Die onsigbare las van Covid: Was dit mý skuld?

DEUR SIMONE GAUCHE

Johan* is 18 jaar oud. Hy woon by sy ouers. Sy ouma woon by hulle in die huis. Sy ma pleit by hom om sosiale kontak te vermy en sy hande gereeld te was. Hy glip egter gereeld uit die huis om te gaan partytjie hou. Op ’n dag word sy ouma met Covid-19 gediagnoseer. Later sterf sy.

Ds Taljaard* is reeds 30 jaar lank leraar by dieselfde gemeente. Een van die gemeentelede met wie hy al ’n lang pad kom, word in die hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem. Hy het erge Covid-19-verwante simptome,  en hy sterf. Ds Taljaard kon hom nie in die hospitaal besoek nie.

LEES OOK: ’n Muur van vuur om Kleinmond-dominee

Tania en haar man* probeer reeds drie jaar lank swanger raak. Oplaas is die swangerskaptoets positief. Tania word egter met Covid-19 gediagnoseer en word ernstig siek. Sy herstel, maar sy verloor die baba.

Esther en Dirk* het onlangs hul goue bruilof gevier. Dirk het hartprobleme en het voltydse versorging nodig. Tydens die grendeltyd het hy byna nooit uit die huis gekom nie. Esther sien mooi om na hom, sy doen ook al die inkopies. Een maal per week gun sy haarself ’n koppie tee saam met ’n klompie vriendinne. Sy voel sy het dit nodig om ’n bietjie uit te kom, te gesels, te ontlaai. Op ’n dag word sowel Esther as Dirk met Covid-19 gediagnoseer. ’n Week later sterf Dirk.

Johan, ds Taljaard, Tania en Esther ken mekaar nie. Deesdae deel hulle egter een emosie – diep skuldgevoelens. Hulle dra swaar aan hierdie las. Hulle sleep dit oral met hulle saam. Hulle herken dit nie as skuldgevoelens nie, want dit kom na vore as hartseer, lusteloosheid, ’n gevoel van hopeloosheid.

Soms is hulle net kwaad, of bitter. Hulle soek gereeld iemand wat hulle kan kwalik neem. Hulle slaap sleg, hulle eet sleg, hulle vermy ander mense. En hulle wil niks van die Here weet nie.

Partykeer soek hulle troos in ’n hand vol kalmeermiddels, of ’n bottel drank of twee.
Hulle word getreiter deur “wat as …?” en “as ek maar net …” en “ek wens ek kon …”
Hulle is bang om hul gevoelens met ander te deel; sê nou hulle word veroordeel …

Almal is met Covid-19 se algemene simptome bekend – keelseer, verlies aan reuk en smaak, verkoue- of griepsimptome. Ek kry egter dikwels ook met die simptome van skuldgevoelens te doen.

LEES OOK: Ondersteun mense met Covid-19 eerder só

Ons het in dié tyd genade nodiger as ooit – genade vir onsself en vir ons medemens. Dit beteken nie ons moet onverskillig of onverantwoordelik wees nie, maar ons moet leer om onsself te vergewe.

Kortweg: Ons moet gesonde maniere vind om hierdie skuldlas te dra.

Wat staan jou te doen as jy ’n slagoffer van skuldgevoelens is?

* Jy moet leer om dit te herken, te erken en daaroor te praat. Ontkenning is ’n ongesonde manier om met jou skuldgevoelens om te gaan. Hoor wat skryf Johannes: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid”
(1 Joh 1:8-9 ).

* Jy moet ook nie jou aandeel aan ’n ellendige situasie té groot maak nie. Dit mag wees dat jy nie alle kontak met ander vermy het nie, maar jy het niemand doodgemaak nie. Daar is geen manier om te weet waar iemand anders aan die virus blootgestel is nie. Jy kan dus nie in jou kop besluit om iemand se dood vir jou rekening te neem nie.

* Jy moet besef jy kan nie vergifnis verdien nie. Dis goed om ’n beter mens te probeer wees, maar “probeer” is nie ’n plaasvervanger vir die erkenning en verwerking van skuldgevoelens nie. Ons is onvolmaakte mense, ons sal nooit ons skuldgevoelens kan “weg-probeer” nie.

* Jy moet om vergifnis vra, en jy moet jouself vergewe. Jesus het vir ons sondes gesterf en al ons skuld op Hom geneem. Paulus skryf: “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom 5:1).

* Ons moet mekaar ondersteun. Ons mag mekaar nie oordeel of veroordeel nie. Weer Paulus: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom 8:1).

*Jy moet vashou aan die waarheid dat God ons liefhet soos ons is. Ons hoef nie sy liefde te verdien nie. Die prys vir daardie liefde is reeds betaal. Paulus skryf: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom 5:8).

* As sulke skuldgevoelens herhaaldelik terugkeer, moet jy dit erken en dit vir God gee. Soms help ’n mooi gedagte of ’n Bybelversie ons om ons te help onthou dat Jesus ons verlos het en dat Hy ons sy vrede gee.

* Jy kan met ’n dankbare hart lewe. Sê gereeld: “Dankie, Here! Dankie vir vergifnis en vryspraak.”

* Jy moet werk aan jou verhouding met God as jy jou aan Hom onttrek het omdat jy skuldig voel. Jesus het volledig mens geword; Hy het medelye met ons. Die Hebreërsskrywer onderstreep dit wanneer hy sê: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb 4:15-16).

* As ons kinders het, moet ons sensitief wees vir die moontlikheid dat hulle om die een of ander rede dalk te veel skuld op hulleself gelaai het. Sorg vir eerlike gesprekke hieroor.

* As jy reken dat jy nie alleen deur hierdie gevoelens kan werk nie, roep professionele hulp in.

Die pandemie het gekom en dit sal hopelik eendag finaal weggaan. Maar die littekens sal nog lank met ons wees.

Plaas ’n boekmerkie by Romeine 5–8. Dit sal jou help, en troos, en gereeld aan God se goedheid herinner.

* Al die name is fiktief. Sommige van die onderskeie situasies is wel op die werklikheid gegrond.

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img