Deur Charmaine Neves

Op 9 Januarie 2019 swel my mond verskriklik op en ek vermoed ’n abses in my tand. Ek bel die tandarts vir ’n voorskrif vir antibiotika. Die volgende dag, toe ek die antibiotika wil drink, kry ek nie die tablette gesluk nie. Ek sukkel om asem te kry en my man Anthony neem my na Montana-hospitaal. Daar word ek in hoë sorg opgeneem en op suurstof en ’n drip gesit. Die dokter aan diens stel my man in kennis dat alles te wyte aan die abses is en as ek nie onmiddelik behandeling kry nie, gaan ek sterf.

Hy verwys ons na ’n dokter by Netcare-hospitaal in Pretoria-Oos wat spesialiseer in tand- en mondgevalle. Teen hierdie tyd is dit byna 11:00 en ek word met ’n ambulans vervoer na Pretoria-Oos. Die verpleegsters aan diens begin my voor te berei vir die teater en die dokter lig my ouers in dat hulle my sal moet opereer om my lugweg oop te maak en dat my kanse op oorlewing 50/50 is. My ma begin te huil: “Dokter, hoe maak ’n mens so ’n besluit?” en my ouers gee hulle toestemming dat die operasie uitgevoer mag word. Dit is die laaste wat ek onthou. Ek maak eers weer op 3 Februarie 2019 my oë oop en weet glad nie waar ek is of wat gebeur het nie. Anthony en Anette, my beste vriendin vir 35 jaar al, vertel die volgende gebeure:

Die operasie om my lugweg oop te maak was suksesvol alhoewel ek onder sedasie gehou is. Intussen het die infeksie in my bloedstroom ingegaan en reg deur my liggaam versprei. Op 15 Januarie vra die dokter wat die operasie gedoen het, ’n ander spesialis se opinie. Die spesialis weier om enige ondersoeke te doen voor Anthony nie betaal nie. Aangesien ons nie aan ’n mediese fonds behoort nie moet ons uit die aard van die saak kontant betaal. Ek is in Augustus 2018 afgelê by die werk en Anthony is ’n vryskut-toergids, maar gelukkig het my skoonma fondse beskikbaar gestel vir die operasie wat op 9 Januarie gedoen is. Nadat Anthony die fooi vir die opinie betaal het, het die dokter bloedtoetse aangevra maar die oorsaak van die infeksie kan nie vasgestel word nie. Na nog toetse en antibiotika verbeter die infeksietelling van 600 tot ongeveer 40. Die oorsaak van die infeksie kan steeds nie vasgestel word nie.

“Ek koester elke oomblik van my ‘nuwe’ lewe: tye saam met my kinders en geliefdes, wind in my hare, lekker kos, selfs die aanbreek van lente was ’n hele nuwe belewenis vir my – nuwe beloftes,” sê Charmaine Neves na sy byna gesterf het. By haar is haar seun. Foto verskaf

Intussen het Anette almal wat ons ken ingelig oor die situasie en gevra vir gebede. Van die Kaap tot Kairo is daar vir my gebid – familie, vriende, kennisse, selfs mense wat ek nie ken of selfs nog nie eers ontmoet het nie! Selfs gemeentes in Nieu-Seeland, Australië en Singapore het vir my ingetree.

Op 23 Januarie 2019 word daar besluit om van die medikasie minder te maak sodat ek kan begin wakker word. Onmiddelik styg die infeksietelling tot 300 en ek het hewig koors. My longe val plat en my niere gaan staan. Die dokters verhoog weer die sedasie en voeg antibiotika en morfien by. Die dokter kondig aan dat ek teen die einde van die week “wakker” moet wees, maar steeds is daar geen verduideliking van wat die oorsaak van die infeksie is nie.

Op 30 Januarie 2019 ontvang Anthony ’n oproep van die dokter: ek moet weer geopereer word om die geïnfekteerde gedeeltes van my liggaam te verwyder. Die dokter waarsku dat, as ek oorleef, gaan ek misvorm wees, breinskade hê en nie ’n normale lewe kan lei nie. Die ander opsie is om aan te hou met die medikasie en te “hoop vir ’n wonderwerk”. My seuns, Henrique (toe 18) en Cristiano (8), moet hulle ma groet … Maar Anthony en Anette weier om op te gee. Anette bid uit die Skrif en sit Bybelverse onder my kopkussing. Sy speel my gunsteling-liedjie, Provider (Urban Rescue), vir my. Die Here sê drie keer vir haar dat ek gaan gesond word. Haar tannie Ansie, wat ook sonder ophou vir my gebid het, sê ook vir haar die Here het gesê ek gaan gesond word.

Anthony roep ’n familievergadering en lig die familie in oor die twee opsies soos meegedeel deur die dokter. Die dokter sê verder dat, voor ’n besluit geneem word, hy nog ’n laaste opinie wil aanvra. Hierdie opinie lei tot nog ’n operasie, wat suksesvol was en gelei het tot my ontwaking op 3 Februarie 2019, met ’n glimlag op my gesig – prys die Here! Op 10 Februarie 2019 kan ek praat en eet en op 12 Februarie 2019 word ek vanaf intensiewe sorg na hoë sorg geskuif. Op 14 Februarie 2019 word ek ontslaan – wat ’n Valentynsdaggeskenk van my Hemelse Vader! Ons het die dokter gaan groet voor ons gery het en sy woorde was: “Dit kan net ’n wonderwerk wees”.

LEES OOK: ‘God het my in my grootste storm kom vind’

Ek koester elke oomblik van my “nuwe” lewe: tye saam met my kinders en geliefdes, wind in my hare, lekker kos, selfs die aanbreek van lente was ’n hele nuwe belewenis vir my – nuwe beloftes. Ek word elke dag sterker en vertrou die Vader vir werk. Ek glo dat Hy my lewe gered het. Ons Vader hoor ons smeekgebede en is getrou aan sy belofte in Hebreërs 13:5 dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Ek is ’n lewende bewys dat God die ware Geneesheer is en dat dood en lewe slegs in sy Hande is. Dankie my Koning dat U werklik ons gebede verhoor.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail