‘Ek het tydens Covid-19 nóg nader aan die Here gekom’

DEUR DEONETTE DE KOCK

“Met die derde golf wat nou so lank uitgerek is, voel dit soms asof jy in die see is, dat ’n brander oor jou slaan – en voordat jy jou kop kan oplig, is die volgende een daar.”

Só gesels die bekende dr Rust Theron. Donderdae kan jy dié internis se stem op Bok Radio (98.9 FM) hoor wanneer hy luisteraars op sy innemende manier oor Covid-19 inlig. En tot onlangs was hy in 27 episodes op VIA te sien (DSTV-kanaal 147) in die program Gesondheid, prontuit.

Elkeen reageer verskillend

Agter sy lessenaar in sy spreekkamer sê hy: “Ons is nou aan die bopunt van die derde vlaag. Ek het gister nie minder nie as 18 nuwe Covid-19 pasiënte hier toegelaat, en die getalle bly styg. Ons het in hierdie stadium baie meer jong mense wat met Covid-19 in die hospitaal beland, én wat aan lewensondersteunende masjiene gekoppel word, as tydens enige van die vorige twee vlae. En al het mense met onderliggende siektetoestande ’n groter kans om allerlei komplikasies te ervaar, sien ek ook mense sonder enige onderliggende kwale, fiks en skraal, wat ernstig siek word.

LEES OOK: ‘Gryp die dag – môre is minder gewaarborg as ooit,’ sê Pascal Pienaar

“Daar was wel ook ’n pasiënt van 92 jaar oud, en ander wat hoogbejaard is en met erge komorbiditeite sukkel, wat ná vyf dae gesond hier uitstap.”

Hoekom reageer mense so verskillend op die gevreesde virus?

“Ek reken daar is ’n genetiese komponent betrokke,” sê dr Theron. “Maar dis nog nie geïdentifiseer nie. Daar is voorheen gesê dat pasiënte wat tot die O-positiewe-bloedgroep behoort Covid-19 beter sal hanteer, maar ons sien tog dat baie van hulle ook probleme ondervind. Dis wel so dat persone met onderliggende longsiektes, outo-immuunsiektes en diabetes ’n groter kans het om baie sieker te word.”

Psalm 91

“Jy sien van jou kollegas siek word, ook diegene wat jonger en gesonder as jy is, en dit ten spyte daarvan dat hulle al die reëls volg en al die protokol nakom. Dan wonder jy wanneer jou beurt aanbreek. En hoe siek jy gaan word.

Dr Rust Theron is baie dankbaar vir die ondersteuning van sy vrou, Marisa. Sy is ook sy praktykbestuurder. Foto verskaf

“Ek het in dié tyd soms by die hospitaal aangekom en gewonder of ek uit my kar moet klim. Maar dan besef ek dat ek verpligtinge het, en ’n verantwoordelikheid teenoor my pasiënte. Gelukkig het ek deur die Here se genade nog nie siek geword nie.”

Hy vertel: “Ek het Psalm 91 oor myself, my familie en my mense afgebid. Dit het gebeur nadat ek by die ma van ’n pasiënt, vir wie ek Psalm 91 gelees het, ’n mooi boekie as geskenk gekry het. In dié boekie se inleiding staan geskryf dat jy 911 bel as jy in die moeilikheid is. Daarom begin ek graag by Psalm 91:1 …”

Inenting – ja of nee?

Hy sê hy verstaan nie waarom juis Christene so negatief oor inenting is nie. En hy begryp nie die venyn waarmee hulle soms reageer nie. “As ek in die intensiewesorgeenheid instap, en ek sien hoe pasiënte swaarkry, hoe hulle om suurstof smeek, is ek dankbaar dat die Here vir ons ’n oplossing vir hierdie pandemie voorsien het. Ons het immers daarvoor gebid.

LEES OOK: ‘Boere gaan uit hul pad om hoop te bring,’ vertel Ivor Price

“Dit was niks minder nie as ’n wonderwerk dat hierdie entstowwe so vinnig ontwikkel is, dat dit deur al die regte prosesse gegaan het. Dis tog nie dat die entstowwe ‘ewe skielik’ ontstaan het nie!

