeling’

Ek en ’n ou tannie met yl grys hare gryp na dieselfde melkbottel. Ek gee dit vir vir haar aan. “Ag, dankie, my kind …” begin sy met ’n glimlag wat valstande ontbloot. Haar bloes lyk asof dit uit gordynmateriaal gemaak is. Haar reukwater is oorweldigend. Ek knip haar kort. “Plesier, Tannie! Lekker dag!”

By die vleistoonbank bestel ’n middeljarige man bees-stowevleis. Die lewe se stootskraper het diep slote in sy voorkop gegrawe. Hy bly frons. Dit lyk asof hy nie gesteur wil word nie. Hy vroetel baie met sy hande.

Die vrou by die kasregister lyk moeg. Sy vra vir my beloningkaart en vererg haar as ek sukkel om dit uit my beursie te kry. Haar gesigsuitdrukking sê: “Dis tog nie die eerste keer dat jy inkopies doen nie; hoe moeilik kán dit nou wees?”

“Ja, ek wil sakke hê, asseblief,” bevestig ek. Ek weet nie hoekom ek nie groener kan wees en onthou om my eie sakke te bring nie. Ek pak my inkopies in stilte uit die winkeltrollie. Sy gooi dit hard in die sakke.

Die parkeerwag keer my by die uitgang voor. Hy wil my trollie stoot. “Nee, dankie,” sê ek. Sy vel is donker gebrand en sy lippe gekraak. Ek weet nie of ek kleingeld het nie. Ek wens hulle kan snapscan aanvaar. “Mooi dag, nè!” sê hy. Ek wonder hoeveel keer het hy dit al vandag gesê.

Ek klim in my motor, slaak ’n sug van verligting. Ek draai die radio se klank af, ek wil in stilte huis toe ry.

My gedagtes maal terwyl ek Bybelstudie doen. Ek lees die verhaal van die vrou by die put. Jesus ontmoet haar waar sy met haar daaglikse verpligtinge besig is. Hy soek ’n aanknopingspunt uit haar alledaagse lewe en begin gesels. Sy is ’n Samaritaan, en die Jode wou niks met Samaritane te doen gehad het nie. Jesus ken haar storie. Hy weet van haar seer en haar tekortkominge. Hy kyk verby kultuur- en klasverskille. Hy bied haar water uit die lewegewende fontein aan, sodat sy nooit weer dors sou hê nie.

LEES OOK: ‘Ek emigreer en verloor my ma en sussie in een jaar: dít het my gedra’

Ek verbeel my … die vrou by die bakkery se man verneuk haar met die buurvrou. Sy voel bedrieg en oorkompenseer omdat sy nie geliefd voel nie.

Ek verbeel my … die tannie wat die melk gekoop het se man is ’n maand gelede oorlede. Sy is eensaam.

Die man by die vleistoonbank het sy onderneming weens Covid-19 verloor en weet nie hoe hy sy werknemers kan help nie. Hy voel angstig en oorweldig.

Die vrou by die kasregister het vier kinders by die huis. Sy het groot drome gehad maar was 15 jaar oud toe sy swanger geraak het. Sy het voor sy werk toe gekom het ’n aaklige woordewisseling met haar oudste gehad.

Die parkeerwag gee eintlik nie om vir my kleingeld nie; hy wil net voel iemand sien hom raak, erken sy menswees. Hy is moeg vir oë wat oogkontak vermy.

Eensklaps besef ek weer dat wonderwerke in die loop van ’n normale dag gebeur. Die oomblikke wat ek nie as belangrik ag nie, is dalk belangriker as my lysie dinge wat gedoen moet word.

Jesus sien my. Hy ken my. Hy het my onvoorwaardelik lief. Hy ontmoet my waar ek ook al is. Dalk sal ek Hom misloop as ek nie werklik kontak met ander maak nie. Dalk kon ek vandag vir iemand anders Jesus gewees het.

Lees uit die Woord: Johannes 4

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die grondslag lê vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *