DEUR HALRIKA BREYTENBACH

Ek druk die knoppie behaaglik en luister hoe die water gorrelend inloop. Dan sing die masjien sy vrolike deuntjie en begin saggies dreun. Ek betrag hierdie stuk metaal met bewondering – my geliefde skottelgoedwasser.

Vyftien jaar gelede, na een jaar se getroude lewe, het ek en manlief ons bonusse saamgesnoer om dié luukse toestel aan te koop. Skottelgoed was kan nogal ‘n lelike demper op die huwelik se wittebroodsfase plaas. Daarom het ons besluit dat hierdie luuksheid ‘n noodsaaklikheid in enige huishouding is.

Ek was glad nie verbaas toe ek onlangs raaklees dat ‘n ene Josephine Cochrane, nogal ‘n vrou, die eerste effektiewe skottelgoedwasser in 1886 ontwerp het nie. As dogter van John Fitch, die uitvinder van stoomskepe, het sy oor ‘n goeie dosis ingenieursvernuf asook die nodige kapitaal beskik om met haar ontwerp te woeker.Skottelgoedwasser

Haar weergawe van ‘n skottelgoedwasser het voortgebou op die eerste patent van ‘n skottelgoedwasser wat in 1850 geregistreer is, maar onsuksesvol was in die uitvoer van een belangrike takie: om die skottelgoed skoon te kry.

Josephine se skepping was egter die eerste effektiewe outomatiese skottelgoedwasser – baanbrekerswerk in ‘n klas van sy eie.

As ek vandag kyk na my moderne skottelgoedwasser, wat my ure voor die opwasbak spaar, is dit met groot dankbaarheid teenoor Josephine dat ek die masjien sommer vandag ekstra blink poets. Maar veral met ekstra dankbaarheid teenoor ons kreatiewe Skepper wat mense so slim en besonders gemaak het.

Om te dink dat Hy reeds 134 jaar gelede geweet het dat, toe hierdie vernuftige dame die skottelgoedwasser ontwerp het, so ‘n masjien ook in my huis sou staan! Om te dink dat Hy alreeds voor die grondlegging van die aarde geweet het sy gaan hierdie masjien ontwerp, omdat Hy die planne daarvoor in haar ingeweef het.

Om te dink dat voor my geboorte al, Hy reeds geweet het waar ek vandag gaan woon, met wie ek getroud gaan wees, hoe my kinders gaan lyk en watter begeertes in my hart is.

Om te dink dat Hy ook reeds toe al geweet het dat ons vandag reeds 33 dae veilig en gesond ingeperk sal wees in ons leefhuisie, saam met ons geliefdes.

Hierdie dagstukkie is deel van ‘n reeks. Ander dagstukkies:

Horisonne en dankbaarheid

Stories, prinsesse en dankbaarheid

Juwele, ‘n nuwe normaal én dankbaarheid

Dit het Hy alles geweet. Ook dat die wêreld in 2020 lamgelê sou word deur Covid-19 wat verwoesting veroorsaak deur siekte en dood, armoede en ‘n steierende wêreld-ekonomie.

Maar getrou aan Wie Hy is, sal Hy ons hierdeur dra. Soos met alle rampe wat ons voorvaders al beleef het – van die Israeliete se uitdagings tot die Groot Griep. Soos vir hulle, sal Hy ook vir ons alles ten goede laat meewerk. Want ons het Hom lief. En dit is die belofte wat Hy maak vir al sy kinders wat Hom liefhet.

Vanaand skryf ek drie dinge in my dankie-sê brief vir ons dankbaarheidsfles. Ek sê dankie vir my Almagtige Skepper wat my pad ken nog voordat ek gebore is. Ek sê dankie vir ‘n getroue God wat alles ten goede vir my sal laat meewerk. En ek sê dankie vir my geliefde skottelgoedwasser.

U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.- Psalm 139:16

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Romeine 8:28

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail