21 Januarie 2021


Dit gebeur soms dat vrese wat uit jou kinderdae kom na jou huwelik oorspoel. Finansiële probleme, emosionele mishandeling, die ontrouheid van ’n maat – dis alles moontlike voorbeelde hiervan. Die vraag is: Hoe verhoed jy dat persepsies wat jy as kind gevorm het jou huwelik kelder?

DEUR ILETTE COETZER

Sanet* se pa het jare lank ver­skeie buite-egtelike verhoudings gehad. Die patroon het deurentyd dieselfde gebly: Hy sou om verskoning vra, en ’n paar maande lank sou dit beter gaan. Totdat hy weer iemand anders ontmoet …

Sanet het haarself belowe dat sy dit nooit in haar eie huwelik sou toelaat nie.

Haar vrees vir ontrouheid het egter tot gevolg gehad dat sy haar man sonder rede bly wantrou het. Sy het sy foonrekords gereeld nagegaan, en was agterdogtig oor ’n onskuldige kuier saam met kollegas. Dit was vir haar moeilik om hom ten volle te vertrou.

Sanet se vrese en besitlikheid het egter ná net vyf jaar die einde van haar huwelik beteken.

Ontrouheid is maar een voorbeeld. As jy as kind finansieel swaargekry het, is dit dalk moeilik om as volwassene ’n oop hand te hê. Dit kan ook konflik in jul huwelik veroorsaak as jy reken jou wederhelf gee te veel geld op “onnodige dinge” uit.

’n Selfvervullende profesie

Irene Haasbroek, ’n multidissiplinêre praktisyn in Kimberley, sê vrees is ’n emosionele reaksie, dis die produk van gedagtes wat jy skep – of dit nou op feite gegrond is of nie.

Uiteindelik het dit ’n sterk reaksie in jou liggaam tot gevolg. Jy sal byvoorbeeld angstig raak as jou man laat by die huis kom en jy bang is dat hy met ’n kollega geflankeer het.

Dit gebeur ook dat jou gedagtes heeltemal op loop gaan en jy erge scenarios visualiseer wat gewoonlik weinig met die werklikheid te make het.

Irene sê: “Ons maak almal aannames wat ons, onder meer, uit ons kinderjare oorgeneem het. Hierdie oortuigings beïnvloed ons gedrag, bewustelik of onbewustelik. En met verloop van tyd word dit deel van wie ons is.”

Ons vrese word dan uiteindelik ’n selfvervullende profesie. “Wanneer ons sekere dinge oor onsself glo, is ons meer geneig om op ’n sekere manier op te tree. Dit versterk toekomstige gedrag. As jou ouers byvoorbeeld finansiële probleme gehad het of alkoholiste was, is jy daarvan oortuig dat dit ook jóú voorland is.”

Maar maak jou kinderjare werklik so ’n groot verskil?

“Vir seker!” sê Kobus van der Merwe, ’n Imago-terapeut in Pretoria. “Ons almal skep in ons vroeë kinderjare onbewustelik ’n prentjie of foto van hoe ons dink die liefde en die lewe behoort te lyk. Ons kinders is tans besig om na ons te kyk en só hul eie imago (fotobeeld) te vorm. Dis die prentjie waarmee hulle eendag iemand gaan kies om lief te hê.

“Hoe gesonder die ouers is, hoe gesonder sal die lewensmaat wees wat hulle kies. As die pa egter deurentyd krities is, leef die kinders versigtiger en praat al hoe minder. Terwyl kinders met ’n emosioneel-afwesige ma harder moet werk om raakgesien te word.”

Verskeie gevoelens waarmee jy nou moet saamleef, is dus die gevolg van emosionele wonde wat jy as kind opgedoen het.

Die probleem in jou huwelik is nou dít: Jou maat se optrede, hoe onskuldig ook al, kan sulke gevoelens weer op die voorgrond bring. Jy kan byvoorbeeld ervaar dat jou maat jou kritiseer, terwyl dit glad nie sy bedoeling was nie.

Maar jou ervaring op daardie oomblik is dat jou man soos jou pa klink, dat niks ooit goed genoeg vir hom sal wees nie.

Jy kan byvoorbeeld baie moeite met ’n verjaardagete doen – en as dit lyk of jou man dit nie werklik waardeer nie, voel dit asof hy jou nie raaksien nie.

LEES OOK: ‘My man het my met sy vorige meisie verkul’

’n Mens is boonop geneig om op soortgelyke wyse op situasies te reageer as toe jy ’n kind was. Jy kan jou dus van situasies onttrek, stilstuipe kry, jou humeur verloor of jouself bejammer.

Is daar ’n probleem?

  • Hoe weet jy dat daar inderdaad ’n probleem in jou huwelik is?
  • Julle praat nie meer met mekaar nie.
  • Julle baklei deurentyd.
  • Jul verhouding voel “dood”. En vervelig.
  • Een van julle is/was in ’n buite-egtelike verhouding betrokke.
  • Daar is ’n dreigende egskeiding.

Kobus sê: “Dis belangrik om jou kinderjare se pyn te genees sodat ‘vandag’ nie deur jou verlede bepaal word nie. Hoe meer jy bereid is om die seer uit die verlede te laat genees, en hoe meer jy bewustelik begin leef, hoe minder hoef die verlede jou lewe tans te beïnvloed.”

Hoe nou gemaak?

Dis belangrik om as volwassenes saam terapie te ontvang om misverstande uit die weg te ruim, konflik te verminder en om te leer hoe om werklik te kommunikeer. Jy moet weet watter bagasie uit die verlede jy in jou huwelik steeds saam met jou sleep.

Praktiese gereedskap

  • Stel vas wat presies dit is wat ou wonde in jul verhouding weer oopkrap. Praat met jou maat. Sê iets soos: “As jy drie dae lank stilstuipe het, laat dit my voel asof jy my verwerp. My pa het dae lank nie met my gepraat as hy ontevrede was oor iets wat ek gedoen of nie gedoen het nie.” As jou maat hierdie soort gevoelens verstaan, sal hy/sy anders optree wanneer daar konflik kom.
  • Probeer om nie oorboord te gaan nie. As jou pa ’n alkoholis was, is dit onrea­listies om van jou maat te verwag om nooit ’n glas wyn te drink nie. Dit kan onnodige konflik skep as jy elke keer wat jou man ’n bier uit die yskas neem oor alkoholisme begin praat of daaroor skimp.
  • Herstel die verbintenis tussen julle. Groet mekaar byvoorbeeld as julle soggens wakker word. Raak deur die loop van die dag aan mekaar.
  • Luister aandagtig na mekaar. Sit die foon of tablet neer, en fokus op mekaar.
  • Laat weet jou maat dat jy hom/haar waardeer.
  • Moenie op dinge sit en broei nie. Moenie konflik met stilstuipe hanteer nie. ’n Gesonde verhouding is nie konflikvry nie. Maar hoe gesonder ’n huwelik, hoe korter die hersteltyd ná ’n verhoudingsbreuk.
  • Maak die boek toe. Oftewel: Begrawe tog die ou koeie diép in die sloot! As jy nie vrede met die verlede kan maak nie, is dit moeilik om vorentoe te beweeg.
  • Gesels met jou ouers. Vra jou ma waarom sy jou nie teen die chaos in jou ouerhuis beskerm het nie. Probeer verstaan waarom jou ouers opgetree het soos hulle opgetree het. As jou pa byvoorbeeld in die depressiejare grootgeword het, kan jy verstaan waarom hy so suinig is en waarom jy en jou broers en susters altyd mekaar se ou klere moes dra.
  • Sosiale probleme soos alkoholisme en mishandeling word dikwels in ’n volgende geslag herhaal. Sulke gedrag kan nooit goedgekeur word nie, maar dis belangrik om die seer van jou grootwordjare agter jou te kan plaas.

Ten slotte: Elke huwelik moet soms ’n storm trotseer. Maar moet tog nie toelaat dat jou kinderjare jou van ’n wonderlike toekoms beroof nie.

Roep betyds hulp in. Lees boeke soos Getting the love you want: A guide for couples deur Harville Hendrix. Woon verrykingskursusse by, en werksessies oor verhoudings.

Soms is die trauma van ’n ouer se dood, egskeiding of ernstige siekte so traumaties vir ’n kind dat terapie die enigste uitweg is. Stel vas wat jy uit jou kinderjare steeds saam met jou dra.

Jy kan nie die verlede verander nie; dit sal altyd deel van jou menswees wees. Maar jy hoef nie jou ouers se foute te herhaal nie. Kies ’n ander toekoms vir jouself. En vir jou huwelik.

* Nie haar regte naam nie.

  • Die artikel het oorspronklik in die Desember/Januarie 2021-uitgawe van LiG verskyn.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail