‘Dit was lekker om te mag droom soos ’n kind,’ sê Marinda oor kookboek vir kinders

Marinda Engelbrecht is die skepper van een van vanjaar se topverkoperboeke in Afrikaans, Marinda se koskas. Sy was ’n gunstelingdeelnemer aan die televisiereeks Kokkedoor, en daarna ook televisieaanbieder van kosprogramme soos Maklik met Marinda en Laat die potte prut. Nou het sy al haar kennis van kosmaak, kinderteater én oumawees saamgevoeg in ’n vrolikheid van ’n resepteboek, spesiaal vir kinders. Sy noem dit Marinda se kinderkombuis met Sjef Sout en Prof Pretzel net reg vir die Kerskous van enige jong, opkomende Jamie Oliver, Ina Paarman of Mokgadi Itsweng.

Resepte uit hierdie boek met sy sterk opvoedkundige inslag word grappig ingelei deur rympies en twee strokieskarakters, Sjef Sout en Prof Pretzel.

Die boek bestaan uit resepte, kosblik-idees en eksperimente. So tussendeur gee Marinda handige wenke – van hoe jy met die basiese begin deur die werkoppervlak met ’n skoon lappie af te vee, tot hoe om ’n viskoekie te maak dat dit soos ’n vis lyk. Daar is voorts ’n afdeling met kosverwante eksperimente, soos hoe om “bangpeper” of ’n vuurspuwende vulkaan te maak. Dan is daar lesse vir ouers, waarin Marinda onder meer vertel watter goeie terapie kook vir kinders is. En hoe hulle in die proses basiese wiskundige-, wetenskap- en leesvaardighede ontwikkel.

ENGELA DUVENAGE het haar ’n klompie vrae gevra:

* Hoe sal jy hierdie boek in 25 woorde opsom?

Dis ’n stukkie van my hart op papier. Die boek is vir elke kind in ons mooie land.

Dis opvoedkundig met hope pret en heerlike kos.

* Wat was die lekkerste deel van die samestelling daarvan?

Vir my was dit lekker om te mag droom soos ’n kind. Ek kon deur die twee karaktertjies weer kind wees, en pret hê in die kombuis. Dit was lekker om uitbundig met kleur te kon werk.

* En die moeilikste?

Om sommige resepte uit te los. Ek wou nog so baie deel! En ek moes in gedagte hou dat die veiligheid van die kinders uiters belangrik is.

* Het jy dalk jong kokke gehad wat jou in die proses gehelp het?

My twee kleinkinders, Lea en JJ, het gehelp. En hulle was deel van die keuringsproses. Ek het die boek geskryf met hulle in gedagte. Ek gee reeds 20 jaar lank lewe aan kinders se voorgeskrewe leesreeks (Vlooi) by Artscape in Kaapstad. Ek weet hoe werk jong kinders se kop. Ek weet wat is vir hulle snaaks en wat hou hul aandag.

* Dink jy dis ’n kuns om resepte te lees? En is dit iets wat van jongs af ontwikkel moet word?

Dis nie vir kinders altyd maklik om met begrip te lees nie. Dit was my doel om juis dit aan te moedig. As oudonderwyseres het ek die resepte en aktiwiteite fyn uitgekies om tot die kinders se leesontwikkeling by te dra. Hulle moet die gereg maak, en sodoende word hulle aangemoedig om te lees – sonder dat hulle daarvan bewus is. Om boonop met begrip te lees, want hulle moet toepas wat gelees is.

* Watter waarde sien jy daarin om kinders vroeg-vroeg reeds te leer bak en brou?

Dit gee hulle selfvertroue as hulle iets self gemaak het. Oeg, hulle is trots op die eindproduk! Hul kreatiwiteit word gestimuleer.

Die tyd in die kombuis is tyd wat ouers saam met hul kinders kan deurbring. Hulle kan hul verhouding bou en sommer net lekker gesels.

Kook maak die speelveld gelyk. Of jy nou begaafd, gestrem of aandagafleibaar is, almal kan kook. Die klein motoriese spiere kry kans om te ontwikkel.

Ag, en dis sommer net lekker!

* Jy het vanjaar reeds baie sukses met jou “grootmens”-kookboek gehad. Vertel ’n bietjie meer daaroor.

Marinda se Koskas is ’n boek met resepte waarvoor jy reeds alle bestanddele in jou kas het. Die geregte is maklik. Dis boonop kos wat met jou hart en jou maag “praat”. Dis eerlike en lekker kos, sonder fieterjasies.

*Vertel ’n bietjie oor die reaksie wat jy tot dusver op die kinderresepteboek gekry het.

Die reaksie vang my ’n bietjie onkant; dis oorweldigend positief! Die ouers is opgewonde omdat die boek opvoedkundig én prettig is. Daar is ’n afdeling waar jy gehelp word om eksperimente uit te voer met dinge wat in die kombuis is. Ek dink dis een van die verrassingselemente in die boek.

* Vertel iets oor die illustrasies en die uitleg.

Hannes Koegelenberg het behoorlik in my kop geklim en die karakters perfek lewe gegee. Daar is Sjef Sout met haar hond, Peper. En Prof Pretzel met sy drakie, Pasta. By elke afdeling is ’n inleidende rympie. Die afdelings in die boek is kleurgekodeer: Die nagereg-resepte is byvoorbeeld almal op pienkpers bladsye; die hoofgeregte s’n is blou.

  • Marinda se kinderkombuis met Sjef Sout en Prof Pretzel word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R260.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img