Tot die dood ons skei. Hierdie wedersydse belofte impliseer dat geliefdes mekaar tot in hul laaste dae sal bystaan en op ’n waardige wyse wil groet. Die Covid 19-pandemie en die gepaardgaande reëls het mense hiervan ontneem. Vele sterf nou alleen. Hoe kan ons hierdie onreg hanteer en verwerk?

DEUR SUSAN GOOSEN

Die dood van ’n geliefde is ’n harde werklikheid, en daarom het ons deur die jare gepaste rituele geskep om mekaar se laste in so ’n tyd te help dra: Wanneer ons vir ’n roudiens byeenkom, staan ons saam, huil saam, bid saam, drink saam tee en vier deurentyd ons hartsmense se nagedagtenis. Nou, met die uitbreek van die Covid 19-pandemie, is alles eensklaps anders.

Dis wreed

“Dis hartverskeurend.”

Só beskryf Carissa Bosman die belewenis tydens haar ouma se dood en begrafnis in die grendeltyd. Haar ouma is vroeër vanjaar ná ’n siekbed in ’n tehuis vir bejaardes oorlede. “My ouma was al oud en sy het baie na my oorlede oupa verlang. Ons familie wou nie graag hê dat sy langer ly nie. Ons hartseer lê egter in die feit dat ons haar nie in die laaste maande van haar lewe kon ondersteun nie, nie eens na haar toe kon gaan nie, selfs toe sy sterwend was.

LEES OOK: ‘God verhoor ons gebede, klein en groot,’ sê pensionaris

“Alhoewel sy nie aan Covid 19 dood is nie, was dit indirek ’n oorsaak van haar dood. Die inperking het haar ontneem van die enigste ding wat nog vir haar saak gemaak het: die liefdevolle ondersteuning van haar familie. Ons laaste besoek aan haar was op Moedersdag, en dit moes deur die hek van die tehuis plaasvind.

“Wanneer ons vandag na daardie foto’s kyk, voel dit vir ons asof sy in ’n tronk was. Dit moes haar moed gebreek het.

“Die begrafnis was noodwendig klein en ons kon mekaar nie fisies ondersteun nie. Of selfs oor my ouma, vir wie ons so lief was, onbevange gesels nie. Ek is nie seker of ons die omstandighede rondom haar dood ooit heeltemal sal kan aanvaar of verwerk nie.

“Hierdie virus beïnvloed ons op elke vlak, en alhoewel ek sekerlik mettertyd meer vrede sal ervaar, sal ons altyd met hartseer onthou dat ons laaste tyd met my ouma van ons gesteel is. Ons verlies is groot.”

Anelia Heese skryf só vanuit Nürnberg in Duitsland oor hul familie se rou in hierdie tyd ná haar oupa se afsterwe: “Grendeltydhet ons van afskeid en bystand beroof. Nie net vir my nie, maar ook vir my ouma, sy reisgenoot oor ses dekades heen. En vir sy kinders, ander kleinkinders, sy vriendekring en gemeenskap. My ouma kon net vinnig by die hospitaal vir oulaas haar elmboog teen syne druk. Dit voel net so onregverdig.”

Anelia het die huldeblyke aan haar oupa op stemboodskappe versamel sodat die uitgebreide familie, oor die wêreld versprei, saam na die oudiodiens kon luister.

“Maar,” sê sy,“’n virtuele gedenkdiens is nie ’n plaasvervanger vir die fisiese nabyheid van ons geliefdes nie. Dit het wel aan ons die geleentheid gebied om in die
spreekwoordelike kring te sit en my oupa se nagedagtenis met mekaar te deel. Terselfdertyd dien dit as ’n unieke aandenking vir die pad vorentoe.”

Om in dié tyd te rou

Elizabeth Kübler-Ross het die rou-fases só uiteengesit: skok en ontkenning, woede en skuldgevoelens, onderhandeling, depressie en, uiteindelik, aanvaarding.

“Hierdie fases vind nie noodwendig chronologies plaas nie, en dit wissel in intensiteit,” sê ds Ian Dubery, predikant by die Moreletapark-gemeente.

“Elke mens hanteer die rouproses op ’n eie manier – maar hoewel dit uniek en persoonlik is, is dit nie veronderstel om ’n alleenproses te wees nie. Die onsekerheid wat met die grendeltyd gepaard gaan, kan hierdie fases en prosesse beïnvloed, juis omdat baie mense nie toegelaat word om teenwoordig te wees wanneer hul geliefdes sterf nie. Dit kan selfs opstand en woede meebring teenoor diegene wat bepaal het wat toelaatbaar is en wat nie.

“Ons moet boonop gewoond raak aan roudienste wat op sosiale platforms plaasvind. Alhoewel dit mense wat ver woon die geleentheid gee om hieraan deel te hê, kan dit as koud en onpersoonlik beleef word.

“Feit is: Dis ’n onseker tyd wat ons dwing om aan te pas en nuwe maniere te vind om met ons gevoelens om te gaan. Ons kan dit eintlik as ’n rouproses binne ’n rouproses bestempel.”

