‘Ek is dankbaar vir die goue lesse wat my Manna aan ons nagelaat het’

DEUR CHANTELL NELL-MARAIS

Op 10 Julie 2021 is my en ons kinders se wêreld aan flarde geruk: My man met wie ek 12 jaar lank getroud was, is in my arms dood. Twee dae nadat Covid-19 by hom gediagnoseer is, is hy van ons weggeneem.

Dis iets wat ek nog nie kon verwoord nie – die angs, die trauma. Ook die liefde, die genade, en elke ander emosie wat met dood gepaardgaan. En dit alles in ’n enkele oomblik vasgevang.

Allerlei cliché’s kom op jou af: Dit sal beter word; wees net geduldig; tyd heel alle wonde.

Dit wou my teen die mure uitdryf. Gaan dit regtig beter word? Hy kom dan nie terug nie.

Tyd? Elke dag wat verbygaan, neem my verder weg van die laaste keer wat hy my hand vasgehou of my in sy arms toegevou het.

Die verloop van tyd bring my wel ook nader aan die dag dat ek vir die laaste keer mý kop sal neerlê. En as ek my oë in die hemel oopmaak, glo ek dat my Steph daar vir my sal wag.

In sy laaste oomblikke het hy vir my en my kinders gebid. Hy het die Here vir sy kinders geprys en Hom gevra om hulle te help om hul drome te vervul en hul doelwitte te bereik. Hy het God geloof vir ons liefde, en vir sy lewe. En hy het die Here gedank dat daar nie meer vrees in sy hart is nie.

LEES OOK: Vyf mees gelese getuienisse in 2021

Sedertdien kom elke tree wat ek gee uit God se genadige hand. Dag ná dag besef ek opnuut hoeveel Steph aan my nagelaat het om mee voort te gaan.

Manna

Ons lees in Eksodus 16 van die manna en die kwartels wat die Here in die woestyn aan die Israeliete voorsien het. Steph was my manna. Ek het hom dan ook so genoem – “Manna”.

Net ná sy dood was ek diep ontsteld toe ek moes hoor dat daar “’n groot boom geval het”. Maar daardie nag bring God dié verse uit Daniël vir my: “Toe ek kyk, sien ek ’n boom in die middel van die aarde, en dit was baie hoog. Die boom het so groot en sterk geword dat sy top aan die hemel geraak het, en dit was oral op die aarde sigbaar. Sy blare was mooi en sy vrugte was groot, daar was genoeg kos aan hom vir die hele wêreld. Onder hom het die wilde diere skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls nes gemaak. Alles wat leef, het van hom hulle kos gekry” (Dan 4:10-12).

So was my man. Hy was ’n dienaar, hy was nederig, hy was groter as lewensgroot.

My boom het nie geval nie; hy het deur sy besonderse menslikheid ander mense met sy siel gevoed. En hy het my geleer hoe om dieselfde te doen.

Lag

Sy passie vir mense, en veral vir ons kinders en die studente wat hy opgelei het, was besonders, uniek. Humor was een van die vakke wat hy die beste aangebied het. Dit was grootliks waarom so baie mense by hom aanklank gevind het.

My pa het my geleer dat huil goed is, dat dit jou siel skoonmaak. Steph het my geleer dat lag jou siel heelmaak.

Deur God se genade word daar gereeld engele wat my laat lag oor my pad gestuur. Dit sluit my kinders in, wat dikwels een van hul pa se skerp sêgoed kwytraak.

Ja, daar word gereeld in ons huis gelag, en so maak ons mekaar heel.

Dis nodig dat ons huil. Maar soek tog ook elke dag iets om oor te lag! Geklee met krag en waardigheid, lag ek sonder vrees vir die toekoms (vgl Spr 31:25).

Die klein dingetjies

Elke klein dingetjie vorm deel van ’n groter geheel. Steph het soveel klem op klein dingetjies geplaas. Deur hierop te fokus, het hy my geleer om te luister na wat soms nié gesê word nie. Elke gebaar, ongeag hoe groot of hoe klein, maak ’n verskil.

Hy het gereeld vir die man voor Spar ’n warm bord kos gegee. Hy het my berge laat versit. Ons het saam gehuil. Hy het ’n nougat op my bedkassie gelaat as hy hoor ek het ’n rowwe dag gehad.

Liefde en omgee vra nie groot gebare nie. Hou die deur oop vir iemand anders; laat die ou tannie agter jou in die ry eerste betaal; glimlag vir ’n vreemdeling. Jy weet nie hoe nodig daardie mens, juis dan, so ’n gebaar het nie.

Ons oudste seun het dit mooi saamgevat in sy begrafnisbrief: “Pa het my nooit voorgesê hoe om my lewe te lei nie; ‘he lived and let me watch’.”

“Ons kinders”

Ons het albei ’n seun uit ’n vorige huwelik. Aanvanklik het die seuns nie geweet dat daar ’n verhouding is nie. Steph se woorde aan my was: “Kom ons maak seker van ons, voordat ons die seuns betrokke kry.”

Ek het baie gou in ons verhouding geleer hoe dit is om die tweede plek in te neem, naas ons kinders. Hy het my seun grootgemaak soos sy eie – of hy nou by ’n rugbywedstryd moes wees, ’n prysuitdeling, ’n pap band moes omruil of ’n gebreekte hart moes lap. Hy het tyd gemaak, en hy was daar.

Daar was nie iets soos “jou seun” of “my seun” nie. Dit was “ons seuns” – wat later ’n sussie bygekry het, die appel van haar pa se oog.

Steph en Chantell se kinders voor hy oorlede is. Foto verskaf

Voor sy behoorlik kon loop, was sy al saam met hom in die kombuis doenig. Vandag droom sy groot drome: om eendag haar eie bakkery hê, om ’n sjef te wees soos haar pa.

By elke besluit wat ons geneem het, was sy drie kinders se belange in die middelpunt. Soos ons jongste seun in sy begrafnisbriefie gesê het: “Niemand kan perfek wees nie, maar Pa was so na aan die perfekte pa. Jy was my beste vriend, ons het alles saam gedoen.”

Manna laat my met ’n hart vol onvoorwaardelike liefde vir ons kinders, en ’n stewige fondament om verder te bou.

Maar die grootste hiervan …

Die wete dat jy iemand selfs meer lief kan hê nadat hy vir altyd van jou weg is, maak seer. As ek nou op alles terugkyk, besef ek met groot dankbaarheid dat ek een van God se engele 12 jaar lank “my man” kon noem. Ek doen dit steeds.

Hy het goue reëls vir ons neergelê: Ons gaan slaap nooit kwaad vir mekaar nie; ons vergewe gou. As jy kwaad is, wéés dan kwaad – maar moenie te lank in daardie ruimte rondhang nie; dis nie wie jy is nie. Doen wat jy moet doen sodat jou hart weer sag kan word. Sodat jy die beste weergawe van jouself vir die wêreld kan bied.

Doen alles wat jy doen vanuit ’n fondament van liefde. Wat Steph betref, was God liefde.

Ek is net ’n mens, en ek misluk gereeld met betrekking tot die lesse wat my Manna vir my agtergelaat het. Maar ek weet ook dat ek selfs in die storms sal staande bly. Ek weet dat God my slyp, dat Hy aan my werk. Op ’n dag sal ek weer vorm aanneem, die nuwe ek, die een sonder my Manna.

Die een ding waarvan ek seker is, al is my hart nog stukkend en al is die grootste deel van my hart nou in die hemel, is dat God se genade my sal dra. Ongeag hoe lank dit sal duur om weer heel te voel.

  • Chantell Nell-Marais woon in Pretoria. Sy hoop haar woorde sal iemand se hart raak of help heelmaak.

 Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img