‘Ek probeer God se hande op aarde wees’

DEUR YOLANDA WESSELS

Jaci Phillips-Behr is ’n skoonheidsterapeut in die Overbergse dorpie Bredasdorp. Sy is daarvan oortuig dat die Here dit op haar hart gelê het om ander mense te bederf, om hulle spesiaal te laat voel.

“Ek wou ná skool ’n loopbaan in taalkunde volg,” vertel Jaci. “Daarom het ek die vakke wat ek daarvoor sou benodig op skool geneem vir daardie dag wat ek uiteindelik by ’n universiteit sou inskryf.”

Dit het toe nooit gebeur nie. Nog nie.

Juis vir enkelma’s

Jaci het nie beplan om ’n loopbaan in skoonheidsterapie te volg nie. Haar tante, wat ’n haarkapper is, het aan haar ma gesê sy moet dit deeltyds beoefen.

“Ons familie is baie kreatief,” vertel Jaci, “en my ma het my oorreed om dit te probeer. Kort ná my dogtertjie se eerste verjaardag in 2018 het ek ’n salon geopen. Dit was nie ’n besluit wat ligtelik geneem is nie; dis ’n duur onderneming.

LEES OOK: Boere-engele

“Boonop wou ek uit die staanspoor gehad het die behandeling moet bekostigbaar wees, juis met die oog op enkelmoeders. Ek het grootgeword met ’n ma wat as enkelmoeder vir my en my suster moes sorg. Sy sou nooit skoonheidsbehandeling kon bekostig nie; haar kinders se behoeftes het voorkeur geniet.”

Jaci se salon is dus ’n plek waar kliënte sonder skuldgevoelens ’n geldjie aan hulleself kan bestee. Hulle ontvang topbehandeling teen ’n fraksie van die prys wat dit gewoonlik kos.

Jaci vertel: “Ek doen moeite met my kliënte, ek probeer ’n soliede verhouding opbou en vestig. Ek wil hê hulle moet spesiaal voel, gewaardeer. Hulle moet weer wil terugkom.

“In die drie jaar wat die salon oop is, het ek nog altyd werk gehad. Ook in hierdie uitdagende tyd.”

“Dit maak my gelukkig”

Sy het haarself geleer, vertel sy, en sy bied ’n wye verskeidenheid dienste aan, onder meer om haar kliënte se hare te versorg, asook omvattende gesigsorg. Dit sluit wenkbroue, grimering en masseringterapie in. En daarby spabehandelings soos pedikure.

“Mense wat in dié rigting gestudeer het, vra my dikwels watter tegnieke ek gebruik, en ek is altyd bereid om te wys hoe ek dinge doen. Dit help my ook, want só leer en verbeter ek.

“Ek geniet wat ek doen,” sê sy, “my kliënte is gelukkig en dit maak my gelukkig. Ek hou ook daarvan om iemand soms gratis te behandel, net om dankie te sê vir getroue ondersteuning.”

Daardie ekstra kilometer

Le-Adri Havinga, een van Jaci se gereelde kliënte, vertel dat Jaci baie moeite doen. Dat sy selfs haar kliënte tuis besoek as hulle nie na die salon toe kan kom nie.

Le-Adri is ’n enkelma van ’n elfjarige dogtertjie en pleegma van ’n sewe maande oue seuntjie. Sy vertel: “Ek het op ’n dag na ’n kollega se troufoto’s gekyk en die pragtige grimering opgelet. Dit was Jaci se handewerk, en ek was verstom oor wat sy alles kon regkry met ’n vrou wat reeds so pragtig is.

LEES OOK: Wanneer eenvoud jou bevry

“Toe ek navraag doen en haar pryslys sien, het ek besluit om haar te ondersteun. Om ’n voorbeeld te noem: ’n Gesigbehandeling is gewoonlik baie duur en kan jou tot R450 uit die sak jaag. Ek sou dit nooit kon bekostig nie. Maar Jaci se gesigbehandelings begin by R50!

“My ervaring met Jaci is dat sy altyd daardie ekstra kilometer sal loop. Sy weet dat my kinders eerste kom, en daarom is my baba dikwels by as ek ’n afspraak het. Sy is altyd geduldig, sy gee regtig om. Bowendien is sy baie professioneel en sy gebruik lekker produkte. Ek kan sommer sien hoe my vel onder haar hande herstel en verbeter.

“Dit voel kompleet of sy God se hande op die aarde is om mense te help wat ’n bietjie ekstra versorging nodig het. En teen daardie pryse!”

“Die sleutel tot sukses”

Jaci vertel: “Ek help mense vir wie ek omgee – en só help ek ook myself. Ek sukkel met ’n angsversteuring, wat sosiale angstigheid insluit. Deur met mense te moet werk, word ek uit my gemaksone gedwing, en dit help my.

“Dis nie altyd maklik nie, en ek moet hard werk aan dié dinge wat ek as swakhede beskou, maar ek glo dat persoonlike groei en ontwikkeling die sleutel tot sukses is.

“En ek het al sóveel gegroei! Ek sou nooit kon dink dat ek die selfversekerde, sterk en geseënde vrou sou word wat ek vandag is nie.”

LEES OOK: Covid-19: Hartseerverhale oorweldig berader, maar God se genesende krag dra haar

Een van Jaci se grootste drome is om ’n toevlugsoord vir diere van stapel te stuur. Sy sal graag ook weeskinders en haweloses wil help.

“My hart is by elke mens, kind en dier wat swaarkry, en as ek elke liewe een kon ‘red’,  sou ek. Maar ek doen wát ek kan wánneer ek kan.

“Ek weet dis nie baie nie, maar ek is daarvan oortuig dis die klein dingetjies wat ’n verskil maak.”

“God se tyd”

Jaci glo vas dat God haar geïnspireer het om haar salon tot stand te bring. Hy het haar al deur donker tye gedra, vertel sy.

“My ma glo vas in God se ingryping,” sê sy. “Sy glo dat God haar dra, waar sy ook al gaan. Ek sien my ma se geloof. Dis ’n geloof wat oor jare heen stewig gestaan het, tot vandag toe.”

Geloof in God lei Jaci ook tot geloof in haar eie vermoëns, hoe haar omstandighede ook al mag wees. Sy glo onwrikbaar in God se volmaakte tydsberekening.

“En, wie weet,” sê sy, “eendag as my kinders ‘n bietjie ouer en meer onafhanklik is, skryf ek tog in by daardie universiteit en maak ook daardie droom waar. Alles op God se tyd.”Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img