“Die inentings teen griep word elke jaar aangepas met die oog op die volgende jaar se griep-uitbraak. Etlike verskillende koronavirus-infeksies is dus lánkal met ons, maar hierdie nuwe een het hierdie spesifieke uitwerking op die liggaam. En daarom is die spesifieke entstowwe ontwikkel, met behulp van bekende prosesse.

“Omdat ek besef hoe kosbaar ek in die Here se oë is, het ek my so gou ek kon laat inent. Ek was trouens die eerste gesondheidswerker in die Medi-Clinic-groep in die Wes-Kaap wat ingeënt is.

“Ja, soms kry mense wat ingeënt is weer Covid-19, maar hulle word nie so siek soos wat hulle sonder die inenting sou gewees het nie.

“Volgens die jongste studies het diegene wat nie ingeënt is nie ’n groter kans om die siekte op te doen, om dit dan oor te dra, te laat versprei en dus toe te laat dat nuwe mutasies van die virus by hulle vorm. Dit beteken dat ons almal weer aan ’n nuwe variant blootgestel word. Die persone wat nie ingeënt is nie, stel dus nie net hulleself bloot nie, maar ook die hele gemeenskap waar hulle leef en beweeg. En ons weet steeds te min van die manier waarop nuwe mutasies op bestaande entstowwe reageer.”

Pasiënte, familie en die toekoms

Dr Theron sê hy bid vir sy sterwende Covid-19-pasiënte. “Ek doen dit redelik gereeld, veral nou. Ek sal met my pasiënte oor geloofsake praat, sonder om te dweep. Mense is baie ‘oop’ daarvoor. Ek reken dat as ek die dag moet sterf, ek graag sal wil hê iemand moet my hand vashou en vir my bid.

“As ek by ’n sterwende pasiënt se bed staan, wil ek hê dat ook die familie daar moet wees. Dis ’n beter manier om afsluiting te kry; begrafnisse vind deesdae virtueel plaas. Vir die familie wat ’n geliefde verloor, sal ek wil sê: ‘Julle geliefde is nou in ’n ander dimensie. Dis iets wat ek en jy nog nie verstaan nie.’ Dan bid ek dat die Heilige Gees sal troos en ’n soort vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.

LEES OOK: ‘Jongmense wat ernstig siek word van Delta-variant en mense wat entstof weier ’n bekommernis,’ vertel dokter van Mosselbaai

“Ek werk daagliks met Covid-19-pasiënte en ek besef elke dag hoe afhanklik ek van die Here se goedheid en sy beskerming is. Ek het in dié tyd geleer dat jy nie op jou eie krag kan staatmaak nie. Al was ek nog altyd ’n toegewyde Christen, het my verhouding met die Here gedurende hierdie pandemie net ál sterker geword.”

Hy vertel dat die ondersteuning van sy vrou Marisa, sy familie, sy vriende en dié van die hospitaalpersoneel baie vir hom beteken. Hy oefen gereeld, sê hy. En hy sorg dat hy genoeg slaap.

Dr Rust Theron sê hy bekommer hom dikwels oor sy drie kinders wat ook medici is – Erik, Charl en Mari – maar dan besef hy God het sy kinders nog liewer as wat hy hulle het. Foto verskaf

Al drie sy kinders is medici: Erik (29) werk by die chirurgie-department in die Karl Bremer-hospitaal in Bellville; Charl (27) werk in KwaZulu-Natal en spesialiseer in neurologie; Mari (26) is besig met haar tweede huisdokterjaar in Gqeberha.

Hul pa vertel: “Ek het sommige nagte wakker gelê en besef hulle stel hulleself bloot met hierdie beroepskeuse, meer so as wat ander mense dit doen. Maar ek weet dat God my kinders nog liewer het as wat ek hulle het. En dat Hy na hulle omsien.”

Wat hou die toekoms in?

“Daar is ’n lig aan die einde van die tonnel: Hoe gouer ons na kudde-immuniteit beweeg, dit wil sê wanneer daar genoeg mense ingeënt is én genoeg die siekte reeds gehad het, hoe gouer sal ons na normaal kan terugkeer. Hoe meer mense  dus ingeënt word, hoe groter is die kanse dat ons nie ’n groot vierde, vyfde of sesde vlaag sal beleef nie. As dit egter nie gebeur nie, gaan ons waarskynlik binne vier of vyf maande weer ’n nuwe siklus binne.”Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img