Downsindroom en Covid-19: Ma’s vertel van hul uitdagings en planne om hul gestremde kinders te beskerm

Navorsing toon aan dat mense met Downsindroom ’n tien keer groter kans het om aan Covid-19 te sterf. Twee ma’s vertel hier hoe hulle en hul geliefde gestremde gesinslede saam moes planne maak om die virus vry te spring.

DEUR JACOBIE M HELENA

“Ek is heel gelukkig om nie baie uit te gaan nie, want ek weet ek kan baie siek word as ek Covid-19 kry. My ma beskerm my.”

Só vertel Pietie Bell, ’n 30-jarige man met Downsindroom. Pietie en sy ouers, Elisma en Pieter, woon in Worcester in die Wes-Kaap. Elisma en Pieter het reeds met die uitbreek van die koronaviruspandemie in 2020 besluit om hul seun se kontak met ander mense drasties te beperk, omdat Pietie hom in ’n hoërisikogroep bevind.

Elisma vertel hoe die hele familie tydens die Desembervakansie moes saamwerk om Pietie te beskerm. “Ons het hom soggens seweuur in die see laat swem, voor daar ander mense op die strand was. Ons het nie restaurante besoek nie.

“My kleindogter, Illy Bell (7), was so oulik om vir Pietie wegneemetes te bring wat hy tuis bloot kon warm maak.

“Die ander kleinkinders, Mia (8) en Zoë (5) Bell, het nie op die klimrame gaan speel nie, juis omdat hulle bang was ‘die kieme’ kon Pietie siek maak.”

Pietie Bell weet hoe om hom in die grendeltyd besig te hou. Sy ma, Elisma Bell, vertel hulle het vir hom ’n gimnasium by die huis ingerig waar hy kan oefen en gereeld in die swembad kan swem. Hy werk ook volstoom in die tuin en in die huis. “Pietie sny gras, hy stryk ons klere, hy help met kosmaak, hy speel rekenaarspeletjies, luister musiek en maak self musiek met sy karaoke-opnemer. En hy praat al ons data op met sy meisie! Hy is ook een van die lojaalste Bok-ondersteuners denkbaar en geniet die rugbywedstryde. Ons is dankbaar dat hy hom kan besig hou en dat hy van roetine hou,” vertel Elisma.  Foto: Elisma Bell

Elisma vertel dat haar man Pieter ’n skoolreünie moes opgee. Hulle moes hul kuierplanne by hul ander kinders in Johannesburg ook laat vaar. “Maar alles was die moeite werd vir ons ou Pietie-padda!”

Pietie het intussen sy eerste inenting ontvang. Hy kan egter eers in Oktober sy tweede inenting kry.

Downsindroom SA pleit sedert Januarie 2021 by die Ministerie van Gesondheid dat mense met Downsindroom, oftewel Trisomie 21, toestemming kry om vroeër die Covid-19-inenting te mag ontvang. Volgens Elisma is dié vergunning nog nie gemaak nie.

Karavaan-kuier weens Korona

Uit Namibië vertel Rentia van Vuuren, wat vroeër vanjaar haar dogter Nita Muller se liefdesverhaal vir LiG vertel het, wat hulle gedoen het om hul dogter en skoonseun Gert te beskerm.

Nita en Gert is in 2019 getroud. Hier is hulle tydens hulle verlowing. Foto: Rentia van Vuuren

“Ons as ouerpare het besluit dat Nita en Gert nie aan ander mense blootgestel moet word nie. Dié twee het pal masker gedra en hul hande gereeld gesaniteer.

Dit was nie so eenvoudig soos wat dit mag klink nie, vertel Rentia. Mense met Downsindroom is lief daarvoor om hul lippe nat te lek, en die tong is altyd in die pad. Dan het Nita sommer die masker tot onder haar ken getrek.

“Gert was egter kwaai en het haar gou-gou aangepraat: ‘Vrou, sit op jou masker!’”

Dit was aanvanklik makliker, met Gert en Nita wat in ’n eenslaapkamerhuis op Gert se ouers se plaas naby Hochfeld woon. Die situasie het egter verander toe Gert se ouers Covid-19 opgedoen het. Almal het hulleself onmiddellik afgesonder.

Die eerste twee dae ná die diagnose het Gert se ma nog hul kos op ’n skinkbord tot op die stoep gebring, maar Rentia en haar man het besluit om Nita en Gert eerder te gaan haal om vir eers by hulle op die plaas naby Outjo te kom woon.

Daarop het Nita en Gert in ’n karavaan ingetrek. Daar het hulle hulle vyf dae lank afgesonder, totdat Rentia hulle vir Covid-19 laat toets het.

Sy vertel: “Hulle het gelukkig negatief getoets en het daarna sowat ’n maand in die karavaan gebly. Hulle het getrou masker gedra, hulleself en die karavaan gestoom, en heeltyd gesaniteer. Ons is dankbaar dat al twee intussen ten volle ingeënt is.”

Nita en Gert Muller agterop die plaasbakkie tydens ’n jaguitstappie. Nita se ma, Rentia van Vuuren, vertel dat wanneer Nita en Gert ’n opdrag kry, hulle dit sonder meer gehoorsaam. “Dis maklik om vir hulle te sê om masker te dra en deurentyd te saniteer, omdat hulle nooit daarvan afwyk nie. Ander mense sal nog kanse vat, maar nie Gert nie. Ons sê hom hy hoef nie agterop die bakkie in die oop veld sy masker te dra nie, maar hy weier om dit af te haal.” Foto: Rentia van Vuuren

Die risiko

Mense met Downsindroom is vyf keer meer geneig as die algemene bevolking om as gevolg van Covid-19 in ’n hospitaal opgeneem te word, en tien keer meer geneig om daaraan te sterf. Só lui bevindings wat in die wetenskaptydskrif Science Magazine gepubliseer is.

Ancella Ramjas, Nasionale Uitvoerende Direkteur van Downsindroom SA, verduidelik dat dit nie die gestremdheid as sodanig is wat mense met Downsindroom meer vatbaar vir Covid-19 maak nie. Dis eerder aangesien sulke mense meer geneig is tot bykomende gesondheidskomplikasies – wat infeksies in die boonste lugweë, vetsug, hartkwale en diabetes insluit. Weens hul beperkte kognitiewe vermoë sukkel mense met Downsindroom om byvoorbeeld voorkomende maatreëls soos sosiale afstand en higiëneprotokol toe te pas. Hulle is ook meer afhanklik van ander mense om in hul persoonlike behoeftes te voorsien, en dit maak dit vir hulle moeilik om te isoleer. Daarby gaan hulle dalk tuis in ’n oorvol woon- en versorgingsentrum.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img