Deur Maureen Fourie

Toe ek 26 jaar oud was, het ek uitgevind ek is swanger met my eerste kind. Versigtig opgewonde, het ek en my man vreeslik uitgesien daarna om hierdie klein wese te ontmoet. My man moes Limpopo toe gaan vir werk, en ek het alleen gebly in ‘n woonstel en my internskap by ‘n staatshospitaal in Somerset-Wes in daardie stadium klaar gemaak. Aan die begin het ek min tot geen simptome gehad nie, maar na die 6de week van swangerskap, het ek begin sleg voel. Fisies sleg, omdat ek naar was, én psigies sleg. Ek het baie teneergedruk gevoel en gereeld gehuil.

Ek het gesukkel om die swangerskap te geniet en was gedurig angstig oor my ontwikkelende baba. Alhoewel daar geen rede was vir my kommer nie, was ek oortuig iets gaan verkeerd loop. Om angstig en depressief in jou swangerskap te wees, is ’n moeilike paadjie om te loop, aangesien almal van jou verwag om stralend te wees en ook te “gloei” van binne. Die realiteit is dat die swangerskap-hormone jou emosies kan omkrap en jy nie noodwendig rustig en gelukkig gaan voel in hierdie unieke tyd in jou lewe nie.

In die derde trimester, is ek en my man herenig in Limpopo en dit het beslis beter gegaan. Ek het in ’n nuwe hospitaal begin werk en menigde nagskofte gedoen, maar gholfbaanstappies saam met my man en nuwe vriende het my gemoed gelig.

Die swangerskapjoernaal wat dr Maureen Fourie ontwikkel het om vroue met hulle geestesgesondheid tydens swangerskap te help. Foto verskaf

Aan die einde van die swangerskap het my bloeddruk gestyg en ek is in die hospitaal toegelaat vir ’n keisersnee. Die geboorte het goed verloop en ek en baba is ontslaan. Aangesien dit my en my man se eerste baba was, was ons min voorbereid op wat op ons gewag het by die huis. Ek het met borsvoeding gesukkel en my baba wou nie slaap vir meer as twee tot drie ure op ’n slag nie. Die hormoonveranderinge in my liggaam het die bietjie teneergedruktheid wat ek ervaar het, baie erger gemaak. Na ’n paar weke het my gemoed begin lig en dinge baie beter gegaan. Ek het die berugte vierde trimester oorleef.

Nou, vyf jaar later, het ek drie kinders, en die ervarings met my tweede en derde swangerskappe was soveel ligter. Die tweede en derde keer, het ek geweet wat om te verwag en my emosies verwerk. Een van die hulpmiddels wat my gehelp het, was om in ’n joernaal te skryf om my te help om my gevoelens en reaksies te verstaan. Dit was uit hierdie ervaring, wat ek besluit het om ‘n swangerskapsjoernaal te skep – ’n boekie waarin vroue kan skryf tydens elke trimester, met ’n stel vrae wat ek aan hulle weekliks e-pos, om hulle in hulle eie geestesgesondheid-swangerskapsreis te lei.

  • Een LiG-leser kan ’n swangerskapjoernaal van dr Maureen wen. Stuur jou naam, adres en telefoonnommer aan ligwedstryd@lig.co.za – merk die onderwerplyn: Swangerskap. Sluitingsdatum: 20 Augustus 2020
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail