‘Ek het die hemel ervaar,’ vertel vrou wat byna aan Covid-19 sterf

DEUR BARBARA HENDRICKS

Toe ek Covid-19 opdoen, was ek vol vertroue dat ek sommer binne twee dae gesond sou wees. Ek is wel in die hospitaal opgeneem, maar ek was een van die “gesonde” pasiënte – ek kon alles vir myself doen. Selfs die dokter was van mening dat ek gou ontslaan sou word.

“Toe sê God my dat my huis by die hemel se ingang is, en daarom is dit m‎‎y taak om almal wat daar inkom, te verwelkom,” vertel Barbara van Florida oor haar ervaring in die hemel. Foto verskaf

Ek is toe wel ontslaan. Maar kort daarna het my suurstofvlakke tot onder 80 gedaal en ek moes dadelik weer hospitaal toe.

Die suurstofvlakke het steeds bly daal en ek moes later op my maag lê. Dit was báie erg; ek was deurentyd bewus van alles wat om my aangaan.

LEES OOK: ‘Ek speel weer viool saam met my dogtertjie,’ vertel 42-jarige vrou ná Covid-19, ’n beroerte en drie breinoperasies

Al wat ek kon doen, was om die Here te vra om my fokus slegs op Hom te hou en nie op wat om my aan die gebeur was nie. Ek het Hom sonder ophou gesmeek om my krag te gee.

Intussen het my geliefdes en my geloofsgemeenskap deurentyd vir my gebid. My vier dogters en ’n familievriendin het vyf keer per dag gebid.

Ek was deurentyd aan ’n ventilator gekoppel en dit het my hewig getraumatiseer. In ’n stadium het ek vir die Here gesê ek gee op. Ek kon nie meer nie.

Hier het Barbara vir ‘n rukkie haar suurstofmasker afgehaal om ‘n oomblik saam met haar twee kleinkinders vas te vang. Foto verskaf

Maar net daarna het ek in my geestesoog gesien hoe vou ek ’n tafeldoek op – en skielik was ek in die hemel. Ek het dit net geweet, want daar was eensklaps geen pyn meer nie. Ek het voor ’n groot hek, of ’n soort ingang, te staan gekom.

My huis in die hemel

Ek kon nie die Here sien nie, maar ek het tog opgekyk en Hom gevra: “Is dit waar wat U sê dat daar in u Vader se huis baie blyplek is? Waar is mý blyplek dan?”

Die antwoord was: “As jy hier opdaag, bou jy jou eie blyplek. Een soos jou hart begeer.”

Ek vra toe: “Hoe doen ’n mens dit?”

Die antwoord was: “Jy dink a‎an hoe dit moet lyk – en dan is dit daar!”

LEES OOK: ‘My aanvaller se oë het soos die duiwel s’n gelyk’

Dis tóé dat ek my huis daar “uitgedink” het, presies soos ek dit wou hê. God het my gevra of ek nog iets wou hê en ek vir ’n groot vrugtemandjie gevra waarin my gunstelingvrugte is.

In my tuin verskyn daar toe ’n hoefystervormige bak met al my gunstelingvrugte …

Toe sê God my dat my huis by die hemel se ingang is, en daarom is dit m‎‎y taak om almal wat daar inkom, te verwelkom. Om vir hulle tee te gee en koekies te bak, hul hare te versorg.

Terwyl ek daar was, het ek soveel dinge gedoen wat ek altyd begeer het om te doen, maar nooit kon nie omdat my omstandighede my nie toegelaat het nie. Ek het ook my lewe lank ’n baie groot vrees vir honde, maar in die hemel het ek ’n hond gehad. En dié hond het selfs saam met my gehardloop!

Later het God my kom vra: “Is jy seker jy wil hier bly?”

Ek antwoord toe: “Ek is seker. Ek wil bly.”

Maar Hy sê: “Hoor hoe huil jou kinders.”

Ek het baie sleg gevoel en onmiddellik om vergifnis gevra. Daarop het ek gesê ek wil graag teruggaan. Maar dit was nie maklik nie, en Jesus het gekom en gesê ek moet Hom vertrou, Hy sal my help om weer terug te gaan.

LEES OOK: ‘Dáárdie skade aan ’n kind is vir altyd’

Toe het ek wakker geword.

‘Om weer buitentoe te kon kyk’

Die dokter het my later vertel hulle het gedink hulle het my verloor. Ek het hom egter nooit gevra wat die presiese omstandighede was nie. In daardie stadium het ek ’n bloedklont in my linkerbeen gehad, ek moes volwassedoeke dra en ek moes 24 uur per dag suurstof gebruik. Die medici wou my nie ontslaan voordat my suurstofvlakke nie beter was en ek minstens kon regop staan nie.

Terwyl ek daar in die saal gelê het en by ’n venster kon uitkyk, het ek besef hoe bevoorreg ek is, en hoe dankbaar ek moet wees. Ek, wat byna twee maande lank op my maag moes lê en nooit die daglig kon sien nie. Dit was wonderlik om weer buitentoe te kon kyk!

Ek was ook baie dankbaar dat my dogters net ’n jaar tevore besluit het om my by ’n mediese fonds te registreer, want só kon ek my geveg teen Covid-19 en al die slegte gevolge daarvan in ’n private hospitaal voer.

LEES OOK: ‘Sy is nou my suster, daar is ’n deel van my in haar’

Ek is toe uiteindelik ontslaan vóórdat ek regtig kon staan óf loop; die dokters het voorgestel dat ek daagliks saam met ’n fisioterapeut oefen. Ons kon dit nie bekostig nie, maar die terapeut het een maal per week na my toe gekom. Ek het  die res van die week dan self verder geoefen.

Behalwe dat ek báie gesukkel het om te leer loop, was dit ook vir my moeilik om so afhanklik te wees. My grootste begeerte was om net weer self my skottelgoed te kan was!

Ek het deurgedruk en later met ’n loopraam oor die weg gekom, en toe ’n kierie, en toe stadig begin skuifel. En gaandeweg kon ek my van die suurstof speen.

Die eenvoudige dinge

Die herstelproses het etlike maande geduur.

Toe ek eers op die been was, kon ek nie genoeg kry van my mense en van die buitelug nie. Ek is só dankbaar dat die Here my ’n tweede kans gegee het!

Ek wou ook iets doen om van my dankbaarheid te getuig en ek het die Here gevra wat ek kan doen.

Sy antwoord was: “Skryf ’n boek.”

Ek het gaan navorsing doen oor die moontlikheid daarvan, maar gou besef dit sal nie werk nie, ek kan dit nie bekostig nie.

Maar elke oggend, nadat ek klaar gebid het, vra ek die Heilige Gees om my te help. Ek wil nie eendag na die hemel terugkeer en die Here hoor sê dat ek nie die eenvoudige dinge gedoen het wat Hy van my gevra het nie.

Toe, ’n rukkie gelede, was ek by Clicks toe my oog op LiG val. Ek het toe besef ek moet LiG kontak om my storie te vertel.

My boodskap aan ander is om die Heilige Gees te vra om meer te word in ons lewe, sodat ons kan minder word. En ek wil graag my storie gebruik om ander te inspireer om die Heilige Gees se leiding te vertrou.

  • Barbara Hendricks is 61 en woon in Florida-Noord in Roodepoort. Sy het vier dogters en twee kleinkinders. Sy is in 2021 in die Netcare Pinehaven-hospitaal in Krugersdorp gehospitaliseer.
  • Deel jou getuienis in sowat 800 woorde met LiG deur ’n e-pos na lig@tydskrifte.co.za te stuur.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img