Deur Mariette Snyman

As jy en jou kind dikwels met mekaar argumenteer, wonder jy dalk heimlik of jy jou kind werklik liefhet.

“Ek dink nie dis moontlik om vir iemand lief te wees van wie jy glad nie hou nie,” sê Anys Rossouw, ’n opvoedkundige sielkundige in Pretoria. “Maar kom ons plaas die saak in perspektief: Niemand ís sy of haar gedrag nie. Wanneer ek my kind en haar gedrag as ’n eenheid beskou, en nie hou van wat sy doen nie, kan dit voel asof ek nie van haar hou nie.

“Maar wanneer ek tussen haar en haar gedrag kan onderskei, weet ek dis haar optrede wat ek verafsku. Jy kan lief wees vir jou kind, selfs al voel dit nie so nie. Jy vóél nie noodwendig lief vir jou kind nie; jy ís lief vir haar.

“Liefde is nie ’n gevoelsaak nie; dis ’n verbintenis, ’n ‘commitment’.”

Is dit normaal dat ouers nie met hul kinders oor die weg kom nie?

“Ek sou reken dit kom dalk algemeen voor, maar dit maak dit nie ‘normaal’ of ‘die norm’ nie,” sê Anys.

“Dit hoef nie so te wees nie. Sodra jy jouself, jou kind en die situasie beter verstaan en werk maak daarvan, kan dit verander. Al gebeur dit nie oornag nie.”

Pa en ongelukkige tienerseun

Waarom wrywing?

Waarom ontstaan daar hoegenaamd wrywing tussen ouer en kind?

Anys sê: “Daar is baie moontlike redes, aan al twee kante. Toestande soos depressie, angsstoornisse, aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit, obsessief-kompulsiewe gedrag, ’n bepaalde ligging op die outismespektrum, of Tourette-sindroom by óf die ouer óf die kind kan die onderlinge verhouding bemoeilik.

“Ander faktore sluit gesondheidsprobleme in, en werk- of finansiële druk. Of ’n uitdagende lewensfase, soos ’n ma se oorgangsjare.”

Kinders kan op verskeie gebiede spanning ervaar. Een van die grootste kwessies by kinders is die drie “oerredes” vir wangedrag:

’n Soeke na aandag. Kinders kan voel hulle word nie raakgesien nie.

’n Soeke na beheer. Kinders voel dalk oorweldig, of hulle voel dat ander namens hulle besluit oor dinge wat vir hulle belangrik is.

’n Gevoel van magteloosheid. Dit kom dikwels voor wanneer die betrok­ke kinders nie die vaardighede het om aan die vereistes te voldoen wat aan hulle gestel word nie. By kinders van agt jaar of ouer kan dié gevoel selfs tot wraakgedagtes lei. Sulke kinders voel dat die ouer nie tevrede is met wie hulle is nie, en dat die ouers hulle nie gee wat hulle nodig het nie. Daarom neem hulle wraak deur hul optrede.

 

Anys sê: “Sommige ouers koester inderdaad besonder hoë verwagtings van hul kind. Die oorsaak daarvoor kan in die ouers se verlede lê. Dalk hoop hulle die kind sal akademies of op ’n ander gebied presteer soos húlle nie kon nie.

“Wanpersepsies oor waartoe die kind in staat is, of die begeerte dat die kind ander moet uitstof, kan ook tot onrealistiese eise lei. Die beste manier om jou ouerlike verwagtings te bestuur, is om ’n duidelike beeld van jou eie behoeftes te hê, en van jou kind se behoeftes, voorkeure en aanleg.”


Lees ook: Vir ma’s wat vra: “Is ek goed genoeg?” 


Maak eerder só

Anys beveel die volgende aan: “’n Goeie wenk vir ouers wat graag wil hê hul (moeilike) kind moet anders word, is om te weet waarop hulle hul (liefdevolle) opvoedingspogings kan fokus.

“Aanvaar die feit dat sekere eienskappe geneties is en nie maklik kan verander nie, byvoorbeeld intro- of ekstroversie, detail- of grootprent-gerigtheid, en mens- of taakgerigtheid.

“Sommige kinders hou van nature van roetine, struktuur en beplanning; ander is ongeorganiseerd, of sommer net ‘deurmekaar’.

“Ouers kan wel op karakterontwikkeling konsentreer. Ons karakter hang nou saam met ons emosies en gedragspatrone. Omdat kinders se wil en keuses by hul karakterontwikkeling betrokke is, is dit sinvol om hier leiding te gee. “Leer ken jou kinders met ’n oop gemoed. Gesels openlik oor wat vir hulle belangrik is en wat hulle glo. Ondersteun hulle, sodat hulle veiligheid en aanvaarding beleef, goeie waardes kan ontwikkel en hul eiesoortige potensiaal kan verwesenlik.

“Waak teen die drang om jou kind se lewe makliker te maak as wat jou eie kinderjare was. Kinders wat altyd hul sin kry of wat nooit die negatiewe gevolge van hul optrede hoef te hanteer nie, leer nie wanneer om ‘nee’ te aanvaar of wanneer om hul ontoepaslike gedrag te staak nie.

“Kinders met goeie selfbeheersing en gesonde grense is gelukkige kinders.

“Hoe beter jou en jou kind se verhouding, hoe groter is jou invloed. Ons almal wil graag diegene tevrede stel wat tyd en aandag in ons belê en wat ons goed laat voel. Kritiese, afbrekende optrede demotiveer ’n kind.

“Sommige ouers praat met hul kind op ’n manier waarop hulle nooit ’n ander volwassene sou aanspreek nie. Hulle verwag dat hul kind hulle met respek behandel, maar hulle is self ongeduldig en kortaf.

“Wat gesag betref, is kinders nie ons gelyke nie; wat waardigheid betref, is hulle inderdaad.”

Wag, wág …

“Onthou dat doeltreffende konflikhantering goeie tydsberekening vereis,” sê Anys. “Moenie ’n probleem probeer uit­stryk wanneer die emosies hoog loop nie. Die regterbrein word emosioneel oorspoel en die analitiese linkerbrein raak onaktief.

“Wag tot almal weer rustig is. Sinvolle probleemoplossing het drie fases:

Ek erken ek het ’n fout gemaak; ék het die glas laat val.

Ek probeer die saak herstel; ek sê ek is jammer en tel die skerwe op.

Ek doen iets daadwerkliks om ’n herha­ling daarvan te voorkom; ek hanteer glase voortaan versigtiger

“Dit geld almal in die huis. Ouers wat nooit ‘ek is jammer’ sê nie, het dikwels kinders wat nooit ‘ek is jammer’ sê nie.”

Wanneer moet raadop ouers professionele hulp inroep?

Anys antwoord: “Omdat jong kinders dikwels nie hul gevoelens kan verwoord nie, moet die ouers fyn kyk en luister. As jou kind se gedrag, emosionele toestand, selfbeeld of prestasie afwaarts neig, of indien julle reeds álles probeer het, is daar gespesialiseerde hulp nodig.”

 

Wenke vir hegter verhoudings

Die meeste ouers is besig, maar tyd wat saam met hul kinders deurgebring word, versterk die liefdesband.

Gehaltetyd, skryf die ouerskapkenner Hettie Brittz in Kweek kinders met heel harte (Lux Verbi, 2018), behels nie noodwendig wat óns dink ons kinders wil hê nie. “Ons moet ons kinders goed ken en hul behoeftes verstaan. En dan moet ons al ons kreatiwiteit inspan om iets saam met hulle te doen wat in hul behoeftes sal voorsien én waarvoor ons kans sien.”

Pols jou kind hieroor – al is jy bang die vereistes is dalk te hoog!

Ouers wat sê “hier is ek, en ek gaan nou al my aandag aan jou gee,” maak reeds ’n kind se emosionele tenk half vol. Hettie sê: “Dan het jy nog net ’n paar minute nodig om daardie tenk heeltemal vol te maak.”

Sy vertel hoe sy een aand stokflou by die huis gekom het en hoe haar seun wou hê sy moes ’n teddiebeer in die gang skepskop. In plaas daarvan om te weier, het sy dit ’n paar minute lank gedoen en haar seun was tevrede.

As jy regtig nie dadelik beskikbaar is nie, kan jy jou kinders verseker dat jy op daardie oomblik ook eerder saam met hulle sou wou speel, maar dat dit net nie moontlik is nie. Belowe om so gou jy kan aan hulle aandag te gee – en doen dit dan.

Die soort gehaltetyd wat jy met jou kinders deurbring, hang van hul ouderdom én hul geaardheid af. Sommige kinders verkies pret; ander wil kragmetings hê, of rustige kreatiwiteit of opregte belangstelling.

Gesinstyd verseker jou kinders dat hulle ’n prioriteit is. Skep jul eie tradisie. Hettie sê: “Ons gesinsaand is eenvoudig. Al wat anders is, is dat ons elke Woensdagaand kerse aansteek. Ons maak beurte om die nagereg te kies en ná ete speel ons ’n speletjie of blaai deur ou fotoalbums.”

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail