Egpaar verruil Sandton-bestaan vir ’n avontuur saam met God

Sowat 30 jaar gelede het Thys van der Merwe ’n week lank gebid om by God te hoor wat sy plan vir hom was. Hy het sy antwoord gekry, sy werk bedank en hul gesinshuis in Sandton verkoop. Sedertdien het ’n vraghouer in ’n woonwapark en selfs ’n grot hom en sy gesin al gehuisves. Hy het ook geleer: Aan God se wonderwerke is daar geen einde nie …

DEUR ELSIE FOURIE                                                                                                     

“Ons het destyds in Sandton gebly,” vertel Thys van der Merwe. “Ek het ’n goeie werk gehad. En eintlik alles wat ’n mens op aarde kon begeer.

“In 1991 het ons lewe egter soos handomkeer verander. Ek en my vrou Debbie het ’n week lank gebid om God se plan vir ons lewe te verneem. Daarna het ek besluit om by my werk te bedank ten einde Jesus beter te leer ken. Min het ons geweet dat Hy ons as evangeliste sou gebruik. Ek was in daardie stadium maar 38 jaar oud en Debbie 33. Ons dogters was onderskeidelik 14 en 11 jaar oud.

“Ses maande ná my bedanking was die pensioenuitbetaling uitgeput en ons moes ons huis verkoop. Om alles te kroon, was ek ’n paar dae later in ’n ernstige motorongeluk betrokke. Maar God het my wonderbaarlik gered en daar was nie ’n skrapie aan my liggaam nie.

“My motor was egter afgeskryf. Eensklaps het ons niks meer besit nie. Ons bid toe nie meer vir God se plan nie, maar vir uitkoms.

“Op ’n dag kom haal ’n tegnikus ons huistelefoon uit, maar hy vergeet ’n tydskrif op die tafel. Uit pure radeloosheid begin ons deur die tydskrif blaai en sien ’n advertensie vir ’n huisie in Parys wat te koop is. Dit was ’n ou, onbruikbare lykshuis en baie verwaarloos. Maar ons besluit om dit te koop – sonder ’n sent in ons beursie. Met behulp van allerlei los werkies kon ons later die huisie afbetaal.

“Ons was van 1991 tot 2003 evangeliste in Parys. Ons was in daardie stadium nog onopgelei, maar het besef dat ons nie geleerdheid nodig het om te dien nie. God se Heilige Gees het deur en in ons gewerk. Ek en Debbie het wel later, terwyl ons in KwaZulu-Natal werksaam was, ’n korrespondensiekursus voltooi, met die hoop dat dit ons in ons bediening sou help.

“Terwyl ons in Parys was, het ons geroepe gevoel om die Here se Woord aan mense in Limpopo te gaan verkondig. Dit was ’n logiese plek, aangesien ons sakebelange daar het. Ons verkoop toe ons huisie en koop ’n bakkie met ’n sleepwa. Asook ’n groot tent en ’n klomp stoele, en ons vertrek Limpopo toe.

LEES OOK: KYK: ‘Glo daar is ’n God – want hiér is my ma,’ sê seun ná 40 jaar

“Vroeër het ons ’n aantal fakse na adresse oor die ganse land heen uitgestuur om só te probeer vasstel waar daar ’n behoefte was. Slegs twee fakse is beantwoord – al twee uit KwaZulu-Natal.

“Nou was ons verward. Ons was immers op pad Limpopo toe …

“Ons vra toe ’n bevestiging van die Here, en op daardie oomblik kom ’n motor voor ons tot stilstand. Dié het ’n KZN-registrasienommer, ’n Sharks-plakker op die agterste venster. En op die sitplek lê ’n tros piesangs.

“Om seker te maak ons kry die boodskap, stuur die Here boonop vriende na ons toe met die versoek om hulle asseblief na Port Shepstone aan die suidkus te neem. Hul motor is gesteel en hulle sit gestrand.”

Op ’n berg 

“In Port Shepstone aangekom, hoor ons van hawelose mense wat in haglike omstandighede leef op ’n berg op die plaas Rosendal. Ons stel toe dadelik ondersoek in en kom af op nie minder nie as 114 mense wat almal in ’n klein geboutjie bly, met een badkamer wat deur almal gedeel moet word.

“Ons reël kos en maak planne om meer toilette en woonplekke te bou. God voorsien op ’n wonderbaarlike wyse. Binne ’n paar dae kon ons sewe toilette oprig. En ons het ’n stoof gekry. En bakstene en sinkplate om verdere skuilings te bou.

“Terwyl ons met die bouwerk besig was, stroom daar toe nog mense uit die bosse. Almal met die hoop om ook kos en blyplek te kry. Nou was daar skielik 307 monde om te voed …”

In ’n grot

“Op Paddock het daar ’n klomp mense in ’n grot gebly. ’n Boer in die omgewing skenk toe sy onbewoonde plaas om hulle te huisves. Maar toe moes daar skuilings gebou word, met materiaal wat ons nog nie weet waar dit vandaan sou kom nie.

“Op ’n dag ry ons by ’n saagmeule verby en sien ’n uitgebrande vragmotor. Op die bak lê sulke kromgetrekte houtpale, die gevolg van die water wat die vlamme geblus het. Maar dit was nommerpas vir ons behoeftes. Dit is gratis op die plaas afgelewer.

“Ek vra tien van die mans om solank huisies daarvan te bou. Toe ons twee weke later daar aankom, het hulle ’n kerk gebou. Ek was eers ontsteld, maar besef toe gou dat die kerk baie meer mense sou kon huisves. Boonop dien dit sommer ook as kombuis, en as werk- en terapiesaal.

“In daardie tyd het ons geld opgeraak en ek en Debbie kon nie vir onsself ’n blyplek huur nie. Die grotbewoners het toe juis uit die grot begin trek na die skuilings toe. Dit het beteken dat die grot vir ons beskikbaar was.

“Dit het goed gewerk! Ons kon dadelik intrek. ’n Emmer waarin daar eens verf was, het handig te pas gekom – vir ons skottelgoed, vir stort. En saans as ’n toilet.

“Tot ons groot ontsteltenis ontdek ons later dat ons twee swart mambas as mede-inwoners het. Ons het hulle in ons emmer gevang en in die bosse vrygelaat. Maar saans as ons terugkeer, was die twee weer terug …”

In ’n woonwapark 

“Ons kon nie vir altyd in die grot woon nie. Ek verkoop toe my bakkie en koop ’n vrou wat in die nood was se skeepshouer, wat ons toe in ’n woonwapark laat staan.

“Ons kom met ’n skok agter dat die meeste van die mense wat uiteindelik in ’n skuiling beland, juis in so ’n woonwapark leef, dikwels in ’n tent. Dis dan hul laaste huisvesting voor die skuiling.

“Ons het besef dat ons hierdie mense moet bedien, hulle probeer red en hulle ophelp. Daarom word die meeste van ons kerke juis daar gebore.

“Alle eer aan God!”

Daaglikse brood

“Afgesien van grond, boumateriaal, klere en ander noodsaaklikhede, het God altyd kos voorsien.                                                                                             

“Ek onthou hoe ek en Debbie, nadat ons die 114 hawelose mense op die berg teëgekom het, agter ’n vragwa met oop deure gery het. Skielik het ’n man begin om ’n klomp brood van die vragwa af te skop. Ons het die vragwa tot in Margate gevolg. Die gevolg was dat die bakkery daarna begin brood skenk het – alle brood wat ons nodig gehad het, drie dae voor die vervaldatum, ’n volle jaar lank.

“In dieselfde week stuur Debbie my winkel toe om te gaan kaas koop. Ek het net R7 in my sak. Ek sê niks en ry winkel toe.

“Ek stap by ’n winkel in Port Shepstone in en ’n man stamp my omtrent uit die pad. Hy stoot twee vol trollies en roep uit: ‘Sorry, Oom! Help my stoot!’

“‘Wat is die haas?’ vra ek.

“‘Oom help my nou om 800 kg kaas weg te gooi. Die kaas is by die vervaldatum.”

“Dankie Jesus!”

“Debbie vra eendag by ’n plek wat wegneemetes verkoop of ons van hul hoender teen ’n afslagprys kan kry. Toe hulle hoor vir wie dit is, vra hulle haar om saans ná negeuur alle oorskothoender te kom afhaal.

“Ons groot behoefte was steeds proteïne. Op ’n dag bel ’n boer en sê sy vragmotor het gebreek, en die versekering vergoed hom vir 5 000 dosyn eiers …

“En nadat die Durbanlughawe in 2005 na die King Shaka-lughawe verskuif, kry ons dié kontrak-kos vir ons skuilingmense.

“God se wonderwerke het regtig geen einde nie. Aan Hom kom al ons lof toe, al ons eer en aanbidding!                                                                                 

“Met verloop van jare het ons later vyf skuilings gehad wat bedien moes word. Ons gebede was dat die Here helpers sou stuur om te help – wat dan ook gou gebeur het. Elke skuiling het nou ’n eie herder, en daar is mense wat help met kos en ander noodsaaklikhede.

“Ons was uiteindelik tien jaar lank, van 2004 tot 2014, in KwaZulu-Natal.

“Ek is nou 67 jaar oud en woon in Randburg sodat ek naby dokters kan wees. Debbie het onlangs na Vredenburg verhuis om haar bejaarde moeder te versorg.

“Maar ons plant steeds kerke en selgroepe, veral op die Limpopo-platteland. Ons leer die mense daar via WhatsApp. Ek preek by hospitale en klubs in Randburg. Debbie, nou 63 jaar oud, bedien ’n ouetehuis in Vredenburg.”

* Dié getuienis is die verhaal van Thys van der Merwe soos dit aan Elsie Fourie vertel is.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img