‘Die swart hond is myne, ek versorg hom’

DEUR JEONIE ROOS

Die lewe gaan so doelloos by my verby – of so dink ek soms. Ek bemoei my met beuselagtighede, en dan droom ek van ander wêrelde en van opwindende gebeurtenisse. Veraf hoor ek ’n bokmakierie sing.

So blaai ek deur Facebook, ek kyk na al die profiele en ek wonder wie is dié mense regtig? Waarmee hou hulle hulle besig? Waaroor droom hulle?

Ek sien Dana Snyman sou in Desember 2017 trou. Nadat sy verloofde sterf, besluit hy om, ter nagedagtenis, ’n konsert te hou. Hy noem dit “Die Swart Hond-Konsert”.

Waarom sou mense depressie met ’n hond vergelyk? Jou hond is tog jou beste vriend, en niemand sou hom of haar wil vereenselwig met ’n vriend wat jou deur diep donkertes sleep en jou verlate laat voel nie. Of hoe?

Soos ’n dief in die nag

Die waarheid is dat die swart hond jou soos ’n dief in die nag bekruip. Hy loer vir jou, hy is skelm. Jy word van hom bewus, maar jy wil tog nie vra of iemand anders hom ook gesien het nie.

Eers draf hy stertswaaiend by jou huis verby. Dit lyk na ’n glimlag op sy gesig – maar as jy mooi kyk, sien jy ’n grynslag.

LEES OOK: ‘My tienerkind is depressief’

Wanneer jy hom op ’n keer weer sien, besef jy sy pels is dof. Hy swaai nie meer sy stert nie. Hy draf ook nie meer so vinnig by jou huis verby nie. Dit lyk asof hy ’n plek soek om in te kom.

Niemand anders sien hom nie. Maar hoe meer jy vir jouself sê dis niks nie, jy verbeel jou, hoe meer word jy van hom bewus.

Tot op ’n dag … dan slaan hy toe. Hy betrek jou: Wanneer jy jou voordeur oopmaak, kom hy in, die ongenooide gas. Jy dink nog om te keer, dan is hy reeds in jou kamer. Jy kom agter hy ken jou huis. Elke hoekie en draaitjie is vir hom ou nuus. Hy krap sommer in jou kaste.

Onverwags oorval hy jou, druk jou teen die grond. Hy gaan sit met sy volle gewig op jou. Hoe hewiger jy jou teësit, hoe minder kry jy iets reg. Hy dreineer jou van al jou krag. Hy neem die oorblywende flentertjies vreugde uit jou hart uit. Hy vreet jou laaste energie op. Hy neem elke stukkie ruimte wat jy joune noem in beslag.

Hy agtervolg jou, waar jy ook al gaan. Stelselmatig katrol hy jou in, totdat jy heeltemal magteloos is.

KYK: Irma en Jan-Jan Joubert oor politiek, deernis en dat ’n saak áltyd twee kante het

Nou roep jy na God, maar Hy reageer nie. Jy smeek om genade, maar dit ontwyk jou.

Dan, wanneer jy op die laagste laagtepunt is, hoor jy die fluistering: “Aanvaar die kruis wat Ek jou gee om te dra.” En jy lees wat Paulus skryf: “In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.”

Wat maak jy met die hond?

Hierdie swart hond, kom jy oplaas agter, gaan nie padgee nie. Hy het ’n deel van jou wêreld geword. Hy het kom intrek om te bly.

Wat nou?

Ek het ’n voorstel: Vertel aan die mense om jou van jou hond. Sê hulle sy naam is Depressie. Hulle moet weet Depressie grawe gate, en jy val soms daarin. Waarsku hulle dat hy soms na mense soos hulle hap en byt, hulle moet weet hy laat jou verskriklik skuldig voel.

Depressie maak jou dae donker en leeg. As jy skree: “Hou tog in hemelsnaam net op!” onttrek hy hom en gaan lê in die hoek met sy rug na jou toe. En dan voel jy alleen, verlate.

Sê dan ook vir jouself: Depressie is mý hond. Hy is nou eenmaal ’n deel van my lewe en ek kan dit nie ontken nie. Daarom versorg ek hom. Ek borsel sy hare totdat dit blink, ek gee hom die beste kos. Ek vryf oor sy kop.

Ek laat hom besig bly deur hom nuwe dinge aan te leer. Ek leer hom van voor af om te stap, sodat hy later weer kan hardloop en ’n bal vang. Ek leer hom om uitbundig te spring en te blaf totdat sy oë blink. Ek leer Depressie om te sit en te luister, om byvoorbeeld te hoor as die bokmakierie sing.

LEES OOK: Van platsak pennesakkiesmous na suksesvolle entrepreneur: ‘Ek het net bly vertrou op Hom’

Want ek het dít van die bokmakierie geleer: Hy sal sing, al weet hy die wind gaan waai en dat hy dalk ’n vlerkie gaan seermaak. Hy mag miskien na sy nessie terugkom en vind dis nie meer daar nie.

Maar die bokmakierie sal sing, al is die damme leeg en al skroei die son. Hy sal sing, al steel ’n slang die eiers waarop sy wyfie so lank reeds sit en broei.

Ek leer Depressie om die bokmakierie se voorbeeld te volg. Ek leer hom om te sing oor Jesus se uitnodiging: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My … My juk is sag en my las is lig” (Matt 11:28,29).

Ek verstaan dat Depressie ’n deel is van die kruis wat God my gee om te dra. Maar sy genade is vir my genoeg. En ek sal my ore bly spits vir die bokmakierie se lied.

  • Jeonie Roos woon in Citrusdal in die Wes-Kaap.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img