‘Ek het net ’n liedjie, Here’

DEUR JACQUELINE LEUVENNINK

In haar vroeë twintigs kry die begaafde Karien de Waal (nou 38) die geleentheid om vier jaar lank aan die Berklee College of Music in Boston in die VSA te studeer. Haar liefde vir klassieke, folk en Afrikamusiek laat haar droom om musiek vir rolprentklankbane en groot byeenkomste te komponeer. En Berklee is waarskynlik die beste musiekskool vir kontemporêre musiek in die wêreld.

Oorvloed

Met haar Suid-Afrikaanse agtergrond is die oorvloed in die VSA iets waaroor Karien in daardie tyd baie loop en dink. “Elke jaar op 1 September, as die studente hier van blyplek verander, pak hulle alles wat hulle nie meer wil hê nie op die sypaadjies uit,” vertel sy.

Toe ’n vriendin kom vertel sy het selfs ’n ghitaar op dié manier in die hande gekry, wens Karien sy kan iets begin om oortollige musiekinstrumente tot by minderbevoorregte kinders in haar eie land te kry.

“Terwyl ek met die Here daaroor praat, staan ek eendag in my kamer. En skielik skiet die naam Join Bands not Gangs en ‘een miljoen musiekinstrumente’ my te binne.” Hierdie roeping word verder bevestig toe sy ’n rolprent sien, Pixote: A leido mais fraco, oor straatkinders in Brasilië.

LEES OOK: ‘Ek vind moed en inspirasie in Bybel,’ sê 21-jarige wat boek uitgee om ander te help

Die boek The cross and the switchblade oor die bediening van pastoor David Wilkerson onder bendelede in New York City gryp ook haar verbeelding aan. ’n Bendelid, Nicky Cruz, kom tot bekering, word ’n evangelis en speel ’n rol in die ontstaan van rehabilitasiesentrums wêreldwyd.

“Hierdie netwerk sentrums sluit vandag, sowat vyftig jaar later, ook ons eie Victory Outreach in Kaapstad in,” sê Karien.

Terug in Suid-Afrika doen sy eers ’n paar jaar lank vryskutwerk in die musiekbedryf, maar sy voel duidelik die Here lei haar om iets in die gemeenskap te begin doen.

Join Bands not Gangs het onlangs musiekinstumente, wat hulle as skenkings ontvang het, by dié plaasskool uitgedeel. Foto: Instagram

Madiba Wethu

Dis 2018, die jaar waarin Nelson Mandela 100 sou word. Sy het ’n paar jaar tevore ’n liedjie oor sy tyd in die tronk gekomponeer en sy wil ’n projek met hierdie lied van stapel stuur, maar sy weet nie hoe nie.

“En toe is dit of die Here my vra: ‘Wat het jy in jou hand?’

“Ek antwoord: ‘Net ’n liedjie, Here.’

“Maar ek het nie geld nie en ek wil dit met ’n koor en orkes uitvoer. As een mens vir wie ek om hulp vra, gaan nee sê, gaan ek nie daarmee voort nie …”

Toe sê sestig musikante “ja”.

En hulle kry die St George’s katedraal om Karien se epiese komposisie, Madiba Wethu, op te neem – met Loyiso Bala en Elwira Standili as soliste, saam met die Berklee Indian Ensemble uit die VSA, die Cape Town Youth Philharmonic en die Sekunjalo Delft Big Band.

Terselfdertyd word Join Bands not Gangs geloods. Dis genoeg om SABC Nuus geïnteresseerd te kry. Karien praat tien dae ná die vrystelling van die liedjie – “nogal op my verjaardag, 29 Julie” – op dié nuusprogram oor haar visie om musiekinstrumente, hetsy nuut of tweedehands, in benadeelde gemeenskappe te versprei. “En dit voordat ons nog ’n enkele instrument weggegee het!”

Van oraloor begin mense positief reageer.

Karien de Waal gee musiekinstrumente aan Germaine Leonard wat ’n musiekakademie vir minderbevoorregte jeug in George bedryf. Foto: Instagram

Hopeloosheid … en sukses

Dis drie jaar én Covid-19 later, en Join Bands not Gangs is ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag (OSW)*.

“Hoe ons juis in Scottsdene in Kraaifontein, via ons hekwag in Durbanville, betrokke geraak het, is nou weer ’n ander verhaal …”

Volgens SAPD-statistieke is die meeste moorde in Desember 2020 in Kraaifontein gepleeg. “Maar ek glo ons bring hoop in die hopeloosheid, deur kinders aan te moedig om liewer in groepe musiek te maak as om by bendes aan te sluit.”

Daar is ook ’n Sponsor a Gangster-program vir bendelede wat vir rehabilitasie wil gaan. “So kon ons elf bendelede in 2021 die geleentheid gee om ’n rehabilitasieprogram van ses maande te deurloop.

LEES OOK: Kom kuier saam op ons aanlyn tydskrifprogram

“Hoewel nie almal die volle ses maande voltooi het nie, is een jong man reeds tien maande lank daar – ter wille van sy eie veiligheid. Hy is fluks besig om hom as sjef te bekwaam en hy neem privaat lesse om behoorlik te leer lees en skryf. Baie townshipkinders bly ongeletterd omdat hulle te vroeg die skool verlaat. Hulle is dikwels al van tien jaar oud af bendelede.”

Rolmodelle

“Ek is ná drie jaar se eksperimenteer met verskillende modelle terug by die oorspronklike missie om instrumente aan geselekteerde staatskole te skenk, wat dan self ’n musiekprogram bestuur.

En ons kon van die kinders betrek by die maak van vyf bemarkingsmusiekvideo’s, danksy die borgskap van YouTube/Blackstripe Foundation se Triple M Projek.

“Hierdie kinders is weer rolmodelle in die gemeenskap. Ek dink maar aan ’n Kongolese seun wat ons by een van die skole ontdek het: Hy voltooi nou sy matriekjaar en ons hoop om hom verder te help met ’n internskap by ’n studio.”

The power in prayer

Met Join Bands not Gangs nou op ’n stewiger grondslag, hoop Karien om voortaan meer aandag aan haar eie komposisies te gee. Om ook ’n eie orkes met klavier- en snaarinstrumente op die been te bring.

Sy was die afgelope ruk besig met twee albums, Sanctification en Songs of Spurgeon:The power in prayer, gebaseer op hoofstukke uit ’n gelyknamige boek van die bekende prediker Charles Spurgeon. Dis te kry by www.kariendewaal.com en op iTunes.

*Vir meer inligting oor dié OSW, besoek www.joinbandsnotgangs.comFacebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img