9 April 2021


Toe die bekende kosskrywer en stilis Vickie de Beer en haar gesin in Januarie 2020 na Nederland geëmigreer het, kon hulle nie raai hoe die Covid-19-pandemie die proses van wortel skiet in ’n nuwe land sou beïnvloed nie. En nog minder dat die afskeid van Vickie se ma en suster finaal was. Vickie vertel hoe geloof, saamwees as gesin, ’n dapper deurdrukprojek en verwondering oor al die “eerste kere” haar gehelp het om staande te bly.

DEUR MARIETTE SNYMAN

“Toe my man Joe ’n wonderlike werksaanbieding van ’n Nederlandse bank ontvang, het ons dié eenmalige geleentheid met albei hande aangegryp. Ons was nog altyd lief vir reis, en die gedagte om soos ware Europeërs te leef het ons bekoor.

“Aanvanklik het net ek, Joe, en ons seuns Lucca (19) en Nikolai (14) na Utrecht gekom, maar deur ’n reeks wonderwerke is ons oudste, Llewelyn (27), nou ook in Nederland. Hy was te oud om op Joe se verblyfvergunningsvisum saam te kom maar danksy Fleur, sy Nederlandse meisie van die afgelope twee jaar, en haar ouers kon hy ná die eerste grendeltydperk ’n visum kry.

Sedert die De Beer-gesin in Nederland woon het hulle foto’s geneem van al hulle eerstes. Hier beleef hulle hul eerste sneeu in Nederland. Foto verskaf

“Die besluit om te emigreer was een van die moeilikste besluite wat ek en Joe ooit moes neem. Ons het baie daaroor gebid. Jy groet ’n hele lewe én die mens wat jy was. Jy rou en neem afskeid.

“Met ons aankoms was ek angsbevange! Ek was nog nooit voorheen in Nederland nie. Ons moes honderde administratiewe take verrig, dringend huis soek, Nikolai by die skool inskryf, regkom met die openbare vervoerstelsel en leer om dinge op die spesifieke Nederlandse manier te doen. Dit was baie spannend.

LEES OOK: Emigreer julle? 12 onmisbare wenke vir kleintjies se aanpassing

“Toe slaan die inperking toe. Saam met die hele wêreld moes ons wag. In dié tyd het rooi rose, die tydskrif waar ek 18 jaar lank kosredakteur was, toegemaak. Ek het gerou oor my kollegas wat hulle werk verloor en oor die instelling wat verlore gegaan het.

“Tog was die inperking vir ons ’n bedekte seën. Ons kon tot verhaal kom, en ek en die seuns het Nederlands aanlyn begin baasraak. Dit was belangrik om struktuur aan ons dae te gee, want in die grendeltyd het alles ineen gevloei. Saans was dit vir my ’n uitdaging om twee tienerseuns te betrek sodat hulle nie elkeen alleen in ’n kamer sit nie. Ons het nuwe gesinstradisies geskep wat ons steeds in stand hou. Ons het byvoorbeeld elke aand ’n fliekaand begin hou. Elkeen kry ’n beurt om ’n film te kies en ons kyk na álles – van aksiebelaaide heldfilms tot romantiese komedies en cowboy-flieks!

“Dexter die Afrikakat” se eerste keer met sy voete in die sneeu. Foto verskaf

“Hoewel ons nou – tydens die tweede inperkingstyd – steeds van die huis af werk, is dit lekker om te sien hoe die seuns soos klokslag uit hulle kamer kom as dit 17:00 is. Dan begin ons aand: Ons luister na mooi musiek en maak saam kos. Ons het diep gesprekke aan tafel en speel báie bordspeletjies. Aanvanklik was daar ’n bietjie konflik tussen die seuns, maar almal het geleer om geduldig saam te speel. Hierdie ná aan mekaar leef die afgelope jaar het ons in ons verhoudings en ook geestelik laat groei.”

“Natuurlik braai ons al sneeu dit,” sê Vickie. Foto verskaf

Was dit moeilik om huis te koop?

“Ons rijtjeshuis is een van die wonderwerke wat ons beleef het. Daar is te min behuising in Nederland en sodra ’n huis op die mark kom, word die hoogste aanbod aanvaar. Ons kon eenvoudig nie ’n huis vind nie. Ek het die rytjieshuise op die webtuiste gesien – meer as 100 jaar oud en oënskynlik bo ons vuurmaakplek. Tog het ons bly bid vir ’n hidden gem. Uiteindelik was ons die enigste mense wat in ons huis belang gestel het, en die eienaars het ’n aanbod ver onder die vraprys aanvaar. Die Here was goed vir ons.”

Die uitsig vanuit die De Beers se “rijtjeshuis”. Foto verskaf

Die dood van Vickie se ma én sussie

“Ek en my ma was baie na aan mekaar. Ons het ’n liefde vir kos gedeel en sy en my sussie Mandie was ons gesin se grootste ondersteuners. My ma was gesond maar het ’n paar jaar gelede ’n hartomleiding gehad. My sus is vroeër met die outo-immuunsiekte lupus gediagnoseer. Ons het bly sê hulle moet tog net nie Covid kry nie, maar ten spyte van die voorsorgmaatreëls hét hulle.

“My ma was sewe dae in die hospitaal. Ons kon nie met haar praat nie want die koors het dit vir haar moeilik gemaak om te hoor. My pa, Mandie en haar man Francois was almal siek by die huis. Die dag voor my ma se dood het sy laat weet sy is lief vir ons en ons moenie bekommer nie. Vier dae ná haar is my sus oorlede.

Toe Vickie de Beer en haar gesin na Nederland geëmigreer het, sou sy nooit kon dink dat sy haar ma Jakkie en sus Mandie vir die laaste keer gegroet het nie. Hulle albei is aan Covid-19 oorlede. Dié foto van haar ma en sussie is nou een van Vickie se kosbaarste besittings. Foto verskaf

“Dit was verskriklik om nie na my pa in Suid-Afrika te kon vlieg nie. Hy was nog bitter siek en só hartseer. Ek kon die emosionele pyn maar net aan die Here oorgee, en ek kan steeds net berus omdat ek wéét dat ons mekaar weer gaan sien.

“In hierdie routydperk moes ek my derde laekoolhidraatresepteboek, Low-carb express, klaarmaak. Dit het my ’n rede gegee om soggens op te staan. Terwyl ek daarmee besig was, het ek die kooksessies en kuiers met my ma en sussie onthou. Stadig maar seker het ek begin afskeid neem. Party dae was swaarder as ander …

“Lucca, wat kleintyd met tipe een-diabetes gediagnoseer is en ons gesin op die lae koolhidraatpad gesit het, het my met die resepteboek gehelp. Omdat ek in die grendelstaat nie ’n fotograaf kon vind nie, het ek ’n kursus geloop en self die foto’s geneem. Lucca het aanlynkursusse in photoshop gedoen, die shoots help opstel en sommer ook skottelgoed gewas. Sy rustige geaardheid was balsem vir my siel.

“Ons is nou al bykans vier maande in ’n baie strenger lockdown as die eerste een. Geen winkel is oop nie en boonop is dit winter. Onlangs het ons sommer ’n ent gaan ry. Alles was grou. By ’n vulstasie het ons die lekkerste, warm, gesmelte kaasbroodjies gekoop. Lucca moes ekstra insulien spuit, maar daar sit ons toe in die reën en hael en beleef ’n kosbare, spesiale oomblik. Ons verwagtinge het verander!

“As ek terugkyk, was daar soveel tye wat alles te groot geraak het vir ons. Dit is hier waar die Here waarlik ingryp en help – wanneer jy dink daar is geen uitweg meer nie.”

Besoek Vickie de Beer se webwerf hier: www.vickiedebeer.co.za

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *