Sunday, July 25, 2021

VIDEO: ‘Ek het 17 jaar lank my hare uitgepluk’

22 Januarie 2021


Trigotillomanie (trie-goe-tilloe-ma-nie) is ’n woord wat ek jare lank nie kon sê nie, nog minder skryf. Ek wou dit nie ’n deel van my woordeskat maak nie, ek was te skaam. Want dis nie ’n sommerso-woord nie; dis ’n siektetoestand, skryf MARI OOSTHUIZEN

Trigotillomanie is die drang om die hare op jou kop en in jou wenkbroue en wimpers uit te trek. Die Britse National Health Service sê hierdie haarplukkery kan ’n reaksie op ’n stresvolle situasie wees. Dalk is die oorsaak ’n chemiese wanbalans in die brein.

Dis moontlik dat die betrokke persone dit doen sonder dat hulle daarvan bewus is. Onwillekeurig, dus.

Wat wel seker is, is dat dit ’n simptoom van ’n angstoestand is en dat dit reeds by jong kinders voorkom. En meer dikwels by meisies as by seuns. Sowat 1% van alle Suid-Afrikaners sukkel met ’n vorm hiervan.

Maar niemand wat daaraan ly, praat daaroor nie.

Vir my het dié siekte – ja, ek noem dit ’n siekte – ’n werklikheid geword toe ek so tien of 11 jaar oud was. Die spreekwoordelike “hare uit jou kop trek” of “met die hande in die hare sit” was vir my ’n letterlike werklikheid. Eers was die gevolge nie so opvallend nie, maar later het ek die kaal kolle begin raaksien.

Meer as 17 jaar lank was dit my geheim. Ek het dit met haarsproei, haarjel en knippies probeer verbloem. Ek was onversetlik in my voorneme dat niemand dit moes agterkom nie.

‘Niemand is volmaak nie’

Ek weet nie hoe dit begin het nie. En ek weet nie wat die oorsaak daarvan by my was nie. Maar vandag, vir die eerste keer in 17 jaar, is ek oukei daarmee om dit aan die mense om my te erken. Ek het besef dat trigotillomanie nie bepaal wie ek is nie, dis nie deel van Mari nie.

Nee, dit definieer nie wie ek is nie, en dié besef stel my in staat om my eie innerlike krag terug te eis. Vir die eerste keer is trigotillomanie nou iets wat ék beheer; dit beheer my nie meer nie.

As ek vandag die horlosie kon terugdraai, sou ek aan die 10-jarige Mari sê dat dit oukei is om op dié manier beheer oor die lewe en sy uitdagings te probeer verkry. Niemand is volmaak nie.

Mari en haar man Marius Oosthuizen.

Ek sou nie daaroor skaam gevoel het nie, en ek sou dit gouer aan myself en aan ander erken het. As ek dit alles 17 jaar gelede gedoen het, sou ek toe reeds op die oorwinningspad gestaan het waarop ek vandag is.

’n Stukkie raad

As jy iemand ken wat aan trigotillomanie ly, gee ek jou graag ’n stukkie raad: Moenie sulke persone wys op die kaal kolle op hul kop nie. Moenie eens daaroor praat nie, al dink jy dalk dat jy ’n goeie rede het om dit te doen. Al wat jy gaan regkry, is om daardie mense seer te maak. Om hul hele dag en sommer hele week te versuur.

LEES OOK: Verskilmakers: ‘Om soos ’n Daisy te dien …’

En moet hulle tog nie in die openbaar daarop wys dat hulle al wéér hul hare uittrek nie. Hulle is deeglik daarvan bewus, en dis vernederend genoeg.

’n Laaste woord aan iemand wat, soos ek, aan trigotillomanie ly: Jy moet weet jy is nie alleen nie.

  • Mari Oosthuizen is ’n joernalis by die radiostasie Pretoria FM.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img