‘Dit voel asof ek my een been en my een arm verloor het,’ sê Covid-weduwee oor haar ‘Oukie’

DEUR CONETTE LE ROUX

“Dis asof ek my een been en een arm verloor het. Ek pas nog aan by die nuwe lewe – ’n ander ek. Dikwels voel dit asof ek op ‘auto pilot’ vlieg en hoop om by normaal uit te kom, terwyl ek weet dit kan nooit weer nie.”

Dié hartseer woorde is Karna de Villiers s’n. Sy is ’n kunstenaar van Stellenbosch, en dis ’n poging om haar lewe te beskryf nadat haar 48-jarige man in Januarie vanjaar oorlede is. Soos vele ander is sy ’n Covid-19-slagoffer. Dié virus het haar lewensmaat kom steel, die pa van hul vyf kinders.

Kunstenaar Karna de Villiers met een van haar skilderye in die agtergrond. Oor die skildery sê sy: “Die titel is ‘Om stil te word’ en gaan oor ’n totale oorgawe aan Abba Vader, gebaseer op Psalm 46.” Foto verskaf

Maar, vertel Karna, haar en Jacques se kinders – Franco (22), Karmi (20), Jaco (17), Inabelle (11) en David (14) – gee haar die krag om elke dag voort te gaan.

“My kinders is ’n groot dryfkrag in my soeke na ’n nuwe normaal. Dit, en die vaste geloof in my Abba Vader wat in beheer is, Hy wat ons lewensdae voor die grondlegging van die aarde vasgestel het. Mý lewensdae is nie verby nie, en ek probeer om vas te stel waarvoor Hy my nog wil gebruik,” sê Karna.

 Dankbaarheid en troos

Die De Villiers-gesin moes onlangs uit die huis waar hulle jare lank gewoon het na ’n kleiner huis trek.

Ná die verhuising laat weet Karna: “Ons plek voel tans nog soos ’n pakstoor, maar ek kies om dit as ’n gedwonge skoonmaak in die fisieke en die geestelike te beskou.”

Karna se kunsskool, waar sy sowat 90 jong kunstenaars onderrig het, moes noodgedwonge sy deure sluit. Die rede is eenvoudig: “Die nuwe huis het net nie genoeg ruimte nie. Ek was baie hartseer om die skool te moes sluit, want nie net was dit mý onderneming wat ek van die grond af opgebou het nie, dis ook my passie en roeping, my bediening.”

Dit was gelukkig nie die einde van die storie nie: ’n Paar weke ná die verhuising het een van Karna se kunsstudente se ouers hul eenslaapkamerwoonstel te huur aangebied. Van 1 Augustus hervat sy dus haar liefdestaak. “My hart loop oor van dankbaarheid,” getuig sy. “Die Here is getrou! Hy baan ’n weg waar mense geen uitweg sien nie.”

Karna vind tans bemoediging by ander wat ook ’n lewensmaat verloor het. Die Facebookgroep Christian Widows Support Group is ’n geslote gemeenskap en is slegs vir weduwees beskikbaar.

Sy vertel: “Die groep is waardevol. Te midde van ons omstandighede ondersteun ons mekaar. Almal in die groep beleef soms beter dae, en soms doodgewoon slegte dae. Hier kan ons ons hart oopmaak, en weet dat daar iemand is wat sal verstaan. Iemand wat jou met Woord en raad sal ondersteun, wat beskikbaar sal wees.

“Ek dink die buitewêreld het ’n verwagting dat ’n mens ná ’n bepaalde tyd klaar gerou moet wees, dat jy dan met jou lewe moet aangaan asof alles eensklaps piekfyn is. Maar om oor jou lewensmaat te rou, is nie iets wat aan tyd gekoppel kan word nie. By dié groep het ek geleer dis normaal om te voel soos ek voel, asook om begrip te hê vir mense wat dit nie kan verstaan nie. Ek het ook geleer dat ek in my beter dae ander kan moed inpraat, net soos wat ek deur ander bedien word wanneer ek ’n slegte dag beleef.”

Sy vertel van die eerste dae ná Jacques se dood: “Nadat hy na sy hemelse huis vertrek het, was my emosies soos tsoenamigrootte branders wat my wou oorweldig.” Om bloot aan ’n dag se leef te dink, vertel sy, was te lank. Daarom het sy daarop gefokus om net deur die volgende asemteug te kom.

Om haar hiermee te help, skryf Karna gereeld roerende skryfstukke en plaas dit op Facebook. Dit gaan meestal oor haar “Oukie”, haar troetelnaam vir haar man.

“Hulle mis hom”

Hoewel die kinders hul pa geweldig mis, verstom dit Karna hoe die vyf hul pa se dood aanvaar en probeer om aan te beweeg. ’n Groot troos is dat hulle glo dat hulle hul pa eendag weer in die hemel sal sien.

Jacques de Villiers en kinders
Dit was altyd vir Jacques lekker om die kinders met roomys by die see te bederf, vertel Karna. Hierdie foto is in Desember 2019 op Grotto-strand in Hermanus geneem. Foto verskaf

“Hulle mis hom,” vertel sy, “en veral die oudste een is intens daarvan bewus dat hy nog nie alles by sy pappa geleer het wat hy sou wou leer nie. Die jongeres het dit makliker aanvaar. Ek het hulle almal vir berading geneem, net om seker te maak dat hulle nie aan Abba se liefde begin twyfel nie. Ek is baie dankbaar ek het dit gedoen.”

Karna gee graag raad aan diegene wat met dieselfde soort seer moet saamleef:

  • Haal eers net asem.
  • Weet dat die intensiteit van die rouproses ’n getuienis is van hoe diep jy liefgehad het. Jy hoef dit nie te regverdig of te verduidelik nie. En jy moet dit definitief nie wegdruk nie. Sit stil, ervaar die seer, die rou emosies.  Erken dit. Huil. Verwerk dit. Beskou dit as ’n metgesel wat saam met jou stap. Soos die dae verbygaan, sal jy agterkom dié metgesel is nie meer deurentyd by jou nie.

“Ek kon byvoorbeeld in daardie eerste klompie weke glad nie bid nie. Ek weet nou dat dit in die diep, stil, seer oomblikke was, die tye waarin my verstand nie meer woorde gehad het nie, dat my hart met Abba gekommunikeer het. En ek weet nou: Dis ook goed. Ja, soms is dit goed om nie woorde te hê nie.”

  • Vergewe! Vergewe mense wat sinnelose, diepsnydende aanmerkings maak. Vergewe Abba as jy voel Hy het jou geliefde gesteel. Jesus het by Lasarus se graf geween, en dit wys ons Abba se hart. Hy ervaar saam met ons die pyn van verlies. Hy huil saam met ons. Hy stap elke tree saam.

“Ek kan nie bereken hoeveel keer ek net begin huil het nie, hoe ek bloot gesê het: ‘Here, ek kán nie, dis te seer.’  En telkens het ek ervaar hoe Hy by my kom sit, hoe Hy my styf vashou. Ek ervaar sy liefde en omgee intens in daardie oomblikke. Dit bring weer kalmte.”

  • Aanvaar vriende en geliefdes se hulp. Dis dikwels die enigste manier waarop hulle jou met hul omgee kan toevou.

*Sowat ses weke ná Jacques se sterfdag het Karna haar eerste Afrikaanse lied, “Vind ek U”, as ’n ode aan haar man bekendgestel. Luister hier daarna.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img