DEUR ESME BERNARDO

Dit is Junie 2007. Ek en my man Herman Whielers is by ’n oogspesialis nadat hy die hernuwing van sy motorlisensie nie geslaag het nie. Die dokter gee sy diagnose – my man het ’n rare oog distrofie en sal binne vyf tot ses jaar blind wees.

Om die hartseer te verwerk

Die woorde “oog distrofie” maal deur my kop rond. Ons ry in stilte huis toe. Ek begin navorsing doen en die hartseer en vrees omvou my. Herman sê nie ’n woord nie.

Na 23 jaar in die SA Nasionale Weermag het Herman bedank en by BMW begin werk om nuwe karre te toets voor dit uitgevoer word. Nou het ons die nuus van sy oë ontvang. Dit was ’n risiko om in hierdie beroep aan te hou werk. Die bestuur van BMW was tegemoetkomend en het hom toegelaat om die motors onderdak te toets. Die groot vyand van hierdie oogsiekte is sonlig, die keëltjies agter die oog gaan dood en kan nie meer lig filtreer nie, dus sien jy nie in sonlig nie.

Esme Bernardo vertel van die geloofspad wat sy met God gestap het.

My man se geloof wankel

Sy gehoor het ongelooflik verbeter en mettertyd kon hy foute by karre optel deur net na die enjin te luister. Maar ongelukkig gaan die land deur ’n resessie en al die mans wat motors toets, word afgedank. Ons soek verwoed vir hom werk, maar dit sukkel. Ek het ’n tydelike werk. Ons is op ons knieë.

My man se geloof wankel en hy het baie vrae. Hy begin die Bybel bestudeer – elke dag – om antwoorde te kry. Daar is nie genoeg geld om ons huisverband en rekeninge te betaal nie.

Ek is so oorweldig deur die situasie en dink nie eers aan my geloof nie. Ek probeer my man motiveer, ek kontak die Blinde Biblioteek om vir hom ’n masjien te stuur om na Bybel CD’s te kan luister.

Daagliks bid Herman oor elke rekening wat hy op die bed uitpak.


Lees nog getuienisse hier.


Geskenke van Bo

Ons buurman vra ons om aan te sluit by hulle Bybelgroep. Ons kry baie liefde, gebede en ondersteuning van die groep. Daar is ’n jong meisie in die groep ook met ’n oogsiekte en sy vertel ons van ’n ondersteuningsgroep vir mense met gesiggestremdheid, Retina SA.

Ons sluit die volgende week by Retina SA aan en binne die volgende paar maande word Herman verkies tot Voorsitter van die Gauteng-Noord area.

God lê dit op verskeie mense se hart om ons te help met kos. Party mense bring vleis, ander bring groente en ’n vriendin bring maandeliks kruideniersware.

Op ’n dag vra die Bybelgroep vir ’n lys van ons uitgawes en bedrae uitstaande op ons kredietkaartrekening. Die uitstaande bedrag op die staat was R 32 000. Ek gaan later bank toe en hulle sê vir my die finale bedrag is R 2 000.

Ek vra die dame by die bank om seker te maak oor die bedrag, haar antwoord is, “Mevrou, aanvaar dit as ’n geskenk van Bo.”

Binne twee weke is al ons skuld afbetaal deur middel van die Bybelgroep en mense van die kerk en ons krediet rekord is heeltemal skoon.

God is gróót

My man kry ’n werk by ’n vleisverspreider as ’n algemene werker. Hy werk saam met 23 mans en gesels gereeld met hulle oor die Bybel en oor God. Herman stuur daagliks vir familie en vriende gebede as hulle deur ’n moeilike tyd gaan. Die Here werk waarlik deur hom.

“’n Week voor my man se dood gesels ons oor hoe God ons bewaar het,” vertel Esme.

Herman sterf op 10 Julie 2013 aan ’n hartaanval. God het hom daarvan gespaar om totaal blind te word voor sy afsterwe. Toe ek sy goedjies oppak in die hospitaal ontdek ek in sy broeksak ’n wit klip waarop hy geskryf het: EK GLO IN GOD.

’n Week voor my man se dood gesels ons oor hoe God ons bewaar het. Ek sê vir hom dit is nog net die huis wat betaal moet word. Sy antwoord daarop was dat hy en God ’n ooreenkoms het. Die huisverband word na Herman se dood afgelos as gevolg van versekering wat ons op die huis het.

Ek sal nooit weet wat presies die ooreenkoms tussen Herman en God was nie, maar ek weet dat God in beheer is van ons daaglikse lewe.

God is gróót en het my intussen ook geseën met ’n nuwe lewensmaat.


LEES OOK: Parkinsons: ‘Ek kon niks vir myself doen nie, nou is ek genees’

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail