November 2016


Die nuus dat haar sesjarige kleinseun kanker het, het Estienne Lingenfelder se lewe eensklaps op sy kop gekeer. En tog, deur al die trauma en onsekerheid heen, getuig sy sonder ophou van God se liefde en genade.

DEUR RENÉ BADENHORST

“My skoonma het altyd gesê: ‘Elke huis het sy kruis’. Met my goeie, geseënde lewe het ek gedink dat ek van hierdie spreuk gevrywaar sou wees. Min het ek geweet dat daar op 64 die swaarste kruis denkbaar voor my neergesit sou word, en voor ons hele huis.”

Só vertel Estienne Lingenfelder op Rustfontein, die prag-plaas buite Villiersdorp in die Boland waar sy en haar man Albert en hul drie seuns woon en boer.

LEES OOK: ‘Of ek lewe of sterwe, ek behoort aan God’ – Covid-lyer

Sy sal 11 Maart 2016 altyd onthou. Dit was die dag toe hulle die nuus ontvang het dat klein Pieter, hul seun Francois en sy vrou Leatitia se eersteling, met ALL (Akute Limfoblastiese Leukemie) gediagnoseer is.

Estienne verkies om dit bloot “báie siek” te noem. Énigiets, net nie die gevreesde k-woord nie …

“Waar was U?”

Vir ’n ouer is ’n kind se pyn bitter erg; vir ’n grootouer is dit onbeskryflik, sê Estienne. “Ek bedoel: Hoe troos jy jou kinders as jou eie hart gebreek is?”

Sy ouma het hom, vandat hy vier maande oud was, vier dae per week versorg. Daardie liefste lyfie sou nou aan naalde en pyn blootgestel word. En chemoterapie, met sy ongenaakbare newe-effekte. En lumbale punksies en beenmurg-toetse.

Pieter saam met sy ma Leatitia, pa Francois en sy sussie Lisa, voor kanker oor sy pad gekom het. Foto’s: Hanno Coetzee

Die een dag speel hy nog ewe vrolik saam met sy maats, skynbaar blakend gesond. Die volgende dag is hy ’n pasiënt in ’n pediatriese onkologie-saal. En, om infeksies te verhoed, ook geïsoleerd, weg van al sy maats.

“Daardie eerste dae het ek net ontkenning beleef, en ongeloof, érge hartseer en jammerte,” vertel Estienne. “Ek het die nagte omgehuil, gebid en gesmeek.

“Daarná het die woede gekom, en ek het telkemale gevra: ‘My God, my God, waarom het U ons Pieter verlaat? Hy is ’n onskuldige klein sesjarige seuntjie. Hy het sopas graad R begin, hy het nog nie kans gehad om regtig te lewe nie. Hy het nog geen sonde gedoen nie. Hy ken nie eens ’n vloekwoord nie!

“‘Here,’ het ek gevra, ‘kon U hom nie teen die aanslag van Satan beskerm nie? U is ’n magtige God – maar waar was U toe Pieter U nodig gehad het?’

“In al daardie lang, slapelose nagte het ek ’n plan uitgewerk. Ek het dit só voor God gebring: ‘Here, kan ék nie asseblief in Pieter se plek kom staan nie, asseblief? U het my ’n vol en gelukkige lewe gegee. Ek is tog ’n BBB-ouma, en ek kan kom bid en bak en brou daar in die hemel. Ek kan daar Bo nog baie hard werk!’

“Maar daar was net stilte. Ek het niks gehoor nie.”

“Ek kan getuig …”

“Ek het besef ek beweeg in ’n doolhof. Dit sou moes verander. Ek sou voortaan al my krag moes gebruik om vir my kleinkind se genesing te bid en te smeek.

“Dit was my roeping. Dit was nog nie my tyd om dood te gaan nie …

LEES OOK: Anzél: ‘Sonder my ma is ek niks’

“Ek het toe besef dat my gereelde kerkbywoning, my Bybellees en bid nie genoeg is nie. Ek moes ’n persoonlike verhouding met God hê.

“Toe het ek my sonde voor Hom bely. Ek het Hom gedank, geloof en geëer dat Hy my Saligmaker en Verlosser is, én omdat ons elke dag soveel onverdiende seën uit sy Vaderhand ontvang.

“Nou kan ek van ’n ontmoeting met die Heilige Gees getuig. Hier is ek verseker dat God ons nooit sal begewe en nooit sal verlaat nie. Ek kon hoor dat Pieter ’n instrument in sy hande is. En dat Hy groot planne vir hierdie kosbare seuntjie het.”

Toe kom Facebook

Die nuus oor Pieter se siekte het gou deur die dorp versprei, en die hele gemeen­skap het begin bid. Mamma Lea­titia se sussie, Taletha van der Merwe, het ’n gebedsgroep vir Pieter op Facebook geskep.

En daar is aan ouma Estienne gevra of sy dit sal administreer.

Dit was ’n uitdaging soos min. Estienne het alles geweet van elke middag se heerlike kos vir die hele familie, en van die plaas se boekhouding. Maar nou moes sy ’n Facebook-blad administreer.

“Ek het bloedweinig daarvan geweet,” erken sy. “Maar ek het dadelik ingestem om dit te doen.”

Pieter

Nou deel sy allerlei nuusbrokkies op dié Facebook-blad. Ook gediggies en kort gebede vir haar kinders en al die kleinkinders.

Natuurlik is die fokus op klein Pieter. Sy plaas gebede vir hom en vir die mense in sy lewe. Al die inskrywings op dié blad getuig van ’n God wat ’n gesin bystaan. Wat hulle deur al die angs en pyn dra.

Die inspirasie vir die treffende gebede kom uit ’n spesiale Bybel. Estienne se oorlede ma, Elsie, se verslete ou Bybel. Wat sy naby haar hou, elke dag.

“Oral waar ek dié Bybel oopmaak, kan ek haar handskrif sien. En dit is so … asof sy geweet het. Oral is die ‘regte’ teksverse gemerk – dié wat vra vir krag; dié wat hoop en bemoediging gee. Dié wat vol dankbaarheid is. Al die beloftes, die smekinge …”

Dit is aan hierdie waarhede wat Estien­ne styf vashou, en dit is vanuit hierdie oortuiging dat sy Facebook-boodskappe aan die saambidders stuur. Daar is onder andere ’n boodskap wat só lui: “Wanneer onverwagse dinge gebeur en die pad lank en moeilik voel, en jy wil glimlag maar daar kom net ’n groot sug en dit voel asof alles net te veel is – bid en rus as jy moet, maar moet nooit tou opgooi nie! Liewe Jesus is mos aan ons kant.”

Hierdie Facebook-blad is regoor die wêreld gedeel en mense uit Duitsland, Nieu-Seeland en die VSA bid nou saam. Die aantal “likes” het gou-gou op 4 900 te staan gekom.

LEES OOK: Kyk: ‘Ons is op aarde geplaas om mekaar te ondersteun’

Daar is wonderlike getuienisse. Estienne vertel: “Mense wat hul rug na God gedraai het, het na Hom toe teruggekeer. Daar is ’n vriend in Engeland wat vertel hoe hy tien jaar laas gebid het. En hoe Pieter se storie hom getref het, en hoe hy na God teruggekeer het.”

Deesdae bid hy elke dag vir Pieter. En Estienne sê: “God het my gewys dat mý siekte en heengaan – waarvoor ek vroeër gevra het – nooit die impak op die wêreld sou hê wat Pieter se storie nou het nie.”

“Almal kyk na die kruis”

Dié huis se swaar kruis – Pieter se onverwagse siekte, en maande lange traumatiese behandeling – het die bewoners daarvan van baie dinge gestroop, maar hulle in baie opsigte ook sterker gemaak.

Ouma Stien, soos klein Pieter haar noem, straal van trots as sy vertel van al Pieter se pittige sêgoed. Sy sagte hart.

Én van die enorme invloed wat hierdie familie se pad op ’n hele gemeenskap gehad het.

Ouma Estienne

Ouma Estienne, wat voorheen ’n netjiese kapsel gedra het, is nou gemaklik met haar kortgeskeerde hare. Sy vertel van vriende en simpatieke vreemdelinge wat ook hul hare afgeskeer het – en dit alles by ’n fondsinsamelingsgeleentheid vir ander siek kinders in die gemeenskap. Juis ook vir dié wat nie so bevoorreg is om die hoë mediese koste vir die behandeling te kan dra nie.

Daar is in dié gemeenskap mense uit alle tale en kulture wat God se hande en voete geword het. Wat sy troosboodskap uitdra. Deur die werking van sy Gees kan hulle nou na ander gesinne uitreik wat dieselfde soort hartseer en trauma deurmaak.

Estienne deel graag die verhaal van klein Pieter se droom. En hoe hy dit vir haar vertel het: “Op ’n dag het hy bloot op my skoot kom sit en gesê: ‘Wanneer ek gesond is, wil ek al die mense wat vir my gebid het nooi om op die plaas te kom kuier. Dan sal ons ’n groot kruis plant. En dan sal ons vir Jesus saam loof en prys.’

“Hy het ook ’n prentjie van sy droom geteken; dit pryk nou teen die yskasdeur. Daar is ’n klomp mense op die tekening, en ’n groot kruis in die middel. Almal kyk na die kruis.”

Ouma Estienne se Facebook-briefie aan haar kleinseun

Liefste klein Pieter, ons hartseer oor jou swaar kruis sal nooit weggaan nie. Ons bid dat God al die seer en pyn van die chemo uit jou geheue sal wis. Maar Ouma sal jou help om te onthou van die Groot Wonderwerk in jou lewe.

Almal sal jou aanspoor om sy getuie vir die wêreld te wees, want Hy is ’n lewende God, Hy doen wonders.

Jy is ons Dawid, Josua, Simson, ons vegtertjie, ons yster. Ja, jy is ’n voorbeeld vir alle mense van hoe ’n Jesus-soldaatjie lyk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *