‘Ek moes daagliks iets vind om voor dankbaar te wees,’ vertel man wat 10 jaar lank onskuldig in tronk was

Niks kon Rusty Labuschagne voorberei op wat vir hom gewag het nie: Sy klere en menswaardigheid is van hom gestroop, een koppie water was sy daaglikse rantsoen. Maar sy verbeeldingswêreld het hom gered, en die vrede van God, en die duiwe wat hy sien vlieg het.

DEUR ILETTE COETZER

Rusty Labuschagne het vir hom ’n goeie lewe geskep as ’n suksesvolle sakeman in Zimbabwe. “Ek het hard gewerk, en hard gespeel,” vertel hy.

Maar die lewe waaraan hy gewoond was, het binne enkele dae soos handomkeer verander.

Rusty is aan die einde van 2003 daarvan beskuldig dat hy ’n wildstroper vermoor het. Hy en een van sy vriende, Spike Claasen, het tydens ’n tiervis-ekspedisie op die Karibameer op twee visstropers afgekom. Hulle het die twee mans met hul boot agternagesit. Die stropers se klein vissersbootjie het net voor die wal omgeslaan en albei stropers het die hasepad gekies.

‘Niks kon my hierop voorberei nie’

Rusty sê hy het aanvanklik niks van dié insident gedink nie. Die polisie het egter die volgende dag by hom opgedaag en hy is in hegtenis geneem. Ná ’n kort verhoor is hy skuldig bevind aan moord op die stroper – hoewel daar geen lyk gevind is nie.

Rusty is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

“Niks kon my hierop voorberei nie,” vertel hy.

Rusty het dié skets gemaak om te wys hoe hy en ander gevangenes snags moet slaap. “Saans, as almal langs mekaar ingeryg gelê het, het ons soos een man omgedraai. As een omdraai, draai almal om. Nie eens jou asem was jou eie nie …,” vertel hy.

Aanvanklik het hy gereken dat die misverstand spoedig opgeklaar sou word. Maar hy het algaande besef dat die hel waarin hy hom toe bevind het ’n ellendige werklikheid was. Sy hele wêreld het in duie gestort.

Rusty is aanvanklik na die Khami-maksimumsekuriteitgevangenis gestuur. “Wanneer jy by daardie tronkdeure instap, word jy van jou klere en jou menswaardigheid gestroop,” vertel hy.

LEES OOK: ‘Ek moes eers álles verloor voor ek besef het ek het nét God nodig,’ vertel Alwyn Uys

“Jy word ’n gevangene van die staat. Die staat sê jou wat om te eet, te drink, te lees en te skryf. Daar was geen voorregte nie.

“Ek was die enigste wit mens in dié tronk. Honderde oë het my dopgehou toe ek sonder ’n draad klere in die binneplaas ondervra is. Die walglike reuk van urine en die gedreun van medegevangenes se stemme het ’n konstante metgesel geword.”

Rusty se kinders uit sy eerste huwelik, Dustin en Sandy, het hom ook aan die gang gehou. “Dit was egter bitter swaar om nie by hulle te kon wees nie.” Foto verskaf

Hy het ’n sel van dertien meter by drie meter met 79 ander gevangenes gedeel. Aan elkeen is ’n ruimte van 33 sentimeter toegeken. Daar was geen meubels of soortgelyke items in die sel nie; slegs ’n koue sementvloer en ’n metaaltoilet in die hoek wat deur almal gebruik moes word.

“Elke gevangene het een stel klere ontvang. Dié is ná ses maande vir ’n nuwe stel verruil – ás jy gelukkig is.”

Die gevangenes het saamgewerk en soms hul klere in die toiletwater gewas en dit die volgende dag weer aangetrek.

Rusty het eelte op sy heupe opgedoen en pyne in sy skouers ontwikkel omdat daar geen matras was om op te slaap nie. “Saans, as almal langs mekaar ingeryg gelê het, het ons soos een man omgedraai. As een omdraai, draai almal om.

“Nie eens jou asem was jou eie nie …”

Die ergste was die luise. “Jy kon nie van hulle af wegkom nie. My lyf was die eerste agt jaar permanent met luise oortrek.”

Honderde om hom het gesterf

In dié tyd het sy verloofde hul verlowing verbreek, en daar het min hoop vir hom oorgebly. “Ek het noodgedwonge in ’n droomwêreld begin leef. Ek het vir my ’n lewe buite die tronk geskep waarheen ek gereis en waarin ek geleef het. As dinge in die tronk te swaar word, het ek daarheen ontsnap.”

Rusty (60) en Sandra is vandag reeds ses jaar lank gelukkig getroud. Hulle woon in Houtbaai, Kaapstad. Hy lewer tans soveel motiveringspraatjies moontlik om die lesse wat hy destyds geleer het met ander te deel. Foto verskaf

Sy kinders uit sy eerste huwelik, Dustin en Sandy, het hom ook aan die gang gehou. “Dit was egter bitter swaar om nie by hulle te kon wees nie.”

Rusty is later na die Harare Central Medium-gevangenis oorgeplaas, waar meer as ’n derde van die gevangenes tydens ’n cholera-uitbraak dood is. “Jy word later gevoelloos en kom nie eintlik meer agter as iemand sterf nie.

“Met die erge waardevermindering van die Zimbabwe-dollar het sake drasties versleg. Elke man het daagliks een koppie ongesuiwerde water gekry, en daarmee moes hy sy tande borsel én hom was. En hy moes dit drink om aan die lewe te bly.

LEES OOK: ‘My aanvaller se oë het soos die duiwel s’n gelyk’

“Etlike honderde het dit nie oorleef nie.”

Rusty was ook twee jaar lank in eensame aanhouding. Die sel was drie meter by een meter groot, en hy het feitlik nooit die son sien skyn nie.

In dié donker tye het hy God aangeroep. En ’n kalmte wat alle verstand te bowe gaan, het oor hom gekom.

Rusty sê hy het besef niks kan jou van God se liefde skei nie.

Kyk, die duiwe!

Ná tien jaar se hel is hy uiteindelik op 3 April 2013 vrygelaat.

Hoewel hy saam met God ’n pad in die tronk begin stap het, het Rusty hom eers sowat vyf jaar gelede werklik aan die Here oorgegee.

Rusty (60) en Sandra is vandag reeds ses jaar lank gelukkig getroud. Hulle woon in Houtbaai, Kaapstad. Hy lewer tans soveel motiveringspraatjies moontlik om die lesse wat hy destyds geleer het met ander te deel. Hy het ook ’n boek oor sy wedervaringe geskryf.

Hoe kon hy dit regkry om weer ’n nuwe lewe te skep?

“Jy kan nie aan die verlede vasklou nie,” sê hy. “Die verlede bestaan slegs in jou gedagtes, en dit kan slegs jou lewe oorneem as jy dit toelaat. Ek het in die tronk besef dat ’n mens ’n lewe van dankbaarheid en vergifnis moet leef.

“In die eerste jaar agter tralies was my hart vol woede, bitterheid en haat. Ek het besef ek moet die mense vergewe wat my in die tronk gestop het. As jy nie vergewe nie, word jou geluk gesteel, en jou vrede en jou vryheid.

“Fokus op die positiewe, en sê elke dag dankie vir wat jy het.

“Sommige dae was dit moeilik om iets te vind om voor dankbaar te wees – maar ek het nog asemgehaal, terwyl soveel ander dit nie gemaak het nie.

Rusty vertel hoe hy elke dag in die tronk die duiwe dopgehou het. Vir hom was hulle ’n simbool van vryheid, en dit het hom hoop gegee dat hy ook eendag vry sou wees.

  • Besoek beatingchains.com vir meer inligting oor Rusty se ontberinge en sy boek, Beating Chains.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img