Die tameletjie met tehuise

Tehuise vir bejaardes is sedert die begin van die landwye inperking in ’n grendelstaat, juis om ouer mense, wat meer vatbaar vir die virus is, te beskerm.

Dr Okert Stander, hoof van Huis J J Watson in George, verduidelik iets van die impak wat so iets op die moraal van die inwoners het: “Ouer persone wat in versorgingseenhede beland, beleef gewoonlik dat hulle minder beheer oor die verskillende aspekte van hul lewe het. Dis vir baie mense baie moeilik om hieraan gewoond te raak. Daar is byvoorbeeld vasgestelde tye vir etes, vermaak of besoektye.

“Toe, in Maart vanjaar, kom daar eensklaps ’n totale omwenteling. Daar was ’n nuwe stel reëls en selfs ’n nuwe woordeskat waaraan almal gewoond moes raak. Die ‘nuwe normaal’ beteken dat ouer mense ontneem is van die besoeke van familie en vriende, en van die geleentheid om kerk toe te gaan.”

Okert reken dat tehuise, benewens die inwoners se fisiese versorging, ook hul geestesgesondheid op die hart moet dra.

“In baie gevalle word daar baie sterk op die sigbare maatreëls gefokus – die dra van maskers, die handhaaf van interpersoonlike afstand en die gebruik van handreinigers – sonder dat die inwoners by enige van dié besluite betrek is.

“Daar is dus vir die fisiese versorging voorsiening gemaak, maar dalk het dit ten koste van die sielkundige en geestelike versorging gebeur. Vir baie inwoners was die skielike en ingrypende veranderings vreesaanjaend, en dit het hulle angstig en depressief gemaak.

“Ek reken dat, net soos daar sekere protokolle vir die inwoners se fisiese gesondheid geskep is, daar soortgelyke maatreëls gevolg moet word wat op hul geestelike en sosiale welstand fokus.”

Ian moedig families aan om in hierdie tyd nuwe maniere te vind om in kontak met hul geliefdes te bly en mekaar te ondersteun. “Dit gebeur maklik dat al die nuwe reëls en regulasies ons van mekaar afsny. Fisiese kontak met jou gesinsmense is baie belangrik, indien almal natuurlik gesond is.

“Dra sorg dat jou geliefdes wat nie by jou is nie weet dat jy vir hulle lief is en aan hulle dink. Stuur boodskappe wat sê: ‘Jy bly baie kosbaar.’

“Ons gaan in die tyd wat voorlê alternatiewe maniere moet soek om geborgenheid te ervaar. Hierdie virus beklemtoon weer hoe broos ons is en maan ons om elke oomblik te koester. Om steeds inspraak in mekaar se lewe te hê en mekaar geliefd te laat voel.

“Verhoudings bly een van die belangrikste aspekte in ons lewe. In plaas daarvan dat die pandemie dit steel, moet ons alles moontlik in die werk stel om hierdie verhoudings op alternatiewe maniere te bou en te versterk.

Is aanvaarding moontlik?

Ian sê: “In sy tweede brief aan die Korintiërs herinner Paulus ons daaraan dat ons swaarkry op aarde net tydelik is, en dat ons die oog moet vestig op dit wat ewigheidswaarde het.

“Vir mense wat ’n verhouding met die Here het en wat sy hart ken, sal die finaliteit van ’n geliefde se afsterwe steeds swaar wees, maar hulle vind hul hoop en vrede in Hom. Hierdie hoop en vrede, wat ons deel is deur die Heilige Gees wat in ons woon en werk, geld in alle omstandighede en gaan alle verstand te bowe.

“Ons hoop lê dus in Hom wat Liefde is. Al kan ons dalk nie in dié tyd gesonde afsluiting kry wanneer ’n geliefde sterf nie, troos dit ons om te weet dat God ons die reg gegee het om sy kinders te wees. Deur Jesus se versoeningsdood is ons hemelse Vader by ons geliefdes, ook as ons nie daar kan wees nie.

“Sal ons op dié manier noodwendig afsluiting en aanvaarding kry?

“Dalk nie. Maar ek kies om verby ons aardse woning se tentpenne te kyk – en dan weet ek: Dit gaan nie noodwendig oor my afsluiting nie; eerder oor my insluiting in die verhouding met die lewende Here. Dit gaan oor sy aanvaarding van my as sy kind, met al my gebrokenheid, seer en verliese.

“En so leer ken ek op ’n ander, dieper vlak die Vaderhart van God.”

• Anelia Heese het ’n webwerf tot stand gebring waarop sy ander begelei wat in hierdie tyd deur middel van virtuele roudienste van geliefdes moet afskeid neem.
Besoek www.herklink.co.za vir meer inligting.

• Kontak dr Okert Stander by okert.stander@absamail.co.za vir verdere wenke aangaande die geestelike en sosiale versorging van mense in tehuise vir bejaardes.

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail