Daar is vroue wat vinnig-vinnig verby Spreuke 31 blaai; die vrou wat daarin beskryf word, bedreig hulle. Dit sê alles, reken hulle,van ’n ideale vrou – dit wat hulle, helaas, nié is nie. Maar is dit nodig om dié besonderse teks te vermy? En moet die mans dit nie éérs lees nie?

DEUR ALMATINE LEENE

Ek het Spreuke 31 altyd vermy. Veral ook omdat die Spreuke 31-vrou my laat skuldig voel. Hoor dan net: Sy staan op voor dit lig raak; sy gaan slaap eers as dit lankal donker is. Sy doen baie naaldwerk; sy is ook ’n sakevrou. Sy maak kos, én sy sien om na die armes. Wie van ons kan dit regkry sonder om aan uitbranding te begin ly? Ek het ook hierdie bekende gedeelte vermy omdat dit vir my voel dit druk my in’n blik. Dat dit verklaar: Dít is hoe ’n Christenvrou moet wees. Maar is my redes gegrond? Wat is die bedoeling van hierdie Bybelteks? Vrouemaand, lyk dit my, gee ons ’n goeie rede om dié teks kaalvuis te pak.

LEES OOK: Vir ma’s wat vra: ‘Is ek’ goed genoeg?’

Wie was dié supervrou?

Baie van ons wens ons was soos die Spreuke 31-vrou – en van ons probeer hard om tussen die kinders en die werk deur, tuisteskepper te wees en om te sien na dié wat minder het, ook nog vol vreugde te bly. Die werklikheid is dikwels anders: Ons word moeg. Ons kom nie by al die werk uit nie. Ons kinders kry nie die aandag wat hulle nodig het nie. Hoor ons dan van die Spreuke 31-vrou,  kan ons gou-gou minderwaardig voel. Die verwagtings wat ons van onsself koester én die druk uit ons omgewing is reeds baie, en dit word nie minder wanneer ons hierdie teks lees nie.

Kom ons vra eers: Het hierdie vrou regtig bestaan? En: Vir wie is dié gedeelte geskryf? Dan kan ons die bedoeling van die teks begin ondersoek, en vra wat ons in hierdie eeu daarmee moet maak.

Dis opvallend dat hierdie vrou nie ’n naam het nie. Dalk wil die skrywer nie ’n enkeling beskryf nie, maar eerder ’n raamwerk skep waarbinne baie vroue se aktiwiteite opgenoem word. Dis in elk geval duidelik dat dit nie ’n verhaal is nie. In die oorspronklike Hebreeus sien jy dadelik dat dit in digvorm geskryf is: Elke eerste letter van ’n sin begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet.

En ’n gedig, dit weet ons tog, is nie noodwendig bedoel om feite te vermeld of logies te wees nie; dit wil ’n boodskap op ’n besonderse manier beskryf en oordra.

Ons moet tog ook nie probeer om die Spreuke 31-vrou in ’n paar woorde vas te vang of op te som nie. Amper elke Bybelvertaling het ’n ander opskrif bo óf vertaling van Spreuke 31:10. In Afrikaans is daar onder meer: “Die beeld van ’n goeie vrou” (Die Boodskap); “Die uitnemende vrou” (Nuwe Lewende Vertaling); “’n Deugsame vrou (1933 /1953-vertaling); “’n Knap vrou” (1983-vertaling).

Daar is selfs ’n vertaling met hierdie opskrif: “Die perfekte huisvrou” …

Al hierdie vertalings verraai alte dikwels ons eie beperkte denke oor vroue, en daarmee verarm ons ander mense, en onsself.

Die beste vertaling van vers 10 is waarskynlik iets soos: “’n Moedige vrou” of: “’n Heldhaftige vrou”.

Ja, hier word inderdaad “manlike” taal gebruik, en ons moenie dit weg-vertaal nie.

Om te probeer verstaan presies hoe heldhaftig hierdie vrou is, is dit die beste om ook Spreuke 31:1-9 te lees: ’n Moeder waarsku haar seun teen drankmisbruik en die soeke na seksuele plesier by ’n klomp vroue. Sy beveel aan dat haar seun eerder ’n vrou sal soek wat die Here dien.

In daardie konteks kan ons die vrou wat vanaf vers 10 beskryf word, beskou as iemand wat teenoor ’n man staan wat te veel drink. Een wat nie na ander omsien nie en wat net in die uiterlike belangstel.

Die hele Spreukeboek stel wyse optrede teenoor die dwase alternatief. In hierdie geval simboliseer die Spreuke 31-vrou niks minder nie as wysheid-in-aksie. Die ma wil graag hê haar seun moet so ’n vrou soek. Iemand wat boonop ’n voorbeeld vir hom sal wees.

Vir wie is dit geskryf ?

Spreuke 31 word dikwels as ’n soort handleiding vir vroue beskou, en dalk ook so gebruik. Maar uit die konteks blyk dit duidelik dat dit allereers op ’n man gerig is. Rachel Held Evans skryf in haar boek A year of Biblical womanhood dat Joodse mans hierdie gedeelte van buite leer, en dat hulle een keer per week hul vrou aan die etenstafel met die woorde van hierdie gedig prys.

Dié gedeelte is dus as ’n man se aanmoediging en dankie-sê bedoel. En beslis nie as ’n soort lys wat “deurgewerk” moet word ten einde vas te stel of ’n bepaalde vrou as “knap” beskryf kan word nie. Ons vind hier byvoorbeeld ’n opdrag aan mans om hul eie en ander vroue te prys. Daar is geen opdrag aan vroue nie.

Hoe nou met dié teks?

Spreuke 31 bevat wel ook ’n boodskap vir elke vrou: Terwyl ons weet dat die teks eintlik vir mans geskryf is, weet vroue ook dat hulle saam met die mans ánder vroue kan prys vir wat hulle alles regkry.

Daar moenie wedywering tussen vroue wees nie. Almal het verskillende gawes gekry; vroue word geroep om mekaar te help indien daar iets is wat een van hulle nie self kan regkry nie.

Dit sal dus goed wees as ’n vrou Spreuke 31 minder op haarself sal toepas en eerder op ’n ander.

Rachel wys ook daarop dat hierdie teks nie handel oor wat jy alles doen of nie doen nie, maar oor hóé jy dit doen. Luister goed na die Spreuke 31-vrou se emosies wanneer sy werk: Sy geniet dit, sy pak dit vol lewenslus aan, sy is die ene liefde.

Maar wat dan van ons wat so dikwels juis hiermee sukkel? Ons wat sukkel met liefde, met krag, met lewenslus?

Die Bybelskrywers leer ons dat ons nie ons krag in onsself moet soek nie, maar in die Here. Dis juis wanneer ons kwesbaar voel, uitgebrand of siek is, of wanneer ons sukkel om enigiets te geniet, dat ons besef hoe afhanklik ons van die Here is.

Daarom klop die hart van hierdie bekende Skrifgedeelte in Spreuke 31:30, wat hierop neerkom: As sy die Here dien, verdien dié vrou om geprys te word.

Dis waar alles begin én eindig. In Christus ag ons maar bloot “wees”. Die lewe voor God se aangesig handel nie primêr oor wat ons doen nie.

Ten slotte

Ek het mettertyd agtergekom dat ek nie Spreuke 31 om die regte redes vermy het nie. Ja, die teks kan erg misbruik word, maar dis omdat ons dit nie reg verstaan nie.

Die verwagtings wat ons van die lewe en van onsself en van ander het, verklap meer oor onsself as wat ons dink. Die Spreuke 31-vrou kan nie in ’n blik gedruk word nie – en ons ook nie! Gelukkig nie.

Elke vrou wat die Here en sy wil soek, is ’n heldhaftige vrou. Daarvoor behoort sy gekomplimenteer te word. Mans moet dit tog doen. En vroue kan dit gerus maar vir mekaar en vir hulleself doen.


*Dr Almatine Leene is predikant by die NG gemeente Stellenbosch-Wes. Sy skryf gereeld vir tydskrifte in Nederland (haar geboorteland).


 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail