Sunday, July 25, 2021

Die storie van Jesus se vegtertjie

DEUR MARJORIE BRAND

Ek het nie ’n maklike kinderlewe gehad nie; ek was meer in die hospitaal as by die huis. Ek was maar twee-en-’n-half-jaar oud toe ek my eerste operasie moes ondergaan. Daar is ’n blaas-en-nier-afwyking by my gediagnoseer.

Destyds was Jesus net die “prentjie-oom” in my Kinderbybel. Vandag besef ek dat Hy my reeds met my eerste operasie geleer het om ’n vegtertjie te wees. Ek was tien jaar oud toe my een nier verwyder is. En al moes ek weer en weer hospitaal toe gaan, het niks my ondergekry nie. Ek was mos Jesus se vegtertjie.

LEES OOK: ’n Geskenk van God

Ná my sestiende verjaardag het my lewe dramaties verander. Ons het van ’n stad na ’n klein plattelandse dorpie verhuis. Die aanpassing by ’n nuwe skool en nuwe skoolmaats was gróót.

Een aand is ek deur drie mans, bekende mense, verkrag. Ek het soveel pyn verduur dat ek huis toe moes kruip; ek kon nie opstaan om te loop nie. Ek moes etlike rekonstruktiewe operasies ondergaan. En ek was swanger.

My lewe het ineen getuimel. Al wat ek oor en oor kon sê, was: “Waarom, Here? Wat het ek dan gedoen om so gestraf te word?”

Die fetus is verwyder. Om dit te behou, sou my lewe in gevaar stel. Dit het ’n nuwe geveg met God ingelui, nuwe vrae. Hoe kon Hy toelaat dat ’n onskuldige kindjie vermoor word deur dit wat ander aan my gedoen het?

Dit was een lang afdraand: My verhouding met my ouers het versleg, my skoolwerk het agteruit gegaan, en ek het depressief geraak.

Daar is besluit dat ek koshuis toe moes gaan, 200 km ver. Weer was die aanpassing enorm. Maar toe kom daar ’n wonderlike koshuisvader oor my pad én ek maak nuwe vriende. Hulle het my weer leer lag. Hulle het my ook geleer dat God my nie gestraf het nie. Stadig maar seker het ek weer Jesus se vegtertjie geword.

Ek is universiteit toe – en toe verloor ek my pa. En my broer, my grootste ondersteuner. Ek was gebroke.

Maar pas nadat ek begin werk het, het ek my trouman ontmoet.

My ma het my gereeld daaraan herinner dat die enkele nier die moontlikheid van swangerskap aansienlik sou verskraal. Voeg daarby die fisieke skade van die verkragting, en ek het geweet ek moes so gou moontlik ’n ginekoloog gaan spreek.

LEES OOK: ‘’n Winkelsentrum vol mense het vir mý kind gebid’

Daar moes ek die verpletterende nuus aanhoor dat ’n swangerskap onwenslik sou wees; die risiko was te groot.

Ek het soos ’n halwe mens gevoel. Ek kon nie vir my toekomstige man ’n kind gee nie. Ek het weer depressief geraak. Ek wou nie meer lewe nie, en nog minder trou.

’n Predikant het mooi met my kom praat. Hy het baie dinge aan my duidelik gemaak, onder meer dat Jesus se wonderwerke nie tot die Bybelse tyd beperk was nie, maar dat daar elke dag wonderwerke gebeur. Daardie aand het ek vir die eerste keer weer geglo dat daar werklik ’n God is, en dat Hy dalk ander planne met my lewe het.

Ná ons troue het ons ’n tweede mening oor die moontlikheid van swangerskap ingewin. Ons blydskap was groot toe dié dokter geen rede kon vind waarom ek nie kan swanger raak nie. Ek het die Here geloof en geprys, en vir die eerste keer werklik my hart vir Hom gegee.

LEES OOK: ‘My twee babas wat nie ’n tweeling is nie’

Toe raak ek swanger, en die eerste vyf maande het soos ’n droom verbygegaan. Maar aan die begin van die sesde maand  moes ek hospitaal toe. Daar was fout met my bloeddruk, en my nierfunksie.

Ek moes dadelik gaan plat lê – plát, selfs sonder ’n kussing onder my kop. Ek moes alles doen wat ek moes terwyl ek op my rug lê. Net my man en my ma is by my toegelaat. Elke vier ure moes ek ’n inspuiting kry. Ek het oor en oor gevra: “Asseblief, Here, laat my kindjie leef.”

Die medici het besluit ek moes normaal geboorte gee. Daar was nie sprake van ’n keisersnit nie, omdat my bloeddruk te hoog en my oorblywende nier te swak was.

Dit was nie maklik nie, en ek was op die randjie van moed opgee. Die hospitaalsuster wat my gemonitor het, het gesien ek is aan die einde van my krag. Soos sy dit elke dag gedoen het, het sy toe weer begin bid – en dié keer vir ’n wonderwerk gevra.

Ek het gevoel hoe ek in ’n koma glip. Vyfuur daardie volgende oggend is die kleinste babatjie met die mooiste rooi haartjies op my bors neergelê. “Ontmoet jou seun!” het ek gehoor.

Later het my man my vertel dat hulle toe wel ’n noodkeisersnit uitgevoer het. Daar was glo deurentyd ’n hartspesialis teenwoordig wat my bloeddruk beheer het.

Hoe groot is God! Daar is werklik niks by Hom onmoontlik nie.

My wonderwerk-seuntjie nou self pa

Vandag is my wonderwerk-seuntjie self ’n pappa, en ook hy en sy vrou moes ’n moeilike pad stap. Ek het vir dié kleinkind gebid terwyl ek in die Tuin van Getsemane gesit het. My sussie het my saam met haar op ’n Israel-toer geneem sodat ons in Jesus se voetspore kon gaan stap. Dit was altyd ’n groot droom.

“Ek het die afgelope ruk gesien hoe God berge in my lewe skuif,” het Gerhard Brand, Marjorie se “wonderwerk-seuntjie”, laasjaar aan LiG in sy eie getuienis gesê. Hier is hy by sy vrou Heidé en hulle klein Katrien. Foto verskaf

Ná my gebed het die toerleier se vrou ’n olyftakkie in my hand gesit. Die trane het oor my wange gestroom, want op daardie oomblik het die Here aan my die vrede gegee dat die kinders se gebede verhoor sal word.

Deesdae hardloop ons wonderkindjie die wêreld vol saam met haar wonderwerk-pappa. In Juliemaand verwelkom ons nog ’n kleinkind. En die olyftakkie, saam met ’n foto van die tuin van Getsemane, het nou ’n ereplek langs my bed. Só word ek gereeld aan God se liefde herinner.

  • In 2020 het LiG my seun se getuienis geplaas oor die wonderwerk in sy en sy vrou se lewe. Ek het daardie getuienis reeds herhaaldelik gelees. Uiteindelik het ek besluit om ook mý verhaal van God se groot genade met ander te deel.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img